Wednesday, May 16, 2012

Afskeid neem in Tokushima en terug na Osaka

Vanoggend was die laaste oggend van stories lees in my bed. Annli het al voor 06:00 wakker geword van pure opwinding en Stephan moes net keer of sy was toe al in my kamer. Annli en Cornelius is twee dierbare kinders wat mens net wil opvreet. Soms is jy later spyt jy het nie, maar meestal is hulle net te 'cute' vir woorde.


Carina gaan vanoggend saam met al die kinders na Annli se kleuterskool en ek en Stephan ry 'n paar draaie. Daar word aangebou by hulle huis om die boonste vloer meer aardbewing bestand te maak en ons soek ligte. Ek koop 'n paar laaste 'nice' Japanese goed wat ek in my huis wil gebruik en vir my vriende en familie wil wys. Ek kyk ook die video: Memoires of a Geisha. Dit speel af in Kyoto en is baie tipies van Japan. Dis heerlik om te sien nou dat ek meeste van die goed herken en die gebruike verstaan.

Ek vat vandag die bus na Osaka vanaf Tokushima. Ek vlieg more vanaf Osaka na Tokyo en vandaar na Seattle. More gaan die langste dag in my lewe wees. Ek weet mens se dit baie na 'n harde dag, maar hierdie is letterlik bedoel. Ek vlieg 08:00 uit Osaka en kom 09:25 op Haneda lughawe in Tokyo aan. Dan soek ek vervoer na Narita lughawe in Tokyo (omtrent 80 minute se reis alias google). Ek vlieg dan 16:55 vanaf Tokyo na Seattle. Dis 'n 10 ure vlug en as ek land in Seattle is dit weer 09:34 dieselfde oggend! (al is dit op my liggaam se horlosie 03:00 die volgende oggend!) Ek verloor 17 ure. As ek so aanhou vlieg is julle weer genooi vir my 40ste verjaarsdagpartytjie! Almal welkom.

Die busrit vandag was 'n aaneenlopende uitstalling van ingenieurswonders. Jinne, maar hierdie mense skrik nie vir 'n brug of 'n tonnel nie. Ek wens ek het getel deur hoeveel tonnels ons gery het, maar dit is definitief meer as 20. As daar water is, bou hulle 'n massiewe brug; as daar 'n berg is, bou hulle 'n massiewe tonnel. As my vriend van Uganda, Badru Senkuba, vandag hier moes gewees het, sou hy 'n oorval gekry het. Hy was so beindruk met die Du Toitskloof tonnel naby die Paarl dat ek hom drie keer daardeur moes vat. Toe sy broer uit Gauteng by hom kom kuier het was dit die eerste ding wat hy hom wou wys.

Ons is vandag van Tokushima reguit oor die see en eiland na Osaka. As jy op die kaart kyk en by Tokushima begin en Naruto verbygaan oor die see en oor die eiland, tot by Akashi, volg jy ons pad. Osaka lughawe is letterlik in die see gebou op 'n mensgemaakte eiland. Mens kom daar via 'n massiewe brug. As jy land en opstyg voel dit of jy op water land, want jy sien nog geen land onder jou nie. Ek sal more-oggend probeer om mooi fotos te neem as ons opstyg. Die busrit was 2 ure en 45 minute.



Die bus van binne. Ons is net 5 mense wat ry.


Een van die brue oor die water.


'n Ander een.

Ek ontmoet 'n baie oulike reisgenoot uit Amerika. Hy is van San Diego. Ons het nie eens name uitgeruil nie, maar lekker lank gesels. Hy is 'n ingenieur en kom al gereeld na China en Japan vir die afgelope 10 jaar. Dit was heerlik om sy indrukke te hoor. Hy se op 'n skaal van 1 - 100 waar 100 mees ontwikkeld is, is Japan vir hom op 95 en China was 10 jaar terug op 10 en is nou op 20. Hy vertel hoeveel van sy Japanese kollegas skuif hul besighede na China omdat die belastings daar net 7% is teen die meer as 20% in Japan en die arbeidskostes so min is. In die besighede waarmee hy in China te doen het, is 'n werker 10 jaar terug 11 Amerikaanse sent per uur betaal vir hul werk. Vandag word hulle 27 sent per uur betaal. Dis 2 dollar 'n dag!


Kobe stad tussen Tokushima en Osaka.


Een van die baie tonnels. Hulle bou hulle tonnels sommer opdraend of afdraend ook.


Die brug na die lughawe in Osaka.


Osaka stad vanuit my hotelvenster.


Stephan wys my gister dat al die motors in Japan agteruit parkeer. Hier is 'n tipiese voorbeeld daarvan. Dit is net so. Stephan se dis oor die klein ruimtetjies wat hulle het en help dat daar nie ongelukke in parkeerareas gebeur nie.


Nou gaan ek vir my 'n heerlike aandete soek en vroeg in die bed klim, want more is 'n baie baie baie lang dag. Ek het nou net vir oulaas met my Pa en Ma geskype. Hulle vertrek ook vandag uit SA en kry my more in Seattle. Ons gaan ure se pret he. Ek het nou so lekker gesmile... My Pa se hy het 'n hele paar ander hoeke oor Hiroshima wat hy graag met my sal deel. Hulle was verlede jaar in Hawaii en het die museum in Pearl Harbour gaan besoek. So sal ons nog lank kan gesels. 

Lekker!!!!

1 comment:

  1. Hanlie, ek sal wat wil gee om te hoor wat jou pa se! Share hoor!! n Vervolging v japan saga in VSA! Carina

    ReplyDelete