Thursday, June 20, 2013

Wolf skaapwagter

As ek vier dae terug geweet het wat ek nou weet, het ek dit nooit gedoen nie. Hoe kan 'n goeie bedoeling so skeef uitdraai? Ek is nou al 96 uur lank besig om die gebeure oor en oor in my kop te laat afspeel en elke keer wens ek 'n ander einde. Maar die werklikheid ruk my telkens na die hede terug.

Dit het so gebeur: Ek het nuwe vriende op Piketberg gemaak. Vir ons almal se beterskap noem ek hulle Inge en M. Inge het na my op die dorp aangekom en ons het dadelik gekliek en is heerlike vriende. Sy het 'n pleegkind wat sy al het vandat hy 2 is. M het verlede week 9 geword. Ek is baie lief vir beide van hulle. Ek het ook vriende geword met 'n boer in die omgewing. Hier noem ek hom Gawie. Gawie boer met skape, koring en beeste, maar nie in daardie volgorde nie. Hy is eerstens 'n saaier en dan 'n beesboer wat skape ook het. Hierdie jaar is 'n besonderse goeie jaar vir skape. Wat ek nooit geweet het nie, is dat saaiboere hul skape se lamtyd manipuleer om later in die jaar te val sodat hulle eers kan klaar saai voordat lamtyd begin. Met vandag se genetika en mediese wonders kry baie skape twee en drielinge en het gereeld hulp nodig met die geboorteproses. So die twee hoofaktiwiteite kan nie saamval nie. Dan is dit chaos. Gawie is 'n baie goeie boer en was erg verras dat hierdie jaar amper 165% lammers opgelewer het. Wel, dit was voordat ek vir M plaas toe geneem het.

Die afgelope twee weke het Gawie ook twee hanslammers wat hy grootmaak. Die mooiste goed! Ek het die voorreg gehad om ook 'n handjie te kon bysit en het die ervaring baie geniet. Toe dink ek dit sal wonderlik wees om ook vir M en Inge die hanslammers te wys dat hulle ook in die ervaring kan deel. Na lang beplanning en tye koordineer wat almal pas, is ons toe op Jeugdag se vakansiedag plaas toe. Gawie was skepties oor die besoek, maar het ingewillig.

Die eerste deel van die middag het baie goed verloop. Ons was rivier toe (die Bergrivier loop tussen die plase deur), het ons verkyk aan die flaminke op die dam, M het quadbike gery saam met Gawie en ons kon die beeste en hoenders van naby bekyk. Selfs die besoek aan die hanslammers was uit die boonste rakke. Later steek Gawie vuur op en ons kuier heerlik. Maar die vrede sou nie lank hou nie...

Nou moet ek myself onderbreek en verduidelik wat ek die afgelope tyd oor skape geleer het. Ek het altyd geweet om iemand 'n skaap te noem is 'n redelike belediging, maar nou weet ek: 'n skaap is vrek dom. Hulle word in klein kampies gehou vir die kraamproses en elke lammertjie word gemerk vir die eerste paar dae, want 'n skaap kan nie tel nie en weet nie self sy het 'n drieling nie en gooi sommer haar lammertjies weg. Daarom beweeg hulle glad nie. Solank as wat die lammertjie langs sy ma bly, lewe hy. As hy haar verloor, vrek hulle maklik. Na 'n week of wat word hulle uitgeplaas na die veldkamp met groot sorg en versigtigheid sodat die skape naby hul lammers kan bly en heeltyd weet wie is wie se lammers. Gawie en sy werkers is erg versigtig om nie die trop te versteur nie, want dit kan grootskaalse lamvrektes tot gevolg he.

In retrospek kan ek nie presies onthou hoe dit gebeur het nie. Ek en Inge het nog by die vuur gesit en gesels en M was by ons. Die volgende oomblik kom Gawie om die hoek en skree dat ons asb dadelik die kind uit sy ooie kamp moet kom verwyder, want hy is besig om groot probleme te veroorsaak. (die taal het definitief meer kruie bygehad!) Ek en Inge het voorhek toe gehardloop en net gesien hoe M tussen die skape deur hardloop en hulle aanjaag dam se kant toe. Selfs 'n paar klippe optel en agter hulle aangooi. Ek kan nie vir julle die skrik in my lyf verduidelik nie! Hoe het hy daar gekom? Hoekom doen hy dit? Wie het gese hy kan deur twee hekke op sy eie op die plaas wees?! Ek en Inge hardloop agterna en skree ons longe uit op M, maar sonder enige sukses. Ek gaan haal later my kar en ry nader. Toe ons by M kom is hy baie trots op sy prestasie en vra net of ons gesien het hoe vinnig hy is? Ek was stom van woede en skok.

Gawie was onheilspellend stil en op die oog af kalm. M het huilend omverskoning kom vra. Die res van die aand was styf en ongemaklik.

Baie lammers sal vrek. Dit was vir baie van hulle die eerste dag in die veldkamp en skape en lammers ken nog nie mekaar nie. Iemand sal hiervoor moet betaal.

In 'n whatsapp later die aand skryf Gawie: "Ek is jammer oor jou ervaring vanaand. M het baie plaashekke vir hom en ander vandag toegemaak."

Ek is nog besig om te dink wat ek alles hieruit geleer het. Onvoorsiene gevolge van 'n goeie bedoeling...

Hier is ek die vorige week met die grootste van die hanslamme. Sy naam is Soetraak en hy sukkel maar daarmee. Die tweede hanslam is heelwat kleiner. Sy naam is Kastig.

Tuesday, May 7, 2013

Saaityd...

Nou weet ek wat julle dink. Wat weet Hanlie van boerdery af? Die antwoord is maklik. Niks!

Maar ek leef nou al vir vyf maande in 'n area waar boerdery die hoof aktiwiteit is en ek leer elke dag soveel nuwe dinge deur die kennisse en vriende wat ek die afgelope tyd gemaak het.

Die ding wat ek die hardste moes leer is die risiko's, tydsberekening en wetenskaplikheid wat met boerdery gepaard gaan. Iets wat ek nog nooit bedink of bereken het nie. Ek koop vleis, vrugte en groente, graanprodukte en melk maklik van 'n rak af sonder om verder te dink as wat ek daarvoor moet betaal en wat ek daarmee gaan maak.

In Piketberg en omgewing is dit die enigste gespreksonderwerp vir die afgelope twee maande: Wanneer gaan dit reen? Hoeveel gaan dit reen? Is my implemente reg? Is my mense gereed? Wanneer kom die volgende staking? Hoeveel moet ek hulle betaal? Hoe lank gaan die winter wees? Het ek genoeg voorbereiding gedoen? Watse skuiwe moet ek maak op die skaakbord en sal dit werk? Hoeveel kan ek waag? Die hele boerdery bedryf is 'n waagstuk met enorme risiko's vir die spelers. Elke skuif kan jou laaste skuif wees.

Gisteraand ry ek en 'n mede munisipale bestuurder van 'n ander dorp terug van 'n vergadering af in Worcester. Ons ry verby Porterville oppad Piketberg toe en op elke land is daar ligte. Elke boer is in die veld besig om te saai. Na deeglike oorweging en met volle hoop en vertroue dat hierdie week die regte tyd is om klein saadjies in die grond te sit met die hoop dat die omstandighede reg sal wees om 'n oes te lewer.

Ek is nie 'n boer nie, maar ek besef die afgelope tyd ek is ook 'n saaier. Ek saai tyd, energie en dienste in 'n gemeenskap waar die omstandighede 100% reg moet wees vir die saad om te groei en 'n oes te lewer. As die tydsberekening verkeerd is of die saad op verkeerde grond val, sal die oes misluk en die onkruid lustig groei.

Ek lees in my bybel dat almal van ons wat kinders van God is saaiers is wat elke dag saad saai in grond wat vrugbaar of onvrugbaar is. Soms raak ons moedeloos as ons niks sien opkom nie. Ander kere is ons verbaas oor die goeie vrug wat die Here bewerkstellig.

Vir al my vriende wat tans besig is om te saai... dankie dat julle my horison verbreed het. Dankie dat julle volhard met die skaakspel, al is dit hoe moeilik! Dankie dat ek kan leer dat die brood wat ek eet 'n hoogs gereguleerde en moeilike pad gevolg het om op my bord te beland. En dat ek minder onnadenkend verby saailande moet ry en moet sien en inneem dat 'n groot sektor in ons land uiters moeilike omstandighede daagliks trotseer om produkte te lewer wat die meeste verbruikers as absoluut vanselfsprekend aanvaar. Mag julle rekord-oeste lewer hierdie jaar!

Tuesday, February 26, 2013

Porterville se wereldklas vye en wereldbeker paraglyders

Die lekkerte van in 'n nuwe omgewing bly is die heerlike nuwe dorpe wat verken moet word. Verlede Saterdag was dit Porterville se beurt. Dit was my eerste naweek sonder kuiergaste op Piketberg Bo-Berg en ek wou die meeste daarvan maak. Toe is ek, Carina en Morne (nuwe vriende op de dorp) eers Vrydagaand na die kerksaal om die optrede van Emo Adams te kyk. Dit was uitstekend en ek praat nie net van Emo nie. Ek het die gehoor net so geniet. Die plattelanders is so sonder pretensie dat dit soos 'n vars bries was.

Saterdagoggend kom Lydia van Moorreesburg af en ons laai vir Carina en Morne op by Wolwekuil oppad Porterville toe. Carina het in Januarie 2013 in Piketberg begin as die skool sielkundige en Morne is haar agt jarige seuntjie.

Dit is vars-produkte-mark-dag in Porterville saam met hulle kerkbasaar. Daarmee saam is dit die opening van die wereldbeker in paraglyding. Vir die eerste keer word hierdie wereldbeker op Afrika bodem aangebied en dit nogal in Porterville. Hulle wil 170 paraglyders gelyk in die lug sit en vandag word daar geoefen. Dis 'n stunning gesig!

By die kerkbasaar loop ons Eikenhof se stalletjie raak. Hulle voer vye uit na Europa en nou dat die eerste oes af is, koop mens 'n groot bruin kardoes sak vir R30 en gaan pluk jy soveel as wat jy in die sak kan kry. Ongeveer 3 kg! Die lekkerste was om die boervrou te "ontmoet". Sy is toe al die tyd 'n goeie vriendin van my van skool. Karin du Plessis was hoofdogter in Porterville en ek en sy was saam finaliste in die matrikulant van die jaar kompetisie, saam by die Burger Strandhuis aan die einde van standerd 9 en het van st 8 - 10 saam vir Swartland netbal gespeel en groot pelle geword. Hier loop ek haar weer raak in Porterville en ons kuier net voort. Sy het intussen 'n wereldklas vye plaas opgebou saam met haar man en lewer uitsoekvrugte vir Europa.

Hier is ons met ons sakke vol vye. Stroop soet van al die proe en baie tevrede oor ons fonds.

Morne is baie kreatief en het die rubber handskoen wat ons gekry het om vye mee te pluk, opgespeel lank voordat ons by die boord was.
 Donker sappige uitvoer-gehalte vye!
 Ek en Karin, die vrou agter die vye-plaas en my netbal vriendin van skool. Ja, julle is reg! Sy het hoof verdediger gespeel!
 Ek het so baie vye gehad dat ek gedwing was om vye konfyt te kook nadat ek en my hele familie soveel geeet het as wat ons kon. My ma het die resep ge-sms en ek het Elna se mikrogolf geleen en siedaar... 8 botteltjies later! Julle kan maar kom kuier.

Ek het dit so geniet om self tussen die boorde rond te loop en self die lekkerste vrugte uit te soek. Ek het ook nuwe respek gekry vir plaaswerkers wat vir 12 ure in die son staan en vrugte pluk vir drie maande aanmekaar! Dan klink selfs R105 per dag na absoluut peanuts. Die son kan jou brand in Porterville!

Om alles te kroon wen twee van ons geselskap toe ook elkeen 'n tandem sprong in paraglyding! Ja, ek gaan ook... Sal julle laat weet hoe dit was.

Thursday, February 7, 2013

Misverstand




Verlede naweek kom kuier my ouers by my op Piketberg Bo-Berg. 'n Heerlike affere! Sondag na kerk sit ons af Misverstanddam toe. Ek was nog nooit voorheen daar nie. Miskien jy ook nie. Maar jy het seker ook al soos ek op die N7 gery verby Moorreesburg en Koringberg en die snaakse bordjie gesien wat net se: Misverstand/Die Brug. Ek wonder al vir jare watse brug so belangrik is dat dit 'n eie bord op die N7 het. Nou weet ek.

Die storie loop dat in die tyd wat die Kaap nie Hollands was nie en onder Engelse beheer, het 'n skip vanaf Amerika verby Kaappunt gekom oppad Indie toe. Op die skip was 'n baie groot en mooi en swaar brug wat vir iewers in Indie bedoel was. Naby die Kaap het die brug op die skip geskuif en die skip van balans af gedwing. Hulle moes toe noodgedwonge in Kaapstad hawe inkom om te kyk of hulle die brug kon regskuif op die skip. Natuurlik, so gaan die storie, kon hulle niks doen nie en is daar besluit om die brug af te laai eerder as om dit te waag dat die hele skip sink. Toe le die brug nou in Kaapstad vir baie jare. Die engelse ingenieurs het jare lank hul koppe gekrap om 'n plan uit te dink en later besluit die beste plek vir die brug is oor die Bergrivier net voor Piketberg. So gese so gemaak en vandag staan hierdie pragtige brug baie trots oor die Bergrivier net na die Misverstanddam.

Ons vat toe 'n bootrit saam met Skipper Serdyn op die dam en sien baie mooi (en nuwe) voels. Onder andere 'n blou visvanger en die afrikaanse oewerswaels. Skipper Serdyn se bejaarde pa is ook op die boot en kan heerlike stories deel. So deel hy ook met ons die interessante storie oor waar die misverstanddam sy naam gekry het: Twee families wat in die 1800's aan die Kaap gebly het en groente en vrugte gelewer het aan die besoekers aan die Kaap het op 'n stadium gevoel die belastings in die Kaap raak te hoog (en om te dink ons verwys daarna as die goeie ou dae!) en wou noordwaarts trek. Omdat beide families met baie vee en huisgesinne getrek het, kon hulle nie in een groep saamtrek nie en het afgespreek om mekaar langs die Bergrivier te kry. Die Hougaards trek toe en wag by die Bergrivier vir die Van Schalkwyks (hierdie van kry ek twee dae terug by die mense op Piketberg - Ou Oom Serdyn kon net die Hougaards onthou). Hulle wag en wag en wag, maar al wat uitkom is die Van Schalkwyks. Later begin hulle lande bewerk en plant en later oes hulle en steeds is die Van Schalkwyks nie daar nie.

Net daar besluit die Hougaards dat hulle lank genoeg gewag het en trek nou met of sonder die Van Schalkwyks. En daar trek hulle! Een dagreis verder kry hulle die Van Schalkwyks wat al meer as 'n jaar wag en wag en wag en wag vir hulle! Die vee-oppassers se hulle het geweet van mekaar, maar nie geweet die families soek mekaar nie. Soms help dit om na jou werknemers te luister! Hulle weet beter wat in die veld aangaan! Toe noem hulle die plek Misverstand!

Ons het heerlik daar gekuier! Moet my nie misverstaan nie... Dis verseker 'n besoek werd!

Wednesday, January 2, 2013

Nuwe rus en nuwe vriende by Nuwerus



Vir die afgelope paar jaar al kamp ek saam met vriende in die Cederberge oor nuwejaar. Dis vreedsaam, heelmakend, rustig, maar ook lekker aktief. Daar is geen selfoon ontvangs na Uitkykpas nie en dis hemels! Ek onthou weer die dae voordat almal jou enige tyd met die druk van 'n knoppie kon opkommandeer vir enige iets.

Ons is fietsryers. Bergfietsryers en daar word baie vroeg in die oggend opgestaan om 05:00 in die pad te val en sover te ry as waarvoor jy kans sien. Die fikses durf die pas aan tussen Nuwerus en Mount Ceder. Dis styl en die eienaars het onlangs 'n lekker 'single track' langs die pas gebou. Jy moet jou remme ken om oor die hopies gemaalde leiklippe te kom met al jou tande op hul regte plekke. Die ander van ons ry net waar ons wil... Soms net die bult tot by Matjiesrivier se opstal, soms die sirkelroete via Kromrivier en soms net tot by Oasis. Dis die plek met die goedkoop broodjies. Die eienaar is erg snaaks en ons gaan eintlik net om sy ironiese gasvryheid te geniet. So kom ons hierdie jaar op oujaarsdag by hom aan. Hy het intussen 'n nuwe kroeguitbreiding aangebou (nog in aanbouing) en hang daar rond toe tien van ons instap. Hy se non-chalant: Julle was mos al hier? Ek gaan my nie vandag laat rond chant nie. Vat dit soos dit kom. Wel, toe kom dit veel later. Die opsies is: Kry vir jouself 'n koeldrank of 'n bier uit die yskas in die winkel. Daar is vier soorte broodjies: Ham, kaas en tamatie of ham en kaas of kaas en tamatie of ham en tamatie. Ons plaas ons keuses en waarsku die nuwelinge oor die grootte van die porsies. Dis  GROOT met chips by ook.

Terwyl ons wag lag ons oor vorige ervarings by padstalle. My ouers het by 'n plek in Bonnievale gaan eet en toe my pa later die kelner roep en vra of hulle asb 'n spyskaart kan kry, is sy erg verontwaardig en se: Meneer, hier is twee keuses: Take it or leave it! In Grayton naby Caledon het mense ure lank sit en wag vir hulle tee en toe hulle navraag doen, het die kelner gese: Jammer meneer maar daardie mense (enigste ander gaste in die restaurant) het nog die teepot!

Ons klomp sit soos ou jeans aan mekaar. Ons ken mekaar al jare en hou al lank vakansie saam. Ons het min nonsens en dit wat daar is, steur niemand hulle aan nie. Sodra die son begin bak en die gazebo's nie meer genoeg laffenis bied nie, sit ons af swembad toe en kamp daar uit oor die hitte van die dag. Ons le rond. Party lees, ander knibbel aan biltong, neute en appels. Party slaap. Ander swem.

In die aande word die vuur aangesteek en dan braai ons. Ons gooi als bymekaar wat na slaaigoed lyk. Hierdie jaar het Isak en Blyda genoeg erfgeldjies gekry en genoeg uit-etes van die hand gewys om 'n splinternuwe Luna yskas te he. Ewe grand met 'n vrieskas ook in. Hulle verskaf die meeste van die gesonde kos. Pitte en skille noem hulle dit. Kalla en die seuns ('manne' soos hy hulle aanspreek) kamp hierdie jaar eers alleen, want Lean is swanger met hul derde seuntjie en al het ons vir Kalla 'n verlostang gegee vir sy verjaarsdag op die 31ste, sal ons bly wees as hy dit net as 'n braaitang hoef te gebruik. Lean kom die middag van die 31ste saam met Elmarie. Of hulle het gedink hulle kom, maar dis 'n storie oor 'n altenater belt vir 'n ander dag.

As ek nou terugdink aan ons kamp dan is daar 'n paar goed wat uitstaan: Ek het vir die eerste keer 'n kampbed en matras gehad en kan nie dink hoe ek ooit daarsonder gekamp het nie. Mens kan tot in die middag in die tent 'n middagslapie maak, want die bed is hoog genoeg om jou in die drukgang van die wind te plaas. Die ander ding is dat my been hierdie jaar baie beter is nadat ek my knie gebreek het in 2010. Verlede jaar in die Cederberge het ek swaar gekry en aanhou fietsry tot my been onthou het ons is 'n fietsryer. Hierdie jaar het heelwat beter gegaan. Ek kon meer as 50 km ry in die drie oggende! Te heerlik!

Tot volgende jaar!

Wednesday, December 26, 2012

Rooi fluweel op Kersfees




Dit het alles by die teddiebere begin. Ek brei al agt jaar lank teddiebere vir 'n projek van Ingrid Linde in Stellenbosch. Ons versprei gebreide teddiebere aan hospitale in die Kaapse Skiereiland om aan kinders te gee wat deur trauma gaan. In November 2012 nooi sy al die breiers om hierdie kwartaal s'n te oorhandig en daarvoor maak sy en haar familie die heerlikste eetgoed. Een van die gunstelinge is 'n rooi fluweelkoek wat haar dogter, Emma Knoetse en kleindogter gebak het. Ek vra die resep en Emma stuur dit later. In my agterkop beplan ek al die nagereg vir ons familie se kerstafel...

Dit was so 'n groot sukses dat ek dit graag met julle ook deel: (Daar is ook 'n resep in die Desember uitgawe van Sarie-kos op bladsy 116. En as jy klaar daarna gekyk het, blaai na bladsy 66 en kyk wie is die wenner van die beste koeksisters in SA! Dis my ma daardie!!)

Rooi Fluweel koek

Voorverhit oond tot 180 grade celsius. Smeer 3 x 19 cm ronde koekpanne. (My ma het net twee panne gehad en ons het elkeen van die twee lae met 'n gare-draaitjie deurgesny en 'n vier lagie koek gehad)

Sif saam:
2 en 'n half koppie koekmeel
1 en 'n half koppie suiker
1 eetlepel koeksoda
1 eetlepel kakao
1 teelepel sout

Meng saam:
1 koppie karringmelk
1 en 'n half koppie olie
2 eiers
1 eetlepel wit asyn
5 eetlepels rooi koekkleursel ('n klein botteltjie is 3 eetlepels en dis al wat ek ingegooi het)
1 eetlepel vanilla

Meng droe en nat bestanddele. Skep in panne en bak vir 35 - 40 minute. Bak eerder korter as langer. Net tot gaar want die koeksoda maak dat dit te bruin word. Laat heeltemal afkoel voor versiering.

Roomkaas versiering:
250 gram gladde roomkaas
250 gram sagte botter
2 koppies versiersuiker (sif saam met roomkaas en botter)
1 eetlepel vanilla
Meng en smeer op kop en tussen lagies.

Ek het die koek bo-op versier met vars kersies, blou bessies en frambose.

Die koek is heerlik! My een sussie se oudste dogtertjie, Elizna, is mal oor koekprogramme kyk en bak al self al is sy net 11 jaar oud. Sy het drie stukke geeet!

Ons het 'n wonderlike kerstyd gehad. Vir die eerste keer in 'n lang tyd was ons hele gesin weer bymekaar. My sussie en haar gesin van Pretoria af was hier en ons het mekaar opgekuier! Ek besef dit is nie alle families wat van mekaar hou nie en ons se gereeld baie dankie dat dit vir ons almal baie lekker is om saam te kuier.  Hoop julle elkeen het 'n geseende kerstyd gehad. Ek hoop hierdie heerlike koek sal 'n plek kry in een van jou spesiale geleenthede in 2013. Vier die lewe!




Saturday, December 8, 2012

Nuwe horisonne

Ja ek het baie lanklaas van my laat hoor! Ek is jammer, maar ek was nog net nie reg om dit wat ek die afgelope paar maande beleef het, in woorde om te sit nie. In Julie het ek teruggekom SA toe en begin werk soek. Moenie dat iemand jou anders oortuig nie: werksoek is nie vir sussies nie! In Feb toe ek weg is by Stellenbosch Munisipaliteit het n goeie vriend, Johan Gerber, vir my 'n baie waardevolle sms gestuur wat my nog baie sou help in die maande vorentoe. Hy het gese: "onthou jy het jou werk verloor, nie jou vermoe om te werk nie." Dit klink eenvoudig maar glo my...

Toe ek oorsee is het ek gese ek sien uit daarna om te sien wie ek is as ek nie "Hanlie-van-die-Munisipaliteit" is nie. Ek moes die afgelope tyd met n skok besef hoeveel van my identiteit uit my werk kom. Dit was vrek moeilik om nie te werk nie! Om 'sane' te bly moet mens hardnekkig bly glo dat die Here weet wat Hy doen en sal handel op Sy beloftes. Nou omdat ons die uitkoms reeds weet, is dit maklik om terug te kyk en van groot geloof te praat, maar as jy daar in is, is dit nie vanselfsprekend nie. Ek het dag na dag in my kar gesit en oor en oor gesing: Dit is wel met my siel. Dit is wel dit is wel met my siel!! Al voel my siel nie wel nie.

Nou is dinge anders. Vir die van julle wat nog nie die goeie nuus gehoor het nie... Ek is aangestel as Munisipale Bestuurder van Bergrivier Munisipaliteit! Ek het reeds 1 Desember daar begin en geniet elke oomblik! Die hoofkantoor is in Piketberg, maar die Munisipaliteit sluit ook Porterville, Velddrif, Laaiplek, Port Owen, Dwarskersbos en 4400 vierkante kilometer se landelike areas in. Dis fantasties om weer op my volle potensiaal aangewend te word!

Intussen het ek uitgevind waar die storie van "Swak Piketberg swak" vandaan kom. Die dorpenaars vertel van n ou wat terug huistoe gestap het deur die begraafplaas na 'n aand in die kroeg. Hy was onvas op sy voete en het in 'n oop lee graf geval. Die volgende oggend toe hy wakker word en halflyf by die oop graf uitstaan, dog hy dis die wederkoms en dat net hy alleen 'opgestaan' het. Toe se hy: net een regverdige is gevind... Swak Piketberg swak!!

Saturday, October 13, 2012

Nuwe generasies


Gistermiddag ry ek fiets saam met 'n vriendin. Ons trap nog so teen die bult uit, toe gee sy vir my die antwoord op 'n vraag waarmee ek die afgelope maand spook.

Ek het die voorreg om op die oomblik klas te gee vir studente by drie tersiere inrigtings. Hulle wissel in gehalte en ouderdom, maar is oor die algemeen min of meer 22 jaar oud. Ek het eintlik min kontak met jong mense van hierdie ouderdom, so dit was 'n redelike skok om te sien hoe hulle 'operate'.

Die eerste ding wat my opval is dat hulle nie vir een oomblik kan stilsit en net op een ding konsentreer nie. En nie op 'n goeie manier 'multi tasking' gelyk nie - nee 'scatter brain' agtig. Almal is heeltyd besig op talle elektroniese toestelle gelyktydig. Die een ou in my klas het permanent pluisies in sy ore wat gekoppel is aan elektroniese draadjies na sy iPhone, iPad en iPod wat hy saam met sy MacBookPro voortdurend opereer. G'n wonder hy kom nie sy eksamens deur nie.

Ek is ook geskok oor die kitsheid (is daar so 'n woord) van die generasie. My een klas moes 'n taak inhandig in Maart hierdie jaar. Uit die 15 het 5 ingehandig. Na verskeie maatreels het steeds net 5 ingehandig. Ek is toe verlede week ingeroep om die taak met hulle te bespreek en terugvoer te gee. Die tien wat nie ingegee het nie, het nie eers die moeite gedoen om 'n aanvaarbare verskoning uit te dink nie. Toe ek die 5 take merk, kry ek amper 'n oorval. 3 van die 5 het bloot 'n taak van Google af gekry en hul eie name opgesit. Krimineel. Die een wat die meeste plagiaat gepleeg het, het net een woord verander in 'n taak van 'n student uit Skotland en dit ingegee met haar naam voorop. Natuurlik was dit heeltemal van ons onderwerp af en totaal irrelevant. Ek hou haar toe na klas en gee haar 'n laaste kans om haar sonde te bely, maar sy hou vol dis haar eie werk. Ek skuif die Skotse meesterstuk oor die tafel. Sy sien sy is uitgevang en gee haar verskoning: Haar Ma het die taak gedoen en sy het nie geweet sy mag nie iets van Google af vat nie!! Ek was eers stom... Toe bars ek uit van die lag... en toe is ek kwaad! Vir die student, en veral vir die ma. Watse Ma doen dit?!

Nodeloos om te se hulle moet nou almal die taak oordoen. Al wat ek soek is 'n eenvoudige prosesplan.

'n Goeie ding wat my opval is dat hulle baie meer 'vocal' is. Elkeen het 'n mening en die houding van 'kinders-moet-gesien-en-nie-gehoor-word-nie' is duidelik iets van die verlede. Genadiglik tog. Maar wat my opval is dat hulle baie minder emosionele intelligensie het of 'street smart' is as wat mens sou hoop.

So loop en worstel ek met die hede en die verlede en wonder hoekom die nuwe generasie is soos wat hulle is. Lizelle werk elke dag met hulle en sy weet wat ek nog moes leer: Die 20-jariges kan nie 'n proses beskryf nie, want hulle beleef nie prosesse nie. Als gebeur oombliklik, nou dadelik en as hulle iets wil weet klik hulle op die wye wereldse webwerf en siedaar! Nou, oombliklik, ongeproseseerd. Inligting is cheap. Als is vervangbaar.

My Ma het dit gese oor ons ook. Ons is 'n kits generasie want ons werk met sakrekenaars en bereken nie self die Sin, Cos en Tan van wiskunde nie. Nou dink ek die volgende generasie is kits omdat hulle geen proses kan beskryf nie, maar oombliklik by antwoorde uitkom deur google te gebruik.

Bid jou aan wat hulle gaan se oor die volgende generasie. Mag ek leef om dit te beleef!

Tuesday, September 4, 2012

'Scrapyard sale'

Die laaste paar nagte het ek nie in my eie bed geslaap nie. Ek is in die Boord in Stellenbosch by my sussie en hulle kinders. Haar man is oorsee vir sy werk. Ek help om die groottes by die skool te kry, in die bad en bed te kry, gevoed te kry en als waarmee 'n tannie kan help. Die laaste paar nagte het dit maar rof gegaan want Janko, die kleinste van sewe maande, is siek en slaap nie veel nie.

Vanoggend le ek van 05:00 af wakker maar dis nie Janko se skuld nie. Hy slaap. Daars 'n geraas in die straat wat ek nie ken nie. My brein probeer dit uit'figure'. Kan dit wees dat mens die trein hoor in Lovell laan in die Boord? Hoogs onwaarskynlik. Daars dit weer. Dan skielik weet ek: dis die trollie mense wat met hul geleende winkeltrollies straat-op en straat-af paradeer. Dinsdae is vullis-uitsit-dae in die Boord en die trollie mense is vroeg al op hul pos om van asblik na asblik te stap en als wat geld kan genereer in Plankenbrug bymekaar te maak. Dis nog vrek koud op Stellenbosch. My motor wys later vanoggend 4 grade. Ek kruip dieper in my warm bed in en wonder hoe koud moet die trollie mense kry.

Gisteraand kry ons 'n e-pos van 'n vriendin wat goeie herbruikbare 'junk' soek om te verkoop om geld in te samel vir haar werk in Lesotho. Daars baie in my huis in my garage en in my lewe...

My gedagtes hardloop na die vullis-uitsit-dae in my eie lewe. Marina, 'n vriendin, vertel gisteraand by ons bybelstudie van 'n kursus wat sy doen vir 28 dae wat jou help om huis skoon te maak. Ek en Elna besluit later oor 'n koppie tee (earl grey natuurlik!) ons sal baie langer as 28 dae nodig he.

Die laaste paar maande was vullis-uitsit-dae in my eie lewe. Ek is stelselmatig besig om te leer om te laat gaan. Eenvoudiger te lewe, minder op te gaar, meer weg te gee en met veel minder klaar te kom. Dis bevrydend. Dis angswekkend. Dis gelooftoetsend. Dis heerlik oorgewend!

"Eenvoud is die vreugde van die lewe.
 Dis gee en neem net wat daar is.
 Dis dankbaar leef van elke skewe snytjie brood
 wat liefde is."

Iets wat ek jare terug al geleer het: Ek glo in ons God wat weet wat elkeen van ons nodig het. Hy belowe in Sy woord dat hy vir ons sal sorg. As Hy dus nie in iets voorsien het nie, weet ek ek het dit nie nodig nie. Dis so eenvoudig soos dit. Hoe minder goed, hoe minder stress.

Mag elkeen van ons vreugde vind in die eenvoud van die lewe en mag daar elke week trollie mense om ons wees om ons te onthou hoeveel ons eintlik het. Mag genoeg vir ons genoeg wees.

Monday, July 30, 2012

Ons Wellington-huis

Een van die baie voordele van werkloos wees is om tyd te he. Baie daarvan. Ek sit vanoggend en wag dat my hare droog word in die son. My gedagtes draal lui terug na my kinderjare. Seker om al die gedink oor die toekoms af te wissel.

Ek dink terug aan ons huis in Wellington. Voordat my ouers na 'n kleiner huis getrek het. Ons huis in Uitsig. Ek was 4 toe ons daar ingetrek het en het meer as 18 jaar daar gebly. Die prentjies vlieg voor my geestesoog verby. Daar was 'n baie groot boom in die agterplaas. Elna het haar arm gebreek toe sy klein was omdat sy oor een van die boom se wortels gestruikel het. So groot was hy. In my gedagtes het die agterplaas net bestaan uit die boom, die wasgoeddraad, 'n pakkamertjie agter ons garage, Bettie se toilet, 'n draad met 'n grenedella rankplant en 'n muur met gaatjies in waardeur ons die agterste bure se swembad kon sien. Agter ons het die Bothmas gebly. Danie Bothma was 'n stout klein seuntjie wat kon vloek soos 'n matroos. Partykeer het ons hom geterg net om sy stortvloed woorde te hoor. Sy sussie Erika is gereeld in haar kamer toegesluit in 'n poging om beter akademiese prestasie te verseker en ons was telkens getuie van haar ontsnappingspogings.

