Wednesday, December 11, 2013

Naweek in Switserland

Jammer julle! Ek kon nie by 'n internet kafee uitkom vir dae nie. Dankie vir almal se sms'e en knaende gesoek na meer vertellings. Ek waardeer dit. Dit was net nie moontlik om dit op my blog te kry nie, maar nou is hier sommer 'n paar dae se stories in een:

6, 7 en 8 Desember 2013

Dis nou al 9 Desember 2013 06:34 as ek hier sit en tik. Die naweek het verbygevlieg en daar was soveel nuwe goed wat gebeur het dat ek nie kans gesien het om te gaan sit en vertel nie. Switserland is alles-inslurpend (! Is daar so ‘n woord?). Daar is soveel aanslae voortdurend op al my sintuie. Telkens is ek seker nou het ek die heel mooiste gesien en dan kom jy om die volgende draai en daar is die mooiste. Ek dink dit is net die basiskamp van Everest wat vir my mooier was nog ooit in my lewe. Hierdie plek is soos ‘n stukkie hemel op aarde.

Toe ek op Stellenbosch was het my Ma gereeld gevra: Hanlie, kyk jy nog hoe mooi dit is? Hier vra ek dit gister vir Rosemary en ja hulle besef in watse Godsparadys hulle bly.

Ek gaan nou sommer agter begin en terugwerk... Gister (Sondag) het ek die oggend vir myself gehad en op aandrang van Sherlock is ek na Thunersee. Dit is ingesluit by my Swiss Rail. Dit is so 40 minute per trein rigting Interlaken en dan klim jy af in die mooiste dorpie, Thun. Van Thun loop daar ‘n boot oor die Thunersee na Spiez en terug. Dit is so ‘n 90 minute se vaar saam met ‘n heerlike ontbyt. Met jou Swiss Rail kry jy 25% af op die ontbyt. As jy ooit in Switserland kom toer, koop ‘n Swiss Rail Pass. Dit is uit en uit die moeite werd. Ek neem die mooiste fotos en besluit om ook vir my ‘n fotoraam te maak van Switserland soos die een oor die Kanadese Rockies van 2004 se toer, wat langs my kaggel hang. Ek soek ook vir my ‘n legkaart wat ons Januarie by die see kan bou saam met die hele familie van ‘n plek waar ek hier was.




Ek moet gou loop en terugkom, want ons moet half vier ry vir vanaand se laaste optrede van die toer. Dit is in ‘n klein plattelandse dorpie, Würzbrunnen. Dit is hoog op teen ‘n berg en lê toe onder die sneeu. Die kerkie is pragtig en die akustiek is om van te droom en almal sing baie mooi! Zorada het ‘n uitdaging met ‘n baie klein boks orreltjie, maar sy slaan daai klawers dat hul monde oophang. Jis daai vrou mag maar!

Na die tyd nooi Charles en Rosemary vir my en Sherlock en hul seun Roger vir aandete by ‘n Chinese Restaurant met die naam Halong Asia hier naby my gastehuis. Dit is vernoem na Halong Bay in Vietnam waar ek verlede jaar was. Die spyskaart het die mooiste foto van die baai op. Ons gesels en lag lekker. Sherlock is besig om siek te word en voel minder wel. Maar die van julle wat hom ken, soos die Pikebergers wat hier lees, sal weet hy sal wel weer een of ander resepie van sy ouma se boere rate bymekaar skraap en more reg wees. (Wat toe wel so was)

Saterdag was vir my die lekkerste dag nog. Ons het die ongelooflikste geskenk gekry van die organiseerders om geborg te word vir die trip na Jungfrau. Daar is ‘n treinspoor gebou tot by Jungfraujoch op 3454 meter. Dit is die hoogste punt in Europa (waar mense kan kom en uitklim). Die top van Jungfrau is nie die hoogste in Europa nie en le op 4158 meter. Sherlock het gese watter een die hoogste is, maar ek het nou vergeet. Seker Mont Blanc op 4810 meter. Ek kyk nou op google en natuurlik is Mt Elbrus in Rusland die hoogste een in die nuwe Europa. Hulle dui Mont Blanc nou aan as die hoogste in Wes-Europa. Die hoogste piek in Switserland is Dufourspitze by Monte Rosa.  Vandag se trippie kos meer as R2000 per persoon en ons gaan vir mahala! En wat ‘n dag was dit nie! Die mooiste blou-lug-legkaart-prentjie dag! My mond hang oop en as dit nie -33 grade daarbo was nie, het ek hom nou nog nie toegemaak nie. Ek gaan probeer om foto’s hierby te laai, maar julle sal die res moet kom kyk. Ons sien ook baie ski-ers, want hulle seisoen open 15 Des en daar is nou oefengeleentheid en ski-skole teen al die hange. My gunsteling dorpie is Eiger en natuurlik Grindelwaldt.



Nou moet ek vir julle se dat almal die hoogte nie ewe goed hanteer het nie. Party was onmiddellik siek. Die een Diva is net 24 jaar oud en het nog nooit in haar lewe nodig gehad om haar fisies so bietjie uit te daag nie (ek probeer dit nou so mooi as moontlik stel), so sy het “inmekaar gesak” en “kon nie verder loop nie” en “moes gedra word”. Ek is nou al redelik opgelei in hoogtesiekte (iets heel anders as hoogtevrees) en het ‘n flits gevat en haal pupille bekyk en kon gelukkig verklaar dat sy nie besig is om dood te gaan nie. Sy ken net nie haar fisiese vermoens nie. Toe is daar wraggies drie van die groep wat besluit hulle is nou gedaan en gaan nie na die Sphinx Terras (uitkykpunt heelbo) nie. Ek het amper beswyk van verbasing! Hoe is jy op ‘n lewensveranderende uitstappie waarvoor iemand anders vir jou betaal het en jy besluit om eerder in die trein te gaan skuinsle?! Hygend Hert Der Nacht Ontkomen! Maar nou ja... so verskil ons.

