3 Desember 2013
Ek is vanoggend
vroeg op. Daar is plekke om te sien en mense om te ontmoet en ek moet wikkel.
Dit is nog pikdonker buite. Ek drink earl grey tee en eet ‘n heidi broodjie en
toe is ek oppad. Op Sherlock se aandrang gaan ek heel eerste Gurten toe. Dit is
die plaaslike berg in Bern, maar die enigste manier om die top te bereik is met
die Gurten “Funicular”. Dit is gebou in 1899 en was op sy tyd die vinnigste
trein in Switserland. Die top is 864 meter bo seevlak en 332 meter bo Bern en
bied ‘n ongelooflike mooi uitsig oor al die berge rondom Bern. Agter die hotel
bo-op die berg is ‘n uitsig toring wat jy klim net om seker te maak jy sien
alles wat jy kan en wil sien. Ek maak ‘n baie mooi video van bo af. Dit is werklik
asemrowend. ‘n Mens kan ook die Jungfrau baie mooi sien van daar af.
Die fotos hieronder is net die wat met my selfoon geneem is. Ek het baie mooieres met my kamera geneem, maar kry hulle nie tans op my blog gelaai nie. Verskoon asb die kwaliteit.
Ek het die tafels net een kyk gegee en maar besluit om binne te sit.
Geen ontbyt is klaar sonder earl grey tee nie. Die gebak is 'n amandel dingetjie.
Gewapen met die
kaart van Bern begin ek om al die besienswaardighede een vir een na te loop en
te bekyk. In Switserland moet ‘n mens heeltyd op jou hoede wees, want op elke
hoek is ‘n bakkery wat so lekker ruik dat jy sukkel om verby te stap. En as jy
al jou wilskrag gebruik het en jouself weggeskeur het van die bakkery se
ingang, val die chocolatrie langaan jou aan! Gelukkig is alles so dooi duur dat
my beursie my veilig hou.
Sherlock is vandag
Zurich toe. Hy het die kunstenaars gaan haal. Maar wag, ek vergeet baie van
julle ken nie regtig vir Sherlock nie, so laat ek eers bietjie vertel. Hy’s nou
nie Holmes nie, maar Fortuin. In drie dae terug se blog het ek vertel waar hy vandaan
kom en hoe sy storie ontvou het totdat hy vandag in Bern bly. Hy het ‘n passie
vir die ontwikkeling van mense en wil dit doen deur musiek, kuns en kultuur.
Dit was nog altyd ‘n groot droom van hom om ‘n Suid-Afrikaanse fees in
Switserland te hou met die fokus op SAse klassieke musiek en literatuur. Sy
droom kon bewaarheid word met die hulp van ‘n groot borg en siedaar! Hier is
ons! Die kunstenaars wat gaan optree by die fees is Zorada Themming
(wereldbekende orrelis van Stellenbosch), Diana Ferrus, Florence Filton, Niel
Rademan, Arno Jones, Jo-nette Le Kay en Goitsemang Lehobye. Ek ken sover net
vir Zorada, maar dit sal vanaand verander. Die Vriende van SA in Bern hou vir
ons almal ‘n dinee. Sherlock het so pas laat weet dat hy nou al sy kuikens
onder sy vlerk het, maar Niel se tas het weggeraak! Nou val hulle rond om dit
op te los. Die kunstenaars bly in Hotel National. Ek het die pryslys een kyk
gegee en besef ek sal nooit ‘n oog kan toemaak daar nie. Ek bly in ‘n gastehuis
in Luissenstrasse.
Christoffel. Movember se moses.
My gastehuis
Van vanaand af
begin ons werk! Ek moet so vinnig moontlik soveel as moontlik kontakte opbou.
Ons wil ‘n uitruilprogram aan die gang sit tussen Bergrivier en Bern
Universiteit en Bern Stad om kultuur en kuns ontwikkeling op ons platteland in
SA te bevorder. Verder wil ons borge soek vir die Bergrivierkoor wat einde 2014
toer. By een van die funksies hierdie week sal daar donasies gevra word vir die
koor. By daardie geleentheid sal ek iets se oor ons area, die koor en die
ontwikkeling van mense deur kuns en musiek in SA.
Vir die van julle
wat nog nie baie weet oor ons gemeenskapskoor nie, gaan kyk gerus op hul
Facebook bladsy of by Piketberg NG Kerk se blad. Daar is baie inligting en ‘n
paar kort stukkies video ook van die koor se onlangse optredes. Ek is so trots
op hulle. Die koor bestaan uit 86 lede uit alle gemeenskappe in Piketberg,
Porterville en Goedverwacht. Met meer fondse sal ons ander areas ook by die
oefeninge kan kry. Hulle is werklike ambassadeurs vir ons area en doen sommer
gemeenskapsintegrasie en bou verhoudings oor rasse-grense sover as wat hulle
sing! Dis mos wonderlik wat musiek alles kan doen. Dit hef enige mens op!
Ek kry die hele
groep 19:10 op die Bern Bahnhof (Bern se hoof stasie) en vandaar stap ons na
die klein intieme “ladies bar” waar vanaand se ontmoeting plaasvind. Dit is die
“Vriende van SA” in Bern (ja daar is wraggies so ‘n organisasie) wat ons
vanaand onthaal. Ons word oorlaai met hartlikheid en ontmoet vir Markus. Hy is
die voorsitter van die groep en het ‘n gholfhemp aan met hul logo op. ‘n
buitelyn van Tafelberg met ‘n Switserse vlag op. Hulle kom gereeld bymekaar en
braai, bespreek SA en hou almal van toer na SA. Die vise-Ambassadeur by die
SAse ambassade is ook hier vanaand. Haar naam is Annabel en sy is ‘n lieflike
mens. Ons gesels lekker en sy deel ons droom van ‘n vennootskap skep waar ons
afgestudeerde Switserse kultuur en musiek studente na die platteland van SA
stuur om daar ‘n jaar se internskap te doen waar hulle hul vaardighede
terugploeg in die gemeenskappe. Charles en Rosemari is ook weer hier vanaand.
Ek het so vinnig lief geword vir hulle en dit is heerlik om hulle weer te sien.
Rosemari wil my more ‘n paar plekke en mense in die stad gaan wys.
Markus, die voorsitter van die Vriende van SA besig om ons te verwelkom. Regs langs hom staan die vise Ambassadeur Annabel.
Ek en Zorada Themming.
'n Paar van die kunstenaars. Anti kloksgewys: Zorada, Jo-Nette, Sherlock, Annabel, Florence, Diane and Giotsomang. Die een met die wit top langs Florence se naam kan ek nou nie onthou nie. Sy is ook van die ambassade.
Ek geniet hierdie
kunstenaars terdee. Niel is ‘n fasinerende jong SAner met ‘n lewendige humorsin
en ‘n buitengewone mooi stem. (Sy tas is steeds soek en hy het ‘n moderne
kombinasie van klere aan wat hy geleen het). Giotsomang is ‘n briljante sopraan
en Jo-nette verras met haar pragtige stem. Arno is eintlik ‘n begaafde orrelis,
maar kan net so mooi sing. En van Zorada Themmingh hoef ek julle niks te vertel
nie. Sy is vanaand die video-vrou en sing ‘n inleiding vir elke lied. Begaafd
verby! Ons sing Nkosi Sikele vir die gehoor en dit raak stil in die kroeg en in
my hart. Almal luister aandagtig. Ons gaan haal hom diep en trots. Die vise
ambassadeur is in trane! Dit is ‘n “hit”! Daarna trek ons los met alles van
Sarie Marais tot Shosoloza tot Kersliedere. Ek is so trots om hier te wees en
om Suid-Afrikaans te wees. Ons het wonderlike talent wat vir niemand in die
wereld hoef terug te staan nie. En ons is almal hier omdat ‘n uiters begaafde
kind van Piketberg ‘n groot droom gehad het... En nie opgegee het nie.
Sherlock, ek salueer jou!
4 Desember 2013
Ek word wakker van
heerlike whatsapp gesprekke met my familie. Ons het ‘n whatsapp groep waarby al
vyf sussies en ouers ingesluit is en dit klets voordurend. Wat ‘n voorreg.
Vanoggend is daar groot opgewondenheid want my Pretoria-sussie se jongste is
klaar met laerskool. My sussie in Kuilsrivier se seuntjie is in die top tien
van sy klas en die klomp in Stellenbosch wag nog vir rapporte. Ek si soos altyd weer opreg dankbaar vir my
wonderlike gesin.
Vanoggend gaan
Zorada en Sherlock Basel toe vir ‘n oefening en ‘n optrede saam met ‘n
plaaslike kunstenaar genaamd Michael Pelzel. Diana en Florence gaan ook Basel
toe om deel te neem aan ‘n voordrag by die Universiteit van Basel. Beide van
hulle is literatuur ghoeroes.
Vanaand is daar ‘n
SAse konsert in die konservatorium van Bern. Die konsert vind in vier gedeeltes
plaas. Niel sal begin met ‘n Kabaret, dan sal Jo-Nette, Goitsemang en Arno
Suid-Afrikaanse klassieke musiek sing, gevolg deur studente van Konzi Bern met
‘n uitvoering. Daarna sluit ons af met SAse Kersliedere. Vanaand ontmoet ek die
rektor van Bern Universiteit. Ons moet
ons idee van ‘n kultuur uitruil program met hom toets en sy inkoop kry. Dit is
ook by vanaand se geleentheid dat ek ons pamflette oor Bergrivier kan uitgee en
iets kan se oor ons area. Die spesiale kollekte vanaand gaan vir die Bergrivier
Gemeenskapskoor. Mag die Here die saal volpak en hul harte en beursies oopmaak,
sodat ons elke liewe lid van die koor sal kan help om volgende jaar die toer
mee te maak. Baie van hulle was nog nooit buite die Wes-Kaap nie en het nog
nooit gevlieg nie.
