Die laaste paar nagte het ek nie in my eie bed geslaap nie. Ek is in die Boord in Stellenbosch by my sussie en hulle kinders. Haar man is oorsee vir sy werk. Ek help om die groottes by die skool te kry, in die bad en bed te kry, gevoed te kry en als waarmee 'n tannie kan help. Die laaste paar nagte het dit maar rof gegaan want Janko, die kleinste van sewe maande, is siek en slaap nie veel nie.
Vanoggend le ek van 05:00 af wakker maar dis nie Janko se skuld nie. Hy slaap. Daars 'n geraas in die straat wat ek nie ken nie. My brein probeer dit uit'figure'. Kan dit wees dat mens die trein hoor in Lovell laan in die Boord? Hoogs onwaarskynlik. Daars dit weer. Dan skielik weet ek: dis die trollie mense wat met hul geleende winkeltrollies straat-op en straat-af paradeer. Dinsdae is vullis-uitsit-dae in die Boord en die trollie mense is vroeg al op hul pos om van asblik na asblik te stap en als wat geld kan genereer in Plankenbrug bymekaar te maak. Dis nog vrek koud op Stellenbosch. My motor wys later vanoggend 4 grade. Ek kruip dieper in my warm bed in en wonder hoe koud moet die trollie mense kry.
Gisteraand kry ons 'n e-pos van 'n vriendin wat goeie herbruikbare 'junk' soek om te verkoop om geld in te samel vir haar werk in Lesotho. Daars baie in my huis in my garage en in my lewe...
My gedagtes hardloop na die vullis-uitsit-dae in my eie lewe. Marina, 'n vriendin, vertel gisteraand by ons bybelstudie van 'n kursus wat sy doen vir 28 dae wat jou help om huis skoon te maak. Ek en Elna besluit later oor 'n koppie tee (earl grey natuurlik!) ons sal baie langer as 28 dae nodig he.
Die laaste paar maande was vullis-uitsit-dae in my eie lewe. Ek is stelselmatig besig om te leer om te laat gaan. Eenvoudiger te lewe, minder op te gaar, meer weg te gee en met veel minder klaar te kom. Dis bevrydend. Dis angswekkend. Dis gelooftoetsend. Dis heerlik oorgewend!
"Eenvoud is die vreugde van die lewe.
Dis gee en neem net wat daar is.
Dis dankbaar leef van elke skewe snytjie brood
wat liefde is."
Iets wat ek jare terug al geleer het: Ek glo in ons God wat weet wat elkeen van ons nodig het. Hy belowe in Sy woord dat hy vir ons sal sorg. As Hy dus nie in iets voorsien het nie, weet ek ek het dit nie nodig nie. Dis so eenvoudig soos dit. Hoe minder goed, hoe minder stress.
Mag elkeen van ons vreugde vind in die eenvoud van die lewe en mag daar elke week trollie mense om ons wees om ons te onthou hoeveel ons eintlik het. Mag genoeg vir ons genoeg wees.
Tuesday, September 4, 2012
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment