Wednesday, March 7, 2012

God se skeppingswerk

God se skeppingswerk

Hier volg die skeppingsverhaal van die nuwe Hanlie…

In die begin het Hanlie woedend geword oor hoe sy hanteer is by die werk. Dit was donker op die diep waters. Sy het gehuil en niks geslaap nie. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

Die volgende dag was Hanlie stom en verslae. Sy het gewonder of sy ooit weer iemand sal kan vertrou. Vriende, familie en publiek het gebid, boodskappe gestuur en probeer help. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.

Met die val van die finale brief het alles in Hanlie se kop doodstil geword en ‘n diep Goddelike vrede het oor haar gekom. Sy het teruggestaan en besef dat God in beheer is en besig is om ‘n nuwe aarde in Hanlie te skep. God het haar genade gegee om te vergewe en te seën. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.

Die volgende oggend het Hanlie saam met Pieter, Elsje en Alida gaan berg klim in Jonkershoek om te probeer vergeet en besig te bly. “From a distance there’s peace on earth.” Selfs Stellenbosch Munisipaliteit het vreedsaam vertoon van ver af. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.

Die volgende dag het Hanlie haar omring met mense wat vir haar goed is. Sy het die Here vertrou en begin hoor wat Hy vir haar wil leer. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.

Die volgende oggend het Hanlie haar kantoor gaan ontruim en 15 jaar se verhouding weggegooi en die oorblyfsels in bokse gepak. Die Here se genade was oorweldigend teenwoordig. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

God het gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed.

Op die sewende dag het God vir Hanlie gesê: Moenie bang wees nie! Ek bewys genade aan jou!

Laat met Hanlie gebeur soos God beskik het.
Toe het God en Hanlie in vrede gerus.

No comments:

Post a Comment