Thursday, July 19, 2012

'n Mondvol en 'n hartvol

Gisteraand bly ek by my Santie-sussie se drie kinders in Kuilsrivier. Santie is in Gauteng vir werk en studie. Katriena het heerlike boontjiesop gemaak. Dis tyd vir sop-kluitjies soos my ma dit altyd gemaak het.

"Sulize, bring die resepteboek", roep ek. DIE RESEPTEBOEK is alombekend in ons hele familie. Elke dogter en kleinkind weet daarvan. My Ma het 'n paar jaar terug gaan sit en vir elkeen van haar 5 dogters al haar gunsteling resepte op rekenaar gesit, geprint en as geskenk gegee. Daar is als waarvoor ons as kinders oor en oor gevra het asook die groter familiewenners soos Ant Nolte se karringmelkbeskuit, Ouma Linde se vrugtekoek, Tannie Bessie se kaastert, Tannie Hannetjie se souttert en Mev Visser van Arcadia se growwe bruinbeskuit. Ek het mev Visser nog nooit ontmoet waarvan ek kan onthou nie. Ek was 4 jaar oud toe ons van Arcadia in Pretoria af getrek het Wellington toe, maar haar beskuit ken ek goed!

My Ma se geheime resep waarmee sy meer as 'n miljoen koeksisters vir 'n tuisnywerheid gebak het, is ook ingesluit. So ook die fudge en semelbeskuit resep waarmee ek elke vakansie as kind betaal het deur te help bak en brou vir Woeker en Woel in die Paarl teen ekstra sakgeld.

Elke familie het sulke resepte. Ek is seker joune ook. Dis daai resepte wat mens met geen vreemde sinvol kan deel nie, want dit bevat "die witlepel" hoogvol dit en "die bloubakkie" vol dat. My Ma het selfs vir Stilbaai so 'n boek gemaak om daar te gebruik. Dit was so gewild dat dit voete gekry het! Ons weet nou nog nie wie bak waar daarmee nie.

Elke resep in die boek roep ander herinneringe by my op. Katie Barnard se gemmerbier. Hulle was ons bure in Wellington en Tannie Katie is lankal oorlede. Tannie Huipie se melktert. Dis my Christa-sussie se skoonma en sy kan goed bak! Ek proe nou nog die melktert wat ek by haar en Oom Gert in George gekry het toe hulle daar gebly het. Ons het op die stoep gesit onder die afdak met die groen tafeldoek oor die lang tafel. My Ouma Linde wou ons nooit in haar klein woonstelkombuisie toelaat nie. Ons wou so graag sien hoe sy dit doen, maar moes sitkamer toe.

Toe ons kinders was en vir 'n langvakansie in Desember Stilbaai toe is, het ons 4 soorte koekies gebak vir die see. Dit sou saam met 'n fles tee op Lappiesbaai geniet word as jou lippe van die sout brand na 'n swemsessie. Daai tyd was die duin nog hoog en terug kar toe was ver. Almal moes help dra aan die sambrele, branderplanke en die gevlegde mandjie met die teegoed in. Daar was soetkoekies, gemmerkoekies, grondboontjiebotterkoekies en woelies. Die een jaar het die woelies so lank gebak en hard geword dat dit sedertdien as klippe bekend staan in ons huis. Die een aan diens vir die dag kon kies watse soort koekies saamgaan see toe. Die grondboontjiebotterkoekies was my gunsteling!

Die lekkerste is dat die resepteboek nie klaar is nie. Daar kom weekliks nog resepte by wat iemand iewers geproe het en uitprobeer het. Dis heerlik om een van 5 susters te wees en 'n ma te he wat graag bak. Ons sal mekaar bel en se: Daai pampoentert van Christa is heerlik by braaivleis. Maak net die suiker minder. Dis vreeslik soet.

Nerens in die wereld kry mens SAse beskuit nie. Die naaste is seker Europa se Biscotte. Ek het dit en mieliepap die heel meeste gemis op my wereldtoer.

So draai my gedagtes deur die jare en die geure terwyl die sopkluitjies gaarstoom in Katriena se sop.

Voor in my Ma se resepteboek staan: Bak en brou soos Ma. Vir Corne, Christa, Santie, Hanlie en Elna: Julle is nog steeds 'n hartvol!

Verlustig jou aan die familieresepte in jou huis. Ek is seker daar is nou 'n hele paar waaraan jy kan dink. Moet net nie kwyl by die werk nie!

4 comments:

  1. Hanlie, jou blog is nou vir my 'n lekkerte soos al die lekkernye waarvan jy skryf. Dis so lekker om weer te lees van jou avonture, ek het dit omtrent gemis en gaan kyk gereeld of daar nie iets nuuts is om aan te smul nie :-) Dankie daarvoor! xMagdel

    ReplyDelete
  2. Hoe laat jou blog my vandag terugdink aan toe ek kinners was! So 'n jaar of drie terug het my Ma ook vir ons elkeen 'n resepteboek gegee vir Kersfees - onder groot geheimhouding geskryf elk met 'n geborduurde omslag wat lees "soos Ma dit gemaak het". Elke resep - van Pa se geheime biltongmengsel tot Ouma se kerrie frikkadelle is daarin. En so word die boek ook aangevul met die tyd - 'n kosbare besitting en groot lekkerte.
    Geniet jou blog baie - mooi bly en welkom terug!

    ReplyDelete
  3. Katarina kan vir jou bullar en pepparkaka bysit (tuisgemaakte kaneelbolle, en speserykoek).

    ReplyDelete
    Replies
    1. Stuur asb. Dit klink heerlik! So baie dankie vir vandag se kuier. Ek het dit vreeslik geniet. Ek is mal oor julle 3. Dis altyd 'n vreugde om met julle te kuier.

      Delete