Wednesday, December 21, 2016

Santiago de Cuba

Vandat ek gehoor het Fidel Castro is dood wou ek Havanna besoek om in sy voetspore te gaan loop. Toe ek sien hoe ver ons oord was van Havanna, was ek eers teleurgesteld omdat ek besef het ek sal nie daar uitkom nie. Maar toe ek begin navorsing doen en google lees, besef ek Santiago de Cuba is die Fidel-storie-stad en nie Havanna nie. Wat 'n voorreg om dit vandag te kon besoek. Ek het meer gekry as waarvoor ek ooit kon hoop...

Cuba Dag 4:
Ek sit op 'n skuttende bus oppad terug van my daguitstappie na Santiago de Cuba. Dit is 17:46 en al sterk skemer in Cuba. Dit was 'n baie besige fantastiese dag en ek wil so vinnig as moontlik my gedagtes neerskryf. Waar sal ek begin? Santiago is die tweede grootste stad in Cuba naas Havanna, maar verseker die mooiste en belangrikste in terme van die geskiedenis van die rewolusie en Fidel Castro. Dit is vanwaar hy die rewolusie teen die Batista regering gelei het. Hy is ook hier begrawe. Maar laat ek by die begin begin.

Ons is 07:30 opgelaai by Playa Pesquera. Die vrou van die bank het spesiaal vroeër oopgemaak sodat ek 100$ kon ruil vir 87,60 pesos. Ek leer ook later vandag dat Cuba twee geldeenhede het. Een vir toeriste, die CUC, en een vir die locals. Dit noem hulle die CUP. Beide is Pesos, maar lyk verskillend.

Die eerste wat my opval vanuit die busvenster is al die kinders wat oppad is skool toe. Cuba het 'n geletterdheidssyfer van 99,8%. Ek wonder wie die arme ongeletterde drommels is en hoekom geleerdheid by hulle verbygegaan het!
Die omgewing buite lyk soos leeuwêreld en die paaie lyk soos die wildtuin s'n met mopanie boompies kompleet. Orals sien ons papaja boorde. Piesangs, pynappels en mango's ook.
Ons toergids is Idel. Soos Fidel maar sonder die F sê hy.
Ons sien die plek waar Christopher Columbus geland het toe hy Cuba ontdek het. Dis drie ure se ry na Santiago en nog drie ure terug. Dis 'n goeie bus, maar met net een CD wat die hele ses ure net een liedjie speel: "Guantanamera"!

Gelukkig is ons hotel se mense tweede opgetel en kon ek nog 'n venster sitplek kry. Idel sê ons kom 21:30 terug en nie 20:00 nie. Daar gaan aandete. Ek maak die volgende kriptiese notas oor Cuba op my ipad in die bus:
Toer is in engels en Russies. Hoofstroom ekonomie is uitvoer van suiker. Hy wys ons 'n suikermeul. Daar is 150 suiker rafinaderye (spelling?) in Cuba. Reën hard oppad. Maar die son wil-wil deurkom en ek bid vir die beste. Baie boerdery bedrywighede langs die pad. 60% landbou
Eiland is 60% plat maar bergagtig by Santiago de Cuba (SdC). Hulle ry aan die regterkant van die pad.
SdC is waar Fidel Castro die rewolusie gelei het teen die Barista regering.
Hy wys ons baie mango boorde. Hulle dra eers in Augustus vrugte. Hier in Cuba is meer as 'n 100 soorte mango's.

Alle onderwys in Cuba is gratis. Ook op tersiêre vlak, maar dan werk hulle drie jaar terug vir die staat. Idel vertel ons dat elke dorp in Kuba wetlik drie goed moet hê: 'n primêre skool, 'n staatsdokter en 'n staatswinkel waar produkte gesubsideërd verkoop word slegs aan Kubane.
Teen 08:35 is die son uit en sien ons blou lug. Langs die pad sirkel met werker op n fiets wat die gras sny met n sekel.
Ons stop eers buite Holgiun (sagte h) op die vrugte plaas waar al die vakansie-oorde se vrugte verbou word. Idel woon hier naby en ken almal. Ons sien talle donkie karretjies langs die pad. Sommiges is ingerig as taxi's. daar is nêrens 'n aparte donkiebaan nie en dit maak die verkeer uiters stadig.

Geloof: 35% katoliek, 33% protestants en 3% indigenous gelowe waarvan die meeste in Cuba as land glo.
Tans grootste ekonomiese bydraes = suiker uitvoere, toerisme, uitvoer van professionele dienste (onderwysers, verpleegsters en dokters na lande in Latyns Amerika en Afrika - soos SA) en nikkelmyne. Ook uitvoer van sigare. Alle sigare in van Havanna. Almal handgemaak.

