Thursday, March 29, 2012
Alle paaie en lugrederye lei na Phuket!
Ons vlug van Kaapstad na Johannesburg met Kulula.com was heel on-event-vol. Jo het my al half ses opgelaai by my huis en ons is sing-sing deur na Corne toe. By die lughawe het ons gou 'n wimpy ontbyt gedoen (in retrospek 'n groot seen en genade) en toe is ons weg.
Dit was eers toe ons by Thai International Air wil inboek in Johannesburg Internasionaal en die man agter die toonbank sulke verwarde uitdrukkings in sy oe kry en sy kop stadig van kant tot kant begin skud het, wat ek onraad vermoed het. Die vlug was oorgeboek en almal het opgedaag. Daar was groot groepe mense en toe gooi hulle my en my sussie en nog 'n couple van ons stoele af. Pluk letterlik die vliegtuig onder ons uit!
Wel, toe sit ons af na die toonbank waar die belangrike tannie werk. Haar naam is Sue en aanvanklik was sy heel vriendelik en verskonend. Sy begin vir ons plek soek op al wat 'n ander lugredery is. Etihad, Emirits, Singapore... Almal is tjok en blok vol. Die tannie raak moedeloos, maar sy ken nog nie vir my nie. Dis nou een ding wat ek by my vriendin, Nadia von Wielligh, geleer het: jy laat net nooit toe dat die probleem joune word nie. Ek vra in my soetste stemmetjie: "So how are you going to solve the problem?" Hulle het opgemors, hulle moet regmaak. Dankie Nadia! Jy sou vandag trots gewees het op hierdie dissipel!
Ek en Corne is vrolik en weet daar moet iewers 'n doel mee wees. Miskien gradeer hulle ons op Besigheidsklas toe!
Die tannie bied aan dat hulle ons kompenseer en dat ons Saterdag eers vlieg wanneer Thai weer 'n vlug het. Ons steek vas soos donkies. Ons vlieg vandag! Sy smeek later vir Singapore Airlines om ons op bystand te bespreek en daar gaan ons. Ons word toe van daai mense wat tien minute na die vliegtuig al moes opgestyg het deur die agterstrate van die lughawe na die vliegtuig begelei word. Almal in die vliegtuig staar na ons met verwyt in hul oe, asof ons vir die vertraging verantwoordelik was, maar ons steur ons min! Ons is in! Oppad Phuket toe, maar welliswaar met 'n ompad via Singapore en Bangkok.
Ons vlieg dus 10 ure tot op Singapore, hardloop om ons bagasie te kry (dit is nie daar nie), gaan deur customs (wat ons nie moes nie), ry op die skytrain (fantasties) en meld aan by Thai Air se departure desk. Stop die horlosie! Hulle is stom verbaas om ons te sien en het al ons name gepage oor die hele lughawe! Toe volg ons tweede vlug waarop ons heel laaste die vliegtuig bestyg. Teen hierdie tyd hanteer ons die verwytende kyke soos ou hande! Ons vlieg nog twee ure vanaf Singapore na Bangkok en vandaar 'n uur na Phuket.
Ek sit nou op die hotel bed en tik. Ek en Corne het heerlik gestort, dis 'n baie mooi hotel. Ons is opgradeer na 'n luxury suit want hulle bou aan die ander deel van die hotel. Baie gerieflik. Ons het reeds die swembaddens, restaurante en spa's deurgekyk en gaan nou eers bietjie slaap en dan sal ons die Phuket-ding doen! Dis nou 9:23 in SA volgens my rekenaar en 14:23 by ons in Phuket!
Ons is veilig, dankbaar en vol opgewondenheid oor wat voorle. Mag elkeen van julle 'n wonderlike dag he.
Monday, March 26, 2012
Hoekom 'n wereldtoer?
Ek wonder al tien jaar oor dieselfde vraag en hier is die antwoord:
1. Hoekom nie?!
2. Ek het baie vroeg in my lewe al besluit dat ek altyd meer waarde sal heg aan ervarings as aan goed en hierdie wereldtoer doen ek om sakke en sakke vol ervarings te gaan opdoen.
3. Ek het 'n reis-geen by my ouers en grootouers geerf. My ouma aan my pa se kant was 'n amerikaner wie se ouers as jong mense vanaf Swede na Amerika verhuis het vir 'n beter toekoms. My ouma het as jong meisie van Amerika af Afrika toe gekom om sendingwerk te doen in die destydse Kongo. In Kaapstad het sy my oupa ontmoet en in SA gebly na haar tyd van sendingwerk. My ouers is baie lief vir reis en ek onthou as kind dat my Pa ons sou wakker maak in die kombi en se: "Sit regop en kyk... julle was nog nie hier nie." So het ons die hele SA gesien. Na universiteit het ek vir 5 weke in Europa en Brittanje getoer saam met my hartsvriendin, Elizan, en daarna was ek nooit weer dieselfde nie. Amerika het geroep en daarna baie ander plekke.
4. Ek beplan hierdie toer al vir baie jare. Die tydperk en die bestemmings het oor die jare verander en reisgenote het gekom en gegaan, maar die algehele idee het presies dieselfde gebly: om die wereld te ervaar met my eie oe, ore, neus, mond en hart!!!
Die van julle wat my goed ken sal weet dat ek vir die afgelope 15 jaar "Hanlie-van-die-Munisipaliteit was en vir die laaste jaar Hanlie-die-munisipaliteit-in-Franschhoek. Nou gaan ek ontdek wie Hanlie is as sy geen rol hoef te vertolk nie. Ek sien baie uit daarna.
Mag elkeen van julle ook julle lewensdroom vervul. Moenie opgee op jou droom nie. Nooit, nooit, nooit nie!
Sunday, March 25, 2012
Een hoogvol lepel chillies!
Dit het so gebeur: Ons sit af kaap toe in die koning se kar en lag en gesles die hele pad. Daar versterk ons ons eers met 'n cappacinotjie by Rose Cafe op die hoek van Rosestraat in die Bo-Kaap. Toe dit tyd is sit ons af na die turkoois huis en ontmoet ons gasvrou en haar twee dogters. Ons gaan vandag samoosas, hoender kerrie, rooties en chilli bites leer maak.
Ons besoek eers die spesery winkel en ruik en proe aan alles. Daarna was ons hande en begin... Gaminah ken haar storie en gou is die rootie deeg gebak, die speserye gemeng en die hoender op die stoof. Ons is veral goed met samoosas vou en rooties flake. Ons eet heerlik saam en gaan besoek anti Minna se geel huisie om samoosa velletjies te koop. Ons is dankbaar en baie ryk na 'n heerlike ervaring!
Wednesday, March 7, 2012
God se skeppingswerk
Hier volg die skeppingsverhaal van die nuwe Hanlie…
In die begin het Hanlie woedend geword oor hoe sy hanteer is by die werk. Dit was donker op die diep waters. Sy het gehuil en niks geslaap nie. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.
Die volgende dag was Hanlie stom en verslae. Sy het gewonder of sy ooit weer iemand sal kan vertrou. Vriende, familie en publiek het gebid, boodskappe gestuur en probeer help. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.
Met die val van die finale brief het alles in Hanlie se kop doodstil geword en ‘n diep Goddelike vrede het oor haar gekom. Sy het teruggestaan en besef dat God in beheer is en besig is om ‘n nuwe aarde in Hanlie te skep. God het haar genade gegee om te vergewe en te seën. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.
Die volgende oggend het Hanlie saam met Pieter, Elsje en Alida gaan berg klim in Jonkershoek om te probeer vergeet en besig te bly. “From a distance there’s peace on earth.” Selfs Stellenbosch Munisipaliteit het vreedsaam vertoon van ver af. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.
Die volgende dag het Hanlie haar omring met mense wat vir haar goed is. Sy het die Here vertrou en begin hoor wat Hy vir haar wil leer. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.
Die volgende oggend het Hanlie haar kantoor gaan ontruim en 15 jaar se verhouding weggegooi en die oorblyfsels in bokse gepak. Die Here se genade was oorweldigend teenwoordig. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.
God het gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed.
Op die sewende dag het God vir Hanlie gesê: Moenie bang wees nie! Ek bewys genade aan jou!
Laat met Hanlie gebeur soos God beskik het.
Toe het God en Hanlie in vrede gerus.
Wednesday, February 22, 2012
Die begin van iets nuuts...
Thursday, January 5, 2012
Nog 'n nuwe opwindende jaar... 2012
Tussen die ysies by die winkel, die trekker met die wa en die "glow-in-the-dark-sticks" het ons die kinders nie baie gesien nie. Ons aande was gevul met braai en braai en nogmaals braai by kampvure en ure se gelag en gesels. Oujaarsaand was baie spesiaal. Louise en Steven (die eienaars) het baie moeite gedoen en 'n kampvuur, musiek en chinese lanterns gereel by die lapa. Ons was maar mens-sku en het by ons eie plek gebraai, maar die kinders was lapa-mal. Nadat die een lantern 'n stuk van die lusern land afgebrand het, was hulle versigtiger, maar dit was steeds 'n baie mooi gesig.
