Sunday, September 16, 2018

My Oupagrootjie Olof Olson

Ons is ingeboek in ons hotel in Swede en het lekker aandete geëet by ‘n ander hotel as ons s’n.  Nou is ek terug in my kamer, nadat ‘n reëntjie ons vinniger kamer toe gestuur het as beplan en kan ek julle vertel hoekom ek eintlik so opgewonde is oor Swede toe kom. Ek was nog nooit voorheen hier nie.  Ja, dit beteken ‘n nuwe rooi sterretjie op die wêreldkaart in my toerkamer (twee, want Denemark ook). Maar dit is nie al rede nie.
Daar is ‘n baie groter rede as dit.

My Pa se Ma is in Amerika gebore, in Chicago.  Haar Ma, Wilhelmina Louise Peterson en haar Pa, Olof Olson is beide van Swede afkomstig.  My Pa se Oupa, Olof Olson, is hier in Mälmo (waar ek nou is) gebore in 1863. 155 jaar gelede en hier stap ek vandag en hierdie week hier rond.  Ek sou wat wou gee om te weet presies waar hulle gebly het.  As gevolg van finansiële uitdagings het baie jongmense van Swede in daardie jare Amerika toe gegaan per skip met die hoop op ‘n blink toekoms. My Oupagrootjie en Oumagrootjie het apart gegaan en mekaar in Amerika leer ken, nadat beide Minneapolis in Minnesota gekies het. Daar het hulle ontmoet en verlief geraak en is later daar getroud. My Ouma, Anna Olson, was die vyfde van nege kinders en het in Chicago grootgeword. Hulle het gebly in 843 North Lombard Avenue, Oak Park, Illinois.  Toe ek in Maart 2016 Chicago toe is, het ek op my Ouma se voetspore teruggeloop en hulle huis gaan soek.  En dit gekry.  Dit was ‘n spesiale oomblik.  Soos nou.
Hier is hul huis in Chicago.





Daar is sy geroep om sendingwerk te doen in die Kongo in Afrika en het op 1 September 1926 per skip na Suid-Afrika vertrek. Sy was 25 jaar oud. Voor haar sendingwerk, moes sy eers ‘n kursus doen in Antropologie by UCT en het sy daar my Oupa ontmoet.
My Oupa, Hannes en Ouma Anna op hul troudag in 1932.


Tivoli tuine

14574 treë verder, 10.17 km en 4 ure later is ons terug by Bedwood en bestel summier ‘n taxi om ons lughawe toe te vat. Die hele Copenhagen het cobblestone strate en dis hard op ons voete. As ek nou sê dat Tivoli ‘n teleurstelling was, sal julle miskien dink dis omdat my hak so seer is.  Ek het net meer tuine verwag.  Ja dit is herfs nou hier, maar nogtans. Dit gee glad nie ‘n Kirstenbosch gevoel nie.  Meer soos Ratanga pretpark met ‘n groot Oosterse invloed en ‘n baie deurmekaar gevoel.  Die lekkerste oomblikke was die Oden Express en die wafel by 112 jaar oue wafelhuis in die tuin. Maar die stad is pragtig. Hier is vandag ook ‘n halfmarathon aan die gang. Ons kry die trein vanaf die lughawe in Copenhagen na Mälmo in Swede. Alles is maklik om te kry, want hul sisteme werk en alles is goed gemerk.
Copenhagen is werklik ‘n pragtige stad vol karakter.



Binne Tivoli tuin.











Ons kry rooibostee uit Afrika (ons weet dit is die Weskus van Suid-Afrika) in die supermark. 


Tivoli se hoofingang.
Intussen lees ek dat Tivoli Park al in 1843 sy hekke oopgemaak het en dit is die tweede oudste pretpark in die wêreld. Die oudste is ook in Denemark in Klampenborg. Op ons kaartjie wys dit dat hulle tans die 175 verjaarsdag van die park vier. Disney World in Orlando is in 1971 geopen. Volgens google het Walt Disney twee keer Tivoli besoek in 1958.  In 2017 was daar 4,6 miljoen besoekers aan Tivoli park. Dis erg as mens dink die hele Denemarke het maar 5,73 miljoen mense. Ons sien baie ouer mense op straat en ook in die park.  Ek lees dat Denemarke se lewensverwagting is 81,1 jaar en Swede s’n is selfs nog hoër op 82,55.  Net om te vergelyk: Suid-Afrika s’n is 61 vir mans en 67 vir vrouens. 

Ons is nou eers klaar met Denemarke en bly in Mälmo, Swede tot Vrydag.  Vanaf Copenhagen het ons nou met die baie bekende en wêreldberoemde Öresund brug gekom wat ek so mooi uit die vliegtuig kon afneem. Die trein loop op die onderste vlak van die brug en die motors bo.
Die Öresund brug is 16 km lank en eers in 2000 geopen. Dit verbind Denemarke en Swede. Mälmo is ‘n kusdorp aan die suide van Swede en die 3de grootste stad in Swede. Dit grens aan die Baltiese see. 



Tivoli tuine in Copenhagen en ander interessanthede

’I will try not to move’, hoor ek myself sê.  Moenie jou probleem myne maak nie, dink ek.  Dis Marco van Italië aan die woord wat my vertel hoeveel die bed waarop ek moet slaap kraak in die nag as die gebruiker omdraai. Hy kla dat hy die vorige nag nie ‘n oog toegemaak het nie.  Ek offer hom een van my somnils. Hy is verstaanbaar skepties om pille te vat van vreemde tannies uit Afrika en ek gee gou moed op.  Maar ek vat summier self ‘n slaappil en klim half agt in die bed.  En het ek nie lekker geslaap nie!  Was 04:20 gou op om ‘n draai te loop en toe weer weg voor tot na 08:00.  Dis ‘n pragtige bloulug dag en ons is oppad Tivoli tuine toe.  Ons eet ‘n ontbyt by Bedwood Hostel en vat die pad. Vier kilometer verder en met ‘n uur om dood te slaan voordat die hekke oopmaak, sit ons nou by ‘n koffiewinkel met gratis wifi en geniet ‘n earl grey tee uit die boeke uit.

Copenhagen voel vir my soos ‘n mengsel van St Petersburg in Rusland en Brugge in België. Wat ons veral opval is hoe skoon die strate is en hoe vriendelik die mense hier is.
Hierdie is City Hall Square in Copenhagen. 

Earnest Earl Grey Tee by Espresso House terwyl ons tyd opmaak totdat Tivoli oopmaak. 


Ek sou gehou het van die viking lewe.
‘n Deense kroon is R2 en hierdie koppie earl grey kos bv 32 krone. R64! En elke slukkie die moeite werd. Gelukkig is hul toilet gratis.

Ons gaan nou in Tivoli in. Ek vertel later verder.


Saturday, September 15, 2018

Dubai en Copenhagen


Ons sit nou met ‘n wegneem Swarma en ‘n Carlsberg bier in die raserige voorportaal van die jeugherberg. Ons is twee staatspensioene ouer as die gemiddelde inwoner. Die musiek blaas verwoed en die klomp kuier, maar as mens wil ‘cheap’ wees, moet jy kan uithou!



Dis versengend warm toe ons op Dubai lughawe afklim. Ek was in 2008 laas hier en in hierdie laaste dekade het die Arabiere gewikkel. Jinne, mens kan jou oë nie glo nie.









Ons eerste afsaalplek is Copenhagen. Ek het vir ons bespreek by Bedwood Hostel. Ons slaap in ‘n dormatry. Bed nommer 201 en 206.  Sover is dit ons en Marco van Italië en Yaya. Ons weet nog nie vanwaar sy is nie. 


Die kamer is effens meer primitief as wat ons gehoop het, maar ons is veilig hier en alles is skoon en netjies. 



Ons eerste stop is ‘n Carlsberg bier met ‘n mooi uitsig en toe ‘n bootrit op Copenhagen se kanale met ‘n stadstoer. 


Hierdie ses persoon fiets is baie gewild hier. Almal kyk binnetoe, maar trap saam. Een persoon stuur. Lyk soos ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur.
Ons vlugte was heerlik. Emirets is uitstekend. Veral die tweede vlug tussen Dubai en Copenhagen was met ‘n splinternuwe 380 Airbus (dubbeldekker). Ek kon langbeen lê en slaap oor drie stoele en het die kans gebruik.


Interessant genoeg vertel hulle vir ons op die kanaalvaart dat Denemarke die eerste land in die wêreld was wat ‘n landsvlag gehad het. Hul vlag is rooi met ‘n wit kruis en vanjaar 799 jaar oud.



Hierdie sirkelbrug het my baie beindruk. Dit is in Copenhagen.

Friday, September 14, 2018

Swede hier kom ek!

‘n Lughawe is altyd ‘n opwindende plek. Die atmosfeer is net anders. Of miskien is dit my binnekant wat verander as ek ‘n lughawe binnestap. Dis moeilik om in woorde te beskryf, maar ek voel of ek verander in ‘n bruistablet wat te groot is vir sy glas en by die rante oorloop.  Hierdie keer is ek op pad Denemarke en Swede toe.  Vir ‘n program van die ICLD (International Centre of Local Democracy). Dit is dieselfde program waarvoor ons Zambië en Zimbabwe toe was vroeër vanjaar en einde verlede jaar. Hierdie is die tuisveld been van die Sweedse program.  Ons gaan drie stede in Swede besoek in twee weke naamlik Malmö, Stockholm en Gävle.

