Thursday, February 7, 2013

Misverstand




Verlede naweek kom kuier my ouers by my op Piketberg Bo-Berg. 'n Heerlike affere! Sondag na kerk sit ons af Misverstanddam toe. Ek was nog nooit voorheen daar nie. Miskien jy ook nie. Maar jy het seker ook al soos ek op die N7 gery verby Moorreesburg en Koringberg en die snaakse bordjie gesien wat net se: Misverstand/Die Brug. Ek wonder al vir jare watse brug so belangrik is dat dit 'n eie bord op die N7 het. Nou weet ek.

Die storie loop dat in die tyd wat die Kaap nie Hollands was nie en onder Engelse beheer, het 'n skip vanaf Amerika verby Kaappunt gekom oppad Indie toe. Op die skip was 'n baie groot en mooi en swaar brug wat vir iewers in Indie bedoel was. Naby die Kaap het die brug op die skip geskuif en die skip van balans af gedwing. Hulle moes toe noodgedwonge in Kaapstad hawe inkom om te kyk of hulle die brug kon regskuif op die skip. Natuurlik, so gaan die storie, kon hulle niks doen nie en is daar besluit om die brug af te laai eerder as om dit te waag dat die hele skip sink. Toe le die brug nou in Kaapstad vir baie jare. Die engelse ingenieurs het jare lank hul koppe gekrap om 'n plan uit te dink en later besluit die beste plek vir die brug is oor die Bergrivier net voor Piketberg. So gese so gemaak en vandag staan hierdie pragtige brug baie trots oor die Bergrivier net na die Misverstanddam.

Ons vat toe 'n bootrit saam met Skipper Serdyn op die dam en sien baie mooi (en nuwe) voels. Onder andere 'n blou visvanger en die afrikaanse oewerswaels. Skipper Serdyn se bejaarde pa is ook op die boot en kan heerlike stories deel. So deel hy ook met ons die interessante storie oor waar die misverstanddam sy naam gekry het: Twee families wat in die 1800's aan die Kaap gebly het en groente en vrugte gelewer het aan die besoekers aan die Kaap het op 'n stadium gevoel die belastings in die Kaap raak te hoog (en om te dink ons verwys daarna as die goeie ou dae!) en wou noordwaarts trek. Omdat beide families met baie vee en huisgesinne getrek het, kon hulle nie in een groep saamtrek nie en het afgespreek om mekaar langs die Bergrivier te kry. Die Hougaards trek toe en wag by die Bergrivier vir die Van Schalkwyks (hierdie van kry ek twee dae terug by die mense op Piketberg - Ou Oom Serdyn kon net die Hougaards onthou). Hulle wag en wag en wag, maar al wat uitkom is die Van Schalkwyks. Later begin hulle lande bewerk en plant en later oes hulle en steeds is die Van Schalkwyks nie daar nie.

Net daar besluit die Hougaards dat hulle lank genoeg gewag het en trek nou met of sonder die Van Schalkwyks. En daar trek hulle! Een dagreis verder kry hulle die Van Schalkwyks wat al meer as 'n jaar wag en wag en wag en wag vir hulle! Die vee-oppassers se hulle het geweet van mekaar, maar nie geweet die families soek mekaar nie. Soms help dit om na jou werknemers te luister! Hulle weet beter wat in die veld aangaan! Toe noem hulle die plek Misverstand!

Ons het heerlik daar gekuier! Moet my nie misverstaan nie... Dis verseker 'n besoek werd!

1 comment:

  1. Dis die soort van navorsing waarvan ek hou en dit geniet. Welgedaan. En doen nog.

    ReplyDelete