Thursday, March 29, 2012

Alle paaie en lugrederye lei na Phuket!

Ek het nie gedink om vandag al vir julle te blog nie, want ek het nie gedink 15 uur op 'n vliegtuig sou genoeg opwinding kon oplewer nie.  Wel, ek was verkeerd.

Ons vlug van Kaapstad na Johannesburg met Kulula.com was heel on-event-vol. Jo het my al half ses opgelaai by my huis en ons is sing-sing deur na Corne toe. By die lughawe het ons gou 'n wimpy ontbyt gedoen (in retrospek 'n groot seen en genade) en toe is ons weg.

Dit was eers toe ons by Thai International Air wil inboek in Johannesburg Internasionaal en die man agter die toonbank sulke verwarde uitdrukkings in sy oe kry en sy kop stadig van kant tot kant begin skud het, wat ek onraad vermoed het. Die vlug was oorgeboek en almal het opgedaag. Daar was groot groepe mense en toe gooi hulle my en my sussie en nog 'n couple van ons stoele af. Pluk letterlik die vliegtuig onder ons uit!

Wel, toe sit ons af na die toonbank waar die belangrike tannie werk. Haar naam is Sue en aanvanklik was sy heel vriendelik en verskonend. Sy begin vir ons plek soek op al wat 'n ander lugredery is. Etihad, Emirits, Singapore... Almal is tjok en blok vol. Die tannie raak moedeloos, maar sy ken nog nie vir my nie. Dis nou een ding wat ek by my vriendin, Nadia von Wielligh, geleer het: jy laat net nooit toe dat die probleem joune word nie. Ek vra in my soetste stemmetjie: "So how are you going to solve the problem?" Hulle het opgemors, hulle moet regmaak. Dankie Nadia! Jy sou vandag trots gewees het op hierdie dissipel!

Ek en Corne is vrolik en weet daar moet iewers 'n doel mee wees. Miskien gradeer hulle ons op Besigheidsklas toe!

Die tannie bied aan dat hulle ons kompenseer en dat ons Saterdag eers vlieg wanneer Thai weer 'n vlug het. Ons steek vas soos donkies. Ons vlieg vandag! Sy smeek later vir Singapore Airlines om ons op bystand te bespreek en daar gaan ons. Ons word toe van daai mense wat tien minute na die vliegtuig al moes opgestyg het deur die agterstrate van die lughawe na die vliegtuig begelei word. Almal in die vliegtuig staar na ons met verwyt in hul oe, asof ons vir die vertraging verantwoordelik was, maar ons steur ons min! Ons is in! Oppad Phuket toe, maar welliswaar met 'n ompad via Singapore en Bangkok.

Ons vlieg dus 10 ure tot op Singapore, hardloop om ons bagasie te kry (dit is nie daar nie), gaan deur customs (wat ons nie moes nie), ry op die skytrain (fantasties) en meld aan by Thai Air se departure desk. Stop die horlosie! Hulle is stom verbaas om ons te sien en het al ons name gepage oor die hele lughawe! Toe volg ons tweede vlug waarop ons heel laaste die vliegtuig bestyg. Teen hierdie tyd hanteer ons die verwytende kyke soos ou hande! Ons vlieg nog twee ure vanaf Singapore na Bangkok en vandaar 'n uur na Phuket.

Ek sit nou op die hotel bed en tik. Ek en Corne het heerlik gestort, dis 'n baie mooi hotel. Ons is opgradeer na 'n luxury suit want hulle bou aan die ander deel van die hotel. Baie gerieflik. Ons het reeds die swembaddens, restaurante en spa's deurgekyk en gaan nou eers bietjie slaap en dan sal ons die Phuket-ding doen! Dis nou 9:23 in SA volgens my rekenaar en 14:23 by ons in Phuket!


Ons is veilig, dankbaar en vol opgewondenheid oor wat voorle. Mag elkeen van julle 'n wonderlike dag he.

No comments:

Post a Comment