Maar vannag en môre is dit eers ons en Dubai en Denemarke (Copenhagen).  Die ons is ek en ‘n kollega van Bergrivier Munisipaliteit, Alletta van Sittert. Gelukkig is ons vriende ook, so dit behoort ‘n goeie reis te wees.

Ek het twee jaar terug aansoek gedoen vir hierdie program en het toe ‘n ‘dear John’ briefie ontvang om te sê hulle vat nie aansoekers uit SA nie, want hulle werk net met die 49 armste lande in die wêreld.  Net om middel verlede jaar ‘n epos te kry met goeie (slegte!) nuus. SA het gearriveer! Welkom op die kursus.  Ek het nie geweet of ek wou lag of huil nie.  Maar nou maak ons die beste van ‘n sleg saak en gryp die uitdaging met beide hande.

Van ons projek van verandering in Porterville vertel ek later.  Nou eers deur die hekke gaan en paspoort beheer.  Die Phelophepa gesondheidstrein in hierdie komende week in Piketberg en die helfte van my gedagtes is daar.  Mag hierdie week vir ons almal goeie gesondheid en groot ervarings bring.  Ek is veral opgewonde oor Swede. Ek vertel later hoekom.

Monday, April 2, 2018

Tango in Buenos Aires

Dis die laaste aand op ons toer (wat ons nie op ‘n vlug oor die Atlantiese Oseaan gaan rondhang nie).  Ons land halfvier in Buenos Aires en word opgelaai en gevat na Rochester Concept Hotel in Maipu straat naby die middestad. Dit is dieselfde hotel as waar ons twee weke terug ingeboek het oppad Patagonia toe. Dit voel maande terug.

Buenos Aires is die stad van tango.  Daar is twee voorstede wat bekend is vir tango danse in die aande, La Boca en San Telmo.  Ons kies laasgenoemde.  In my kop hoofsaaklik oor twee redes: La Boca is veel verder. In 2016 het ek en Lean dit op die BA bikes fietstoer besoek.  En ook dat ek al daar was. San Telmo het ek al in die dag gesien en hul mark besoek, maar was ek nog nie in die aand op die Plaza Dorrego vir aandete by ‘n straatkafee en ‘n tangovertoning nie.

Tangovertoning op Plaza Dorrego







Ons loop vir Charlie Chaplin raak by die mark.


Hierdie poppe is alles uit spons gekerf.


Zoom gerus in en kyk tot waar strek hierdie mark. En dit is nadat ons al ‘n uur lank in die mark geloop het. Defensa avenue het ‘n ‘cobble stone’ oppervlakte en is vir voetgangerverkeer alleenlik. Dit is hier waar daar elke Sondag ‘n mark plaasvind. Dit hou aan vir 13 blokke.

En so eindig ‘n onbeskryflike vakansie in een van my gunsteling plekke in die wêreld. Patagonia sal my weer sien.  My fitbit se binneste glas het gekraak. Vermoedelik as gevolg van die koue op Base Torres, maar al die res werk nog. Volgens hom het ek en Sonja nou al 261303 treë gegee vandat ons weg is in Piketberg op 19 Maart 2018 of 172,44 kilometer. Ons is tevrede, dankbaar en reg vir die terugvlug.

Sunday, April 1, 2018

Opstandingssondag tussen hase en eiers

Dit lyk op die oog af of min mense in Bariloche weet waaroor Paasfees regtig gaan. Dit is net hase, eiers en sjokolade waar jy kyk.  Ons wou ‘n kerkdiens gaan bywoon, maar die enigste Christelike diens wat ons kon kry, begin eers 11:00 en dan vertrek ons shuttle na die lughawe al. Ons vlieg vandag terug na Buenos Aires. Dit is ‘n twee ure vlug.  Wel, toe hou ons maar ons eie diensie in ons kamer.

Vanoggend is die strate stiller en kry ons meer tyd om rond te kyk. Gistermiddag was omtrent ‘n gedruis.
  










Die hoofstraat, Mitre, is oortrek met paaseiers.

  
Hierdie St Bernard honde (daar was drie) word gebruik as foto-geleenthede.




 

Elke winkelvenster is kunstig versier. Bariloche is bekend vir hul sjokolade.



 
Die meer vanoggend.