Tuesday, April 3, 2012

Reen, reen lieflike reen!

Vanoggend toe ons wakker word is die wereld sopnat rondom ons. Uiteindelik na die drukkende hitte van vyf dae bars donderstorms, blitse en baie tropiese reen uit. Waar ek nou sit en tik in die Peach Blossom restaurant kyk ek uit op berge en palmbome, maar al wat ek kan sien is 'n gordyn van water. As dit hier reen REEN dit hoor! Nou verstaan ons hoekom daar twee sambrele in die kamer was. Dit sous! Maar dit is so welkom en koel dat ons dit baie geniet. Als wat ons vandag wil doen is onderdak, so die reen sal ons nie pla nie. Ek het bespreek vir 'n Thai cooking class by die Cooking School in Kata. Hulle kom my by die hotel oplaai om 13:45. Corne wil 'n "fruit carving" klas doen wat hier in ons hotel aangebied word deur die sjef van Peach Blossom Restaurant. Dit lyk ongelooflik en sy sal 'n kerf mes en sertifikaat kry na die tyd.

Maar laat ek julle eers van die afgelope twee dae vertel. Dit was ongelooflik!

2 April 2012

‘n Lui-lekker dag by die hotel...

Vandag doen ons niks nie. Geen mens kan teen ons spoed aanhou toer vir meer as 5 dae nie en vandag geniet ons die talle swembaddens en fasiliteite van die hotel. Hier is vier swembaddens by ons hotel en twee restaurante. Ons trek sommer swembroeke onderaan ontbyt toe en geniet ontbyt by die Peach Blossom Restaurant by die boonste deel van die hotel. Dis ook hier waar ons die gratis wifi kry. (Foto)


Die personeel sit die jacuzzi spuite in die swembad aan en dit raak al hoe lekkerder. (Foto) Later is ons voos geswem en klaar met die son en sit af na ons aircon kamer toe om te gaan rus. Ons gaan vanaand saam met Heather eet. Sy het op ons toer na Phi Phi eiland gese sy gee nie om om alleen te toer nie, maar aandetes is vir haar sleg, so nou kuier ons saam met haar. Sy kies ‘n restaurant naby aan haar hotel waar sy ook die vorige aand baie lekker geeet het en ons is "game". Ons begin 17:30 al wandel om haar 19:30 te kry, want dit is uiters warm en humied en ons wil stalletjie vir stalletjie loop en tussenin by elke mini mark inloop vir aircon.

Ons kom ook af op ‘n plaaslike 'food fair' en selfs nog snaakser groente, vrugte en gediertes. Op die foto sal julle die kokkerotte sien wat hulle eet. Ek kan dit nie glo nie. Ons sien en proe ook nuwe snaakse vrugte waarvan hulle nie ‘n engelse naam het nie en die thaise naam onuitspreekbaar is vir ons. Ons koop twee flieks langs die pad: Iron Lady en Money Ball vir R15 elk (60 baht). Dis definitief afgetape en vals, maar ons kan nou nie langer thaise TV uitstaan nie. Ons het selfs ‘n stukkie van “shrek” en “friends” in ‘n swak thaise vertaling besigtig!





Dis lekker om vir Heather te sien. Sy het per ongeluk in die son aan die slaap geraak en is seer gebrand. Ons stap na Mama Restaurant en alles lyk wonderlik. Ons bestel twee voorgeregte elk en deel als om alles te proe.  Thaise kos is regtig lekker. Ons doen ook Vietnamese spring rolls en witwyn van Chili. Daar is twee wit wyne op hulle hele spyskaart. Die een van Chili (Ramirana Sauvignon Blanc) en ‘n Douglas Green van SA. Corne vra vir die kelner hoe die SAse wyn smaak en sy is heel eerlik deur te se sy weet glad nie, maar die Chili een is lekker. Ons oortuig haar toe dat SAse wyn wonderlik is en dat sy dit enige tyd kan aanbeveel. Sy voel toe baie sleg toe sy hoor ons is van SA...

Die ander geregte was Thai satay pork (met grondboontjiebotter sous), gemengde vleis voorgereg met vis, vark en hoender, Larb Gai, Andaman Seafood Salad en Rosti Sandwich. Daar is ook ‘n gratis slaai buffet om jouself by te help. Hulle is groot op komkommer. Nie ons engelse komkommers nie, maar daai regte komkommers wat ons geet het as kinders. Dis regtig lekker. Vir nagereg doen ons Banana Fritters (die beste!), Bua Loi Num Khing en Crepes Suzette. Die onuitspreeklike een in die middel is sesame dumplings in gemmer sous. Nogal okay as jy verby die slymgevoel gekom het. Die hele ete, alles ingesluit van wyn tot nagereg kos ons R125 elk. Heather het aangedring om die wyn te betaal want Australiese dollar is 26 baht op elke dollar terwyl ons maar 4 vir ‘n rand kry! (Fotos)











Ons vind dit snaaks dat daar geen aircon in die restaurant is nie, net ‘n waaier of twee, maar die klein badkamertjies het groot aircons in. Raai hoeveel keer moes ons ‘n draai loop net om te oorleef?

Oppad terug geniet ons die naglewe in die straatjies. Dis baie veilig hier en alles is baie laat oop. Dis so warm dat almal laag le in die dag tot omtrent 18:00 en dan begin alles weer lewe.

Heather werk vir ‘n Australiese telekommunikasie maatskappy wat fokus op die Ooste. Sy moet in haar werk daagliks met China, Japan, Singapore en Malaysia skakel en deel met ons haar ervarings van die Ooste. Wat ek glad nie geweet het nie, is dat Australie Japan sien as hul naaste groot ekonomie en daarom leer die kinders in skole in Australie Japanees as tweede taal. Ons leer ook van die Australiese kultuur en hul uitkyk op die wereld. Dis baie interessant.

3 April 2012

“Ko kung ka!” Dit beteken "hallo" in Thai en dis wat hoe 'n vrou groet. 'n Man se weer iets anders.

Vandag was die beste nog! Ons was terug op Win Chawin se taxi vir die hele dag en het in Chalong en Rawai (spreek uit: Lawaai) gaan rondloop. Vandag ry Heather ook saam met ons. Haar ma kom more-aand Phuket toe om nog 5 nagte saam met haar te toer en vandag is ons laaste kuier saam. Haar ma kom vir ‘n vriendin se 50ste verjaarsdag. Dis hoe die Australianers dit doen!

Ons eerste stop vanoggend is ‘n uitkykpunt oor Kata baai. Dis pragtig. Daar is ‘n vrou wat ‘n see-arend aanhou en mens betaal 100 baht (R25) om hom op jou arm te laat sit. Hier is amper geen werkloosheid hier nie, want almal verkoop iets, of dit nou ‘n olifantrit, ‘n arendvryf, ‘n tradisionele stukkie kos of wat ook al is. Hulle is goeie entrepreneurs.






Daarna stop ons by die olifant-ritte en voer die klein olifantjies met piesangs. Daar is twee peuter olifante. Die kleintjie wat ons voer is een jaar oud en baie cute. Hy blaas deur sy neus as hy naby mens se gesig kom en julle kan self aan die uitdrukking op my gesig oordeel oor die resultaat! Van Corne wou hy sommer ‘n happie vat.

Chalong village is Win se tuisdorp en hy ken die area goed. Ons vereistes is maklik. Ons wil na die spa gaan, die tempel sien, die cashew neut fabriek besoek, iets eet en die uitkykpunte besoek. Die spa waarheen ons gaan is Tran Tara Spa en is baie grand, maar met beter pryse want Chalong is nie so op toeriste ingestel nie. Ons al drie kies dieselfde pakket en dit sluit in 30 minute in die stoomkamer en jacuzzi, 1 uur thai massering en 1 uur aromaterapie massering. Corne en Heather kies die Jasmyn olie terwyl ek vir die suurlemoen olie gaan. Ons word al drie in een kamer masseer deur drie maseuses. Hulle is regtig goed. Die Thai massering sluit ook rek en strek in en hulle klim letterlik bo-op jou om genoeg drukking toe te pas.

Ons het eers ‘n yskoue lappie en gemmertee in die voorportaal gekry en toe is ons begelei na die vroue ruskamer waar ons elkeen ‘n locker gegee is vir jou klere. Jy kry slippertjies en ‘n sarong om om te draai. Toe is ons na die stoomkamer vir 15 minute en die jacuzzi vir 15 minute. Ons moes noodgedwonge vinniger die jacuzzi verlaat as gevolg van ‘n Chinese inval, en toe is ons na ons massage kamer. Twee ure later en vry van enige stres is ons begelei na die teekamer waar ons heerlike gemmertee en alomteenwoordige pynappel en waatlemoen bedien is.





Toe is ons na die tempel in Chalong. Dis die grootste Buddiste tempel in Phuket en op die heel boonste vlak is ‘n snaakse glas sirkel waarvoor almal neerkniel. Ons vra in die motor vir Win en hy verduidelik dat dit een van Buddha se bene is wat hulle van Sri Lanka af gekry het nadat hy dood is. Nou aanbid almal dit. Die tempel is verguld deur en deur en oral kniel mense voor baie snaakse beelde. Ons was maar vinnig in en uit.




Toe vat Win ons na Lam Thalay Seafood Restarant op die see met ‘n uitsig op Lone Island.  Die naam beteken seebries en dis werklik koeler hier. Ons het net gesit toe sak daar ‘n heerlike bui reen uit. Ons bestel twee voorgeregte om te deel. Vark kaiings en garnale. Vir hoofgereg doen ek Garnale in ‘n heerlike Tamarind sous en Corne s’n is seekos stirfry in green curry met coconut melk bedien in ‘n coconut. Heather doen gestoomde vis wat heerlik gelyk het.

Toe kom die verrassing van die dag en ons besoek ‘n cashew neut fabriek. Ons was baie moeg en het nie veel verwag nie, maar wow! Buite in die tuin staan ‘n cashew boom met vrugte. Die lyk soos rooi en geel soet pepers met ‘n neut aan die bo-end. Elke vrug dra net een neut. Wanneer dit ryp is, breek ‘n vrou per hand elke neut oop en dan droog hulle dit en verwerk dit in allehande geure en produkte. Daar is tot sportdrankies, cocktails en cashewneutsap! Ons is elkeen met die nodige inkopies daar uit. Dit was baie interessant.




  

Sunday, April 1, 2012

Phi Phi Eiland, Phuket, Thailand


1 April 2012

Phi Phi Eiland...

Dit begin nou baie moeilik raak om te besluit watse dag is die lekkerste. Elke dag het sy eie heerlikhede en die pret hou net nie op nie. Vanoggend moes ons vroeg opstaan en ontbyt eet, want ‘n toer maatskappy het ons kom haal by ons hotel om 08:15. ‘n Baie fancy bussie met allerhande modifikasies wat in SA maklik kitch genoem sou kon word. Ons is oppad Chalong hawe toe, want ons vertrek Phi Phi Eilande toe.

Goeie raad van Andre Smit het verseker dat ons vir ‘n derde van die oorspronklike prys op die boot is. Ons word aangemoedig om elkeen ‘n seesiek pilletjie te vat (word verskaf) en ek vat maar een vir die span. Ons ry met ‘n vinnige motorboot wat sestig mense kan vat en met 4 groot engins werk. Jeremy is in beheer en hy het ‘n span van omtrent 6 helpers wat alles doen. Ons kry flippers vir 100 baht en ‘n snorkelbril gratis. Dis ‘n baie mooi dag en ons is reg met hope sonblok en ‘n groot hoed.

Ons stop by ongeveer 6 eilande deur die dag en swem, voer apies, snorkel, eet en hang rond in die warm helder seegroen water. Die vissies is pragtig helderkleurig. Ons sien mooi snaakse voels ook. Dis ‘n dag van baie pret en plesier en regtig heerlik! Ons ontmoet vir Heather van Australie en kuier heerlik. Heather: This paragraph is for you: Thank you for your kindness. It was so nice meeting you. Enjoy your time in Phuket and especially your dinner with us tomorrow night.





Die eerste eiland wat ons besoek het was Maya eiland waar die fliek "Beach" geskiet is met Leonardo de Caprio.

Ons kry ook twee ander mense van SA (Durban) op die trip.

Ons kom omtrent half 6 terug by ons hotel en val sommer weer in die swembad by die Mango Tree. ‘n Singha bier gaan goed af. Na ‘n stort gaan ons vir aandete in die Peach Blossom restaurant. Ons kry so warm dat hulle vir ons ‘n spesiale waaier opsit. Phuket se humiditeit is nie grappies nie! Dit bly warm dwarsdeur die dag en nag. As dit nie vir die aircon in ons kamer was nie, sou ons nooit kon slaap nie.

More beplan ons ‘n niksdoen dag in ons hotel. Ons gaan van een swembad na die ander rondhang! 

Saturday, March 31, 2012

Vreemd, vreemder, vreemdste


Wat is die snaakste ding wat jy al bereid was om te eet? Ek is maar ‘n sissie as dit by gediertes kom. Kyk, ek kan brand hanteer en wasabi by sushi plak ek dik op. Ek is ook glad nie vol fiemies nie. Ek is een van vyf dogters en my ma het ‘n reel in die huis gehad dat elkeen net een fiemie mag he. Dis al manier hoe jy ‘n groot gesin deur ‘n klein begroting kry. Elkeen van ons moes sommer vroeg in die jaar verklaar wat hierdie jaar ons fiemie is en die res moes jy alles eet. As kind was tamatiesop my fiemie en vir afwisseling spinasie en pilchers in tamatiesous. Vir laasgenoemde gril ek nou nog… maar die res eet ek alles. Of so het ek gedink voordat ons in Thailand aangekom het!

Ons het ‘n ongewone, maar wonderlike dag beleef. Ons het ontbyt geeet by die tweede van ‘n paar restaurante in die hotel, nl Peach Blossom. Daar is gratis internet toegang en ‘n baie mooi swembad. Die kos was anders as die in die onderste restaurant en daar was selfs frensch toast en marmalade konfyt. Ek is mal oor Earl Grey tee en drink amper niks anders by die huis nie. Voor my toer het ek besluit ek gaan nou geen earl grey tee saambring nie, want ek moet hierdie nuwe kulture beleef, maar ek het nie rekening gehou met hoe ek dit sal mis nie. Hier is nerens earl grey in sig nie. Vandag het ek vir my lemon grass tee gekoop om uit te probeer.

Toe is ons saam met Mnr Win Chawin se taxi diens na Patong om daar rond te loop van 10:00 – 16:00. Patong is die hoof strand van Phuket. Dit is oorbebou met baie mense orals. Ons het stalletjies besoek, hul supermark deurgeloop omdat daar aircon in is en vir ‘n uur se voet massering gegaan by Marin Massage. Ons het elkeen vir ons ‘n goeie bree rand hoed gekoop en toe gaan swem. Die toilette van Patong strand is net te “groce” om hier te beskryf en nadat ons vanoggend vroeg 5 bht betaal het om dit te gebruik, het ons net nie kans gesien om dit weer te besoek om ons swembroeke aan te trek nie. Toe maak ‘n boer ‘n plan en ons trek aan agter ‘n boom tussen die besigste straat in Phuket en die besigste strand in Phuket. Die enigste probleem is dat hulle bome ‘n skrale palmboom is en ons weerskante uitgesteek het! Gelukkig het almal vir die topless 70 jarige tattoo bedekte tannie oppad see toe gekyk en ons was in ons swembroeke voordat jy kon se mes!






Later het ons ‘n McFlarry by MacDonalds geeet (ja hier is wraggies een met aircon) en nog tyd doodgeslaan tot Win ons kom oplaai het. Ons probeer ‘n klappervrug (coconut) en dis verfrissend en iets nuuts. Hulle kap hom oop met ‘n mashettie dat dit soos ‘n glas met ‘n dekseltjie lyk en gee vir jou ‘n strooitjie om die klappermelk te drink. Dis yskoud. Ons sal hom uitdroog op ons stoep by die hotel en die klapper ook eet.


Die grootste vorm van vervoer hier is motorfietse en toek-toeks. Ons het nog nie een fiets gesien nie. Win se dis omdat dit so warm is. ‘n Toek-toek is ‘n klein miniatuur kombi wat gemodify is om ‘n lorrietjie te wees.   

Win het oulike idees oor wat ons alles kan sien en stel voor dat ons die grootste juwelierswinkel in die wereld besoek naby Phuket dorp, ‘n toer van die perelfabriek doen en dan die plaaslike nagmark by Phuket dorp besoek. So gese, so gemaak. Beide die juwelierswinkel en die perelfabriek is baie interessant en mooi, maar uiters duur en ons koop niks nie.

Nou moet ek vir julle se dat die nagmark ‘n perd van ‘n heel ander kleur was! Sjoe! So iets het ek lanklaas beleef. Daar is eindelose stalletjies met klere, kos, kaggel-julle-weet-wat en vele meer, maar dis veral die Thailandse kos wat ons monde laat oopval het. Daar is heel ander vrugte as wat ons ken soos Maplan (lyk soos ‘n langwerpige appelkoos, maar smaak meer tropies soos ‘n mango wat ‘n perske identiteitskrisis het), Jack Fruit en Dragon Fruit. Ons drink smoothies met verskillende vrugte en selfs tamaties in. Dis heerlik en yskoud.



Ander goed het dieselfde name as by ons, soos pannekoek, maar dis heel anders. Dis reghoekig, omtrent 4cm by 2cm en krispi met ‘n soet lagie. As ek nou eerlik is sal ek erken dat daar net mooi niks aan hulle pannekoek is wat soos ons sin lyk nie.

Die vark-kaiings en gedroogte uie stukkies op sticky rice was fantasties en die spring rolls het ons ete afgerond. Toe ons die varkgereg koop vra ons ewe mooi vir die tannie of ons ‘n vurk kan kry, maar sy is erg verontwaardig en beduie dat mens dit definitief met jou hande eet! In die kar vertel ons vir Win van hoe ons die vark kaiings geniet het. Hy is heel opgewonde en se: Oh yes: “sikilai” (sticky rice).







Maar daar was verskeie goed wat net nie die 'cut' kon maak nie. Die ergste was die hope vis en seekos wat in die hitte oral rondle. Sushi by die rye vol, en goedkoop, maar ek het net nie kans gesien om sulke warm vis te eet nie. Seekat is volop en hulle braai dit sommer op so ‘n stokkie oor die vuur. Daar is baie heel visse op stokkies wat gebraai word. Die dumplings en sous bredies is orals, maar alles brand. Daar was ook vis biltong in alle vorme en baie vars en gebraaide groente. Sommiges herken ons en die res is nuut vir ons. Daar is drie kleure mielies, bone wat so groot is soos ‘n uitgegroeide kobra, snaakse olyf-agtige goed en so baie meer. Vark is groot in Thailand en daar is baie verwerkte varkvleis op stokkies te koop. Daar was ook eend eiers en kwarteleiers wat hulle nege per bakkie verkoop. Soetgoed bly ook nie agter nie. Daar is verskeie koekerigheid, donuts, suiker-roet en lekkers te koop. Ons oorhoofse nasmaak van die mark is ‘n helder veelkleurige mengelmoes van vreemde smake en geure!

Die mark het ons stoutste verwagtings oortref en ons het baie nuwe ervarings beleef. Win het goed gedoen!

Vanaand is ons moeg maar erg dankbaar vir die heerlike tyd wat ons al hier kon gehad het. Ons het vandag meer as 10 000 tree gestap. Ek het ‘n pedo-meter saamgebring en wil 1 miljoen tree stap in 93 dae. Sover is ons goed oppad.

More gaan ons die gewilde Phi Phi eiland besoek met ‘n motorboot en snorkel. Dit klink baie belowend en ons is baie opgewonde!

Friday, March 30, 2012

'n Dag van eerstes


29 Maart 2012

Ons eerste Thai massering het sommer al op dag een gekom. Ons was oppad af om die straatjies buite ons hotel te gaan ondersoek, toe stap ons verby ‘n lugverkoelde masseringsplek en net daar doen ons ‘n voetmassering van 30 minute vir 200 baht (R50). Dit was uit die boeke uit. Hulle werk met hulle hande en ook met ‘n skerperige swart plastiek stokkie waarmee hulle druk en pluk en masseer. Vir geswelde vliegtuigvoete was dit net die ding. (Foto) Hier sal ‘n mens baie betaal om in aircon te wees. Ons het gelukkig aircon in ons hotelkamer, want Thailand is vrek naby die ewenaar. Dit is nie so sonwarm buite as wat die drukking so hoog is nie. 89% humid! Ons sweet liters uit.



Laat die eerste aand swem ons in een van die hotel se vier swembaddens en drink ons eerste Thai bier (Singha). (Foto) Die mense hier praat baie min engels en selfs al praat hulle engels is dit baie moeilik om hulle te verstaan. Vanoggend het ons besluit hulle praat soos doofstom mense in SA. Hulle artikuleer niks nie en ons hotel se naam “Peach Hill” kom uit soos “eee iii”. Hier moet mens fyn luister!


Ons kyk Thai TV en sien ‘n stukkie van 007 se fliek met Thai onderskrifte en die ATP 1000 tennis. Nadal speel teen Tsonga. Een stel elk. Dat ek nou wraggies na Thailand moet reis om vir Tsonga te cheer! Ek eet vanaand thai noodles vir 13 baht. (Iets soos two minute noodles in SA) Daar is geen engels op die pakkie nie, maar op die prentjie lyk dit soos shrimps. Heerlik dink ek! Heerlik WARM weet hulle! Na die tyd sien ek die prentjie wys die seuntjie se tong hang uit en sy oe traan. More sal ek beter na die prentjies kyk. Die oulikste was die opvoubare plastiek vurk wat saam met die noodles gekom het.

Later lui die telefoon in ons kamer… Dis Henko uit China wat net wil welkom se in die Ooste! Wow, dis lekker om ‘n bekende stem te hoor.

30 Maart 2012

Na meer as 9 ure se heerlike slaap, is ons reg vir ons eerste Thai ontbyt en ons was nie teleurgesteld nie. Baie interessante dinge om van te kies. Op die foto sal julle net die vark worsies en die aartappels in paprika herken.  Die res is lang boontjies in bacon en fyngekapte olywe, thaise rys met worsies en wortels, gemengde groente, sultanas, dumplings met rys. Jy kan omtrent agter elke word “met rys” byvoeg want als hier word van rys of met rys gemaak. Corne het selfs ‘n gesigsroom gesien waarvan een van die hoofbestanddele rys is. Die res van die ontbyt bestaan uit baie lekker vrugte wat hier baie volop is. Hulle kiwi’s lyk heel anders as ons sin, maar is baie lekker. Hier is ook pynappel, papaja, mango’s en alle tropiese vrugte in oorvloed.


Na ontbyt sit ons af Kata strand toe om te gaan swem. Dis heerlik! Kata strand is een van die drie strande in Phuket wat die meeste skade gekry het tydens die Tsunami op 26 Desember 2004. Daar is 250 mense in Phuket dood en 5300 mense altesaam. Ek leer vandag dat Phuket die grootste eiland in Thailand is. Dit is gelee in die Andaman see in suidelike Thailand en met die hoofland verbind met ‘n pad. Phuket beslaan 570 vierkante kilometer en die hoogste punt bo seevlak is maar 529 meter. Dis ‘n bergreeksie in die weste van die land. 60% van die eiland word bedek met woud, rubber en palmolie plantasies. Thailand is die grootste produseerder van rubber in die wereld. Hulle voer 90 biljoen baht se rubber uit elke jaar. Daar is amper 4 baht in ‘n rand. Die rubber word meestal uitgevoer vir die maak van motor en vliegtuigbande.

Die seewater is warmer as by ons. Meer soos by Zanzibar. Daar is geen branders nie – als is spieelglad. Die tsunami moes iets verskrikliks gewees het. Ons “huur” vir ons ‘n sambreel en twee stoele (vir 200 baht) vir die oggend en val plat om als te besigtig. En is hier nie sites van alle shapes en sizes nie! Ons verkyk ons. Daar word letterlik ‘n ander taal onder elke sambreel gepraat. ‘n Oom van by die 70 paradeer verby met ‘n g-string. Hy laat dit nogal goed lyk! (Foto) Die grootste hoeveelheid inwoners van Thailand is Buddiste. Ons hoef nie ver te gesoek het om in Boeddha vas te loop nie. Ons het haar sommer op die strand gekry (sien foto). Met verskoning aan enige Boeddis wat dalk hierdie lees.



Interessant is die motorboot-speelgoed wat hier te huur is. Elke “local” het ‘n boot, jetski, of houtboot wat per uur verhuur word aan toeriste. Die “banana boat” lyk die lekkerste. Dis ‘n lang geel opblaas ding wat soos ‘n piesang lyk wat hulle agter ‘n skiboot aansleep. Daar kan vyf mense op die “piesang” sit en dit beweeg teen baie hoe spoed. Ek het dit vir ‘n vlugtige oomblik oorweeg en toe na die sny op my linkerbeen gekyk en rustig my plek onder die sambreel ingeneem. Net ‘n donkie stamp sy kop twee keer…

Hier is 9 Munisipaliteite in Phuket, maar hulle het dringend aandag nodig. Natuurlik het dit niks met my te doen nie. Phuket is in die 17de eeu eers Junkseilon genoem en was bekend as ‘n bron van tin met wie Indie en ander oosterse lande handelgedryf het.

Vanaand het ons die baie gesogte Fantasea Show gaan kyk. Hulle het ons by ons hotel kom oplaai om 17:00 en in ‘n aircon bussie vervoer vir 1 uur noord verby Karon strand en Patong strand. Patong is die hoofstrand in Phuket en is baie besig. Miskien te besig. Ons is bly ons verblyf is bietjie uit die geharwar. Die show is net onbeskryfbaar. Ons mag nie fotos of videos binne neem nie, maar laat ek probeer verduidelik: Dit is ‘n properse verhoogstuk met tientalle mense en nog meer diere op die verhoog. Daar is 16 olifante, yaks, bokke, duiwe en hoenders! Die storie gaan oor ‘n prins en sy olifant wat die kwaad oorwin en vrede herstel. Daar is ontploffings, sweefartieste, lasers, musiek, dans, sang, kulkunste en vele meer. Mens weet nie waar om oral te kyk nie. Dit was ‘n fees!




Binne die plek is ook ‘n “jungle adventures” en ons sien wit tiere en ander diere eie aan Thailand wat ons nog nooit gesien het nie. Ek heg 'n video van die tiere aan. Hoop julle kan dit oopmaak. Dit alles nadat ons ‘n Thaise buffet gaan eet het. Snaakse, snaakse en baie snaakse disse. Ons het by die poeding begin (life is unpredictable in Thailand!), maar Corne reken die pienk balletjies smaak soos vis-oe. Die chocolate rum bolle was baie baie lekker.



Ons het vandag vreeslik geniet! Die swem op Kata strand voel baie ver terug. Nou moet ons gaan slaap, want more gaan propvol avontuur wees.

Thursday, March 29, 2012

Alle paaie en lugrederye lei na Phuket!

Ek het nie gedink om vandag al vir julle te blog nie, want ek het nie gedink 15 uur op 'n vliegtuig sou genoeg opwinding kon oplewer nie.  Wel, ek was verkeerd.

Ons vlug van Kaapstad na Johannesburg met Kulula.com was heel on-event-vol. Jo het my al half ses opgelaai by my huis en ons is sing-sing deur na Corne toe. By die lughawe het ons gou 'n wimpy ontbyt gedoen (in retrospek 'n groot seen en genade) en toe is ons weg.

Dit was eers toe ons by Thai International Air wil inboek in Johannesburg Internasionaal en die man agter die toonbank sulke verwarde uitdrukkings in sy oe kry en sy kop stadig van kant tot kant begin skud het, wat ek onraad vermoed het. Die vlug was oorgeboek en almal het opgedaag. Daar was groot groepe mense en toe gooi hulle my en my sussie en nog 'n couple van ons stoele af. Pluk letterlik die vliegtuig onder ons uit!

Wel, toe sit ons af na die toonbank waar die belangrike tannie werk. Haar naam is Sue en aanvanklik was sy heel vriendelik en verskonend. Sy begin vir ons plek soek op al wat 'n ander lugredery is. Etihad, Emirits, Singapore... Almal is tjok en blok vol. Die tannie raak moedeloos, maar sy ken nog nie vir my nie. Dis nou een ding wat ek by my vriendin, Nadia von Wielligh, geleer het: jy laat net nooit toe dat die probleem joune word nie. Ek vra in my soetste stemmetjie: "So how are you going to solve the problem?" Hulle het opgemors, hulle moet regmaak. Dankie Nadia! Jy sou vandag trots gewees het op hierdie dissipel!

Ek en Corne is vrolik en weet daar moet iewers 'n doel mee wees. Miskien gradeer hulle ons op Besigheidsklas toe!

Die tannie bied aan dat hulle ons kompenseer en dat ons Saterdag eers vlieg wanneer Thai weer 'n vlug het. Ons steek vas soos donkies. Ons vlieg vandag! Sy smeek later vir Singapore Airlines om ons op bystand te bespreek en daar gaan ons. Ons word toe van daai mense wat tien minute na die vliegtuig al moes opgestyg het deur die agterstrate van die lughawe na die vliegtuig begelei word. Almal in die vliegtuig staar na ons met verwyt in hul oe, asof ons vir die vertraging verantwoordelik was, maar ons steur ons min! Ons is in! Oppad Phuket toe, maar welliswaar met 'n ompad via Singapore en Bangkok.

Ons vlieg dus 10 ure tot op Singapore, hardloop om ons bagasie te kry (dit is nie daar nie), gaan deur customs (wat ons nie moes nie), ry op die skytrain (fantasties) en meld aan by Thai Air se departure desk. Stop die horlosie! Hulle is stom verbaas om ons te sien en het al ons name gepage oor die hele lughawe! Toe volg ons tweede vlug waarop ons heel laaste die vliegtuig bestyg. Teen hierdie tyd hanteer ons die verwytende kyke soos ou hande! Ons vlieg nog twee ure vanaf Singapore na Bangkok en vandaar 'n uur na Phuket.

Ek sit nou op die hotel bed en tik. Ek en Corne het heerlik gestort, dis 'n baie mooi hotel. Ons is opgradeer na 'n luxury suit want hulle bou aan die ander deel van die hotel. Baie gerieflik. Ons het reeds die swembaddens, restaurante en spa's deurgekyk en gaan nou eers bietjie slaap en dan sal ons die Phuket-ding doen! Dis nou 9:23 in SA volgens my rekenaar en 14:23 by ons in Phuket!


Ons is veilig, dankbaar en vol opgewondenheid oor wat voorle. Mag elkeen van julle 'n wonderlike dag he.

Monday, March 26, 2012

Hoekom 'n wereldtoer?

Oor 39 uur klim ek op die vliegtuig. Die eerste vliegtuig van baie en vertrek ek op my wereldtoer! Die afgelope twee weke het al my wonderlike familie en vriende vir my afskeidspartytjies gegee en almal vra dieselfde vraag: Hoekom 'n wereldtoer?

Ek wonder al tien jaar oor dieselfde vraag en hier is die antwoord:

1. Hoekom nie?!
2. Ek het baie vroeg in my lewe al besluit dat ek altyd meer waarde sal heg aan ervarings as aan goed en hierdie wereldtoer doen ek om sakke en sakke vol ervarings te gaan opdoen.
3. Ek het 'n reis-geen by my ouers en grootouers geerf. My ouma aan my pa se kant was 'n amerikaner wie se ouers as jong mense vanaf Swede na Amerika verhuis het vir 'n beter toekoms. My ouma het as jong meisie van Amerika af Afrika toe gekom om sendingwerk te doen in die destydse Kongo. In Kaapstad het sy my oupa ontmoet en in SA gebly na haar tyd van sendingwerk. My ouers is baie lief vir reis en ek onthou as kind dat my Pa ons sou wakker maak in die kombi en se: "Sit regop en kyk... julle was nog nie hier nie." So het ons die hele SA gesien. Na universiteit het ek vir 5 weke in Europa en Brittanje getoer saam met my hartsvriendin, Elizan, en daarna was ek nooit weer dieselfde nie. Amerika het geroep en daarna baie ander plekke.
4. Ek beplan hierdie toer al vir baie jare. Die tydperk en die bestemmings het oor die jare verander en reisgenote het gekom en gegaan, maar die algehele idee het presies dieselfde gebly: om die wereld te ervaar met my eie oe, ore, neus, mond en hart!!!

Die van julle wat my goed ken sal weet dat ek vir die afgelope 15 jaar "Hanlie-van-die-Munisipaliteit was en vir die laaste jaar Hanlie-die-munisipaliteit-in-Franschhoek. Nou gaan ek ontdek wie Hanlie is as sy geen rol hoef te vertolk nie. Ek sien baie uit daarna.

Mag elkeen van julle ook julle lewensdroom vervul. Moenie opgee op jou droom nie. Nooit, nooit, nooit nie!

Sunday, March 25, 2012

Een hoogvol lepel chillies!

Wat 'n voorreg om saam met goeie vriende in die Bo-Kaap te gaan leer maleise kosse maak by Gamidah. Dankie Cornelie vir jou inisiatief. Vyf groupons en vyf ure later is ons volleerd en gewapen met 100de samoosa velletjies teen spotgoedkoop pryse.

Dit het so gebeur: Ons sit af kaap toe in die koning se kar en lag en gesles die hele pad. Daar versterk ons ons eers met 'n cappacinotjie by Rose Cafe op die hoek van Rosestraat in die Bo-Kaap. Toe dit tyd is sit ons af na die turkoois huis en ontmoet ons gasvrou en haar twee dogters. Ons gaan vandag samoosas, hoender kerrie, rooties en chilli bites leer maak.



Ons besoek eers die spesery winkel en ruik en proe aan alles. Daarna was ons hande en begin... Gaminah ken haar storie en gou is die rootie deeg gebak, die speserye gemeng en die hoender op die stoof. Ons is veral goed met samoosas vou en rooties flake. Ons eet heerlik saam en gaan besoek anti Minna se geel huisie om samoosa velletjies te koop. Ons is dankbaar en baie ryk na 'n heerlike ervaring!

Wednesday, March 7, 2012

God se skeppingswerk

God se skeppingswerk

Hier volg die skeppingsverhaal van die nuwe Hanlie…

In die begin het Hanlie woedend geword oor hoe sy hanteer is by die werk. Dit was donker op die diep waters. Sy het gehuil en niks geslaap nie. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

Die volgende dag was Hanlie stom en verslae. Sy het gewonder of sy ooit weer iemand sal kan vertrou. Vriende, familie en publiek het gebid, boodskappe gestuur en probeer help. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.

Met die val van die finale brief het alles in Hanlie se kop doodstil geword en ‘n diep Goddelike vrede het oor haar gekom. Sy het teruggestaan en besef dat God in beheer is en besig is om ‘n nuwe aarde in Hanlie te skep. God het haar genade gegee om te vergewe en te seën. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.

