Saturday, May 12, 2012

Reis en rys

Toe ek op laerskool was, het ons 'n simpel grappie gehad dat rys mens hardlywig maak en dit is hoekom die Japanese en Chinese se ogies so op skrefies getrek is. Vandag weet ek van beter! Ek is nou al 45 dae op reis (more-nag is ek halfpad deur my toer!) en ek het deur vele rys-kwekende lande getoer soos Malaysia, Vietnam, China en Japan. Vir die eerste keer in my lewe het ek vandag gesien hoe rys geplant word met 'n rys trekker! Ek is mal oor rys. Was nog altyd. Ek eet al rys vir 41 jaar en het nog baie selde gewonder waar dit vandaan kom. In SA koop ons Tastic in 'n 1kg of 2 kg sakkie in Pick en Pay of SPAR en as jy regtig 'fancy' wil wees, maak jy basmati rys. Kerrie is niks sonder die rys nie en op Sondae middae in SA is daar op vele Afrikaanse huistafels geelrys met rosyne.

Hier in Japan werk dinge bietjie anders: Carina het 'n rysmaker wat sy vanoggend vroeg al stel om self aan te gaan net voordat ons vanmiddag terugkom, sodat die rys gaar en heerlik warm is net voordat ons wil eet. Hulle gebruik wit rys met 'n kleiner/korter korrel wat baie meer 'sticky' is as ons rys. Daar is heelwat produkte in die Ooste wat van rys gemaak word soos lekkers, koekies, velprodukte, wyn, bier, noedels en vele meer.





Net agter die Van der Watts se huis in Tokushima is 'n hele paar ryslandjies sommer so in die middel van die stad. Anders as die rys-terasse wat ek en Lean in Pingan in China gesien het, is hierdie klein lappies grond wat deur kleinboere verbou word. Ook heelwat ouer ooms en tannies word gesien in die lande. Die rys-saailing word eers onder 'n plastiek-bedeksel gekweek totdat dit groot genoeg is en word dan uitgeplant. Die rice paddies word gebruik met vloedbesproeing.  Dis ongelooflik om te sien. Rys vat ongeveer 100 dae vandat dit geplant word totdat dit geoes kan word. Volgens Google word die meeste rys in Japan meganies geplant en geoes.

In Vietnam langs die Tam Coc rivier het die bootroeier ons vertel van hulle praktyke en ek moet se ek sal met groter vrymoedigheid Japanese rys eet as Vietnamese rys. Kyk maar volgende keer op die Tastic pakkie waar die rys vandaan kom.

Vandag was heerlik! Vol verrassings en nuwe ervarings. Ek is nog kort genoeg deel van die Van der Watt huishouding om nog die 'flavour-of-the-month' vir die kinders te wees. Hulle wil alles saam met my doen en ek geniet dit vreeslik baie.

Ons is vanoggend na 'n English Garden in Tokushima, wat Carina se ouers ook baie geniet het toe hulle hier was. Carina het die voorreg dat haar ouers ook vir baie jare sendelinge was in Japan. Dit is wonderlik dat die Here die seeninge in Japan voortsit deur haar en Stephan.


Cornelius is 'n anderste rakker. Hy kan so gemaak kwaad lyk en 3 sekondes later beloen hy jou met die mooiste glimlag denkbaar!

Nou wil ek nie onsin praat nie, maar na middagete by die tuin is ons na 'n Onsen by die hotel op die Bizan-berg. Die eerste dag al sien ek hierdie amusante gebou deur Stephan en Carina se huis se voorste venster. Dis 'n reuse hotel wat bo op een van die hoogste heuwels in Tokushima gebou is (as ek se berg, sal die SAners dalk die verkeerde indruk kry). By hierdie deftige hotel is 'n Japanese warmwaterbron. Dit word hier 'n Onsen genoem. Japan is mos 'n vulkaan aktiewe land en dit veroorsaak dat daar letterlik duisende sulke Onsens orals versprei is deur Japan. Die water bevat baie minerale en ander goeie stowwe wat helend is. Die vrouens en Lodewyk gaan een kant bad en Stephan en Cornelius aan die anderkant. Dis 'n publieke bad en baie interessant en lekker. Daar is al wat 'n shampoo, room en smeerding is om jouself mee mooi te maak en heerlike warm water van 50 grade celsius. Ons huur handdoeke teen 100 Yen elk (R10). Jy los al jou klere in 'n 'locker' en jou handdoek ook en trippel vir 45 minute van wasplek na wasplek. Gelukkig was ek in die army en kom ek uit 'n groot gesin, so om kaal voor 'n klomp vrouens te loop skrik my nou nie af nie. Die Japanese dink anders oor naaktheid as in ander dele van die wereld en niemand gaap mens aan nie. Ons was baie skoon toe ons uitkom en ook baie slaperig en reg vir die bed.

Hierdie is die uitsig bo van die hotel af oor die stad.


Toe gaan shop ons! Dis vir my altyd lekker om in 'n ander land se supermark te kom, want ek vergaap my aan alles wat anders is. Toe ek betaal is die vrou by die till ooglopend op haar senuwees. Carina staan agter my en tel dit ook dadelik op. Haar indruk is dat die vrou so bang is dat ek vir haar iets wil vra in engels en sy kan glad nie engels praat nie. Jy haal nie self jou goed uit jou mandjie nie. Jy gee vir die till-dame die hele mandjie. Sy haal dit uit, scan dit deur die till en sit dit in 'n tweede mandjie. Jy gee nie jou geld vir haar nie, maar plaas dit op 'n platvormpie langs die till. Nie hoekom nie! Sommer! Dis seker 'n teken van respek. Dan gee sy vir jou die kleingeld in jou hand en jy vat jou mandjie na 'n ander toonbank met sakke en pak jou eie sakke.


Annli het my vanmiddag op en af bekyk in die Onsen en van als wat sy gesien het, het my rooi toonnaels haar mateloos beindruk. Met toestemming van Carina en Stephan koop ek naellakverwyderaar en verf vanaand voor ete haar tone. Natuurlik verstaan Cornelius glad nie hoekom hy dit nie ook mag kry nie en om die vrede te bewaar verf ons syne ook. Nou weet ek sy Oupa gaan ook hierdie lees: Moenie bekommerd wees nie, Oom, ons gaan dit binnekort afhaal!


Carina is 'n baie goeie kok en doen baie moeite om my alles te wys en aan alles te laat proe. Daarvoor is ek erg dankbaar.  Vanaand maak sy Nabemono of Nabe Cooking Pot. Dis die Japanese se manier van potjiekos maak. Als in een pot. Dit is heerlik. Daar is hoender, worsies, mushrooms, tofu, wortels en pampoen in. Ons eet dit saam met rys natuurlik! Die Japanese het die wonderlikste shampioene denkbaar en dit is baie bekostigbaar.


Die tradisionele ding om daarmee saam te drink is bier. Ek is so lam na die bad in die warm Onsen water dat ek en Stephan 'n bier deel. Dit sal ook help om sy tong los te maak, want hy moet more 'n preek in Japanees lewer by 'n gemeente drie ure se ry van hier af. Ek en Carina gaan hulle gemeente bywoon. Stephan het die engelse weergawe van sy preek vir my geprint om te lees tydens die Japanese diens, want natuurlik gaan ek niks verstaan nie. Mens weet nooit, ek sal maar die Here vertrou om my te seen met die gawe van luister in tale.

More is Moedersdag. Ek het al vanoggend vroeg my boodskap aan my Ma in Wellington ge-e-pos. Mamma, ek wens ek was daar om dit self oor te dra, maar gelukkig sien ek julle binnekort in Seattle.

Gelukkige Moedersdag vir elke ma wat hierdie lees. Mag julle kinders vir julle tot groot seen wees.

No comments:

Post a Comment