Sunday, March 15, 2015

Korazim, Golan Hoogland, Mount Bental, Kursi, Sirie en Megiddo


Hierdie pragtige uitsig is vanaf die Berg Bental in Israel oor Sirie. Dit lyk maar net so vreedsaam. Hier het al talle gevegte plaasgevind. Ook so onlangs soos 1967 in die Sesdaagse Oorlog in hierdie gebied. Hier waar ons staan is bunkers gebou waar die Israeliese soldate gebly en geskuil het. Tot tien meter onder die oppervlakte ingebou. Ons is regtig baie geseend met die weer. Elke dag is net pragtig. Dawied vertel vir ons dat Israel 330 sonskyndae het elke jaar. Dit kan ook ongemaklik warm raak hier.




Ons kry hierbo (1165m bo seevlak - en onthou Tiberias en die See van Galilea is die laagste plek op aarde naamlik 212 meter onder seevlak) VN soldate wat die grens tussen Israel en Sirie monitor. Israel het hierdie week weer hul algemene nasionale verkiesing en op die bus probeer Dawied vir ons die baie ingewikkelde multi party demokrasie verduidelik wat hier gebruik word.








Ons middagete van Falafel. Heerlik vars en lig vir 8 dollar. 



           





Hierdie foto is geneem by Megiddo. Dit is die plek wat my sover die meeste beindruk het. Dit is n ruineheuwel op die plek waar lank gelede n stad was. Voor hierdie heuwel le die Armageddon vallei. Hier sien ons tekens van beskawing wat 3000 jaar oud is. Toe Jan van Riebeeck se oer oupa grootjie nog nie n glinstering in sy ma se oog was nie. Megiddo le langs n baie besige handelsroete tussen Egipte en die Ooste en was daarom die toneel van vele veldslae. Die heel interessantste vir my is die water skema wat in die tyd van die Israeliese konings gebou is. Hulle waterbron was buite die stadsmuur en daarom nie veilig nie. Toe grawe hulle n skag van 36 meter diep waaruit n horisontale tonnel vertak van 70 meter lank. Die waterbron is hier in n grot en kon selfs in tye van stadsbeleering so bereik word. Ons stap vandag 183 trappies af en 82 op deur hierdie skema. Indrukwekkend vir 2800 jaar terug!! Ons sien ook n graansilo uit dieselfde era wat behoue gebly het en n altaar.








Hierdie pragtige kerk staan op Berg Tabor waar Jesus en Moses en Elia aan drie dissipels verskyn het. Hier beleef ek hoe groot en almagtig God is. Die paadjie op is angswekkend! Maar ons is veilig op en af.






Hierdie is Israel se nasionale blom. Die hoep-hoep is hulle nasionale voel.



Jammer dat hierdie foto so donker en dof is, maar ek wou wys hoe elke woonstelblok in Tiberia sonpaneelgeysers op hul dakke het. Al die wit goedjies. Onooglik, maar effektief. Mens sien dit orals hier.



Hier ry ek en my oudste sussie, Corne, op n voorstelling van hoe n perde strydwa in die 9de eeu voor Christus kon gelyk het. 




Hierdie lugfoto het ons gekry van die internet af. Nou kan julle die paadjie sien waar ons Berg Tabor op is.





Berg Tabor. Berg van Verheerliking!


Hierdie herwinningshouers wat hulle gebruik, is vir my te pragtig. Iets wat ons ook kan begin.


Wifi op ons bus!

Ek probeer gou nog n paar fotos stuur. Sal later vertel. Ons is oppad Megiddo toe.
Op die see van Galilea hys die skeepskaptein ons vlag en speel ons volkslied. N baie spesiale oomblik.

Hierdie vissersboot is in 1986 ontdek in die see van Galilea. Ongelooflike interessante museum. Daar is twaalf verskillende soorte hout gebruik in die boot. 

My sussie Santie by die see van Galilea. Ons sien hier plaaslike vissermanne. Die een het sy nette uitgegooi en gebruik n ding wat soos n dreinpomp lyk met n lang stok aan om die visse weg te kry van die rotse in die rigting van sy nette.

Vir al my vriendinne met Magdalena in hul name. Hier is die eerste dorp wat julle naam herdenk. Gebou ter verering van Maria Magdalena. Dorp se naam is Magdala. 

















Saturday, March 14, 2015

See van Galilea, Kapernaum, Tabgha, Sipporis

Ons dag begin vroeg met n heerlike ontbyt. Die hotel probeer al sy kliente tevrede hou en dit beteken geen vleis by ontbyt en geen melkprodukte by aandete. Ons kry wel hardgekookte eiers by die ontbyt. Ons kry mekaar 07:10 in die voorportaal en is so naby die see van Galilea dat ons sommer stap na die boot toe. Ons vaar na die noordelike oewer van die see waar ons bus ons kry. Die bootrit is n besonderse geestelike ervaring. Toe ons opklim hys die kaptein die SA vlag en speel ons volkslied oor die luidsprekers. Ons sing hartlik saam. Tiberias is n baie mooi gesig van die see af. In die middel sit die kaptein die boot af en ons lees Matt 8:23-27 waar Jesus die storm stilgemaak het op hierdie see. Ons bid en sing en geniet die teenwoordigheid van die Here. Later vaar ons verder en word ons ingelyf in die Joodse musiek en danspassies deur die skeepskaptein en ons gids Dawied. Ons like hom baie!

