Tuesday, February 26, 2013

Porterville se wereldklas vye en wereldbeker paraglyders

Die lekkerte van in 'n nuwe omgewing bly is die heerlike nuwe dorpe wat verken moet word. Verlede Saterdag was dit Porterville se beurt. Dit was my eerste naweek sonder kuiergaste op Piketberg Bo-Berg en ek wou die meeste daarvan maak. Toe is ek, Carina en Morne (nuwe vriende op de dorp) eers Vrydagaand na die kerksaal om die optrede van Emo Adams te kyk. Dit was uitstekend en ek praat nie net van Emo nie. Ek het die gehoor net so geniet. Die plattelanders is so sonder pretensie dat dit soos 'n vars bries was.

Saterdagoggend kom Lydia van Moorreesburg af en ons laai vir Carina en Morne op by Wolwekuil oppad Porterville toe. Carina het in Januarie 2013 in Piketberg begin as die skool sielkundige en Morne is haar agt jarige seuntjie.

Dit is vars-produkte-mark-dag in Porterville saam met hulle kerkbasaar. Daarmee saam is dit die opening van die wereldbeker in paraglyding. Vir die eerste keer word hierdie wereldbeker op Afrika bodem aangebied en dit nogal in Porterville. Hulle wil 170 paraglyders gelyk in die lug sit en vandag word daar geoefen. Dis 'n stunning gesig!

By die kerkbasaar loop ons Eikenhof se stalletjie raak. Hulle voer vye uit na Europa en nou dat die eerste oes af is, koop mens 'n groot bruin kardoes sak vir R30 en gaan pluk jy soveel as wat jy in die sak kan kry. Ongeveer 3 kg! Die lekkerste was om die boervrou te "ontmoet". Sy is toe al die tyd 'n goeie vriendin van my van skool. Karin du Plessis was hoofdogter in Porterville en ek en sy was saam finaliste in die matrikulant van die jaar kompetisie, saam by die Burger Strandhuis aan die einde van standerd 9 en het van st 8 - 10 saam vir Swartland netbal gespeel en groot pelle geword. Hier loop ek haar weer raak in Porterville en ons kuier net voort. Sy het intussen 'n wereldklas vye plaas opgebou saam met haar man en lewer uitsoekvrugte vir Europa.

Hier is ons met ons sakke vol vye. Stroop soet van al die proe en baie tevrede oor ons fonds.

Morne is baie kreatief en het die rubber handskoen wat ons gekry het om vye mee te pluk, opgespeel lank voordat ons by die boord was.
 Donker sappige uitvoer-gehalte vye!
 Ek en Karin, die vrou agter die vye-plaas en my netbal vriendin van skool. Ja, julle is reg! Sy het hoof verdediger gespeel!
 Ek het so baie vye gehad dat ek gedwing was om vye konfyt te kook nadat ek en my hele familie soveel geeet het as wat ons kon. My ma het die resep ge-sms en ek het Elna se mikrogolf geleen en siedaar... 8 botteltjies later! Julle kan maar kom kuier.

Ek het dit so geniet om self tussen die boorde rond te loop en self die lekkerste vrugte uit te soek. Ek het ook nuwe respek gekry vir plaaswerkers wat vir 12 ure in die son staan en vrugte pluk vir drie maande aanmekaar! Dan klink selfs R105 per dag na absoluut peanuts. Die son kan jou brand in Porterville!

Om alles te kroon wen twee van ons geselskap toe ook elkeen 'n tandem sprong in paraglyding! Ja, ek gaan ook... Sal julle laat weet hoe dit was.

1 comment: