Saturday, March 31, 2012

Vreemd, vreemder, vreemdste


Wat is die snaakste ding wat jy al bereid was om te eet? Ek is maar ‘n sissie as dit by gediertes kom. Kyk, ek kan brand hanteer en wasabi by sushi plak ek dik op. Ek is ook glad nie vol fiemies nie. Ek is een van vyf dogters en my ma het ‘n reel in die huis gehad dat elkeen net een fiemie mag he. Dis al manier hoe jy ‘n groot gesin deur ‘n klein begroting kry. Elkeen van ons moes sommer vroeg in die jaar verklaar wat hierdie jaar ons fiemie is en die res moes jy alles eet. As kind was tamatiesop my fiemie en vir afwisseling spinasie en pilchers in tamatiesous. Vir laasgenoemde gril ek nou nog… maar die res eet ek alles. Of so het ek gedink voordat ons in Thailand aangekom het!

Ons het ‘n ongewone, maar wonderlike dag beleef. Ons het ontbyt geeet by die tweede van ‘n paar restaurante in die hotel, nl Peach Blossom. Daar is gratis internet toegang en ‘n baie mooi swembad. Die kos was anders as die in die onderste restaurant en daar was selfs frensch toast en marmalade konfyt. Ek is mal oor Earl Grey tee en drink amper niks anders by die huis nie. Voor my toer het ek besluit ek gaan nou geen earl grey tee saambring nie, want ek moet hierdie nuwe kulture beleef, maar ek het nie rekening gehou met hoe ek dit sal mis nie. Hier is nerens earl grey in sig nie. Vandag het ek vir my lemon grass tee gekoop om uit te probeer.

Toe is ons saam met Mnr Win Chawin se taxi diens na Patong om daar rond te loop van 10:00 – 16:00. Patong is die hoof strand van Phuket. Dit is oorbebou met baie mense orals. Ons het stalletjies besoek, hul supermark deurgeloop omdat daar aircon in is en vir ‘n uur se voet massering gegaan by Marin Massage. Ons het elkeen vir ons ‘n goeie bree rand hoed gekoop en toe gaan swem. Die toilette van Patong strand is net te “groce” om hier te beskryf en nadat ons vanoggend vroeg 5 bht betaal het om dit te gebruik, het ons net nie kans gesien om dit weer te besoek om ons swembroeke aan te trek nie. Toe maak ‘n boer ‘n plan en ons trek aan agter ‘n boom tussen die besigste straat in Phuket en die besigste strand in Phuket. Die enigste probleem is dat hulle bome ‘n skrale palmboom is en ons weerskante uitgesteek het! Gelukkig het almal vir die topless 70 jarige tattoo bedekte tannie oppad see toe gekyk en ons was in ons swembroeke voordat jy kon se mes!






Later het ons ‘n McFlarry by MacDonalds geeet (ja hier is wraggies een met aircon) en nog tyd doodgeslaan tot Win ons kom oplaai het. Ons probeer ‘n klappervrug (coconut) en dis verfrissend en iets nuuts. Hulle kap hom oop met ‘n mashettie dat dit soos ‘n glas met ‘n dekseltjie lyk en gee vir jou ‘n strooitjie om die klappermelk te drink. Dis yskoud. Ons sal hom uitdroog op ons stoep by die hotel en die klapper ook eet.


Die grootste vorm van vervoer hier is motorfietse en toek-toeks. Ons het nog nie een fiets gesien nie. Win se dis omdat dit so warm is. ‘n Toek-toek is ‘n klein miniatuur kombi wat gemodify is om ‘n lorrietjie te wees.   

Win het oulike idees oor wat ons alles kan sien en stel voor dat ons die grootste juwelierswinkel in die wereld besoek naby Phuket dorp, ‘n toer van die perelfabriek doen en dan die plaaslike nagmark by Phuket dorp besoek. So gese, so gemaak. Beide die juwelierswinkel en die perelfabriek is baie interessant en mooi, maar uiters duur en ons koop niks nie.

Nou moet ek vir julle se dat die nagmark ‘n perd van ‘n heel ander kleur was! Sjoe! So iets het ek lanklaas beleef. Daar is eindelose stalletjies met klere, kos, kaggel-julle-weet-wat en vele meer, maar dis veral die Thailandse kos wat ons monde laat oopval het. Daar is heel ander vrugte as wat ons ken soos Maplan (lyk soos ‘n langwerpige appelkoos, maar smaak meer tropies soos ‘n mango wat ‘n perske identiteitskrisis het), Jack Fruit en Dragon Fruit. Ons drink smoothies met verskillende vrugte en selfs tamaties in. Dis heerlik en yskoud.



Ander goed het dieselfde name as by ons, soos pannekoek, maar dis heel anders. Dis reghoekig, omtrent 4cm by 2cm en krispi met ‘n soet lagie. As ek nou eerlik is sal ek erken dat daar net mooi niks aan hulle pannekoek is wat soos ons sin lyk nie.

Die vark-kaiings en gedroogte uie stukkies op sticky rice was fantasties en die spring rolls het ons ete afgerond. Toe ons die varkgereg koop vra ons ewe mooi vir die tannie of ons ‘n vurk kan kry, maar sy is erg verontwaardig en beduie dat mens dit definitief met jou hande eet! In die kar vertel ons vir Win van hoe ons die vark kaiings geniet het. Hy is heel opgewonde en se: Oh yes: “sikilai” (sticky rice).







Maar daar was verskeie goed wat net nie die 'cut' kon maak nie. Die ergste was die hope vis en seekos wat in die hitte oral rondle. Sushi by die rye vol, en goedkoop, maar ek het net nie kans gesien om sulke warm vis te eet nie. Seekat is volop en hulle braai dit sommer op so ‘n stokkie oor die vuur. Daar is baie heel visse op stokkies wat gebraai word. Die dumplings en sous bredies is orals, maar alles brand. Daar was ook vis biltong in alle vorme en baie vars en gebraaide groente. Sommiges herken ons en die res is nuut vir ons. Daar is drie kleure mielies, bone wat so groot is soos ‘n uitgegroeide kobra, snaakse olyf-agtige goed en so baie meer. Vark is groot in Thailand en daar is baie verwerkte varkvleis op stokkies te koop. Daar was ook eend eiers en kwarteleiers wat hulle nege per bakkie verkoop. Soetgoed bly ook nie agter nie. Daar is verskeie koekerigheid, donuts, suiker-roet en lekkers te koop. Ons oorhoofse nasmaak van die mark is ‘n helder veelkleurige mengelmoes van vreemde smake en geure!

Die mark het ons stoutste verwagtings oortref en ons het baie nuwe ervarings beleef. Win het goed gedoen!

Vanaand is ons moeg maar erg dankbaar vir die heerlike tyd wat ons al hier kon gehad het. Ons het vandag meer as 10 000 tree gestap. Ek het ‘n pedo-meter saamgebring en wil 1 miljoen tree stap in 93 dae. Sover is ons goed oppad.

More gaan ons die gewilde Phi Phi eiland besoek met ‘n motorboot en snorkel. Dit klink baie belowend en ons is baie opgewonde!

No comments:

Post a Comment