Die rede wat Idel gee vir die ou motors in Kuba is dat die mechanics in Kuba so goed is 😂   Dit mag so wees, maar hul paaie is baie sleg.
Met ons aankoms in Santiago stop ons eerste op Revolution Square met die swart en rooi massiewe vlag van 26 Julie 1953 wat Fidel se aanval op die Moncada Barracks in Santiago de Cuba herdenk. En die standbeeld van Antonio Maceo op sy perd. Dit is 16 meter hoog en die grootste standbeeld in Cuba. Die Square is meer as 53000 vierkante meter groot en indrukwekkend.

Santiago het nagenoeg 100000 inwoners waarvan 80% swart mense is van Haiti wat as vlugtelinge hierheen gekom het. Hulle het koffie en sjokolade na Cuba gebring.

Ons stop by die begraafplaas waar groot name begrawe is. Ook die apostel Martiz (kubane noem hom 'n apostel) en die nuutste toevoeging tot die begraafplaas, Fidel Castro. Daar is op versoek van hom niks fancy op sy graf nie. Dis net 'n groot klip. Ons kyk ook die changing of the guards by Martiz se graf. Aanvanklik kon ek nie verstaan hoekom die wagte elke 30 minute ruil nie, maar na 15 minute tussen die spierwit marmer grafte in die hittige son, verstaan ek dit goed. Hulle het nog volle stepout uniforms ook aan!

Daarna stop ons by La Barrista en proe rum en die duidelike verskil tussen Havanna rum en die van Santiago. Laasgenoemde is vir my die lekkerste. Rum is eg Kubaans en word gedistilleer uit suikerplant byprodukte soos molasse en ander. Ek koop 'n kubaanse sigaar vir Oom Mof. Ek kies die handgemaakte een wat hulle Winston Churchill noem. Winston het sedert 1895 Cuba gereeld besoek en leer sigare rook. In 1946 het hy Havanna besoek en is sy naam verewig op 'n Romeo y Julieta sigaar wat in 1875 begin maak is. Ek lees op google (dan moet dit waar wees😂) dat John F Kennedy 1200 sigare uit Cuba laat kom net voordat hy die verbod op handel met Cuba ingestel het.

Santiago de Cuba is die warmste plek in Cuba en ons voel dit vandag.  Ek was nou al in drie Santiago's in die wêreld. Die een oomblik is dit onuithoudbaar warm en die volgende oomblik val daar 'n reënbui wat elke boer in Bergrivier se hart warm sal laat klop. Na middagete besoek ons die Castle de Morro teen die kus. Dit is pragtig! Die idee was dat dit seerowers moet weghou van Santiago en die inwoners moet beskerm. Dit is in 1638 begin bou en het 70 jaar gevat om te voltooi. Van hier het mens die mooiste uitsig oor die Santiago baai waar die finale slag van die oorlog tussen Amerika en Cuba afgespeel het. Daarna sit ons af middestad toe en klim eers die vyf vloere na die dakrestaurant van die Grand Hotel om 'n uitsig oor die stad te kry. Daar is 'n foto-uitstalling van Fidel Castro op die plein in die middel. Daarna stap ek en Judit vir 'n uur deur die strate en vergaap ons aan die lekker vibrant atmosfeer tussen die mense. Almal doen kersfeesinkopies. Ons gaan in by 'n paar winkels en is verstom oor die min goed op die rakke en die beperkte keuses. Eintlik skokkend min. Judit is van Romenië, maar woon in Ottawa in Kanada waar sy 'n engelse professor is by die universiteit. Ons kliek lekker en sal probeer kontak hou.

Ek vind vandag uit dat Kuba twee geldeenhede het. By die begraafplaas moes ons vyf Peso betaal om ons kamera te mag inneem. Idel sê 5 CUC. Ek vra uit en hoor dat die CUC die Peso is wat die toeriste gebruik. Die CUP is die geldeenheid wat die plaaslike bevolking gebruik. En die nota lyk anders. Op ons s'n staan convertible. Dis die CUC. Komende van Bergrivier wat ook sy eie geldeenheid het naamlik die BRAND vind ek dit baie interessant.

Vandag was fantaties! Ek het soveel meer om te vertel, maar gaan nou eers ontbyt soek saam met die Strausse sodat ons kan duik op laagwater vanoggend. Die liedjie Guantanemera sal nog baie lank in my ore suis en alles wat ek beleef het gister in Santiago sal ek soos 'n goeie sigaar stadig rook en verwerk en deel soos ek kan.  Wat 'n goeie ervaring is dit nie elke keer om 'n nuwe land met nuwe mense te leer ken nie. Ons leef in 'n interessante wêreld!

Ek sit 'n paar foto's op en sal later met beter wifi byskrifte bysit.























