Tuesday, December 3, 2013

Istanbul en Bern

2 Desember 2013 05:40

Ek dink nie ek het al ooit voorheen ‘n Turk in lewende lywe ontmoet nie. Al wat ek omtrent van Turkye weet is dat hulle Turkish Delight maak. Nou Turkish Airlines is deel van die Star Alliance en vriende van my het gese hulle is goed en daarom het ek met hulle gevlieg. Dit bring my vanoggend by ‘n nuwe land en nuwe stad wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Istanbul le op die water en dit was baie mooi om al die hawe liggies te sien uit die vliegtuig uit. Die vlug was goed. Die lugwaardinne kan veel vriendeliker wees, maar miskien is dit maar hulle ding.

Ons het geland op Atatürk Havalimani Lughawe. 45 miljoen passasiers is hier deur gedurende 2012.  Net om dit in konteks te plaas: Johannesburg het 18,6 miljoen gedoen in dieselfde tydperk. Nie die grootste in die wereld nie, maar groot genoeg.

Interessant vir my is dat Istanbul nie die hoofstad van Turkye is nie, maar wel Ankara. Hulle geldeenheid is die Turkse Lier. Hulle is ‘n demokrasie met President Abdullah Gül aan die roer van sake. Hier woon 75,6 miljoen mense. Die meeste van hulle is Moslems. In hierdie deel van Wes-Asie is Turkye van groot geografiese belang en word omring deur agt lande naamlik Bulgarye, Griekeland, Georgia, Armenia, Iran, Irak, Sirie en Nakhchivan. Istanbul le oor die grens tussen Europa en Asie. Die Swart See loop in die middel deur en skei die stad in twee.

Ons vlieg weer 08:20 na Zurich. Die vlug is twee ure. Dan sal dit al lig wees dat ek lekker mooi kan sien.

Nou eers vir nog ‘n snaakse teetjie.

Ek wou nou vir julle 'n paar fotos hier opgelaai het, maar die internet kafee se rekenaar wil nie my foto leser lees nie. Dis 'n baie snaakse ervaring om op 'n Switserse keyboard te tik. Die letters is nie almal waar ons s'n is nie en dit gaan baie stadiger. Gelukkig kos dit net 3CHF vir 30 minute en kan ek maar sukkel.

2 Des 08:20

Die vlug na Zurich is eintlik langer as wat ek gedink het, want mens verloor wel ‘n uur Switserland toe. Ons vliegtuig is geskeduleer vir 08:20 en kom 10:20 aan in Zurich, maar dan is dit 11:20 in Istanbul en SA. Maar die Turke is baie rustig en bietjie minder presies en ons drentel so deur na ons vliegtuig toe. Daar is letterlik nie eers iemand wat jou instapkaartjie kyk nie. Die man leun teen die muur en waai net sy handjie dat ons maar kan deurstap. Ons styg eers 08:45 op, maar die vlieenier is nie ‘n Turk nie en hy gee gas. Ons land tien minute voor geskedule. Ek slaap amper die meeste van die vlug (die slaappil werk nog), maar is darem betyds wakker vir ontbyt en die mooiste fotos van die sneeubedekte Duitse pieke.

Sherlock is die eerste gesig wat ek sien toe ek uitstap nadat ek my bagasie gekry het. Die ses bottels wyn is toe glad nie ‘n probleem nie, want daar is niemand by Doeane nie en mens stap net deur. Lyk my die groot skrik na 9/11 is nou weer vergete en almal is bietjie slap.

Ons gaan koop vir my ‘n Swiss Pass vir 15 dae. Dit is duur, maar die moeite werd want alle vorme van vervoer wat ek die volgende 12 dae gaan gebruik, is hierby ingesluit. Dit kos my 476 Swiss Frank. Daar is tans 11,2 rand in elek CHF. Dit is R5331. Net my treinrit van Zurich na Bern sou al die helfde daarvan gewees het, so ek is tevrede en reg om hom baie te gebruik. Sherlock praat vlot Swiss Duits en dit gaan maklik. Hy gradeer ons op na eerste klas op die trein en ons sit bo vanwaar ek die landskap bae mooi kan sien. Die interessante is hoe die regering hier bele in die platteland en deur middel van wetgewing alle industriee uitskuif na die platteland om daar werk te skep. Dit sou by ons ook kan werk.


90 minute later is ons in Bern. Dit het so vinnig verbygegaan, want ons gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. By Bern-stasie wys Sherlock my eers die stasie en die ou bewaarde mure van die ou stad. Daar is ‘n restaurant in die ou mure gebou en ek vergaap my. Hier trek ek geld en kry ons die trem na my Luissestrasse waar my gastehuis is. Dit is die tweede huis langs die tremstasie en reg oorkant ‘n supermark (Migros). Baie gerieflik en lekker. Na ‘n besoek aan die supermark vir iets om te eet vir middagete (vra my oor die Heidi-broodjies), klim ek in die bed om verlore slaap in te haal. En het ek nie geslaap nie?! "Heigen herts der naght ontkomen", sou my Oumie gese het. Ek slaap tot die dood intree en skrik baie later eers wakker. Daar is wifi in my kamer en ek hoef nie die R128/MB wat Vodacom se Orange Netwerk hier vra, te gebruik nie.


Sherlock kry my net na half ses en ons sit af kersmark toe vir Gluwein. Dit is heerlik! Daar is twee groot kersmarkte in Bern. Die een waar ons vanaand is, is die Weihnachtsmarkt. More sal ek die ander een ook probeer. Daarna ry ons met die trem om vriende van hom by ‘n restaurant te ontmoet. Die restaurant is Strada en baie gewild vir hul pizzas. Charles en Rosemary ken Sherlock al meer as tien jaar. Hulle is dierbaar en ons kuier baie lekker. Na ete verras die sjef ons met ‘n glasie lemonchello vir elkeen. Wat ‘n dag! As ek dink waar dit vanoggend drie-uur in ‘n Turkse vliegtuig begin het met olywe vir ontbyt, tot waar ek nou al soveel van Switserland beleef het. Ongelooflik!

1 comment:

  1. spannend!! Dit klink heerlik. Behalwe een ding - ek eet graag Uli se olywe maar net nie vir ontbyt nie.

    Dink net hoe het ons wereld verander. 5 jaar terug het mens vir jou geld saamgestuur om net asb Lindt sjokolade te koop, en nou kan jy dit omtrent oral koop (al is dit oral duur).

    Hier is vir jou 'n beter tip -
    http://chocolatfrey.ch/de/produkte/classic-tafeln

    MIGROS verkoop hierdie tipe tjoklits, dis vir my nog lekkerder as LINDT, en dis goedkoper as gewone tjoklits in SA (ok dit was toe die Rand nog 10/Euro was! )


    ReplyDelete