Friday, May 18, 2012

Raising Seattle

Hallo julle! Ja, ek het nie gisteraand geskryf nie. Ek moes net eers al my verlore slaap inhaal nadat ek van Japan af Amerika toe gevlieg het en 17 ure verloor het. Dit was voorwaar die langste dag in my lewe.

Dit was heerlik om my ouers op die lughawe te kry. Dit nadat 'n engel my gehelp het om weer agter die sekuriteitshekke by 'n lounge te kom waar ek drie ure vir hulle kon wag. Die engel se naam is Christa Milton. Sy is 'n vrywilliger by Seattle Internasionale Lughawe. As mens eers jou bagasie het en deur doeane en immigrasie is, kan jy nie weer binnekant kom om 'n lekker wagkamer te kry nie. Toe loop ek vir Christa raak. Sy was 'n lugwaardin tot 4 jaar gelede vir United Airlines en se hulle wou haar nooit toelaat om in die lounge te kom toe sy vir hulle gewerk het nie, so nou sal sy my help! Nou ja, ek word graag gehelp!

Die engel: Christa Milton

My pa en ma se aankoms op Seattle Internasionaal. Hulle het self meer as 24 uur se vliegtyd agter die rug nadat hulle met Emirets via Dubai na Seattle gevlieg het!


My Pa se neef, Bob, is 'n Amerikaner wat in Florida bly. Sy vrou is Laurie. Hulle kuier ook hierdie week saam met ons. Dit is heerlik en ons het baie sports. Bob se sin vir humor is ongelooflik skerp en ons geniet dit baie.


Die Amerikaners is goed in baie dinge. Eet is definitief een daarvan. Ons eerste twee aande se etes was beide baie lekker met GROOT porsies.



Elke staat in Amerika het 'n 'slogan' wat hulle ook op die nommerplate vertoon. So is Washington State waar ons nou is 'Evergreen State'. Florida is 'the sunshine state' en California is 'the golden state'.


Vanoggend is ons oppad na Pike's Place. Dit is sekerlik die bekendste plek in Seattle. Dis 'n mark wat al meer as 100 jaar oud is. Ons was in 2004 ook daar, maar dit is altyd lekker om dit weer te sien. Daar is 'n baie bekende vismark waar hulle 'n hele ritueel uitvoer as iemand 'n vis koop. Hulle skreeu en gooi die vis deur die lug. Dis baie oulik om te sien.

Hier is hulle besig om cheese curd te maak in die kaasfabriek (smaak soos ons feta - net 'n bietjie harder)

Die blomme mark was pragtig! Azanda, e het so baie aan jou gedink! En nogal goed geprys.



Die Amerikaners hou van groot goed. Kyk hierdie Harley Davidson bakkie met sy modifikasies.

En die bakkie se naam is 'The girl'. Dis seker nog 'n vrou wat dit ry ook.


Na China se ondemokratiese samelewing was dit vir my baie snaaks om te sien hoe ver die VSA hul demokrasie vat. Hier is 'n hele stalletjie (en ons het later by die mark nog een gesien) waar 'n groep mense steun werf om van die president ontslae te raak. My Oom is juis nie baie lief vir hul president nie.


'n Stretched car!

En toe doen ons een van die interessantste museum toere waarop ek nog ooit was. Seattle het 'n baie interessante geskiedenis. Dit het ontstaan in 1851, maar het in 1889 heeltemal afgebrand nadat 'n brand in 'n kabinetmaker se winkel ontstaan het. Die stad het geen kans gehad nie, want die plofstofwinkel was aan die een kant, die whisky salon aan die anderkant, die brandweer hoof en hele span was by 'n konferensie in California en die vrywilligers wat probeer help het, het al die brandslange gelyk aangeskakel en het soveel waterdruk verloor dat daar geen water uitgekom het nie. Daar was 'n sterk wind en 31 blokke van die stad is totaal verwoes.

Na die brand en voor die stad herbou is, het die stadsleiers twee belangrike strategiese besluite geneem naamlik 1) geen houtgeboue mag opgerig word nie. Als moet van steen of baksteen wees. en 2) hulle sou die straatvlak 'n hele verdieping lig, want die stad het baie dreineringsprobleme gehad.

Dit het baie praktiewe probleme gehad, maar vir 14 jaar het hulle deurgedruk en nou is die ou straatvlak 'n ondergrondse verdieping wat in 1965 oopgestel is vir toere. Aan die begin van die hervestiging het hulle mure gebou wat 30 voet hoog was en mense moes met lere daaroor klim om by die volgende straat of winkel uit te kom. Daar was selfs 'n loopbaan geskep vir leervashouers wat mense gehelp het om met die leer oor die muur te kom.

Ons het vir 90 minute in die ondergrondse gange rondgeloop en al die geskiedenis van Seattle gehoor. Werklik interessant.



 Hierdie ou bad is onder die grond gevind toe hulle die gange oopgestel het.

Seattle is vernoem na Chief Seattle wat van die Duwamish stam afkomstig is en die leier was van die inboorlinge wat in die omgewing gebly het. Seattle se ekonomie het eintlik afgeskop in 1897 met die 'Klondike Gold Rush' in Alaska. Seattle was die laaste groot Amerikaanse stad voordat prospekteurders by die goudvelde uitgekom het en hulle het al hul benodighede hier gekoop.

More gaan ons die Boeing Fabriek besoek. Ek sien baie uit daarna.

Hier is heerlike earl grey tee by die hotel en in die meeste restaurante. Ek is gelukkig!

No comments:

Post a Comment