Wednesday, May 9, 2012

Moonhill en ander indrukke

Ja, ek weet ek is nou besig om julle erg deurmekaar te maak deur so te spring van China na Japan en terug na China in my vertellings. Maar elke keer onthou ek nog iets wat ek wil vertel oor China.

Twee van die beste goed wat ek en Lean in Yangshuo gedoen het, was om na die ligskou te gaan kyk en Moonhill uit te klim. Beide het groot indrukke op my gelaat.

Moonhill is 'n baie bekende Karst-berg 7 km buite Yangshuo. Dis pragtig! Deur die jare het 'n grot in die berg deurverweer en nou is daar 'n hele gat in. Die Chinese heg baie waarde aan die son en die maan en hierdie lyk soos die maan.  Mens klim die paadjie tot bo in 990 trappe. Ons was stokflou en papnat toe ons bo kom. Maar die uitsig is beloning genoeg!





Die Impressions Light Show net buite Yangshuo is ongelooflik en regtig die moeite werd om te sien. Dit is al sedert Maart 2004 aan die gang en was 'n groot sukses van die begin af. Daar is meer as 600 mense wat optree. Die Li Rvier is die verhoog vir die vertoning en 12 verligte Karst berge is die agtergrond. Daar is 3000 mense per vertoning en twee vertonings per dag.

Die stuk is geskryf deur Zwang Yimou. Hy het bekendheid verwerf in 2002 met sy bekroonde fliek 'Hero' (okay wees nou maar eerlik - julle het ook nie van hom geweet nie!) en was die ou wat die openingseremonie vir die 2008 Beijing Olimpiese Spele uitgedink en op die planke gebring het. Ons het dit vreeslik geniet en nog 'n stukkie chinese kultuur beleef wat vir ons baie vreemd was: Toe die laaste liedjie begin, staan al die chinese op en loop. Sommer net so. Nie 'n handeklap na die tyd, of 'n staande ovasie of 'n ancore nie. Net opstaan en loop voor die einde en woerts warts als oor! Ek en Lean moes letterlik ons monde met ons hande toedruk van verbasing!

Ek het groot stukke van die opvoering op video geneem en Lean was die kamera vrou vir die aand. Hier is van haar bestes:




Die ontstaan van die vertoning is hart roerend! Mnr Yimou het op die platteland van China getoer en gesien hoe arm die minderheidsgroepe is. Hulle leef op minder as 10 dollar 'n maand. Hy het toe besluit om hulle te help deur hulle opleiding te gee om as kunstenaars in hierdie stuk op te tree. Daardeur skep hy 'n reuse koopkrag, baie werk vir minderheidsgroepe en elke kunstenaar kry 3 dollar vir elke vertoning. Binne drie vertonings het hulle 'n bedrag gelykstaande aan hul maandelikse inkomste. Die kaartjies was duur (R220), maar omdat ons weet dit gaan vir 'n goeie doel, betaal mens dit graag.

Ek skryf more oor Kyoto. Op die oomblik is ek besig om die Japanese kultuur te geniet en daarvan te leer. Dit is 'n reuse kontras van die chinese af!

No comments:

Post a Comment