Friday, December 6, 2013

Die dood van 'n grootte...

5 Desember 2013

00:00 (SAse tyd)

Die nuus trek soos ‘n stormwind. Van reg oor die wereld. Dis Sherlock wat my sms toe sy tram die stasie verlaat voor my gastehuis. En toe ‘n klomp ander. Dis een van daardie oomblikke wat jy later presies gaan onthou waar jy was toe dit gebeur het: soos Lady Di se troue, 9/11 en Japan se thunami.

Nelson Mandela is dood. Dit wat ons sedert 8 Junie 2013 elke dag verwag het en dae lank voor voorberei het, het ons nou onverhoeds betrap. In SA skarrel die mensdom. By ons Munisipaliteit en elke ander Munisipaliteit in die land is daar ‘n tien dag rou proses wat ek moet koordineer. Moet ek vroeer terugvlieg? Als hardloop deur my kop soos wilde honde. Ons land is op sy kop gekeer. Youtube wys hoe hardloop mense in die strate en bring hulde aan ons ikoon. En ek sit in Bern. In Luissenstrasse. Alleen in ‘n vreemde, te stil, te warm kamer. Ek huil sonder trane; my hartseer is stom...

Sherlock het teen pouse al geweet daarvan, maar wou ons nie ontstel nie. Ek voel vreemd leeg. Verwese. Bang dat ons reenboognasie van sy kleur kan verloor. Daars ‘n sinis in my wat vra: wat nou? Sal ons kan koers hou? Is daar genoeg goeie mense wat Nelson se rigting kan bly hou?

Die afgelope drie dae sing ons ons volkslied by elke optree-geleentheid in Bern. Die gehore is mal daaroor. Nkosi Sikelele iAfrika. God seen Suid-Afrika. “Sounds the call to come together”... “and united we shall stand”... “let us live and strive for freedom”... “In SA our land!!”

Madiba se dood is so ‘n oproep om bymekaar te staan en as ‘n eenheid saam te staan en aan te hou veg vir die vryheid waarvoor hy sy lewe gegee het. Dit is SA... ons land! My land!

Hierdie is die berig op die voorblad van een van die Swiss Duitse koerante vanoggend. Jammer, maar ek ken net nie genoeg Swiss Duits om hierdie foto gedraai te kry op die rekenaar nie.

Rest in peace Tata!

Voor hierdie slegte nuus kon ek vanaand nie wag om by my rekenaar uit te kom om julle te vertel van ons aand nie. Sherlock loop nou al drie dae met ‘n geheimsinnige glimlag op sy bakkies oor vanaand. Nee hy wil nie se wat hy vir ons beplan nie, maar ons moet ‘n swart nommertjie aanhe en hom 18:30 kry. Ek moet myself nog die hele aand knyp om te onthou dat dit regtig aan die gebeur is.  Toe hy ons kry by Zytglogge (die bekende kloktoring in die hart van die ou Bern), stap ons agter hom aan in die rigting van die brug. By die Stadsteater gaan hy staan en haal vir ons elkeen ‘n kaartjie uit vir La Traviata van Verdi! Wat?! Kan dit waar wees? Wat ‘n voorreg! Sherlock ken die SAner wat in die produksie speel, Andries Cloete, en hy het die hele geselskap gevra om van hul gaste kaartjies af te staan. Wow! Dit is aangrypend. Die musiek is natuurlik in Italiaans en die bo-skrifte is in Swiss Duits, maar ek verstaan elke beweging en bedoeling. So sterk is die musiek en die rolverdeling. Maar die persoon wat my die meeste beindruk die hele aand, is Mirga Grazinyte-Tyla. Van haar gaan die wereld nog baie hoor. Watch this space! Sy is die enigste persoon wat geen geluid gemaak het of voortgebring het die hele aand nie, maar die een waar alles begin en geeindig het. Sy is ‘n skamele 25 jaar oud en die dirigent! Ek sit in die voorste ry en kyk meer vir haar en die orkes as vir die sangers. Sy’s briljant!

Vrydagoggend 6 Desember 2013

08:00 (Switserse tyd)
My gemoed is nou baie vol. Ek voel uitgesluit. Die grootste gebeurtenis in SA speel homself af en ek sit buite ons grense. Sonder TV, sonder radio, sonder genoeg wifi om op youtube sinvol iets te sien. Afgesny. Is dit hoe die mense in exile gevoel het oor soveel jare?
Binne die regering beplan ons nou al sedert 8 Junie 2013 aan roudienste vir ingeval Madiba sou sterf. Ek het alle talle vergaderings hieroor bygewoon en alles is gereel. Elke Munisipaliteit in ons land gaan vir die volgende 10 dae publieke rougeleenthede skep sodat elkeen wat wil in SA hul naam kan teken in ‘n rou-register. Ons het selfs “roaming” registers om na die ouetehuise te neem. ‘n Idee wat ek gekry het by ons plaaslike dominee, Martin Goosen. Ek het dit opgeneem met Provinsie en siedaar! Alle Munisipaliteite wil dit doen. Dankie Martin!

