Wednesday, December 4, 2013

Gurten en ander draaie in Bern

3 Desember 2013

Ek is vanoggend vroeg op. Daar is plekke om te sien en mense om te ontmoet en ek moet wikkel. Dit is nog pikdonker buite. Ek drink earl grey tee en eet ‘n heidi broodjie en toe is ek oppad. Op Sherlock se aandrang gaan ek heel eerste Gurten toe. Dit is die plaaslike berg in Bern, maar die enigste manier om die top te bereik is met die Gurten “Funicular”. Dit is gebou in 1899 en was op sy tyd die vinnigste trein in Switserland. Die top is 864 meter bo seevlak en 332 meter bo Bern en bied ‘n ongelooflike mooi uitsig oor al die berge rondom Bern. Agter die hotel bo-op die berg is ‘n uitsig toring wat jy klim net om seker te maak jy sien alles wat jy kan en wil sien. Ek maak ‘n baie mooi video van bo af. Dit is werklik asemrowend. ‘n Mens kan ook die Jungfrau baie mooi sien van daar af.
Die fotos hieronder is net die wat met my selfoon geneem is. Ek het baie mooieres met my kamera geneem, maar kry hulle nie tans op my blog gelaai nie. Verskoon asb die kwaliteit.



 Ek het die tafels net een kyk gegee en maar besluit om binne te sit.

Geen ontbyt is klaar sonder earl grey tee nie. Die gebak is 'n amandel dingetjie.

Gewapen met die kaart van Bern begin ek om al die besienswaardighede een vir een na te loop en te bekyk. In Switserland moet ‘n mens heeltyd op jou hoede wees, want op elke hoek is ‘n bakkery wat so lekker ruik dat jy sukkel om verby te stap. En as jy al jou wilskrag gebruik het en jouself weggeskeur het van die bakkery se ingang, val die chocolatrie langaan jou aan! Gelukkig is alles so dooi duur dat my beursie my veilig hou.

Sherlock is vandag Zurich toe. Hy het die kunstenaars gaan haal. Maar wag, ek vergeet baie van julle ken nie regtig vir Sherlock nie, so laat ek eers bietjie vertel. Hy’s nou nie Holmes nie, maar Fortuin. In drie dae terug se blog het ek vertel waar hy vandaan kom en hoe sy storie ontvou het totdat hy vandag in Bern bly. Hy het ‘n passie vir die ontwikkeling van mense en wil dit doen deur musiek, kuns en kultuur. Dit was nog altyd ‘n groot droom van hom om ‘n Suid-Afrikaanse fees in Switserland te hou met die fokus op SAse klassieke musiek en literatuur. Sy droom kon bewaarheid word met die hulp van ‘n groot borg en siedaar! Hier is ons! Die kunstenaars wat gaan optree by die fees is Zorada Themming (wereldbekende orrelis van Stellenbosch), Diana Ferrus, Florence Filton, Niel Rademan, Arno Jones, Jo-nette Le Kay en Goitsemang Lehobye. Ek ken sover net vir Zorada, maar dit sal vanaand verander. Die Vriende van SA in Bern hou vir ons almal ‘n dinee. Sherlock het so pas laat weet dat hy nou al sy kuikens onder sy vlerk het, maar Niel se tas het weggeraak! Nou val hulle rond om dit op te los. Die kunstenaars bly in Hotel National. Ek het die pryslys een kyk gegee en besef ek sal nooit ‘n oog kan toemaak daar nie. Ek bly in ‘n gastehuis in Luissenstrasse.

 Sherlock Fortuin - die dromer agter die week
 Christoffel. Movember se moses.
My gastehuis

Van vanaand af begin ons werk! Ek moet so vinnig moontlik soveel as moontlik kontakte opbou. Ons wil ‘n uitruilprogram aan die gang sit tussen Bergrivier en Bern Universiteit en Bern Stad om kultuur en kuns ontwikkeling op ons platteland in SA te bevorder. Verder wil ons borge soek vir die Bergrivierkoor wat einde 2014 toer. By een van die funksies hierdie week sal daar donasies gevra word vir die koor. By daardie geleentheid sal ek iets se oor ons area, die koor en die ontwikkeling van mense deur kuns en musiek in SA.

Vir die van julle wat nog nie baie weet oor ons gemeenskapskoor nie, gaan kyk gerus op hul Facebook bladsy of by Piketberg NG Kerk se blad. Daar is baie inligting en ‘n paar kort stukkies video ook van die koor se onlangse optredes. Ek is so trots op hulle. Die koor bestaan uit 86 lede uit alle gemeenskappe in Piketberg, Porterville en Goedverwacht. Met meer fondse sal ons ander areas ook by die oefeninge kan kry. Hulle is werklike ambassadeurs vir ons area en doen sommer gemeenskapsintegrasie en bou verhoudings oor rasse-grense sover as wat hulle sing! Dis mos wonderlik wat musiek alles kan doen. Dit hef enige mens op!

Ek kry die hele groep 19:10 op die Bern Bahnhof (Bern se hoof stasie) en vandaar stap ons na die klein intieme “ladies bar” waar vanaand se ontmoeting plaasvind. Dit is die “Vriende van SA” in Bern (ja daar is wraggies so ‘n organisasie) wat ons vanaand onthaal. Ons word oorlaai met hartlikheid en ontmoet vir Markus. Hy is die voorsitter van die groep en het ‘n gholfhemp aan met hul logo op. ‘n buitelyn van Tafelberg met ‘n Switserse vlag op. Hulle kom gereeld bymekaar en braai, bespreek SA en hou almal van toer na SA. Die vise-Ambassadeur by die SAse ambassade is ook hier vanaand. Haar naam is Annabel en sy is ‘n lieflike mens. Ons gesels lekker en sy deel ons droom van ‘n vennootskap skep waar ons afgestudeerde Switserse kultuur en musiek studente na die platteland van SA stuur om daar ‘n jaar se internskap te doen waar hulle hul vaardighede terugploeg in die gemeenskappe. Charles en Rosemari is ook weer hier vanaand. Ek het so vinnig lief geword vir hulle en dit is heerlik om hulle weer te sien. Rosemari wil my more ‘n paar plekke en mense in die stad gaan wys.

 Heidi broodjies
 Markus, die voorsitter van die Vriende van SA besig om ons te verwelkom. Regs langs hom staan die vise Ambassadeur Annabel.
 Ek en Zorada Themming.
'n Paar van die kunstenaars. Anti kloksgewys: Zorada, Jo-Nette, Sherlock, Annabel, Florence, Diane and Giotsomang. Die een met die wit top langs Florence se naam kan ek nou nie onthou nie. Sy is ook van die ambassade.

Ek geniet hierdie kunstenaars terdee. Niel is ‘n fasinerende jong SAner met ‘n lewendige humorsin en ‘n buitengewone mooi stem. (Sy tas is steeds soek en hy het ‘n moderne kombinasie van klere aan wat hy geleen het). Giotsomang is ‘n briljante sopraan en Jo-nette verras met haar pragtige stem. Arno is eintlik ‘n begaafde orrelis, maar kan net so mooi sing. En van Zorada Themmingh hoef ek julle niks te vertel nie. Sy is vanaand die video-vrou en sing ‘n inleiding vir elke lied. Begaafd verby! Ons sing Nkosi Sikele vir die gehoor en dit raak stil in die kroeg en in my hart. Almal luister aandagtig. Ons gaan haal hom diep en trots. Die vise ambassadeur is in trane! Dit is ‘n “hit”! Daarna trek ons los met alles van Sarie Marais tot Shosoloza tot Kersliedere. Ek is so trots om hier te wees en om Suid-Afrikaans te wees. Ons het wonderlike talent wat vir niemand in die wereld hoef terug te staan nie. En ons is almal hier omdat ‘n uiters begaafde kind van Piketberg ‘n groot droom gehad het... En nie opgegee het nie. Sherlock, ek salueer jou!

4 Desember 2013

Ek word wakker van heerlike whatsapp gesprekke met my familie. Ons het ‘n whatsapp groep waarby al vyf sussies en ouers ingesluit is en dit klets voordurend. Wat ‘n voorreg. Vanoggend is daar groot opgewondenheid want my Pretoria-sussie se jongste is klaar met laerskool. My sussie in Kuilsrivier se seuntjie is in die top tien van sy klas en die klomp in Stellenbosch wag nog vir rapporte.  Ek si soos altyd weer opreg dankbaar vir my wonderlike gesin.

Vanoggend gaan Zorada en Sherlock Basel toe vir ‘n oefening en ‘n optrede saam met ‘n plaaslike kunstenaar genaamd Michael Pelzel. Diana en Florence gaan ook Basel toe om deel te neem aan ‘n voordrag by die Universiteit van Basel. Beide van hulle is literatuur ghoeroes.

Vanaand is daar ‘n SAse konsert in die konservatorium van Bern. Die konsert vind in vier gedeeltes plaas. Niel sal begin met ‘n Kabaret, dan sal Jo-Nette, Goitsemang en Arno Suid-Afrikaanse klassieke musiek sing, gevolg deur studente van Konzi Bern met ‘n uitvoering. Daarna sluit ons af met SAse Kersliedere. Vanaand ontmoet ek die rektor van Bern Universiteit.  Ons moet ons idee van ‘n kultuur uitruil program met hom toets en sy inkoop kry. Dit is ook by vanaand se geleentheid dat ek ons pamflette oor Bergrivier kan uitgee en iets kan se oor ons area. Die spesiale kollekte vanaand gaan vir die Bergrivier Gemeenskapskoor. Mag die Here die saal volpak en hul harte en beursies oopmaak, sodat ons elke liewe lid van die koor sal kan help om volgende jaar die toer mee te maak. Baie van hulle was nog nooit buite die Wes-Kaap nie en het nog nooit gevlieg nie.

En ek en Rosemari is vanoggend op ‘n geheime sending wat met ‘n “s” begin... Julle ken my mos. Kan by geen winkel verbyloop nie. Hier is ‘n kettingwinkel genaamd Leob. Dis soos Garlicks op steroids. Ek sal ‘n hele week daar kan deurbring. Die een in Bern se middestad het ses verdiepings. Gister was ek vinnig daar in net om ‘n draaitjie te gaan loop, maar my mond het oopgehang. Meestal vir hul kersversierings. Ek het so skelmpies hier en daar ‘n foto geneem. Wil darem ook nou nie lyk soos Sannie Niksgewoonds van die plaas af nie!

 Dit was nog nie 10:00 nie toe sit ek en Rosemarie elk met 'n glas champanje in die winkelsentrum. Ek wou die internet gebruik en julle sal my nou nie glo nie, maar hier kan jy 'n notebook met volle internet toegang in die winkelsentrum by die Poskantoor gaan afhaal en met hom die hele dag in die winkelsentrum rondloop en gebruik net soveel as wat jy wil. Ek het my geskaam dat ek die enigste een in die sentrum was wat vir 'n vlietende oomblik daaraan gedink het om dit nie terug te gee nie. Hulle vertrou almal, want almal kan vertrou word. Ek het dit teruggegee.

Hierdie is Sprungli! Wow! Wow! en Wow! Oorspronklik 'n heerlikheid van Zurich.
Hier word selfs winkelpoppe met hul broek op hul kniee gevang...

Gedagtig aan my gesprek met die Ambassadeur en Rektor vandag, bewapen ek my met die feite van Switzerland. Ek deel graag ‘n paar daarvan met julle:

Ek het gedog Zurich is die hoofstad, maar dit is nie waar nie. Bern is. Zurich is wel die grootste stad. Hulle leuse is: Unus pro omnibus, omnes pro uno – One for all, all for one. Dit laat my aan die drie muskutiers dink. Hierdie land is oud! De geboue is sandsteen en toe ek sien hul federale republiek is reeds in Augustus 1291 gestig, verstaan ek baie. Niks is onseker nie. Niks word vir die eerste keer uitgevind of verander nie. Staties.  Ek kan natuurlik nie help om ook die stad en land uit ‘n Munisipale oog te kyk nie. Van skoon kan jy hierdie mense niks leer nie. Maar dit help natuurlik as jou bevolking almal geletterd, opgevoed en nie dronk op straat is nie.

Hier bly 8 miljoen mense. En mag ek se: baie min jongmense. Miskien was ek nog net nie op die regte plekke om hulle te sien nie. Vandag gaan ons universiteit toe. Miskien verander ek dan van mening. Baie interessant is dat hul motors aan die regterkant van die pad ry, maar hul treine links. Nogal verwarrend as jy soos Daantjie Kat wil rondkyk voordat jy die pad kruis. Switserland is ‘n federasie van 26 cantons. Switserland is bekend in die wereld as ‘n land wat baie lank op ‘n draad kan sit. Hulle is neutraal. Al vir 190 jaar. Daarom is baie internasionale organisasies se hoofkantore hier gelee. Bv die Verenigde Nasies. Ons gaan hul geboue besoek later die week in Geneva.

Dit was nog altyd een van my kinder-drome: om vir die VN te werk. Een van die redes hoekom ek Internasionale Politiek Honneurs gedoen het jare terug. Miskien soek ek sommer ‘n werkie ook hier vir later in my lewe. (net ‘n kantopmerking: my familie sal weet hoe ek in 1993 se einde getreur het omdat ek gekeur was vir buitelandse sake en al die poste toe gevries is in afwagting van die verkiesing in 1994. Gedink my lewensdroom is op ‘n einde. En hier ontmoet ek gisteraand vir Annabel en vra haar uit oor haar werk en hoor al die politiek wat daarmee saamgaan en glimlag ek al die pad omdat die Here al weer – soos altyd – die heel beste geweet het.)


As ons familie by Stilbaai is, se my ma altyd na ‘n paar dae sy is so lus vir groente. Dan moet ons eers weer ‘n slag potjiekos maak met goeie gesonde groente in. Wel, ek kan vir julle een ding se: Ek eet nou al vir drie dae net brood en kaas en koue vleise. Dit is natuurlik van hoogstaande gehalte. Jis, hierdie mense kan kaas maak. Flip. Op elke mark en in elke restaurant. Gisteraand se onthaal het net bestaan uit brood, kaas, koue vleis en sjokolade! Hoe gaan die liedjie: “Brood en kaas eet die baas!” g’n wonder hierdie mense is aan die bopunt van die wereld se voedselketting nie! Maar vandag gaan ek ‘n slaai soek. Vanoggend se ontbyt was Earl Grey Tee (wat anders) met ‘n croussant en ‘n gruyere kaasplakkie. Die Migros reg oorkant my gastehuis het rakke en rakke en rakke vol verskillende kase. Dis ‘n belewenis en laat Nataniel se advertensie oor Checkers se wonderkase na ‘n grap lyk.

Heerlike dag vir elkeen. Elizna, ek wens ek kon by jou partytjie wees. Julle moet die BAIE geniet. Mis julle.

Hanlie

Tuesday, December 3, 2013

Bern dag 2

Vanoggend is ek vroeg op, want ek het die dag vir myself en daar is plekke om te sien en mense om te ontmoet. Vandag gaan ek heel eerste na Gurten. Dit is die hoogste punt in Bern en mens gaan met 'n trein na bo-op die berg vanwaar mens 'n baie mooi uitsig het. Dit is nou as die weer saamspeel. Onder in die stad is alles toe en bewolk en ek het amper die fout gemaak om nie te gaan nie. Maar bo-op die berg is alles oop en PRAGTIG! Mens sien reg rondom Bern en elke berg in die Alpe. Sjoe, dit is mooi. Daar is 'n toring om uit te klim en dan sien mens nog verder. Daarna doen ek die stad. Ek vat die kaart en stap na elke besienswaardigheid denkbaar. Elizan, jy sal nie glo nie, maar dit voel soos gister dat ek en jy 20 jaar terug langs die bere put gestaan het. En weet jy: dit was weer vir my 'n teleurstelling. Net een beer in sig! Dit is darem 100% meer as verlede keer!

Ek bekyk die parlementsgebou, die kerke, die plazas en stap deur elke winkel. Sherlock is vandag Zurich toe om die kunstenaars te gaan haal en ek maak tyd op. Julle dit is 'n pragtige stad!

Ek skryf weer sodra ek kan. Die fotos sal moet wag vir later.

Groete aan almal.
Hanlie

Istanbul en Bern

2 Desember 2013 05:40

Ek dink nie ek het al ooit voorheen ‘n Turk in lewende lywe ontmoet nie. Al wat ek omtrent van Turkye weet is dat hulle Turkish Delight maak. Nou Turkish Airlines is deel van die Star Alliance en vriende van my het gese hulle is goed en daarom het ek met hulle gevlieg. Dit bring my vanoggend by ‘n nuwe land en nuwe stad wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Istanbul le op die water en dit was baie mooi om al die hawe liggies te sien uit die vliegtuig uit. Die vlug was goed. Die lugwaardinne kan veel vriendeliker wees, maar miskien is dit maar hulle ding.

Ons het geland op Atatürk Havalimani Lughawe. 45 miljoen passasiers is hier deur gedurende 2012.  Net om dit in konteks te plaas: Johannesburg het 18,6 miljoen gedoen in dieselfde tydperk. Nie die grootste in die wereld nie, maar groot genoeg.

Interessant vir my is dat Istanbul nie die hoofstad van Turkye is nie, maar wel Ankara. Hulle geldeenheid is die Turkse Lier. Hulle is ‘n demokrasie met President Abdullah Gül aan die roer van sake. Hier woon 75,6 miljoen mense. Die meeste van hulle is Moslems. In hierdie deel van Wes-Asie is Turkye van groot geografiese belang en word omring deur agt lande naamlik Bulgarye, Griekeland, Georgia, Armenia, Iran, Irak, Sirie en Nakhchivan. Istanbul le oor die grens tussen Europa en Asie. Die Swart See loop in die middel deur en skei die stad in twee.

Ons vlieg weer 08:20 na Zurich. Die vlug is twee ure. Dan sal dit al lig wees dat ek lekker mooi kan sien.

Nou eers vir nog ‘n snaakse teetjie.

Ek wou nou vir julle 'n paar fotos hier opgelaai het, maar die internet kafee se rekenaar wil nie my foto leser lees nie. Dis 'n baie snaakse ervaring om op 'n Switserse keyboard te tik. Die letters is nie almal waar ons s'n is nie en dit gaan baie stadiger. Gelukkig kos dit net 3CHF vir 30 minute en kan ek maar sukkel.

2 Des 08:20

Die vlug na Zurich is eintlik langer as wat ek gedink het, want mens verloor wel ‘n uur Switserland toe. Ons vliegtuig is geskeduleer vir 08:20 en kom 10:20 aan in Zurich, maar dan is dit 11:20 in Istanbul en SA. Maar die Turke is baie rustig en bietjie minder presies en ons drentel so deur na ons vliegtuig toe. Daar is letterlik nie eers iemand wat jou instapkaartjie kyk nie. Die man leun teen die muur en waai net sy handjie dat ons maar kan deurstap. Ons styg eers 08:45 op, maar die vlieenier is nie ‘n Turk nie en hy gee gas. Ons land tien minute voor geskedule. Ek slaap amper die meeste van die vlug (die slaappil werk nog), maar is darem betyds wakker vir ontbyt en die mooiste fotos van die sneeubedekte Duitse pieke.

Sherlock is die eerste gesig wat ek sien toe ek uitstap nadat ek my bagasie gekry het. Die ses bottels wyn is toe glad nie ‘n probleem nie, want daar is niemand by Doeane nie en mens stap net deur. Lyk my die groot skrik na 9/11 is nou weer vergete en almal is bietjie slap.

Ons gaan koop vir my ‘n Swiss Pass vir 15 dae. Dit is duur, maar die moeite werd want alle vorme van vervoer wat ek die volgende 12 dae gaan gebruik, is hierby ingesluit. Dit kos my 476 Swiss Frank. Daar is tans 11,2 rand in elek CHF. Dit is R5331. Net my treinrit van Zurich na Bern sou al die helfde daarvan gewees het, so ek is tevrede en reg om hom baie te gebruik. Sherlock praat vlot Swiss Duits en dit gaan maklik. Hy gradeer ons op na eerste klas op die trein en ons sit bo vanwaar ek die landskap bae mooi kan sien. Die interessante is hoe die regering hier bele in die platteland en deur middel van wetgewing alle industriee uitskuif na die platteland om daar werk te skep. Dit sou by ons ook kan werk.


90 minute later is ons in Bern. Dit het so vinnig verbygegaan, want ons gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. By Bern-stasie wys Sherlock my eers die stasie en die ou bewaarde mure van die ou stad. Daar is ‘n restaurant in die ou mure gebou en ek vergaap my. Hier trek ek geld en kry ons die trem na my Luissestrasse waar my gastehuis is. Dit is die tweede huis langs die tremstasie en reg oorkant ‘n supermark (Migros). Baie gerieflik en lekker. Na ‘n besoek aan die supermark vir iets om te eet vir middagete (vra my oor die Heidi-broodjies), klim ek in die bed om verlore slaap in te haal. En het ek nie geslaap nie?! "Heigen herts der naght ontkomen", sou my Oumie gese het. Ek slaap tot die dood intree en skrik baie later eers wakker. Daar is wifi in my kamer en ek hoef nie die R128/MB wat Vodacom se Orange Netwerk hier vra, te gebruik nie.