Tuesday, December 20, 2016

Duik op die rif in die Karibiese See

Cuba: Dag 3

Ons is nou al die oord gewoond, word nie meer onderstebo geskok deur die hoeveelheid keuses by die buffet nie, is half en half uitgeslaap en ken nou al die dagprogram. So dit gaan baie goed. Vandag was besonder lekker. Ons het gisteraand laat gaan slaap na die uitstekende waterballet uitvoering by die swembad. Ek het heerlik geslaap, maar was reeds 05:30 wakker. Vanoggend was ek op 'n mission om vir ons vroeg die beste plek by die see te gaan annekseer wat ek kon kry. Net na 06:30 sit ek af see toe met drie handdoeke en genoeg klere om daar te los om ons plek te merk. Ek kry 'n stunning spot onder die bome en 'n afdakkie reg voor dit sodat ons kan rondskuif soos die son beweeg, want hier gaan ons lê tot laat in die middag. Wat ons ook gedoen het. Na ontbyt sak ons af see toe. En sak is die regte woord. Daar moet net nog 'n pak ook by kom.

Vandag gaan ons snorkel. Elizan en Matthys het my vooraf gewaarsku dat ek my eie snorkelgoed moet bring, want as jy hier in 'n ry moet gaan staan vat dit lank. En wie wil 'n duikbril en snorkel opsit wat al deur honderde neuse en monde is? Nie ek nie. Wel, ons het ons byna doodgelag toe dit instaptyd word want die prentjie voor my geestesoog in Mr Price Sport in Canal Walk in Kaapstad was heelwat meer grasieus as hoe ons vier die water in is. Vier, want Daniël se vraag of sy ouma ook gaan snorkel het 'n 'hopenlik nie' as reaksie uitgelok.

Maar toe ons eers in is word dit lekker en sien ons die mooiste goed. Die rif is erg beskadig deur storms wat hulle hier gehad het, maar dele is pragtig. Dit voel of jy binne 'n akwarium tenk rondswem met vissies van alle kleure en geure. My sussie Elna verjaar vandag en ek bel haar van die noordkus van Cuba af. Hulle lyne is goed en dit klink of sy langs my staan. Maar sy, Braam en Elisma is in 'n winkelsentrum in PE, Suid-Afrika.
Een van die swembaddens by die oord.









Na middagete wat net uit vrugte moes bestaan, maar ontaard het toe die buffet ons oorval, is ek en Elizan poskantoor toe om twee poskaarte te pos vir mense wat my gevra het daarvoor. Hoop julle kry dit gou. Vanoggend vroeg het ek ook die ekskursies gaan bekyk en het ek geboek vir 'n daguitstappie na Santiago de Cuba. Dis die tweede grootste stad in Cuba en die plek vanwaar Fidel Castro die rewolusie geloods het. Die dag sluit allerhande kulturele ervarings in en strek van moreoggend 07:15 tot 20:00. Ek sien baie uit. Die res van vandag bring ons by die see deur. Ek het nou kom stort om die dag se seesand af te kry, want ek en Elizan wil gaan stap. Ek het reeds 13695 treë geklok vir die dag, maar met alles wat ons inneem kan ons nooit genoeg oefening kry nie. Iets ongeloofliks van hierdie oord is dat alles waaraan jy kan dink om te eet en te drink gratis is. Ingesluit. Alle alkohol ook. En tog het ek nog niemand hier dronk gesien nie. Gisteraand het ons almal 'n daquery probeer en vanaand is dit 'n mojito.

Vanmiddag het ek en Elizan ure langs die see lê en gesels. Ek dank die Here so gereeld vir ons vriendskap! Wat 'n fees! En 'n groot genade. Mag sy en haar hele familie oneindig geseënd wees. Ook daar in Kanada waar hulle Hom elke dag dien.

Ek sit 'n paar foto's op.  Dis nou 20 Desember 2016

Monday, December 19, 2016

Rus, rus en pinakolada

Cuba: Dag 2:
Van duik op die rif en boogskiet op die strand het daar niks van gekom nie. Die wind waai lekker en Elizan en Daniel vind vir ons 'n gesogte afdak langs die swembad met 'n dubbelbed met dik matrasse. En daar val ons neer vir die dag. Elkeen het 'n boek en ons lees-sessies word net onderbreek deur slaap-sessies en af en toe swem kroeg toe vir 'n pinakulada. Daniel speel sokker en Matthys deel in die pret. Net genoeg om hom so styf te maak dat hy vanaand sukkel om te beweeg. Middagete probeer ons die southern fried chicken terwyl M en D aansit vir lamstjoppies by die buffet. 

Vandag het heelwat minder treë opgelewer. Net 12567. Ons eet by 'n wonderlike seekos restaurant by die see. Hoe gelukkig kan een mens wees? Garnale vir voorgereg en kreef vir nagereg. Later stap ons swembad toe vir 'n baie goeie water ballet vertoning. Dit is uitstekend en ons vergaap ons aan hul buigbare lywe en uitstekende danspassies in die water. Matthys bied aan om my en Elizan ook môre so sierlik rond te gooi in die swembad! 
Vanaand gaan ons lekker slaap! Stil tevrede en diep onder die indruk van ons seëninge. 

Lekker slaap almal. Geniet die groot dae, waar julle ookal is. 













Sunday, December 18, 2016

Playa Pesquero in Cuba

Cuba Dag 2:
Vanoggend is ek vroeg op en oppad na die ontvangsarea van Playa Pasquero (ons oord) om by wifi te probeer uitkom om iets op my blog te kry. Dit klink makliker as wat dit uitgedraai het om te wees. In Cuba is wifi nie 'n prioriteit nie. Jy moet 'n kaart koop by een van die winkels wat nou nog toe is. Maar die ou agter die toonbank by ontvangs probeer my help en sê omdat die winkel nog toe is, kan ek dit by hom koop. Dis twee Pesos vir 'n uur se toegang (moenie opgewonde raak nie - hul wifi is so stadig dat 'n uur baie min tyd is). Die catch is dat mens nie in dollar (of rand - ek het probeer ;-)) kan betaal nie, maar net in Pesos. Die bank is net om die hoek en maak 07:30 oop. Dis nog 12 minute. So ek vat solank 'n glas komkommerwater en komkommer my nie meer nie.

As jy hierdie op die blog kan lees, sal jy weet dat ek reggekom het by die bank.






















Cuba: Dag 1:

Dit is na 01:00 toe ek en Tannie Jean ingeskut is in blok 49 kamer 07. Ons het uitgepak, gestort en gaan nou 'n bed behoorlik seermaak. In SA is dit al 08:00 môreoggend. Ek het min geslaap op die twee lang vlugte, selfs deur een somnil slaappil op elke vlug. Miskien is ek net te opgewonde.

Ses ure later is ons wakker en gereed om die dag met mening te pak. Ontbyt is oorweldigend om die minste te sê. Ek is veral beindruk met die vars uitgedrukte pomelo, pynappel en komkommer smoothy. Sal dit definitief weer bestel. Bia kom eet by ons ontbyt. Sy is 'n local toeroperateur wat perderitte verkoop en ons moet net keer of ons spandeer môre te perd vir 23 Pesos. Die kubaanse Peso is vas aan die dollar. Ironiese liefdesverhouding tussen twee aardsvyande.  Die resort is redelik vol. Hier is mense van oral, maar veral Kanadese. Maar die een ding wat ons opval is hoe die grootte van die resort die mense absorbeer dat dit rustig voel.

Dis koel vandag met 'n lekker luggie. Ek sit later onder 'n pynappelblaar afdakkie langs die noordkus van Kuba en tuur oor die water. Ek hou ons stoele terwyl die ander ons handdoeke en duikgoed gaan haal het. Salig.

Drie swemme later lê ek nou in ons lugverkoelde kamer. Die nasmaak van die heerlike ontbyt was skaars uitgespoel in die seewater, toe sit ons aan vir middagete. Ek kies 'n talapia vis met groente, slaai en klapper-roomys vir poeding. Hulle kos is werklik heerlik en die verskeidenheid is eindeloos.

Daniël sien al die hele dag uit na 16:15 se sokkerwedstryd. Dis deel van 'n dagprogram wat die hotel aanbied. Jy kan besluit of jy wil deelneem. Die ouma en ma moes gaan sokker kyk. Ek haal verlore slaap in.
En dan trek ons mooi aan en gaan eet in die Caribeno Restaurant waar ons bespreek is vir die aand. Eksoties! Ons eet seekos voorgereg, kreef wat gevlambraai is vir hoofgereg (van die ander eet varkfilette wat net so goed lyk) en daar is drie soorte poeding om van te kies. Van ons het gou blaze geraak in die buffets en verwys met minagting na net drie poedings ;-)! Ek noem nie name nie!
Wat 'n fantastiese dag!! Later speel ons 'n paar rondtes uno terwyl ons die dag analiseer en ons hoogtepunte met mekaar deel. Ons beddens roep ons vroeg. Ek het 17769 treë gegee vandag en gaan nou diep en lekker slaap. Dankbaar vir so baie seëninge.

Nou gaan ons eers ontbyt eet sodat ons dag 2 met mening kan pak. Vandag wil ons duik op die rif hier naby en boogskiet gaan doen op die strand. Ek sien baie uit!