Thursday, May 31, 2012

Hood Canal en baie oesters

Ons slaap vanaand in die Park Center Hotel in Enumclaw. Dit is suid-oos van Seattle en naby Mount Rainier. Dis reeds amper 23:00 in die aand. Ons klere is gewas en nou in die droer in die waskamer op die onderste vloer. Dit kos 4 quarters (25 VSA sent) om te was en 4 quarters om die klere droog te maak. Ons drie het 'n groot bondel ingegooi. Nou kyk ons TV. Ons spring tussen die weerberigte en die nuus. Daar was 'n groot skietery in Seattle vandag en drie mense is dood. Dis baie vreemd vir hierdie area en almal is up-in-arms.

Ek het vanoggend goeie nuus gekry. Die CEO Magazine het my gebel en 'n e-pos gestuur om te bevestig dat ek gevorder het na die volgende rondte in die kompetisie vir die 'Most Influential Women in Business and Government'. Iemand het my ingeskryf net voor ek oorsee is. Ek weet nie wie nie. Die prysuitdeling is 3 Augustus 2012 in Kaapstad. Ek is nou 'n kategorie finalis. Dis lekker om te weet iemand het raakgesien wat ek gedoen het in my loopbaan in Plaaslike Regering. Ek vertrou die Here dat hierdie ook nuwe deure vir my sal oopmaak.

Ons is amper reg vir die bed. More is 'n besige dag. Ons gaan Mt Rainier besoek. Dis die hoogste berg in Amerika en toe onder sneeu.


Ons is vanoggend weg vanuit Silverdale waar ons gisteraand tot baie laat inkopies gedoen het. Amerika het fantastiese winkels wat tot laat oopbly. Ek stap en kyk na alles maar koop min, want my tas is reeds vol genoeg. By Bremerton het ons weggeswaai op Roete 3 tot by Belfair en suid van die Hood Canal gery tot by Union en Hoodsport. Dis baie mooi en ons sien pragtige klein dorpies op die see front met baie mooi uitsigte op die Olimpiese berge.

Suid van Belfair stop ons eers by die Theler Wetlands om bietjie voels te kyk. Ons sien geen watervoels nie, maar die swaeltjies is volop. Hulle is so mak en het omtrent poseer vir die foto.

Hierdie is 'n Europese swael wat by ons ook voorkom.


Hierdie een is minder bekend aan ons en ons soek nog sy regte naam. Enige voorstelle is welkom. Ons dink dit is die Violet Green Swallow.


Hierdie is die Boom Swael.



Hierdie was vir my 'n baie goeie foto. Die hond lyk so tuis agter die stuur.


Naby Union: die huise het elkeen hul eie strandjie en op die strand is oesters en clams vir afrika.








Ons eet seekos by 'n plekkie met die naam: Tides. Hierdie is 'clam chouder' met oester beskuitjies. Ek wil graag oesters eet, maar by hierdie restaurant gee hulle dit nie rou nie. Hulle 'deep fry' als in Amerika en dit vat al die smaak van die oester weg.


Die brug oor die Skokomish rivier is 420 voet bo die water. Dit was eers 'n treinbrug wat hulle gebruik het om hout uit die bos te ry. Nou is dit verander in 'n ry-brug. Dis van staal gemaak.


Die Skokomish rivier.


Een van die interessantste uitstappies vandag was 'n besoek aan die skulpvis fabriek in Shelton. Ons bel vir 'n afspraak en word deur die fabriek geneem deur Karen Underwood. Sy het nog nooit in haar lewe van Kaapstad gehoor nie. Hulle verwerk oesters en clams en stuur dit die wereld vol. Natuurlik groot hoeveelhede na China en Japan.




'n Geoduck: Dis die eerste keer in my lewe dat ek so 'n ding sien. Dit was baie interessant. Dis 'n reuse clam en baie gewild hier. Mens spreek dit uit Gooey Duck en dit het niks met 'n eend te doen nie. Hierdie een is nog maar 'n babatjie. Gaan kyk bietjie op google hoe hulle kan lyk. 'n Uitgegroeide een word tot 1 meter lank.









By die einde kry ons die 5 verskillende soorte oesters om te proe. Dit is heerlik! My gunsteling is tweede van links.


Toe ons by die hotel kom kan ons Mt Rainier mooi sien. Die weervoorspelling se dit gaan more reen en ons ry om hom gou te gaan afneem van nader.


Mount Rainier is 14 491 voet hoog en regtig 'n baken in hierdie hele staat. Op 'n mooi dag sien mens hom van orals.


Groete aan almal. Mag julle 'n wonderlike dag he.

No comments:

Post a Comment