Sherlock kry my net na half ses en ons sit af kersmark toe vir Gluwein. Dit is heerlik! Daar is twee groot kersmarkte in Bern. Die een waar ons vanaand is, is die Weihnachtsmarkt. More sal ek die ander een ook probeer. Daarna ry ons met die trem om vriende van hom by ‘n restaurant te ontmoet. Die restaurant is Strada en baie gewild vir hul pizzas. Charles en Rosemary ken Sherlock al meer as tien jaar. Hulle is dierbaar en ons kuier baie lekker. Na ete verras die sjef ons met ‘n glasie lemonchello vir elkeen. Wat ‘n dag! As ek dink waar dit vanoggend drie-uur in ‘n Turkse vliegtuig begin het met olywe vir ontbyt, tot waar ek nou al soveel van Switserland beleef het. Ongelooflik!

Sunday, December 1, 2013

Ready, steady, ....

Deur doeane en klaar gepiepie. Nou wag ek vir die aankondiging om te kom. Ons kan maar "board". Ek is reg. Ons vlieg Kaapstad, Johannesburg (ons klim nie af nie, net nuwe passasiers klim op), Istanbul en dan Zurich. Ons sal 06:00 in Istanbul land in Turkey. Dis 'n nuwe land en stad vir my. Ek sit by die venster en hoop dit is oopgetrek van Istanbul na Zurich. My ouers en Corne het my kom afsien op die lughawe en ons het heerlik geeet in die SPUR. "Feels like home!" Dis mos al restaurant wat Piketberg eintlik het. Dit is darem maar wonderlik om familie te he wat bereid is om op 'n Sondag ure en km's af te le om my te kom afsien. Ek is voorwaar geseend.

Vlieg is nie meer so eenvoudig na my bloedklont drie jaar terug nie. Wanneer ek nou vlieg moet ek myself inspuit net voor ons vlieg met iets wat my bloed verdun en voorkom dat ek weer 'n bloedklont kry. Ek het dit 'n hele paar keer op my wereldtoer ook gedoen. Dis nie seer nie, net roetine. Om een of ander rede sien ek nog nie so uit na hierdie trippie as wat ek gedink het ek sal nie. Miskien as ons eers in die lug is. Miskien is dit omdat ek nou eintlik twee weke voor die einde van die jaar begin afskaal en al die ander mense nog volstoom aanhardloop einde van die jaar toe. Ek weet nie. Ek is net nog nie in die "grove" nie.

Maar kom sal ek daar kom!

Saturday, November 30, 2013

Die eerste afrikaanse fees in Bern, Switserland

Nou kyk, ek het hierdie jaar al baie aangrypende mense ontmoet op die platteland! Die meeste 'n groot inspirasie.  Een so 'n persoon is Sherlock Fortuin. Hy kom van Piketberg af. Sy Ma en stiefpa bly steeds hier. Maar Sherlock bly in Switserland. Hy is baie musikaal en het na skool by Stellenbosch Universiteit gaan studeer en in die Univ Koor en Libertas Koor gesing en daar 'n groot liefde vir koor en kultuur opgebou.

En toe begin hy 'n gemeenskapskoor in Bergrivier. Hulle is al 86 lede sterk uit alle dele van ons gemeenskap. Hulle bevorder die afrikaanse en KhoiSan kultuur. Hulle is genooi om einde 2014 in Amerika en Europa te gaan toer, maar wag nou loop ek die storie vooruit...

Sherlock werk by Bern Universiteit en hou 'n Suid-Afrikaanse fees van 2 - 12 Desember 2013 in Bern. En ek is oppad soontoe! My tas is gepak en ek is op die punt om te mag opgewonde raak. Die afgelope week moes ek eers 'n paar berge versit voordat ek kon dink aan gaan. Ons strategiese sessie met ons raad moes afkom, ek moes die laaste Raadsvergadering vir die jaar oorleef en Bergrivier Munisipaliteit het vir die eerste keer in hul geskiedenis 'n Prysuitdelingsfunksie gehou waar al 382 werknemers en alle raadslede bymekaar was vir 'n aansit ete. Ons het al die opleidingsertifikate wat in 2013 verwerf is uitgedeel (197 van hulle!) en langdienssertifikate oorhandig. Die moeilikste was om skeptiese mense te oortuig dat so iets kan en sal werk! Die doel was om almal trots te maak om hier te werk en ek dink ons het geslaag. Dit was 'n groot sukses. Toe alles opgeruim is na die tyd en net voordat ek in my motor klim, kom een van ons werkers. Dis die eerste eer dat ek hom sien en hy vat my hand en kyk diep in my oe en se: Mevrou, jy kom DUIDELIK uit! Wat 'n kompliment! Ek is so gelukkig in my werk en kry die geleentheid om my 100% uit te leef. Werklik 'n groot dankbaarheid in my lewe!

Terug by die Bergrivier Koor: My trip na Switserland is werk en plesier. Net vir enige belastingbetaler van Bergrivier wat hierdie lees - ek het my eie vliegtuigkaartjie en verblyf betaal. Die Mun gee net vir my spesiale verlof vir die tien dae. Ek gaan om langtermyn volhoubare vennootskappe te bou met Bern Universiteit om kuns en kultuur in ons gemeenskappe te bevorder. Verder is een van die aandprogramme by die fees ten bate van die koor en ek gaan iets se by die geleentheid oor ons area en pamflette uitdeel dat die gehoor ons area in hul geestesoog kan oproep. Daar is 12 kunstenaars uit SA wat by die fees gaan optree. Onder andere Zorada Themming! Ek sien baie uit daarna om hulle almal weer te sien en saam met hulle ons mooi land te adverteer.

Ek sal probeer om julle op hoogte te hou sover ek gaan. Dis winter in Switserland nou en die sneeu val. Dit was nogal moeilik om te pak vir hierdie een. Ek het ses bottels geborgde wyn wat Org du Rac in Piketberg vir Sherlock stuur vir 'n kaas en wyn op die fees. Dis als in my tas! 7,8kg se wyn! Verder moes ek aandklere by my Ma leen en my swaar stapskoene saamvat om oor die geysde strate te kan kom. Ons sal maar sien hoe dit gaan...

Tot ek kans kry om weer van my te laat hoor... Geniet elke oomblik!

Hanlie

Friday, October 4, 2013

Just checking in

Vanoggend kuier ek gou vir 5 minute by my vorige PA in Stellenbosch. Eintlik het ek haar gaan verras met 'n kopie van die boek wat ek geskryf en laat uitle en druk het oor my wereldtoer in 2012. Ja, daar is genoeg foto's in. 'n Hele 772! Ek het net 30 kopiee laat druk en daar is min oor. Die boek se naam is: "Een miljoen tree..."

Hier is 'n foto van die voorblad: (ek sien nou eers die agtergrond is my pajamas en my breiwerk! maar so ken julle my mos)


Dis vir my so lekker om Madeleine weer te sien en ons gesels 'n hond uit 'n bos uit. Sy het vir 7 jaar tussen 2005 en 2012 elke dag skouer aan skouer saam met my gewerk en ken my seker beter as die meeste mense. Skielik vra sy: Hanlie, hoekom skryf jy nie meer blog nie? Die waarheid is: ek weet nie eintlik nie. Het net lanklaas die tyd gemaak om vir julle te vertel wat in my lewe aangaan. En daar gaan duisende goed aan, so eintlik het ek baie om te vertel.

Laat ek begin deur te se: Ek is baie gelukkig in my werk en in Piketberg. Verlede naweek was van die lede van my professionele vrouegroep in Stellenbosch by my en Christa Domesle het dit so mooi opgesom: Sy se sy het gehoor ek se vir hulle dat ek regtig gelukkig is op die platteland, maar sy wou vir haarself kom kyk. Nou weet sy: Ek is regtig gelukkig. Minder stress, meer satisfaksie, meer erkenning en meer geleentheid om 'n groot impak te he op die omgewing. Heerlik!

Die kuier met my vroue-groep was uit die boeke uit. Ek het oor die afgelope 12 jaar so lief geraak vir hierdie mense. Ek gee eers 'n paar fotos en verduidelik dan.


By die mark op Kruistement-vlei op Piketberg Boberg kan jy enigiets koop van 'n heksie-besem (vir net R20 elk) tot heuning, blomme, vleis, groente, vetkoek en noem maar op. As jy nog nie daar was nie, maak 'n plan! Dit is so die moeite werd. Hier is Christa besig om te vlieg op haar nuut aangeskafde besem. Ek kan nie onthou of sy besig was om op te styg of besig was om te land nie.


 Lizette Botha en Christa Domesle geniet die son en rustigheid van die platteland by die mark. Ons het mekaar OP-gekuier die naweek.



Johann is Irmi Hoffmann se man en hy het die vroue naweek trotseer en so lekker saam gekuier. Op sy skoot is hulle jongste, Cara.


Die Piket Boberg is wereldbekend vir die blomme wat hulle uitvoer. By hierdie mark kry jy uitvoergehalte blomme vir next to nothing! Die mandjie het Lizette my persent gegee. Pragtig!



Ons ken mekaar al so goed dat Lizette 'n hoed gebring het vir Christa wat haar kleurskema en persoonlikheid 100% gepas het.

Die aand het ons 'n "gestewel en gehoed" geleentheid gehou by die Bio-Cafe in Piketberg. Sir Cobis Wilson was ons gasheer en het ons bederf met 'n viergang maaltyd uit die boonste gestoeltes. Ons het sy fleurklavier goed gebruik en onder die begeleiding van die plaaslike orrelis, Alison, ons longe uitgesing op Laurika Rauch Classics en natuurlik ABBA se bestes! Girls, julle mag maar!


Sondagoggend het ons gaan piekniek maak. Ek mag nie se waar nie, want dit is privaatgrond en ons het onwettig betree. Maar die uitsig en die geselskap het ons gewetes gesus.


Een van die lekkerste dinge van my huidige status van op die platteland bly is die kuiertjies van so baie van my familie en pelle oor naweke. Ek is eintlik angstig dat die tyd te min is, want die jaar hardloop uit en ek is nog nie eens deur die eerste rondte van kuiers nie. Daar is altyd genoeg plek vir almal, so laat weet net as jy in die geweste is!

Hierdie naweek kom pelle uit Thailand en Vredendal. Boek vroegtydig!

Friday, June 28, 2013

Die engel langs my



Tannie Joan.

Dit voel soos gister toe ek haar 17 jaar terug ontmoet het. Sy was die verversings-assistent op ons 2de vloer in die Munisipaliteit van Stellenbosch. Tot haar aftrede klomp jare later was my kantoor drie deure van haar kombuis af. Daar was altyd lewe, heerlike reuke, baie lag, baie mense en altyd 'n innige mens wat reg gestaan het om na hartelus mense te bedien. Enige een vir enige rede. Dis Joan.

Dis eintlik onmoontlik om nie vir haar lief te wees nie. Sy is die naaste aan ons Here Jesus Christus wat ek nog ontmoet het. Sy is nederig, altyd dankbaar, altyd vergenoegd, altyd tevrede. Sy het 'n goeie woord en goeie gedagte oor elkeen wat sy ken en ook die wat sy nog nie ken nie.

Ons het deur al die jare vriende gebly. Hierdie naweek kuier sy by my op Piketberg. Ek het haar vanmiddag gaan haal. Sy was nog nooit verder langs die N7 as Malmesbury nie, maar het al van Moorreesburg en Hopefield gehoor. Piketberg is vir haar 'n verrassing en dis so lekker om ons mooi dorp deur haar vars oe te sien.  Sy babbel vandag onophoudelik. 'n Paar jaar terug het sy 'n beroerte gehad en het die gebruik van haar linkerhand verloor. Sy is al bietjie doof ook. Die tye wat sy so helder is soos vandag, spits ek my ore en wens ek ek kan elke woord wat sy vertel opneem en dit woord vir woord neerskryf. Dit is Afrikana. Vandag onthou sy baie van haar tienerjare. Sy is die oudste dogter in die familie en moes op 12 uit die skool uit om te gaan werk in Soutrivier by Mr Lord se Cape Underwear klerefabriek. Hy en sy vrou was Jode en skatryk. Hul seun is later vir dwelms gevang. Sy onthou snaakse en hartseer stories.

12! Dis hoe oud my jongste sussie se oudste dogtertjie nou is. Ons laat haar nie eens alleen die drie blokke skool toe stap nie. Joanie moes die 5 km stasie toe donkervroeg winter en somer stap en dan 'n derde-klas trein klim Soutrivier toe. Sy het daar gewerk vir 27 jaar en R500 pensioen gekry toe sy weg is. Hulle moes onderklere en nagklere maak en sy onthou hoe die teikens per uur net elke jaar meer en meer geword het. En die straf as hulle dit nie maak nie, meer en meer. Dan weer laatmiddag hardloop trein toe, lang ure treinry tot op Stellenbosch om donker laat aand tuis te kom om more-oggend dou voor dag terug te hardloop trein toe. Niks in Joan se stem is verwytend of bitter nie. Sy lag lekker as sy dit vertel, maar ek wonder telkens wie en wat sy vandag sou wees as sy die helfte van die geleenthede gehad het wat ek het.

Soms vat ek haar om te gaan inkopies doen. Ek doen dit meer vir my as vir haar. Sy skryf die 11 of 12 goedjies wat sy nodig het onder mekaar op 'n herwinde advertensie. Sy is 'n diabeet en moet gesond eet. Dit is duur. Specko rys, ontvelde hoender, slaai. Langs die goedjies is kolomme van wat elke item by verskillende winkels kos. As iets 13 sent goedkoper is by Shoprite as by SPAR, koop sy dit by Shoprite. Ek is meestal haastig (julle ken my mos) en betaal graag duurder as ek net een winkel kan besoek. Dis vir haar onverstaanbaar, ondenkbaar. En as ons by die kasregister kom en ek betaal haar maand se goedjies, is ek elke keer skaam as my mandjie maklik vier keer meer kos as hare. Sy meet en pas en dink en dink weer oor elke ding wat sy vat. Verlede week probeer ek 'n bietjie haar-kleursel in haar mandjie smokkel. Sy vang my uit. Dit is nog nie tyd nie, se sy. Nog vier maande. Dan koop sy weer kleur. Ek teken 'n kredietkaartstrokie sonder om selfs een keer na die bedrag te kyk.

