Friday, March 30, 2012

'n Dag van eerstes


29 Maart 2012

Ons eerste Thai massering het sommer al op dag een gekom. Ons was oppad af om die straatjies buite ons hotel te gaan ondersoek, toe stap ons verby ‘n lugverkoelde masseringsplek en net daar doen ons ‘n voetmassering van 30 minute vir 200 baht (R50). Dit was uit die boeke uit. Hulle werk met hulle hande en ook met ‘n skerperige swart plastiek stokkie waarmee hulle druk en pluk en masseer. Vir geswelde vliegtuigvoete was dit net die ding. (Foto) Hier sal ‘n mens baie betaal om in aircon te wees. Ons het gelukkig aircon in ons hotelkamer, want Thailand is vrek naby die ewenaar. Dit is nie so sonwarm buite as wat die drukking so hoog is nie. 89% humid! Ons sweet liters uit.



Laat die eerste aand swem ons in een van die hotel se vier swembaddens en drink ons eerste Thai bier (Singha). (Foto) Die mense hier praat baie min engels en selfs al praat hulle engels is dit baie moeilik om hulle te verstaan. Vanoggend het ons besluit hulle praat soos doofstom mense in SA. Hulle artikuleer niks nie en ons hotel se naam “Peach Hill” kom uit soos “eee iii”. Hier moet mens fyn luister!


Ons kyk Thai TV en sien ‘n stukkie van 007 se fliek met Thai onderskrifte en die ATP 1000 tennis. Nadal speel teen Tsonga. Een stel elk. Dat ek nou wraggies na Thailand moet reis om vir Tsonga te cheer! Ek eet vanaand thai noodles vir 13 baht. (Iets soos two minute noodles in SA) Daar is geen engels op die pakkie nie, maar op die prentjie lyk dit soos shrimps. Heerlik dink ek! Heerlik WARM weet hulle! Na die tyd sien ek die prentjie wys die seuntjie se tong hang uit en sy oe traan. More sal ek beter na die prentjies kyk. Die oulikste was die opvoubare plastiek vurk wat saam met die noodles gekom het.

Later lui die telefoon in ons kamer… Dis Henko uit China wat net wil welkom se in die Ooste! Wow, dis lekker om ‘n bekende stem te hoor.

30 Maart 2012

Na meer as 9 ure se heerlike slaap, is ons reg vir ons eerste Thai ontbyt en ons was nie teleurgesteld nie. Baie interessante dinge om van te kies. Op die foto sal julle net die vark worsies en die aartappels in paprika herken.  Die res is lang boontjies in bacon en fyngekapte olywe, thaise rys met worsies en wortels, gemengde groente, sultanas, dumplings met rys. Jy kan omtrent agter elke word “met rys” byvoeg want als hier word van rys of met rys gemaak. Corne het selfs ‘n gesigsroom gesien waarvan een van die hoofbestanddele rys is. Die res van die ontbyt bestaan uit baie lekker vrugte wat hier baie volop is. Hulle kiwi’s lyk heel anders as ons sin, maar is baie lekker. Hier is ook pynappel, papaja, mango’s en alle tropiese vrugte in oorvloed.


Na ontbyt sit ons af Kata strand toe om te gaan swem. Dis heerlik! Kata strand is een van die drie strande in Phuket wat die meeste skade gekry het tydens die Tsunami op 26 Desember 2004. Daar is 250 mense in Phuket dood en 5300 mense altesaam. Ek leer vandag dat Phuket die grootste eiland in Thailand is. Dit is gelee in die Andaman see in suidelike Thailand en met die hoofland verbind met ‘n pad. Phuket beslaan 570 vierkante kilometer en die hoogste punt bo seevlak is maar 529 meter. Dis ‘n bergreeksie in die weste van die land. 60% van die eiland word bedek met woud, rubber en palmolie plantasies. Thailand is die grootste produseerder van rubber in die wereld. Hulle voer 90 biljoen baht se rubber uit elke jaar. Daar is amper 4 baht in ‘n rand. Die rubber word meestal uitgevoer vir die maak van motor en vliegtuigbande.

Die seewater is warmer as by ons. Meer soos by Zanzibar. Daar is geen branders nie – als is spieelglad. Die tsunami moes iets verskrikliks gewees het. Ons “huur” vir ons ‘n sambreel en twee stoele (vir 200 baht) vir die oggend en val plat om als te besigtig. En is hier nie sites van alle shapes en sizes nie! Ons verkyk ons. Daar word letterlik ‘n ander taal onder elke sambreel gepraat. ‘n Oom van by die 70 paradeer verby met ‘n g-string. Hy laat dit nogal goed lyk! (Foto) Die grootste hoeveelheid inwoners van Thailand is Buddiste. Ons hoef nie ver te gesoek het om in Boeddha vas te loop nie. Ons het haar sommer op die strand gekry (sien foto). Met verskoning aan enige Boeddis wat dalk hierdie lees.



Interessant is die motorboot-speelgoed wat hier te huur is. Elke “local” het ‘n boot, jetski, of houtboot wat per uur verhuur word aan toeriste. Die “banana boat” lyk die lekkerste. Dis ‘n lang geel opblaas ding wat soos ‘n piesang lyk wat hulle agter ‘n skiboot aansleep. Daar kan vyf mense op die “piesang” sit en dit beweeg teen baie hoe spoed. Ek het dit vir ‘n vlugtige oomblik oorweeg en toe na die sny op my linkerbeen gekyk en rustig my plek onder die sambreel ingeneem. Net ‘n donkie stamp sy kop twee keer…

Hier is 9 Munisipaliteite in Phuket, maar hulle het dringend aandag nodig. Natuurlik het dit niks met my te doen nie. Phuket is in die 17de eeu eers Junkseilon genoem en was bekend as ‘n bron van tin met wie Indie en ander oosterse lande handelgedryf het.

Vanaand het ons die baie gesogte Fantasea Show gaan kyk. Hulle het ons by ons hotel kom oplaai om 17:00 en in ‘n aircon bussie vervoer vir 1 uur noord verby Karon strand en Patong strand. Patong is die hoofstrand in Phuket en is baie besig. Miskien te besig. Ons is bly ons verblyf is bietjie uit die geharwar. Die show is net onbeskryfbaar. Ons mag nie fotos of videos binne neem nie, maar laat ek probeer verduidelik: Dit is ‘n properse verhoogstuk met tientalle mense en nog meer diere op die verhoog. Daar is 16 olifante, yaks, bokke, duiwe en hoenders! Die storie gaan oor ‘n prins en sy olifant wat die kwaad oorwin en vrede herstel. Daar is ontploffings, sweefartieste, lasers, musiek, dans, sang, kulkunste en vele meer. Mens weet nie waar om oral te kyk nie. Dit was ‘n fees!




Binne die plek is ook ‘n “jungle adventures” en ons sien wit tiere en ander diere eie aan Thailand wat ons nog nooit gesien het nie. Ek heg 'n video van die tiere aan. Hoop julle kan dit oopmaak. Dit alles nadat ons ‘n Thaise buffet gaan eet het. Snaakse, snaakse en baie snaakse disse. Ons het by die poeding begin (life is unpredictable in Thailand!), maar Corne reken die pienk balletjies smaak soos vis-oe. Die chocolate rum bolle was baie baie lekker.



Ons het vandag vreeslik geniet! Die swem op Kata strand voel baie ver terug. Nou moet ons gaan slaap, want more gaan propvol avontuur wees.

No comments:

Post a Comment