Die volgende oggend het Hanlie saam met Pieter, Elsje en Alida gaan berg klim in Jonkershoek om te probeer vergeet en besig te bly. “From a distance there’s peace on earth.” Selfs Stellenbosch Munisipaliteit het vreedsaam vertoon van ver af. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.

Die volgende dag het Hanlie haar omring met mense wat vir haar goed is. Sy het die Here vertrou en begin hoor wat Hy vir haar wil leer. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.

Die volgende oggend het Hanlie haar kantoor gaan ontruim en 15 jaar se verhouding weggegooi en die oorblyfsels in bokse gepak. Die Here se genade was oorweldigend teenwoordig. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

God het gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed.

Op die sewende dag het God vir Hanlie gesê: Moenie bang wees nie! Ek bewys genade aan jou!

Laat met Hanlie gebeur soos God beskik het.
Toe het God en Hanlie in vrede gerus.

Wednesday, February 22, 2012

Die begin van iets nuuts...

Ek hoor vandag dat ek finaal klaarmaak by Stellenbosch Munisipaliteit na 15 jaar en 1 maand aan die einde van Februarie 2012. Ek is vreemd vreedsaam daaroor. "Ons krag le in stil wees en vertroue he." Ek vertrou die Here vir 'n nuwe begin met nuwe uitdagings en nuwe hoogtepunte. Ek ervaar ook verligting... die hele Franschhoek, die vullis in die strate en die verwagting van die dorp is nie meer my probleem nie. Mag die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan oor my hart en denke die wag hou en mag ek elke dag by magte wees om te se: Dit is wel met my siel (ongeag die uiterlike omstandighede).

Thursday, January 5, 2012

Nog 'n nuwe opwindende jaar... 2012














Waar kry 'n mens 'n beter plek om die nuwe jaar te begin as in die Cederberge saam met goeie vriende? Ek is huiwerig om te sê goeie "ou" vriende, want op ons ouderdom word 'n verwysing na oud met groot omsigtigheid hanteer, maar julle weet wat ek bedoel... Vriende wat soos jou oudste en lekkerste jean aan jou sit en wat jou groot plesier verskaf.




En daar was ons... Lui lekker, rustig, vreedsaam en in goeie geselskap. Ons het die beste weer gehad, baie fietsgery vroeg in die oggend of laat in die namiddag. Die bye het ons wakker gezoem in die oggend vanuit die groot akkerbome waaronder ons tente en motors gestaan het. Die wat nie gaan fietsry het nie, het gelê tot die tarentale of die son jou uitgebak of geskreeu het. Die swembad het groot aftrek gekry en so ook die rivier. Vir die van julle wat nog nie by Nuwerust in die Cederberge gekamp het nie... kies jou staanplek versigtig. Daar is min met baie skaduwee en dis 'n noodsaaklikheid in Desembermaande in die Cederberge. Gelukkig het Kalla en Lean vroeer die jaar daar gekamp en het ons omtrent die heel beste staanplek gehad. (Dis ons geheim watse een dit is, anders kry ons hom dalk nie weer nie) Ons is daagliks met groot vernyn en afguns deur die ander kampers sonder skaduwee bejeen. Veral as ons ons kampbeddens en matrasse in die middae uitgedra het en 'n uiltjie kon knip onder die bome. (Akkerbome gee gom af hierdie tyd van die jaar en die motorwasplek op Stellenbosch het nie gedink dis vreeslik snaaks toe ek my motor by hulle aflaai Dinsdag nie.)

Kalla se verjaarsdag die 31ste was groot pret. Dankie aan Pieta wat Kalla moes besig hou op die fiets totdat die verrassingspartytjie en die koek klaar was.

Tussen die ysies by die winkel, die trekker met die wa en die "glow-in-the-dark-sticks" het ons die kinders nie baie gesien nie. Ons aande was gevul met braai en braai en nogmaals braai by kampvure en ure se gelag en gesels. Oujaarsaand was baie spesiaal. Louise en Steven (die eienaars) het baie moeite gedoen en 'n kampvuur, musiek en chinese lanterns gereel by die lapa. Ons was maar mens-sku en het by ons eie plek gebraai, maar die kinders was lapa-mal. Nadat die een lantern 'n stuk van die lusern land afgebrand het, was hulle versigtiger, maar dit was steeds 'n baie mooi gesig.



Ons het ons eie pret uitgedink om die ou jaar te groet en het ons fietse versier met gloeistokkies en 'n kort nagrit onderneem met kopliggies. Dit was heerlik! Die wind het ons pogings om die starlights aan te steek erg bemoeilik en ons het later so gelag dat ek dit baie lank sal onthou... "Merry Christmas!!!" Natuurlik moes Isak se fotos eintlik gehelp het om dit lank te onthou, maar daaroor sal ons nou niks hier sê nie.


Nou het die jaar al weer begin en ek sit by die werk en wonder hoekom die kampery so vinnig verbygegaan het. Ja en soos ek nou hier sit is ek op volspoed!


Aan Kalla, Lean, Isak, Blyda, Pieta, Elmarie en die kinders, baie dankie vir 'n heerlike vakansie! Dis altyd 'n plesier om saam met julle te kuier. Ons pas mekaar soos 'n ingeleefde leer handskoen. Mag 2012 vir julle baie vreugde en vrede inhou.