Ek vat laat vanaand vir haar 'n warmwatersak om onder die donsduvet te druk. Dis vrek koud hier. Sy is skaam oor ek haar so bederf. Sy gaan badkamer toe en haal haar vals tande uit. Dan kniel sy langs haar bed. Ek is al klaar in die badkamer en deur die huis om alles te sluit toe sy stywerig opstaan van haar kniee af. Sy het die lang ligpienk nagrok aan wat sy by haar ma geerf het toe die tannie dertien jaar terug oorlede is.

Sy lyk vanaand presies soos die engel wat ek weet sy is.

Thursday, June 20, 2013

Wolf skaapwagter

As ek vier dae terug geweet het wat ek nou weet, het ek dit nooit gedoen nie. Hoe kan 'n goeie bedoeling so skeef uitdraai? Ek is nou al 96 uur lank besig om die gebeure oor en oor in my kop te laat afspeel en elke keer wens ek 'n ander einde. Maar die werklikheid ruk my telkens na die hede terug.

Dit het so gebeur: Ek het nuwe vriende op Piketberg gemaak. Vir ons almal se beterskap noem ek hulle Inge en M. Inge het na my op die dorp aangekom en ons het dadelik gekliek en is heerlike vriende. Sy het 'n pleegkind wat sy al het vandat hy 2 is. M het verlede week 9 geword. Ek is baie lief vir beide van hulle. Ek het ook vriende geword met 'n boer in die omgewing. Hier noem ek hom Gawie. Gawie boer met skape, koring en beeste, maar nie in daardie volgorde nie. Hy is eerstens 'n saaier en dan 'n beesboer wat skape ook het. Hierdie jaar is 'n besonderse goeie jaar vir skape. Wat ek nooit geweet het nie, is dat saaiboere hul skape se lamtyd manipuleer om later in die jaar te val sodat hulle eers kan klaar saai voordat lamtyd begin. Met vandag se genetika en mediese wonders kry baie skape twee en drielinge en het gereeld hulp nodig met die geboorteproses. So die twee hoofaktiwiteite kan nie saamval nie. Dan is dit chaos. Gawie is 'n baie goeie boer en was erg verras dat hierdie jaar amper 165% lammers opgelewer het. Wel, dit was voordat ek vir M plaas toe geneem het.

Die afgelope twee weke het Gawie ook twee hanslammers wat hy grootmaak. Die mooiste goed! Ek het die voorreg gehad om ook 'n handjie te kon bysit en het die ervaring baie geniet. Toe dink ek dit sal wonderlik wees om ook vir M en Inge die hanslammers te wys dat hulle ook in die ervaring kan deel. Na lang beplanning en tye koordineer wat almal pas, is ons toe op Jeugdag se vakansiedag plaas toe. Gawie was skepties oor die besoek, maar het ingewillig.

Die eerste deel van die middag het baie goed verloop. Ons was rivier toe (die Bergrivier loop tussen die plase deur), het ons verkyk aan die flaminke op die dam, M het quadbike gery saam met Gawie en ons kon die beeste en hoenders van naby bekyk. Selfs die besoek aan die hanslammers was uit die boonste rakke. Later steek Gawie vuur op en ons kuier heerlik. Maar die vrede sou nie lank hou nie...

Nou moet ek myself onderbreek en verduidelik wat ek die afgelope tyd oor skape geleer het. Ek het altyd geweet om iemand 'n skaap te noem is 'n redelike belediging, maar nou weet ek: 'n skaap is vrek dom. Hulle word in klein kampies gehou vir die kraamproses en elke lammertjie word gemerk vir die eerste paar dae, want 'n skaap kan nie tel nie en weet nie self sy het 'n drieling nie en gooi sommer haar lammertjies weg. Daarom beweeg hulle glad nie. Solank as wat die lammertjie langs sy ma bly, lewe hy. As hy haar verloor, vrek hulle maklik. Na 'n week of wat word hulle uitgeplaas na die veldkamp met groot sorg en versigtigheid sodat die skape naby hul lammers kan bly en heeltyd weet wie is wie se lammers. Gawie en sy werkers is erg versigtig om nie die trop te versteur nie, want dit kan grootskaalse lamvrektes tot gevolg he.

In retrospek kan ek nie presies onthou hoe dit gebeur het nie. Ek en Inge het nog by die vuur gesit en gesels en M was by ons. Die volgende oomblik kom Gawie om die hoek en skree dat ons asb dadelik die kind uit sy ooie kamp moet kom verwyder, want hy is besig om groot probleme te veroorsaak. (die taal het definitief meer kruie bygehad!) Ek en Inge het voorhek toe gehardloop en net gesien hoe M tussen die skape deur hardloop en hulle aanjaag dam se kant toe. Selfs 'n paar klippe optel en agter hulle aangooi. Ek kan nie vir julle die skrik in my lyf verduidelik nie! Hoe het hy daar gekom? Hoekom doen hy dit? Wie het gese hy kan deur twee hekke op sy eie op die plaas wees?! Ek en Inge hardloop agterna en skree ons longe uit op M, maar sonder enige sukses. Ek gaan haal later my kar en ry nader. Toe ons by M kom is hy baie trots op sy prestasie en vra net of ons gesien het hoe vinnig hy is? Ek was stom van woede en skok.

Gawie was onheilspellend stil en op die oog af kalm. M het huilend omverskoning kom vra. Die res van die aand was styf en ongemaklik.

Baie lammers sal vrek. Dit was vir baie van hulle die eerste dag in die veldkamp en skape en lammers ken nog nie mekaar nie. Iemand sal hiervoor moet betaal.

In 'n whatsapp later die aand skryf Gawie: "Ek is jammer oor jou ervaring vanaand. M het baie plaashekke vir hom en ander vandag toegemaak."

Ek is nog besig om te dink wat ek alles hieruit geleer het. Onvoorsiene gevolge van 'n goeie bedoeling...

Hier is ek die vorige week met die grootste van die hanslamme. Sy naam is Soetraak en hy sukkel maar daarmee. Die tweede hanslam is heelwat kleiner. Sy naam is Kastig.

Tuesday, May 7, 2013

Saaityd...

Nou weet ek wat julle dink. Wat weet Hanlie van boerdery af? Die antwoord is maklik. Niks!

Maar ek leef nou al vir vyf maande in 'n area waar boerdery die hoof aktiwiteit is en ek leer elke dag soveel nuwe dinge deur die kennisse en vriende wat ek die afgelope tyd gemaak het.