 Die sonsopkoms uit ons kamervenster in die Caeser Premier Hotel in Tiberias. Pragtig!
Tannie Joyce Swart is die oudste toerlid saam met ons. Sy is 85 en n bok vir sports en game vir alles. Ons toer lekker saam met haar. Hier gooi sy n Titanic pose op die boot. 
Ek wou nou nog baie fotos vir julle oplaai, maar nou is my webalbum eers vol en moet ek n ander plan probeer maak. 

Die hoogtepunt gister was Kapernaum. Ek het die baie geniet om te sien hoe Simon Petrus se huis kon gelyk het. Hier het Jesus hom gevestig en het hy baie wonders gedoen. Hier is baie toergroepe uit verskillende lande en later staan ons langs n stuk gras waarop bome is. Onder elke boom sit n ander land se groep en sing en lees uit die Bybel. Ek luister na die Italiaanse weergawe van n aanbiddingslied wat ons ook baie sing, en dit voel soos n stukkie hemel.

Nou is ons eers weer oppad. 


Geniet julle dag. Ek weet ek gaan.


Friday, March 13, 2015

Istanbul, Tel Aviv, Sesarea, Berg Karmel, Megiddo, Nasaret, Kana, Tiberias


 Ons eerste langvlug van Johannesburg na Istanbul verloop seepglad en die meeste van ons kry darem 3 tot 4 ure slaap in voordat die lugwaardin 04:15 ontbyt begin bedien. Ons land 05:20. Ons vergaap ons aan n tannie met n breerand ligpienk sonhoed op wat agter ons sit. Later toe ek toilet toe gaan sien ons dat sy wraggies daarmee slaap ook. Seker n bad hairday gehad. Op die foto hierbo staan ons gereed om die vlug van Istanbul na Tel Aviv te bestyg.
Op die vlug het ek my vergaap aan n Jood twee plekke van my af. Toe ons opklim, was hy in gewone klere, maar pas was ons in die lug toe trek hy sy tradisionele drag aan. Kyk die houtblok voor sy kop en die leerbande om sy arm. Probeer om eers die oosterling in pienk mis te kyk. Die Joodse buurman het die hele vlug in die paadjie gestaan en woorde geprewel uit n Hebreeuse Bybel. Al die lugwaardinne het maar net rustig om hom geloop. 

Ons ontmoet vir Dawid (uitgespreek as Dawied) in Hebreeus. Hy is die plaaslike toergids en ken sy storie. Hy het al baie Afrikaanse toergroepe gevat vir Seagull en ons lag lekker vir sy afrikaanse uitdrukkings.  

Ek sukkel vanaand om hierdie blog te skryf. Maar ek druk deur. Ek tik op my selfoon en kan nie alles sien nie. Die hoogtepunt vir my vandag was die besoek aan die Berg Karmel. Daar het mens die ongelooflikste uitsig oor die Kison spruit, Jisreel vallei en groen koringlande. Dit is hier waar Elia die 850 baalprofete uitgedaag het. 


My Pa en Ma op hul plek in die bus. Ons reis in styl!

Die amfi teater en reunes by Sesarea was ook vir my fantasties. Kyk ons mooi weer!! Hierdie teater is 2030 jaar terug gebou.


Die pragtige uitsig vanaf Berg Karmel. 

Nog n kykie na Sesarea se teater. 

Hierdie Rooms Katolieke kerk is opgerig in Nasaret op die plek waar die engel Gabriel aan Maria verskyn het om te se sy sal swanger word. Ek gaan nou eers slaap. My oe kyk bo-oor mekaar en ek sit nog in die lobby in ons hotel in Tiberias. Ons moet al 05:30 opstaan, want ons vaar moreogg vroeg met die boot op die See van Galilea. Hoe gelukkig kan een mens wees. 









Thursday, March 12, 2015

Israel toer Maart 2015

Israel was vir baie lank nie regtig op my bucket list nie. Ek weet nie regtig hoekom nie. Maar een ding het ek altyd geweet: as my Pa en Ma ooit weer n toer Israel toe vat, is ek by.

En toe is dit ook nie net ek wat so besluit het nie, maar ook twee van my vier sussies, Corne en Santie. Ek sien baie uit daarna om saam met hulle te toer.

Terwyl ons in Dolce koffiewinkel sit op Kaapstad Internasionaal, kom ons President met sy bodyguards op die aanloopbaan aangery waar hy op sy privaatvliegtuig klim. My jongste sussie is baie skerp en toe sy die foto sien merk sy op dat dit lyk of ons ook nie n kansie kon kry om vir hom n vragie te vra nie! 😀


N heerlike koppie earl grey tee voordat ons vlieg. Ek het n venstersitplek op 32K. Sedert ek die bloedklont in my linkerbeen gehad het in 2010, is vlieg effe moeiliker, met medikasie, maar ek geniet dit steeds. 

Hierdie pragtige standbeeld uit draad en kralletjies van Madiba, staan aan die vliegtuig se kant van doeane in Kaapstad. Ons vlieg met Turkish Air en stop in Johannesburg, maar laai net mense op. Ons bly op die vliegtuig.

Vyf Lindes op toer! Wat n voorreg. Andries, Christa, Braam en Elna, ons mis julle.

Tatta Tata.

Ek skryf en vertel verder sodra ons wifi het. Sterkte met elkeen van julle se eie reise. Mag daar ook baie eerstes wees. Hierdie toer se tydsberekening is baie goed, want ek het hierdie jaar begin met Bybelskool saam met die NGKerk