En ek en Rosemari
is vanoggend op ‘n geheime sending wat met ‘n “s” begin... Julle ken my mos.
Kan by geen winkel verbyloop nie. Hier is ‘n kettingwinkel genaamd Leob. Dis
soos Garlicks op steroids. Ek sal ‘n hele week daar kan deurbring. Die een in
Bern se middestad het ses verdiepings. Gister was ek vinnig daar in net om ‘n
draaitjie te gaan loop, maar my mond het oopgehang. Meestal vir hul
kersversierings. Ek het so skelmpies hier en daar ‘n foto geneem. Wil darem ook
nou nie lyk soos Sannie Niksgewoonds van die plaas af nie!
Hierdie is Sprungli! Wow! Wow! en Wow! Oorspronklik 'n heerlikheid van Zurich.
Hier word selfs winkelpoppe met hul broek op hul kniee gevang...
Gedagtig aan my
gesprek met die Ambassadeur en Rektor vandag, bewapen ek my met die feite van
Switzerland. Ek deel graag ‘n paar daarvan met julle:
Ek het gedog
Zurich is die hoofstad, maar dit is nie waar nie. Bern is. Zurich is wel die
grootste stad. Hulle leuse is: Unus pro omnibus, omnes pro uno – One for all,
all for one. Dit laat my aan die drie muskutiers dink. Hierdie land is oud! De
geboue is sandsteen en toe ek sien hul federale republiek is reeds in Augustus
1291 gestig, verstaan ek baie. Niks is onseker nie. Niks word vir die eerste
keer uitgevind of verander nie. Staties. Ek kan natuurlik nie help om ook die stad en
land uit ‘n Munisipale oog te kyk nie. Van skoon kan jy hierdie mense niks leer
nie. Maar dit help natuurlik as jou bevolking almal geletterd, opgevoed en nie
dronk op straat is nie.
Hier bly 8 miljoen
mense. En mag ek se: baie min jongmense. Miskien was ek nog net nie op die
regte plekke om hulle te sien nie. Vandag gaan ons universiteit toe. Miskien
verander ek dan van mening. Baie interessant is dat hul motors aan die
regterkant van die pad ry, maar hul treine links. Nogal verwarrend as jy soos
Daantjie Kat wil rondkyk voordat jy die pad kruis. Switserland is ‘n federasie
van 26 cantons. Switserland is bekend in die wereld as ‘n land wat baie lank op
‘n draad kan sit. Hulle is neutraal. Al vir 190 jaar. Daarom is baie
internasionale organisasies se hoofkantore hier gelee. Bv die Verenigde Nasies.
Ons gaan hul geboue besoek later die week in Geneva.
Dit was nog altyd
een van my kinder-drome: om vir die VN te werk. Een van die redes hoekom ek
Internasionale Politiek Honneurs gedoen het jare terug. Miskien soek ek sommer
‘n werkie ook hier vir later in my lewe. (net ‘n kantopmerking: my familie sal
weet hoe ek in 1993 se einde getreur het omdat ek gekeur was vir buitelandse
sake en al die poste toe gevries is in afwagting van die verkiesing in 1994.
Gedink my lewensdroom is op ‘n einde. En hier ontmoet ek gisteraand vir Annabel
en vra haar uit oor haar werk en hoor al die politiek wat daarmee saamgaan en
glimlag ek al die pad omdat die Here al weer – soos altyd – die heel beste
geweet het.)
As ons familie by Stilbaai
is, se my ma altyd na ‘n paar dae sy is so lus vir groente. Dan moet ons eers
weer ‘n slag potjiekos maak met goeie gesonde groente in. Wel, ek kan vir julle
een ding se: Ek eet nou al vir drie dae net brood en kaas en koue vleise. Dit
is natuurlik van hoogstaande gehalte. Jis, hierdie mense kan kaas maak. Flip.
Op elke mark en in elke restaurant. Gisteraand se onthaal het net bestaan uit
brood, kaas, koue vleis en sjokolade! Hoe gaan die liedjie: “Brood en kaas eet
die baas!” g’n wonder hierdie mense is aan die bopunt van die wereld se
voedselketting nie! Maar vandag gaan ek ‘n slaai soek. Vanoggend se ontbyt was
Earl Grey Tee (wat anders) met ‘n croussant en ‘n gruyere kaasplakkie. Die
Migros reg oorkant my gastehuis het rakke en rakke en rakke vol verskillende
kase. Dis ‘n belewenis en laat Nataniel se advertensie oor Checkers se
wonderkase na ‘n grap lyk.
Heerlike dag vir elkeen. Elizna, ek wens ek kon by jou partytjie wees. Julle moet die BAIE geniet. Mis julle.
Hanlie
Elke jaar wanneer Christo Muller by sy familie in Switzerland gaan kuier het, het hy so baie kaas, wors en broodjies geeet dat sy ingewande heeltemal sy rieme vasgeloop het. Gaan koop 'n sakkie wortels en begin knabbel!
ReplyDelete