Tussen ons garage en die agterdeur was 'n prieel met wilde druiwe op. Ek kon die ou braaivleisplek gebruik om op die prieel te klim en kon lang ure op die garagedak deurbring as ek wou ontsnap van die gewoel. Natuurlik nie in die somer nie. Die sinkdak en Wellington se hitte het nie somerbesoekers toegelaat nie. Ons garagepad is geplavei. My Pa het een middag van die werk af gekom en begin bakstene le. Elke middag na werk het ons hom gehelp bakstene pak, sement aanmaak, toue span om die bakstene in reguit rye te kry. Later het ons die groen mos uit die skadukolle gekrap met 'n ou mes. Dit was ons huis...

Ons het twee badkamers gehad. Met vyf dogters klink dit meer as wat dit is. Ons het streng reels gehad oor hoe om die badkamer te gebruik, anders het al vyf nie betyds skool of kerk gehaal nie. As jy jou hare was, mag jy nie die deur sluit nie, want iemand anders moet kan inkom om tande te borsel of die toilet te gebruik. Vele Sondae moes ons oppad kerk toe oorbelle en grimering aansit.

Toe ek hoerskool toe is, wou ons so graag 'n swembad het. Almal in die buurt het reeds een gehad. Na erge onderhandelings is besluit: Ons sal self grawe. Moedig het ons begin en die hele doodloopstraat se omdraaisirkel gebruik om kleierige grond te bewerk. Dae later het my Pa 'n 'digger loader" laat kom om die projek in een seisoen af te handel. Ek onthou hoe ons aandetes van broodjies en vrugte by die swembad sou geniet. My eie matriekafskeid "after party" is by daai einste swembad gehou. My seuns klasmaats moes elke Vrydag hare-parade staan. Ek onthou 'n hele paar Donderdae aande wat Daan Spamer en Verlep gou hul hare in ons swembad kom natmaak het dat ek dit met die sker kan bykom!

Ons kombuis is uitgebrei en later weer uitgebrei om die tuisnywerheid bedrywighede te kan akkommodeer. As ek 'n rand kan he vir elke keer wat my Ma 'n pen gesoek het in die oggende, het ek nie nou sit en dink aan die verlede om nie te worry oor die toekoms nie. Haar naaldwerkkas was ook "off limits"vir ons. 'n Naaldwerksker mag net gebruik word om lap te knip! Maar die versoeking was telkens groter as die gehoorsaamheid.

Ons het 'n sitkamer gehad, maar net die klavier het gereeld daar gesit. Ons plek was die TV kamer. As dit dooi warm was soos net Wellington kan raak, het ons as gesin saam in die TV kamer voor die lugverkoeler geslaap. Daar was 'n ou platespeler wat die hele een kant voor die venster toegestaan het. Sondae middae het ek daar gaan le en met oorfone op Don Francisco geluister totdat die naald krap in die middel gly. Die TV kamer was ook die plek waar ons huisgodsdiens gehou het 06:45 voordat ons 07:00 by die deur uit is skool toe. As ek eerlik moet wees onthou ek meer hoeveel ons baklei het om betyds daar te wees as oor wat ons gelees het.

Nou's my hare droog en my gemoed vol. Lank lewe die familiehuis vol herinneringe!

Thursday, July 19, 2012

'n Mondvol en 'n hartvol

Gisteraand bly ek by my Santie-sussie se drie kinders in Kuilsrivier. Santie is in Gauteng vir werk en studie. Katriena het heerlike boontjiesop gemaak. Dis tyd vir sop-kluitjies soos my ma dit altyd gemaak het.

"Sulize, bring die resepteboek", roep ek. DIE RESEPTEBOEK is alombekend in ons hele familie. Elke dogter en kleinkind weet daarvan. My Ma het 'n paar jaar terug gaan sit en vir elkeen van haar 5 dogters al haar gunsteling resepte op rekenaar gesit, geprint en as geskenk gegee. Daar is als waarvoor ons as kinders oor en oor gevra het asook die groter familiewenners soos Ant Nolte se karringmelkbeskuit, Ouma Linde se vrugtekoek, Tannie Bessie se kaastert, Tannie Hannetjie se souttert en Mev Visser van Arcadia se growwe bruinbeskuit. Ek het mev Visser nog nooit ontmoet waarvan ek kan onthou nie. Ek was 4 jaar oud toe ons van Arcadia in Pretoria af getrek het Wellington toe, maar haar beskuit ken ek goed!

My Ma se geheime resep waarmee sy meer as 'n miljoen koeksisters vir 'n tuisnywerheid gebak het, is ook ingesluit. So ook die fudge en semelbeskuit resep waarmee ek elke vakansie as kind betaal het deur te help bak en brou vir Woeker en Woel in die Paarl teen ekstra sakgeld.

Elke familie het sulke resepte. Ek is seker joune ook. Dis daai resepte wat mens met geen vreemde sinvol kan deel nie, want dit bevat "die witlepel" hoogvol dit en "die bloubakkie" vol dat. My Ma het selfs vir Stilbaai so 'n boek gemaak om daar te gebruik. Dit was so gewild dat dit voete gekry het! Ons weet nou nog nie wie bak waar daarmee nie.

Elke resep in die boek roep ander herinneringe by my op. Katie Barnard se gemmerbier. Hulle was ons bure in Wellington en Tannie Katie is lankal oorlede. Tannie Huipie se melktert. Dis my Christa-sussie se skoonma en sy kan goed bak! Ek proe nou nog die melktert wat ek by haar en Oom Gert in George gekry het toe hulle daar gebly het. Ons het op die stoep gesit onder die afdak met die groen tafeldoek oor die lang tafel. My Ouma Linde wou ons nooit in haar klein woonstelkombuisie toelaat nie. Ons wou so graag sien hoe sy dit doen, maar moes sitkamer toe.

Toe ons kinders was en vir 'n langvakansie in Desember Stilbaai toe is, het ons 4 soorte koekies gebak vir die see. Dit sou saam met 'n fles tee op Lappiesbaai geniet word as jou lippe van die sout brand na 'n swemsessie. Daai tyd was die duin nog hoog en terug kar toe was ver. Almal moes help dra aan die sambrele, branderplanke en die gevlegde mandjie met die teegoed in. Daar was soetkoekies, gemmerkoekies, grondboontjiebotterkoekies en woelies. Die een jaar het die woelies so lank gebak en hard geword dat dit sedertdien as klippe bekend staan in ons huis. Die een aan diens vir die dag kon kies watse soort koekies saamgaan see toe. Die grondboontjiebotterkoekies was my gunsteling!

Die lekkerste is dat die resepteboek nie klaar is nie. Daar kom weekliks nog resepte by wat iemand iewers geproe het en uitprobeer het. Dis heerlik om een van 5 susters te wees en 'n ma te he wat graag bak. Ons sal mekaar bel en se: Daai pampoentert van Christa is heerlik by braaivleis. Maak net die suiker minder. Dis vreeslik soet.

Nerens in die wereld kry mens SAse beskuit nie. Die naaste is seker Europa se Biscotte. Ek het dit en mieliepap die heel meeste gemis op my wereldtoer.

So draai my gedagtes deur die jare en die geure terwyl die sopkluitjies gaarstoom in Katriena se sop.

Voor in my Ma se resepteboek staan: Bak en brou soos Ma. Vir Corne, Christa, Santie, Hanlie en Elna: Julle is nog steeds 'n hartvol!

Verlustig jou aan die familieresepte in jou huis. Ek is seker daar is nou 'n hele paar waaraan jy kan dink. Moet net nie kwyl by die werk nie!

Tuesday, July 3, 2012

Veilig terug in Stellenbosch

Hierdie ongelooflike prentjie begroet my deur my voordeur op my eerste dag terug! Stellenboschberg op 'n mooi wintersdag! Dis regtig lekker om terug te wees by die huis. Ek sal my ervarings en beleweninge van die afgelope drie maande vir niks in die wereld verruil nie, maar ek geniet dit ook om weer tuis te wees.

My eie bed, my eie TV, my familie en vriende! Dis wonderlik om terug te wees.



Op Kaapstad Internasionale Lughawe wag drie van my sussies met hul mans en kinders my in. Wat 'n verrassing! Daar is kaartjies, verwelkomingsgeskenke, liedjies, baie soene en gelukkige gesigte. My hart is die gelukkigste van alles. Kan een mens so geseend wees?

Dis 93 dae sedert ek hier weg is. Ek was in 11 lande. Het 1 164 328 gemeterde tree gestap. Ek het meer as 50 000 km gevlieg, 6 dae op lughawens en vliegtuie spandeer. Daar het 15 mense saam met my getoer op verskillende tye.  Gemiddeld 180 mense per dag het my blog gelees.

Die volgende fotos is in geen kronologiese volgorde nie. Om een of ander rede gooi my rekenaar dit rond. Seker ook maar genoeg gehad die afgelope tyd:

Hierdie is Bay Bridge in San Francisco wat verlig is in die nag. Dis die langste staalbrug in die wereld.


Sacramento bo uit die lug uit. Ek het die wonderlikste uitsigte gehad uit die vliegtuig oppad terug.




Baie van julle vra waar my registrasienommer soektog staan... Jip, ek het Hawaii gekry! Maar ek kort twee state om die 50 vol te maak. Rhode Island en Dalaware se mense ry net nie aan die weskus van Amerika rond nie! Wel, dit beteken net ek sal weer moet gaan. Ek het immers 'n 10 jaar Amerikaanse visum en daar is baie wat ek nog moet sien.


Hierdie Mule Dears was so mak binne in Yosemite (uitgespreek Joe se mi tie) waar hulle besig was om die tuin te plunder, dat ek 'n mooi foto kon kry.


Ek, Mathhys, Elizan en Daniel het baie lekker gelag oppad terug van Yosemite af oppad terug SF toe. Skielik in 'n dorp (waarvan ek nie nou die naam kan onthou nie) staan hierdie lee stoele en piekniekkomberse al langs die straat en in die parke. Ek dog vir 'n oomblik die wegraping het reeds in die VSA gebeur. Toe sien ons advertensies dat daar daai aand 'n opelugkonsert plaasvind en hierdie is mense wat hul plekke gaan uitsit het. Ons is laatoggend daar verby. Ek sidder om te dink wat sal gebeur as ons dit op die Braak in Stellenbosch doen... Jy sal jou stoel en kombers nooit weer sien nie!


Die Baseball Stadion in SF. Home of the SF Giants! Die Park is gebou nadat die bekende Candlestick Stadion verwoes is in 1986 deur 'n aardbewing. Dit is veral bekend omdat daar 'n wedstryd aan die gang was wat landswyd deur duisende mense gekyk is, toe die aardbewing plaasvind.


Basebale is nou nie eintlik my gunsteling sport om te kyk nie, maar die toeskouers is baie interessant. Die Giants het baie ver verloor teen die Cincinnati Reds.



Dis lekker om nie uit 'n tas te leef nie. Dis opwindend om 'n nuwe begin te kan maak. Ek wag op die Here om te hoor waar Hy my wil gebruik. In die volgende paar maande gaan ek werk soek. Mag die Here my seen met geduld, goeie ore om Hom duidelik te hoor en baie wysheid. Hy is in beheer. Laat Hy doen soos Hy goeddink.

Dankie vir almal wat saam getoer het. Ek is stadig maar seker besig om almal te groet (die wat natuurlik naby genoeg is) en geniet dit so om te hoor wat in elkeen se lewe gebeur het. EK BESEF ELKE DAG OPNUUT DAT ONS HELE LEWE 'N REIS IS. Jy kan kies hoe jy toer en saam met wie en waar. Jy kan kies hoeveel jy hou van waar jy is. Mag dit vir elkeen 'n opwindende reis wees. Lekker toer!