Friday, June 28, 2013
Die engel langs my
Tannie Joan.
Dit voel soos gister toe ek haar 17 jaar terug ontmoet het. Sy was die verversings-assistent op ons 2de vloer in die Munisipaliteit van Stellenbosch. Tot haar aftrede klomp jare later was my kantoor drie deure van haar kombuis af. Daar was altyd lewe, heerlike reuke, baie lag, baie mense en altyd 'n innige mens wat reg gestaan het om na hartelus mense te bedien. Enige een vir enige rede. Dis Joan.
Dis eintlik onmoontlik om nie vir haar lief te wees nie. Sy is die naaste aan ons Here Jesus Christus wat ek nog ontmoet het. Sy is nederig, altyd dankbaar, altyd vergenoegd, altyd tevrede. Sy het 'n goeie woord en goeie gedagte oor elkeen wat sy ken en ook die wat sy nog nie ken nie.
Ons het deur al die jare vriende gebly. Hierdie naweek kuier sy by my op Piketberg. Ek het haar vanmiddag gaan haal. Sy was nog nooit verder langs die N7 as Malmesbury nie, maar het al van Moorreesburg en Hopefield gehoor. Piketberg is vir haar 'n verrassing en dis so lekker om ons mooi dorp deur haar vars oe te sien. Sy babbel vandag onophoudelik. 'n Paar jaar terug het sy 'n beroerte gehad en het die gebruik van haar linkerhand verloor. Sy is al bietjie doof ook. Die tye wat sy so helder is soos vandag, spits ek my ore en wens ek ek kan elke woord wat sy vertel opneem en dit woord vir woord neerskryf. Dit is Afrikana. Vandag onthou sy baie van haar tienerjare. Sy is die oudste dogter in die familie en moes op 12 uit die skool uit om te gaan werk in Soutrivier by Mr Lord se Cape Underwear klerefabriek. Hy en sy vrou was Jode en skatryk. Hul seun is later vir dwelms gevang. Sy onthou snaakse en hartseer stories.
12! Dis hoe oud my jongste sussie se oudste dogtertjie nou is. Ons laat haar nie eens alleen die drie blokke skool toe stap nie. Joanie moes die 5 km stasie toe donkervroeg winter en somer stap en dan 'n derde-klas trein klim Soutrivier toe. Sy het daar gewerk vir 27 jaar en R500 pensioen gekry toe sy weg is. Hulle moes onderklere en nagklere maak en sy onthou hoe die teikens per uur net elke jaar meer en meer geword het. En die straf as hulle dit nie maak nie, meer en meer. Dan weer laatmiddag hardloop trein toe, lang ure treinry tot op Stellenbosch om donker laat aand tuis te kom om more-oggend dou voor dag terug te hardloop trein toe. Niks in Joan se stem is verwytend of bitter nie. Sy lag lekker as sy dit vertel, maar ek wonder telkens wie en wat sy vandag sou wees as sy die helfte van die geleenthede gehad het wat ek het.
Soms vat ek haar om te gaan inkopies doen. Ek doen dit meer vir my as vir haar. Sy skryf die 11 of 12 goedjies wat sy nodig het onder mekaar op 'n herwinde advertensie. Sy is 'n diabeet en moet gesond eet. Dit is duur. Specko rys, ontvelde hoender, slaai. Langs die goedjies is kolomme van wat elke item by verskillende winkels kos. As iets 13 sent goedkoper is by Shoprite as by SPAR, koop sy dit by Shoprite. Ek is meestal haastig (julle ken my mos) en betaal graag duurder as ek net een winkel kan besoek. Dis vir haar onverstaanbaar, ondenkbaar. En as ons by die kasregister kom en ek betaal haar maand se goedjies, is ek elke keer skaam as my mandjie maklik vier keer meer kos as hare. Sy meet en pas en dink en dink weer oor elke ding wat sy vat. Verlede week probeer ek 'n bietjie haar-kleursel in haar mandjie smokkel. Sy vang my uit. Dit is nog nie tyd nie, se sy. Nog vier maande. Dan koop sy weer kleur. Ek teken 'n kredietkaartstrokie sonder om selfs een keer na die bedrag te kyk.
Ek vat laat vanaand vir haar 'n warmwatersak om onder die donsduvet te druk. Dis vrek koud hier. Sy is skaam oor ek haar so bederf. Sy gaan badkamer toe en haal haar vals tande uit. Dan kniel sy langs haar bed. Ek is al klaar in die badkamer en deur die huis om alles te sluit toe sy stywerig opstaan van haar kniee af. Sy het die lang ligpienk nagrok aan wat sy by haar ma geerf het toe die tannie dertien jaar terug oorlede is.
Sy lyk vanaand presies soos die engel wat ek weet sy is.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment