Vanoggend ry ek gou in stad toe voordat ons
mekaar kry by Thun tremstasie. Ek moet iets vir ontbyt kry en wou gou die
internet-kafee besoek om hierdie op te sit, maar dit maak eers 10:00 oop. 09:10
is ek by die trem-stasie want Sherlock kry ons 09:17. Ek was in die weermag en
doen nie laat nie. Dit verskyn nie in my verwysingsboek nie. Dit is -7 grade
vanoggend en dit byt. Soos elke ander dag in hierdie week is die Diva’s laat en
kom rustig 09:34 daar aangesuiker. Daar is min dinge waarvoor ek so min geduld
het soos mense wat ander so min respekteer om laat te kom. Ons stap na die SAse
ambassade twee blokke weg om almal die herinneringsregister te gaan teken vir
Madiba. Dit is ‘n wonderlike ervaring. Ek het ook vanoggend die mooiste protea
gekoop in die stad en kan dit langs die register plaas ter ere van ‘n baie
groot siel wat die kleure van ons reenboognasie heelwat helderder gelaat het.
As ek nou hier skryf wat die protea gekos het, sal ons blomme-tannie in
Piketberg in haar tee stik. Ek koop gereeld by die stalletjie in Piketberg vir
my ‘n hele bos proteas vir my huis. Sy vra R20 ‘n bos. Hier vanoggend betaal ek
30 CHF (R336!!) vir een. Dit is tyd dat ek huistoe gaan. My geld is op.
Vanoggend besoek ons die Paul Klee Zentrum.
Dit is ‘n baie bekende landmerk in Bern wat in 2005 voltooi is. Paul Klee (1879
– 1940) was ‘n bekende kunstenaar, maar ook medikus, filosoof, wiskundige en
musikus. Franciska is die baie vriendelike toergids wat ons by die deur
ontvang. Sy het as kind in SA gebly en twee jaar in SA in ‘n afrikaanse skool
skoolgegaan in Pretoria in 1968 – 1969. Die bekende Italiaanse argitek Renzo
Piano het die indrukwekkende drie golwe gebou ontwerp. Die gebou huisves Paul
Klee se belangrikste werke, maar ook ‘n baie indrukwekkende wereldklas
konsertsaal en konferensie fasiliteite. Ek is mal oor sy werke. Regtig pragtig.
Ons kyk ‘n video oor sy lewe. Daarna verstaan jy sy tekeninge en skilderye veel
beter. Later eet ons almal saam op Franciska se rekening. Die lekkerste
pampoensop met geroosterde pampoenpitte en growwe brood.
Ek stap terug gastehuis toe en val op my
bed neer. Hierdie kultuurkant van my maak my moeg, maar vervul my ook geheel en
al. Dis nogal ‘n kant wat ek baie afskeep ten gunste van sport en werk. Nadat
ons die kunswerke gaan kyk het, wys hulle vir ons die kinder werkswinkels wat
by die Zentrum aangebied word. Ons kyk na tientalle jillende gelukkige kinders
wat met verf op papier kan mors en uitdrukking gee aan als wat hulle beleef het
in die kunswerke van Paul Klee. En dadelik is ek terug in 1982 in my st 4
kunsklas in Hugenote Laerskool op Wellington. Die eerste gang links as jy van
die saal af biblioteek toe geloop het. Mnr Hanekom het kuns gegee. Groot
plastiek swart potte met wit dikseltjies vol helderkleurige poeierverf. Ons
mors op swart papier en kan uiting gee aan ons ontluikende self! Ek onthou dit
so duidelik dat dit my laat skrik vir ‘n oomblik. Skielik weet ek ek wil in
2014 weer kunsklasse neem.
Vanaand groet ek vir Sherlock. Ons het in
so ‘n kort tydjie onafskeidbare kamerade geword. Hy vertrek more-oggend na
Berlyn en dan Pole tot Maandag. Ek het lanklaas iemand ontmoet in wie die Here
soveel verskillende talente so in oorvloed uitgestort het. Finominaal!
No comments:
Post a Comment