Monday, March 26, 2012

Hoekom 'n wereldtoer?

Oor 39 uur klim ek op die vliegtuig. Die eerste vliegtuig van baie en vertrek ek op my wereldtoer! Die afgelope twee weke het al my wonderlike familie en vriende vir my afskeidspartytjies gegee en almal vra dieselfde vraag: Hoekom 'n wereldtoer?

Ek wonder al tien jaar oor dieselfde vraag en hier is die antwoord:

1. Hoekom nie?!
2. Ek het baie vroeg in my lewe al besluit dat ek altyd meer waarde sal heg aan ervarings as aan goed en hierdie wereldtoer doen ek om sakke en sakke vol ervarings te gaan opdoen.
3. Ek het 'n reis-geen by my ouers en grootouers geerf. My ouma aan my pa se kant was 'n amerikaner wie se ouers as jong mense vanaf Swede na Amerika verhuis het vir 'n beter toekoms. My ouma het as jong meisie van Amerika af Afrika toe gekom om sendingwerk te doen in die destydse Kongo. In Kaapstad het sy my oupa ontmoet en in SA gebly na haar tyd van sendingwerk. My ouers is baie lief vir reis en ek onthou as kind dat my Pa ons sou wakker maak in die kombi en se: "Sit regop en kyk... julle was nog nie hier nie." So het ons die hele SA gesien. Na universiteit het ek vir 5 weke in Europa en Brittanje getoer saam met my hartsvriendin, Elizan, en daarna was ek nooit weer dieselfde nie. Amerika het geroep en daarna baie ander plekke.
4. Ek beplan hierdie toer al vir baie jare. Die tydperk en die bestemmings het oor die jare verander en reisgenote het gekom en gegaan, maar die algehele idee het presies dieselfde gebly: om die wereld te ervaar met my eie oe, ore, neus, mond en hart!!!

Die van julle wat my goed ken sal weet dat ek vir die afgelope 15 jaar "Hanlie-van-die-Munisipaliteit was en vir die laaste jaar Hanlie-die-munisipaliteit-in-Franschhoek. Nou gaan ek ontdek wie Hanlie is as sy geen rol hoef te vertolk nie. Ek sien baie uit daarna.

Mag elkeen van julle ook julle lewensdroom vervul. Moenie opgee op jou droom nie. Nooit, nooit, nooit nie!

1 comment:

  1. Jy moet dit geniet en ons alles vertel - belowe ons sal nie TE jaloers wees nie!

    ReplyDelete