Die ding wat ek die hardste moes leer is die risiko's, tydsberekening en wetenskaplikheid wat met boerdery gepaard gaan. Iets wat ek nog nooit bedink of bereken het nie. Ek koop vleis, vrugte en groente, graanprodukte en melk maklik van 'n rak af sonder om verder te dink as wat ek daarvoor moet betaal en wat ek daarmee gaan maak.

In Piketberg en omgewing is dit die enigste gespreksonderwerp vir die afgelope twee maande: Wanneer gaan dit reen? Hoeveel gaan dit reen? Is my implemente reg? Is my mense gereed? Wanneer kom die volgende staking? Hoeveel moet ek hulle betaal? Hoe lank gaan die winter wees? Het ek genoeg voorbereiding gedoen? Watse skuiwe moet ek maak op die skaakbord en sal dit werk? Hoeveel kan ek waag? Die hele boerdery bedryf is 'n waagstuk met enorme risiko's vir die spelers. Elke skuif kan jou laaste skuif wees.

Gisteraand ry ek en 'n mede munisipale bestuurder van 'n ander dorp terug van 'n vergadering af in Worcester. Ons ry verby Porterville oppad Piketberg toe en op elke land is daar ligte. Elke boer is in die veld besig om te saai. Na deeglike oorweging en met volle hoop en vertroue dat hierdie week die regte tyd is om klein saadjies in die grond te sit met die hoop dat die omstandighede reg sal wees om 'n oes te lewer.

Ek is nie 'n boer nie, maar ek besef die afgelope tyd ek is ook 'n saaier. Ek saai tyd, energie en dienste in 'n gemeenskap waar die omstandighede 100% reg moet wees vir die saad om te groei en 'n oes te lewer. As die tydsberekening verkeerd is of die saad op verkeerde grond val, sal die oes misluk en die onkruid lustig groei.

Ek lees in my bybel dat almal van ons wat kinders van God is saaiers is wat elke dag saad saai in grond wat vrugbaar of onvrugbaar is. Soms raak ons moedeloos as ons niks sien opkom nie. Ander kere is ons verbaas oor die goeie vrug wat die Here bewerkstellig.

Vir al my vriende wat tans besig is om te saai... dankie dat julle my horison verbreed het. Dankie dat julle volhard met die skaakspel, al is dit hoe moeilik! Dankie dat ek kan leer dat die brood wat ek eet 'n hoogs gereguleerde en moeilike pad gevolg het om op my bord te beland. En dat ek minder onnadenkend verby saailande moet ry en moet sien en inneem dat 'n groot sektor in ons land uiters moeilike omstandighede daagliks trotseer om produkte te lewer wat die meeste verbruikers as absoluut vanselfsprekend aanvaar. Mag julle rekord-oeste lewer hierdie jaar!

Tuesday, February 26, 2013

Porterville se wereldklas vye en wereldbeker paraglyders

Die lekkerte van in 'n nuwe omgewing bly is die heerlike nuwe dorpe wat verken moet word. Verlede Saterdag was dit Porterville se beurt. Dit was my eerste naweek sonder kuiergaste op Piketberg Bo-Berg en ek wou die meeste daarvan maak. Toe is ek, Carina en Morne (nuwe vriende op de dorp) eers Vrydagaand na die kerksaal om die optrede van Emo Adams te kyk. Dit was uitstekend en ek praat nie net van Emo nie. Ek het die gehoor net so geniet. Die plattelanders is so sonder pretensie dat dit soos 'n vars bries was.

Saterdagoggend kom Lydia van Moorreesburg af en ons laai vir Carina en Morne op by Wolwekuil oppad Porterville toe. Carina het in Januarie 2013 in Piketberg begin as die skool sielkundige en Morne is haar agt jarige seuntjie.

Dit is vars-produkte-mark-dag in Porterville saam met hulle kerkbasaar. Daarmee saam is dit die opening van die wereldbeker in paraglyding. Vir die eerste keer word hierdie wereldbeker op Afrika bodem aangebied en dit nogal in Porterville. Hulle wil 170 paraglyders gelyk in die lug sit en vandag word daar geoefen. Dis 'n stunning gesig!

By die kerkbasaar loop ons Eikenhof se stalletjie raak. Hulle voer vye uit na Europa en nou dat die eerste oes af is, koop mens 'n groot bruin kardoes sak vir R30 en gaan pluk jy soveel as wat jy in die sak kan kry. Ongeveer 3 kg! Die lekkerste was om die boervrou te "ontmoet". Sy is toe al die tyd 'n goeie vriendin van my van skool. Karin du Plessis was hoofdogter in Porterville en ek en sy was saam finaliste in die matrikulant van die jaar kompetisie, saam by die Burger Strandhuis aan die einde van standerd 9 en het van st 8 - 10 saam vir Swartland netbal gespeel en groot pelle geword. Hier loop ek haar weer raak in Porterville en ons kuier net voort. Sy het intussen 'n wereldklas vye plaas opgebou saam met haar man en lewer uitsoekvrugte vir Europa.

Hier is ons met ons sakke vol vye. Stroop soet van al die proe en baie tevrede oor ons fonds.

Morne is baie kreatief en het die rubber handskoen wat ons gekry het om vye mee te pluk, opgespeel lank voordat ons by die boord was.
 Donker sappige uitvoer-gehalte vye!
 Ek en Karin, die vrou agter die vye-plaas en my netbal vriendin van skool. Ja, julle is reg! Sy het hoof verdediger gespeel!
 Ek het so baie vye gehad dat ek gedwing was om vye konfyt te kook nadat ek en my hele familie soveel geeet het as wat ons kon. My ma het die resep ge-sms en ek het Elna se mikrogolf geleen en siedaar... 8 botteltjies later! Julle kan maar kom kuier.

Ek het dit so geniet om self tussen die boorde rond te loop en self die lekkerste vrugte uit te soek. Ek het ook nuwe respek gekry vir plaaswerkers wat vir 12 ure in die son staan en vrugte pluk vir drie maande aanmekaar! Dan klink selfs R105 per dag na absoluut peanuts. Die son kan jou brand in Porterville!

Om alles te kroon wen twee van ons geselskap toe ook elkeen 'n tandem sprong in paraglyding! Ja, ek gaan ook... Sal julle laat weet hoe dit was.

Thursday, February 7, 2013

Misverstand




Verlede naweek kom kuier my ouers by my op Piketberg Bo-Berg. 'n Heerlike affere! Sondag na kerk sit ons af Misverstanddam toe. Ek was nog nooit voorheen daar nie. Miskien jy ook nie. Maar jy het seker ook al soos ek op die N7 gery verby Moorreesburg en Koringberg en die snaakse bordjie gesien wat net se: Misverstand/Die Brug. Ek wonder al vir jare watse brug so belangrik is dat dit 'n eie bord op die N7 het. Nou weet ek.