Saturday, October 29, 2011
Deur die oë van 'n Ugandees
Tuesday, August 16, 2011
1 down on my bucket list!
Soms word ek wakker in die nag met 'n glimlag op my gesig. Altyd dieselfde droom... Ek ry met 'n groot swart Harley Davidson motorfiets met die kenmerkende klank op die ooppad. Wind deur my hare, rug teen die sitplek lening, vibrasie op die wiele. Twee Sondae terug het my droom waar geword. Ek en 3 vriendinne het die H-D dag by Tegnopark gaan bywoon. My eerste gedagte toe ek daar instap was: Is 'n mens so en dan koop jy 'n Harley? Of koop jy 'n Harley en word jy so? Dis 'n heel ander kultuur. Die duur blink swart fietse, die leer klere, die accessories, die houding... Aanvanklik voel mens heel uit om in gewone sondagklere daar rond te staan, maar ons het gou opgevang. 'n Standaard Harley kos enigiets van R264 000 af. Die bykomstighede op die fiets kan jou nog R60 000 uit die sak jaag. 'n Sak wat jy dan nog nie het nie, want die klere kos 'n verdere R15 000. Maar jenetjie! Dit lyk cool!
Iewers in my toekoms gaan ek iewers 'n regte Harley reg ry...
Saturday, July 16, 2011
Die braafste onder ons...
Sunday, June 19, 2011
Gevriesde vrede + vriendskap
Jan bly op 'n heerlike plaas 30km buite Colesberg. Hy is daar om nuwe brue en paaie op die N1 en N9 kruising te bou. Hy is goed met padbou en geniet dit. Hulle kantoor is in die ou hospitaal op Colesberg. Ons vertrek later die middag om die Transkaroo Voetslaanpad te gaan stap. By Noupoort gaan niks meer aan nie. Dit het 'n spookdorp geword. Al die paaie rondom Noupoort word aan gewerk. Rietfontein plaas van Lindo en Elmarie van der Merwe is 'n verrassing en hulle oorlaai ons met gasvryheid. Ons basiskamp is so 8 km van hul huis af in die kloof op. Ek vergeet weer my Touran is nie 'n 4x4 nie en ons ry elke klipperige driffie asof dit die N1 is. Die plaashuis waar ons uitstappie begin en eindig, is 'n pragtige ou plaashuis met 'n groot stoep, geen krag, heerlike kaggel en baie spasie vir niksdoen.
Dis koud! Ons stook daai kaggeltjie vir 'n vale en sleep ons beddens tot voor die vuur. Die volgende dag is dit 'n besonderse mooi dag sonder wind en ons begin stap. Die pad is goed gemerk en ons pad vat ons in 'n pragtige kloof op met die skoonste water en heerlike swempoele. Ja, julle het reg gehoor, Jan durf toe die swempoel aan en my motor het 'n halfuur van te vore nog 3 grade gewys! Die uitsigte later op die roete is asemrowend en ons geniet dit baie. My been geniet sy eerste ernstige uitstappie na hy gebreek het in Okt 2010. Als gaan goed. Ons slaap die tweede aand in 'n ou skuur en ek vergaap my later aan die pragtige sterre en die volmaan. Die Karoo is besonders! Dis windstil en yskoud en ons weet dit gaan ryp. Ons maak vuur, braai vleis en probeer so lank as moontlik die onvermydelike uitstel - om in 'n koue bed te gaan klim. Jan gebruik 'n lee OBS bottel (ja ons het hom kaf gedraf!) met kookwater in as 'n warmwatersak en ek gebruik my Nelgena bottel. Dit help. Die volgende oggend is die wereld spierwit gevries. Die longdrop is ver van die huis af en yskoud. Ons stap eers amper 12uur want dis te koud. Die derde aand slaap ons terug by basiskamp.
Die transkaroo voetslaanpad is 'n aangename verrassing en baie lekker. Goeie gasvryheid, goeie roete, baie atmosfeer en die mooiste omgewing. Dit is regtig die moeite werd en waarde vir geld.
Ek het amper 1600km gery om drie dae in rus en vrede saam met 'n goeie vriend die karoo te gaan beleef... Ek het die bossies geruik, die vleis geproe, die sterre en maan gesien, die koue gevoel, die stilte gehoor en die vrede ervaar. En ek sal nooit weer dieselfde wees nie...
Saturday, June 11, 2011
Franschhoek Cook Festival 11 June 2011




Sunday, June 5, 2011
'n Naweek van uitsigte...




