Monday, June 19, 2023

Twee watervalle, ‘n meer, ‘n maanlanding en puffins!

Foto: Kate Blake

Daar is drie soorte puffins in die wêreld, maar hierdie een wat in Ysland broei is die Atlantiese puffin. Die helder oranje bek is broeidrag en seisoenaal. 60% van die wêreld se puffins broei in en om Ysland en hier is tussen 8-10 miljoen van hulle. 







Ons het vandag 300km afgelê met ons 4x4 bus, 22000 treë gegee tussenin. Ons is 07:45 weg uit Akureyri en het na 20:00 in Bakkageroi aangekom. Die location hierbo wys waar ons vannag slaap en die rooi pyl wys waar die puffin gemeenskap broei. Dit was vir my die ultimate in ‘n dag vol hoogtepunte. 

Ontbyt is elke dag ingesluit by ons gastehuise. Die res koop ons langs die pad. Vanaand het ons catfish en groente gehad. Dit was uit die heel boonste gestoeltes. 


Ons dag begin by Godafoss. ‘n Foss is ‘n waterval. 


Hierdie is wortel-lose vulkaniese kraters wat ontstaan het toe kokende lawa massas die Myvatn meer getref het. Dis soos as ons fudge maak en wag tot die groot stadige borrels kom in die kookproses. 



Elke stukkie rots, grond en oppervlak wat jy sien in Ysland is lawa rots. 




In hierdie lawaveld het ons meer as ‘n uur spandeer en ek kon nie my mond toekry nie. Hy was pal oop in stomme verbasing. Dis kokende moddergate in skilderagtige kleure. 


Dettifoss





Dettifoss (waterval) in Noordoos Ysland





Geysers in lawaveld. 9 van die 12 VSA ruimtevaarders wat al op die maan geloop het, het in sentraal Ysland geoefen, omdat die terrein so baie dieselfde is. 






Dis nou halftien en die son skyn my uit my bed uit! Ongelooflik!

Ek voel vanaand amper of ek ook nou maar kan doodgaan. Ek het gesien wat ek wou. En tog weet ek dat môre net so baie gaan oplewer. As jy nog ooit gewonder het of jy Ysland moet besoek… nou weet jy. Moet nie twyfel nie. Ek kom verseker weer. 

Die Yslanders is aanpasbare mense wat die lewe vat soos hy kom. Hulle besef hulle is kuiergaste in ‘n land waar die natuur ontsagwekkend magtig is. Baie van hul humor draai oor die weer. ‘If you don’t like the weather, wait 5 minutes.’
Hulle lag maklik en lank. Ons kan baie by hulle leer. 
 

Sunday, June 18, 2023

Akureyri 18 Junie 2023


Vandag was fantasties! Ons het 07:15 vertrek uit Reykjavik en 400km gery tot by Akureyri aan die noordkus van Ysland. Net na ons vertrek sien ons ‘n Arktiese Vos 🦊. Dis die enigste inheemse soogdier in Ysland. Al die ander is deur mense ingebring. In die somer is hy bruin en in die winter wit, maar vanoggend s’n was bruin met ‘n wit stert, so hy is nog besig om sy winterjas af te gooi. Hy was te vinnig vir my kamera, maar ek het ‘n prentjie op google gesoek om julle te wys:



Arctic Fox met sy winterjassie.


Net buite Reykjavik gaan ons in ‘n tonnel onderdeur die see. Die tonnel is 6 km lank. 

Lawaveld


Middagete




Akureyri se verkeersligte se rooi lig is in die vorm van ‘n hart. 

Die 3 vrouens op die foto links van my is drie sussies uit ‘n familie van nege susters! Carin regs van my is Sue se dogter. 


Vanmiddag gaan ons met ‘n boot op Fjord 

Eyjafjörður.

Die hoofdoel is walvisse kyk, maar ons sien talle ongelooflike voëls (arctic turns, fulmars by die hope) dolfyne en ‘n humpback wat ons lank vermaak. Die uitsigte op die berge rondom die fjord is onverbeterlik. 















Ons slaap vanaand in ‘n pragtige gastehuis langs die fjord met ‘n aandete uit die boeke en ‘n warm buite bad. 
Nou gaan ek eers die uitblokgordyne dig toetrek en heerlik slaap na ‘n uithalerdag!







 

Saturday, June 17, 2023

Petta Raddest!





En so land ek vir die eerste keer in my lewe op Keflavik Internasionaal net buite Reykjavik in Ysland. Dit laat my baie dink aan Patagonië in Suid-Amerika. Ons gaan deur paspoortbeheer en stryk aan bagasie toe. Na ‘n goeie dertig minute se sinkende gewag vir my tas, moet ek die tragedie in die oë kyk. My tas is nie op die lopende band nie. Ek voel verslae en stap maar aan na die tannie agter die sekuriteitsglas. Sy gee my ‘n papier om in te vul en vra my adres en sê hulle sal dit by my afgelewer voordat ek oor 9 dae Ysland verlaat. My kop hardloop deur my tas en deur my intense behoefte om na drie lang vlugte te stort en skoon klere aan te trek. Ek is stom. En hulle noem ons ‘n derdewêreld. Na nog minute sê ek vir haar ek gaan net nog een keer terugstap na die band toe. Ek bid kliphard. En daar op die vlak langs die ander vervoerband staan my oranje tas in sy blou plastiek gewaadjie wat op Kaapstad Lughawe opgesit is. Prys die Here! Ek hardloop na die Tannie agter die glas en haar halleluja is harder as myne. Sjoe! Dit was amper. Nie weg nie. Net by die buurband afgelewer. 


Die ‘flybus’ is die beste manier om van die lughawe af in die stad te kom. Dis 25 minute se ry tot by die Flybus terminaal in die stad en daar klim ons oor. Die bruin lyn bring my tot voor Hotel Cabin. Ons ontmoet vanaand ons groep en toerleier. 18:00 in die ontvangsarea. 


Ek stap gou Kronan 8-21 toe en dit kon net sowel ‘n kleiner SPAR in Piketberg gewees het. Baie dieselfde. Behalwe die self uitcheck en betaal geriewe. Hande-arbeid is duur en skaars hier. 


Ons is ver meer as 12 in die groep. Eks nog nie seker hoekom nie. Francois, ons toerleier verduidelik dis na Covid getalle. Hul webblad moet nog die na Covid opdatering beleef. Maar dis oulike mense uit Amerika, Switserland, Australie, SA, Canada en Tasmania. Almal toer gereeld en ken van. Die ouderdomme wissel van 30 tot 80, maar ek skat ek val in die jong helfte. 

Dit is vandag Ysland se onafhanklikheidsviering. Dis hoekom Icelandair vir ons almal ‘n stukkie karamelkoek met ‘n vlaggie gegee het. Hulle het in 1944 onafhanklikheid verkry van die Deense Koningskap. 79 jaar later. 


‘n Gedeelte van ons groep.

Francois is ons toerleier. Hy is ‘n Belg wat al 11 jaar hier bly en met ‘n vrou van Singapore getroud is. 

My aandete by Hill2 restaurant. Hierdie week sal ek mooi moet beplan. Die slaai en sparkling water was R600. 😳

Ons 4x4 bus vir die week. 



Dit is nou 21:50 en dis hoe lig dit buite is. Die son gaan hier bykans nooit onder nie. Van 01:30 tot 03:30 raak dit 1 skakering dowwer. Dis al. My kamer met blokgordyne, maar ek is so moeg, dit sal my nie eens pla nie. ‘Goddanot’ beteken goeienag. Ons moet 06:30 ontbyt eet om 07:15 te ry. Môre gaan erg opwindend wees. Ons ry meer as 2000 km hierdie week reg rondom die eiland!


Die mense hier glo:

No such thing as bad weather, just bad clothing.

Hulle slogan is Petta Raddest! Alles sal reg uitwerk. Hier hoef jy bv nooit te vra vir ‘n aparte rekening by ete nie. Almal betaal apart en jy gee geen ekstra tips nie. Dis alles reeds ingesluit. Baie maklik. 


17 Junie is ook Tannie Colla se verjaarsdag. 


Goeie nagrus. Goddanot!

Van die Kaap van Storms na die Land van Vuur en Ys!

 


Dis eers toe die plakker onder my voete sê ‘international passengers only’ dat dit my hard tref. Ek was lanklaas oorsee. Voor covid laas. Dis tyd. Die opwinding in my beur om uit te kom. Ysland! Vreemd. Onbekend. Nuut. Anders. Dis wat ek nou nodig het. 


Ek vlieg met Qatar lugredery van Kaapstad na Doha. En weer met hulle van Doha na Dublin en dan met Icelandair na Reykjavik. 

Die Tannie langs my op die eerste vlug vra of ek asb die Oom se selfoon op ‘airplane mode’ kan sit en haar help om by ‘n fliek uit te kom. Dis immers beter as ‘n skreeuende baba en ek doen dit graag. Die tegnologie het baie verander sedert 2019. Invlug wifi, kaartbetaalskandeerder in elke sitplek, kragpunte orals en 360grade kameras reg rondom die vliegtuig wat mens op jou skerm kan bewonder. Fantasties. 



Hierdie interessante foto het my selfoonkamera geneem van binne en buite die vliegtuig. Ja dis die fliektannie wat die photobomb ding doen🤣


Die eerste vlug is 9 uur en 40 min en daar is baie tyd om die wêreldkaart op my skerm te gebruik om Ysland verder te bekyk. Ek en my ouers het reeds my hele toerplan op google earth deurgetoer en daars so baie om na uit te sien. 



Hoekom Ysland? Baie van julle het gevra. Wel, dis buitengewoon, anders, nog relatief ongerep en ek het al so baie dokumentêre daaroor gekyk. Paul Hollywood se City Bakes reeks het die laaste strooi op hierdie kameel se rug gesit en siedaar!

Ysland het die oudste aaneenlopende demokrasie in die wêreld (sedert 930 na Christus) en die Golden Circle avontuur wat ek vanaand begin, sluit ‘n besoek aan hulle parlement is. Bier was heeltemal verbode in Ysland tot 1989. Een uit elke tien Yslanders het al ‘n boek gepubliseer. Hierdie Vikings kook! Maar ek hardloop nou my storie vooruit… Op die oomblik sit ek nog in ‘n lounge op Dublin se lughawe en het 14 Euro ekstra betaal vir ‘n venstersitplek oppad Ysland toe. Ek het ook hier geld geruil en het vir die eerste keer Icelandic Krona in my hand. Nogal ‘n 5000 Krona noot. Daar is 7 IKS op ‘n Rand. 






Ek toer Ysland saam met G Adventures. 12 mense in die groep. Ek ken nog niemand nie, maar dit sal vanaand verander. 

Hierdie pragtige gesegte kry ek op Kaapstad Internasionaal. Dit is erg toepaslik op ‘n paar vergaderings waarin ek die afgelope tyd was. 




Warm liefde en groete uit die koue!
Hanlie