Die storie loop dat in die tyd wat die Kaap nie Hollands was nie en onder Engelse beheer, het 'n skip vanaf Amerika verby Kaappunt gekom oppad Indie toe. Op die skip was 'n baie groot en mooi en swaar brug wat vir iewers in Indie bedoel was. Naby die Kaap het die brug op die skip geskuif en die skip van balans af gedwing. Hulle moes toe noodgedwonge in Kaapstad hawe inkom om te kyk of hulle die brug kon regskuif op die skip. Natuurlik, so gaan die storie, kon hulle niks doen nie en is daar besluit om die brug af te laai eerder as om dit te waag dat die hele skip sink. Toe le die brug nou in Kaapstad vir baie jare. Die engelse ingenieurs het jare lank hul koppe gekrap om 'n plan uit te dink en later besluit die beste plek vir die brug is oor die Bergrivier net voor Piketberg. So gese so gemaak en vandag staan hierdie pragtige brug baie trots oor die Bergrivier net na die Misverstanddam.

Ons vat toe 'n bootrit saam met Skipper Serdyn op die dam en sien baie mooi (en nuwe) voels. Onder andere 'n blou visvanger en die afrikaanse oewerswaels. Skipper Serdyn se bejaarde pa is ook op die boot en kan heerlike stories deel. So deel hy ook met ons die interessante storie oor waar die misverstanddam sy naam gekry het: Twee families wat in die 1800's aan die Kaap gebly het en groente en vrugte gelewer het aan die besoekers aan die Kaap het op 'n stadium gevoel die belastings in die Kaap raak te hoog (en om te dink ons verwys daarna as die goeie ou dae!) en wou noordwaarts trek. Omdat beide families met baie vee en huisgesinne getrek het, kon hulle nie in een groep saamtrek nie en het afgespreek om mekaar langs die Bergrivier te kry. Die Hougaards trek toe en wag by die Bergrivier vir die Van Schalkwyks (hierdie van kry ek twee dae terug by die mense op Piketberg - Ou Oom Serdyn kon net die Hougaards onthou). Hulle wag en wag en wag, maar al wat uitkom is die Van Schalkwyks. Later begin hulle lande bewerk en plant en later oes hulle en steeds is die Van Schalkwyks nie daar nie.

Net daar besluit die Hougaards dat hulle lank genoeg gewag het en trek nou met of sonder die Van Schalkwyks. En daar trek hulle! Een dagreis verder kry hulle die Van Schalkwyks wat al meer as 'n jaar wag en wag en wag en wag vir hulle! Die vee-oppassers se hulle het geweet van mekaar, maar nie geweet die families soek mekaar nie. Soms help dit om na jou werknemers te luister! Hulle weet beter wat in die veld aangaan! Toe noem hulle die plek Misverstand!

Ons het heerlik daar gekuier! Moet my nie misverstaan nie... Dis verseker 'n besoek werd!

Wednesday, January 2, 2013

Nuwe rus en nuwe vriende by Nuwerus



Vir die afgelope paar jaar al kamp ek saam met vriende in die Cederberge oor nuwejaar. Dis vreedsaam, heelmakend, rustig, maar ook lekker aktief. Daar is geen selfoon ontvangs na Uitkykpas nie en dis hemels! Ek onthou weer die dae voordat almal jou enige tyd met die druk van 'n knoppie kon opkommandeer vir enige iets.

Ons is fietsryers. Bergfietsryers en daar word baie vroeg in die oggend opgestaan om 05:00 in die pad te val en sover te ry as waarvoor jy kans sien. Die fikses durf die pas aan tussen Nuwerus en Mount Ceder. Dis styl en die eienaars het onlangs 'n lekker 'single track' langs die pas gebou. Jy moet jou remme ken om oor die hopies gemaalde leiklippe te kom met al jou tande op hul regte plekke. Die ander van ons ry net waar ons wil... Soms net die bult tot by Matjiesrivier se opstal, soms die sirkelroete via Kromrivier en soms net tot by Oasis. Dis die plek met die goedkoop broodjies. Die eienaar is erg snaaks en ons gaan eintlik net om sy ironiese gasvryheid te geniet. So kom ons hierdie jaar op oujaarsdag by hom aan. Hy het intussen 'n nuwe kroeguitbreiding aangebou (nog in aanbouing) en hang daar rond toe tien van ons instap. Hy se non-chalant: Julle was mos al hier? Ek gaan my nie vandag laat rond chant nie. Vat dit soos dit kom. Wel, toe kom dit veel later. Die opsies is: Kry vir jouself 'n koeldrank of 'n bier uit die yskas in die winkel. Daar is vier soorte broodjies: Ham, kaas en tamatie of ham en kaas of kaas en tamatie of ham en tamatie. Ons plaas ons keuses en waarsku die nuwelinge oor die grootte van die porsies. Dis  GROOT met chips by ook.

Terwyl ons wag lag ons oor vorige ervarings by padstalle. My ouers het by 'n plek in Bonnievale gaan eet en toe my pa later die kelner roep en vra of hulle asb 'n spyskaart kan kry, is sy erg verontwaardig en se: Meneer, hier is twee keuses: Take it or leave it! In Grayton naby Caledon het mense ure lank sit en wag vir hulle tee en toe hulle navraag doen, het die kelner gese: Jammer meneer maar daardie mense (enigste ander gaste in die restaurant) het nog die teepot!

Ons klomp sit soos ou jeans aan mekaar. Ons ken mekaar al jare en hou al lank vakansie saam. Ons het min nonsens en dit wat daar is, steur niemand hulle aan nie. Sodra die son begin bak en die gazebo's nie meer genoeg laffenis bied nie, sit ons af swembad toe en kamp daar uit oor die hitte van die dag. Ons le rond. Party lees, ander knibbel aan biltong, neute en appels. Party slaap. Ander swem.

In die aande word die vuur aangesteek en dan braai ons. Ons gooi als bymekaar wat na slaaigoed lyk. Hierdie jaar het Isak en Blyda genoeg erfgeldjies gekry en genoeg uit-etes van die hand gewys om 'n splinternuwe Luna yskas te he. Ewe grand met 'n vrieskas ook in. Hulle verskaf die meeste van die gesonde kos. Pitte en skille noem hulle dit. Kalla en die seuns ('manne' soos hy hulle aanspreek) kamp hierdie jaar eers alleen, want Lean is swanger met hul derde seuntjie en al het ons vir Kalla 'n verlostang gegee vir sy verjaarsdag op die 31ste, sal ons bly wees as hy dit net as 'n braaitang hoef te gebruik. Lean kom die middag van die 31ste saam met Elmarie. Of hulle het gedink hulle kom, maar dis 'n storie oor 'n altenater belt vir 'n ander dag.

As ek nou terugdink aan ons kamp dan is daar 'n paar goed wat uitstaan: Ek het vir die eerste keer 'n kampbed en matras gehad en kan nie dink hoe ek ooit daarsonder gekamp het nie. Mens kan tot in die middag in die tent 'n middagslapie maak, want die bed is hoog genoeg om jou in die drukgang van die wind te plaas. Die ander ding is dat my been hierdie jaar baie beter is nadat ek my knie gebreek het in 2010. Verlede jaar in die Cederberge het ek swaar gekry en aanhou fietsry tot my been onthou het ons is 'n fietsryer. Hierdie jaar het heelwat beter gegaan. Ek kon meer as 50 km ry in die drie oggende! Te heerlik!

Tot volgende jaar!