Die Jungfraubahn is ‘n wonderwerk om te aanskou. Mensehande het die tonnels gegrawe en baie het met hul lewens daarvan afgekom. Die tonnels en steiltes is indrukwekkend en ek geniet die ystonnel baie. Wow! Dit is baie mooi! Die bouwerk aan die Jungfraubahn het in 1896 begin met omtrent 100 Italiaanse arbeiders. In 1898 het hulle die tonnels begin blaas met plofstof. Die ontwerper en man met die idee agter die grootse werk, was Adolf Guyer-Zeller. Hy is in 1899 oorlede en sy nageslag het met die projek voortgegaan. Die een na die ander stasies is geopen van 1899 – 1905. Daarna is die projek vir twee jaar gestop as gevolg van finansiele probleme. In 1912 word die finale afrondings gedoen en open die hele baan op 1 Augustus 1912 na 16 jaar se konstruksie. Die bou van die baan het ongeveer 16 miljoen CHF gekos. Dit is R179,2 miljoen rand. Maar mens kan dit nie so bereken nie, want 16 miljoen CHF in 1912 was baie meer werd. Ek weet nie wat die rieele waarde daarvan vandag is nie, maar ek is dankbaar dat iemand dit wou uitgee om soveel mense die kans te bied om een van die mooiste plekke te wereld te sien.

10 Desember 2013

Ek het lekker geslaap en is uitgerus. Gister was ons Sion toe en Geneve. Sion is ‘n kleiner dorp met ‘n baie mooi kasteel op die hoogste punt. Ons moes dit klim want in daardie kasteel is die oudste orrel wat steeds in gebruik is in die wereld en ons wou Zorada soontoe vat as ‘n verrassing. Dit was baie aangrypend. Ek het haar gevra om dogters van Sion te speel in Sion. Dit is een van my gunstelinge! Die orrel is in 1435 gebou. Die huidige orrelis is ons toergids en het spesiaal die gebou kom oopsluit, want hulle is toe op ‘n Maandag. Die hele dorpie se winkels was ook toe en Sherlock verduidelik dit is omdat hulle Katoliek is. Maandae is alles toe. Sion is gelee in die Walliese Kanton en die mense praat Walliese Duits. Die toergids verduidelik vir ons hoogs tegniese goed in Wallies, dan vertaal Charles dit in Swiss Duits en Sherlock vir ons in Engels en Afrikaans. ‘n 30 minute toer het veel langer gevat, maar dit was so mooi om te sien en te beleef.

Daarna ry ons met die trein na Geneve en Roger, Charles en Rosemary se predikant seun, het spesiaal die dag afgevat om vir ons rond te wys. Geneve is wereldbekend en huisves baie internasionale mense, banke, organisasies. Maar dit het nie dieselfde bekoring vir my as bv Berne of Zurich nie. Ons besoek die kantore van die Verenigde Nasies en dit is baie interessant om te sien dat hulle nie hul vlae halfmas gehang het vir Madiba se dood nie. Nee, die koerante hier se halfmas was nie goed genoeg nie. Hulle het elke liewe vlag voor die VN heeltemal afgehaal. Honderde kaal paaltjies bevestig ons leegheid en verlies.

Ons loop bietjie in die middestad rond, kyk die muur van reformasie en die groot spuitfontein. Die meer oppad soontoe en oppad terug is prentjie-mooi. Ek sal weer moet kom om meer tyd hier te spandeer.

Ons kom laat terug met die trein en het net een behoefte: My eie bed, ‘n warm stort en om bietjie rus vir my siel te kry. Weg van die Divas. Julle! Ek het nooit besef hoe uitputtend dit kan wees om saam met iemand te toer wat verslaaf is aan aandag en dit elke oomblik van elke dag by die mense rondom haar moet kry nie. Erg! Maar Sherlock vat nie nonsens nie en daar is van afskakel geen sprake nie. Ons is genooi deur Stephan en Barbara om by hulle te kom eet. Dit is mense wat verlede Vrydag by die opvoering en huldeblyk aan Mandela was wat ons gehou het en hulle het ons genooi. Nou kyk, laat ek eerlik wees: Daar was nie ‘n spier in my lyf wat die trippie wou maak nie. Glad nie. Maar hoflikheid kos niks en ‘n halfuur later staan ons reg.

En was ek nie bly ek het gegaan nie! Dit word een van die lekkerste aande in my lewe. Die spanning van optredes is verby en almal ontspan heerlik en lag en gesels en selfs die Diva is meer aanvaarbaar. Ons gasouers is wonderlike mense. Charles en Rosemary en Roger is ook hier en ‘n paar ander vriende wat ons oor die week gemaak het ook. Sadok, Maurits en Andries Cloete, die opera sanger van La Traviata. Ek het in een week meer gekultiveerd geraak as in my 43 jaar tot hier! Dit is ons laaste aand saam voordat die meeste more vertrek. Jonette gaan al more-oggend vyfuur. Daar is nou ‘n afgeronde wonderlike sanger. As julle ooit na ‘n opvoering van Jo-Nette La Kay kan gaan kyk, moet nie huiwer nie. Dit geld eintlik vir al hierdie mense. Hulle het stemme uit die boonste gestoeltes.

Ek vertel verder onder 'n volgende opskrif...


No comments:

Post a Comment