Volledigheidshalwe vertel ek ook hier wat gister en die aand van eergister gebeur het hier by ons. Woensdagaand 4 Des (voel nou baie ver terug) het ons ‘n konsert gehou by die Bern Konsi. Dit is hul konservatorium. Daar was baie mense. Ons Ambassadeur van SA in Switserland, George Johannes, was daar en die hoof van die Konsi was ons gasheer. Hy is Gerhard Muller. Dit was ‘n groot sukses. Ek het die programme uitgedeel, almal verwelkom by die deur en ‘n pamflet uitgegee oor Bergrivier en ons koor. Sherlock het alles in Swiss Duits vertaal. Die hele program, al die woorde van die liedere wat gesing word. Moes hom ‘n ewigheid besig gehou het. Na die tyd is ons saam by ‘n privaat onthaal vir die kunstenaars en die Konsi mense. Charles en Rosemari, die mense by wie Sherlock in die huis bly, doen die catering. Natuurlik, julle het reggeraai: kaas en brood en wyn. Ek ontmoet ook vir Erika, die hoof van hul musiek afdeling en ek en sy en die Rektor van die Konsi sit vleis aan ons idee vir ‘n uitruilprogram tussen SA en Switserland om kuns en kultuur na ons platteland te bring. Ons sing ook vir hulle ons volkslied.

Na die tyd kom groet Johanna Boldt my. Sy is ‘n Afrikaanse vrou uit Port Elizabeth en het vier kinders (regtig orrelpypies tussen 5 en 0) en ‘n Duitse man. Ek en sy gesels ou stukke en ek sien haar kinders gaap my aan asof ek van die maan afkomstig is. Skielik besef sy die situasie en se sy vir hulle: Sien julle, daar is nog mense in die wereld wat afrikaans praat! Duidelik was ek die tweede een wat hulle ooit hoor.

Gister, 5 Desember 2013, was ‘n heerlike, maar uitputtende dag. Ons is vroeg al oppad na die Freies Gymnasium Berne, waar hulle ‘n Suid-Afrikaanse dag hou. Die ambassade het dit gereel. Daar word al die studente als vertel van SA en blootgestel aan SAse literatuur, kleredrag, musiek, inligting en vertellings. Nou moet ek tot my skaamte erken dat ek ook een van daai SAners is wat nie hul eie profete ken nie. Tot vier dae terug het ek nie geweet wie Diana Ferrus is nie. Ek het definitief al van haar goed gehoor en gesien, maar nie te veel notisie geneem nie. Julle! Die vrou is briljant. Gaan google haar bietjie. Sy skryf haar eie goed en lewer gedigte uit haar hart. Sy is van Worcester en is 60 jaar oud. Aangrypend. Sy is veral bekend vir haar stuk wat sy geskryf het vir Saartjie Baartman. Sherlock het haar voor ons toer gevra om ‘n tribute te skryf aan Nelson Mandela. Hy het ‘n droom gehad oor ons optrede vanaand, maar meer daaroor later. Ek hardloop die storie nou heeltemal vooruit! En my hare is nog papnat en ek sit en tik op my rekenaar in my pajamas en hy en Charles gaan binne enkele oomblikke voor my gastehuis se deur stop. Ons is oppad na Bern Stadt se Munisipaliteit om daar verhoudings en vennootskappe te gaan bou. Blykbaar nogal ‘n moeilike oom wat ek vanoggend moet ontmoet. Maar die wat saam met my werk sal weet: ons ken van moeilike ou ooms. Laat ek eers spring...


Sterkte vir almal in SA wat gemoeid is met die reelings vir die rou-periode vir oud-President Nelson Mandela. Ek dink aan julle. My innigste simpatie aan almal wat ook soos ek voel dat ons ‘n groot Vader en Vriend verloor het.

Nou sit ek gou in die internet kafee en wil hierdie vir julle stuur so gou as wat ek kan. Zorada tree vanmiddag op in die kerk so 'n blok van hier af en ek moet al weer hardloop. My afspraak by die Stadt het baie goed gegaan en ons is baie tevrede. Hulle het 'n hele kultuur afdeling in die kantoor van die Munisipale Bestuurder (noem hom die President!). Hulle gee 33 miljoen CHF per jaar vir die ontwikkeling van kuns en kultuur in die stadt. Dit is R369 miljoen per jaar! Daarvan word omtrent R33 miljoen gegee aan opkomende kunstenaars vir allerhande projekte. Ons wil he hulle moet ^n aansoek oorweeg vanaf Gerhard Muller van die Konzi om klaar gestudeerde jong kunstenaars te borg om 'n jaar se internskap/prakties te doen in Bergrivier area. Daarvoor moes ek vanoggend hul Mun Bestuurder ontmoet en sy arm draai en als vertel van ons dat hy weet as die aansoek kom, hoekom hy dit moet steun. 90 minute se groveling! Maar dit het goed gegaan. Ek is voor die tyd gewaarsku oor hoe moeilik hy is, maar hy was dit glad nie. Ek het al geleer dat geen mens moeilik bly as jy hom opreg uitvra en geinteresseerd is in wat hulle vir die wereld beteken nie.


Hulle stadshuis is pragtig en baie oud! (Ja dit is sneeu!)

Vandag verjaar my jongste sussie se oudste dogtertjie. Dit is haar eerste verjaarsdag wat ek mis in tien jaar! Kyk net die oulike prentjie wat my oudste sussie vanoggend via whatsapp aanstuur...


Mag elkeen van julle 'n wonderlike dag en naweek he. Dankie vir elkeen se kommentaar op die blog en sms'e en whatsapps. Dit help om 'n baie koue land warm te maak.

NS: Net vir die wat nog wonder of Switserland regtig so duur is... Ek het pas ontbyt geeet by Starbucks. Nie baie gepas om 'n Amerikaanse plek te soek in Switserland nie (ek weet) maar hul Earl Grey tee is die beste!


Die tee hierbo kos R66. Die muffin is 'n bargain. Kos eintlik R43, maar vir 'n kersfees uitverkoping is dit halfprys. My sussies vra hoe swaar sluk ek daaraan? Die enigste rede hoekom ek swaar sluk is omdat dit R42 kos om te piepie!

Geniet julle gratis tee en draaitjies! Soos my ma se: Viva SA, VIVA!


No comments:

Post a Comment