Monday, June 19, 2023
Twee watervalle, ‘n meer, ‘n maanlanding en puffins!
Sunday, June 18, 2023
Akureyri 18 Junie 2023
Eyjafjörður.
Saturday, June 17, 2023
Petta Raddest!
Die ‘flybus’ is die beste manier om van die lughawe af in die stad te kom. Dis 25 minute se ry tot by die Flybus terminaal in die stad en daar klim ons oor. Die bruin lyn bring my tot voor Hotel Cabin. Ons ontmoet vanaand ons groep en toerleier. 18:00 in die ontvangsarea.
Ek stap gou Kronan 8-21 toe en dit kon net sowel ‘n kleiner SPAR in Piketberg gewees het. Baie dieselfde. Behalwe die self uitcheck en betaal geriewe. Hande-arbeid is duur en skaars hier.
Ons is ver meer as 12 in die groep. Eks nog nie seker hoekom nie. Francois, ons toerleier verduidelik dis na Covid getalle. Hul webblad moet nog die na Covid opdatering beleef. Maar dis oulike mense uit Amerika, Switserland, Australie, SA, Canada en Tasmania. Almal toer gereeld en ken van. Die ouderdomme wissel van 30 tot 80, maar ek skat ek val in die jong helfte.
Dit is vandag Ysland se onafhanklikheidsviering. Dis hoekom Icelandair vir ons almal ‘n stukkie karamelkoek met ‘n vlaggie gegee het. Hulle het in 1944 onafhanklikheid verkry van die Deense Koningskap. 79 jaar later.
Die mense hier glo:
No such thing as bad weather, just bad clothing.
Hulle slogan is Petta Raddest! Alles sal reg uitwerk. Hier hoef jy bv nooit te vra vir ‘n aparte rekening by ete nie. Almal betaal apart en jy gee geen ekstra tips nie. Dis alles reeds ingesluit. Baie maklik.
17 Junie is ook Tannie Colla se verjaarsdag.
Goeie nagrus. Goddanot!
Van die Kaap van Storms na die Land van Vuur en Ys!
Dis eers toe die plakker onder my voete sê ‘international passengers only’ dat dit my hard tref. Ek was lanklaas oorsee. Voor covid laas. Dis tyd. Die opwinding in my beur om uit te kom. Ysland! Vreemd. Onbekend. Nuut. Anders. Dis wat ek nou nodig het.
Ek vlieg met Qatar lugredery van Kaapstad na Doha. En weer met hulle van Doha na Dublin en dan met Icelandair na Reykjavik.
Die Tannie langs my op die eerste vlug vra of ek asb die Oom se selfoon op ‘airplane mode’ kan sit en haar help om by ‘n fliek uit te kom. Dis immers beter as ‘n skreeuende baba en ek doen dit graag. Die tegnologie het baie verander sedert 2019. Invlug wifi, kaartbetaalskandeerder in elke sitplek, kragpunte orals en 360grade kameras reg rondom die vliegtuig wat mens op jou skerm kan bewonder. Fantasties.
Tuesday, May 16, 2023
Ode aan Colla Swart
Gistermiddag kry
ek die kort boodskap: Colla is dood.
Dit is haar
dogter Maryna wat bel. Albei van ons se stemme sukkel om uit te kom. Amper 93, maar steeds ’n groot skok.
My liefste Tannie Colla. Die res van gisteraand en vandag verkneukel ek my in onthou... En daar is so baie:
Ek het haar
ontmoet in 2013 toe sy al 82 was. Sy het
Munisipaliteit toe gebel en gevra dat ek haar moet kom sien. Ek het uitgevra waaroor, maar sy wou nie oor
die foon praat nie. Face to face is eerliker, het sy altyd gesê. Ek
het voorgestel dat ek haar daardie Vrydag vir tee kry by Tillies. Tillies is die saamkuierplek op ’n Vrydag by
die Ouetehuis. Sy het dit beleef dog
ferm van die hand gewys. Sy het nie tyd
vir tee nie, was die antwoord. Sy wil besigheid praat. En so het ek haar die volgende dag gaan
besoek en gehoor van haar bekommernis oor die ouermense wat nie meer genoeg
stap nie omdat Piketberg se bulte te steil is.
Die Munisipaliteit moet bankies opsit op al die kontoere rondom die
Ouetehuis en sy sal hulle aan die stap kry.
Ek wou nog verduidelik dat dit reg is, maar ons sal dit eers moet
adverteer op al die erfeienaars voor wie se huise die bankies moet staan, toe
het sy reeds die plan geteken, die toestemmings verkry en siedaar! Die bankies is twee weke later geinstalleer.
En so het my vriendskap
met Colla begin. Sy wou nooit Tannie wees nie. Ek kom uit ’n ordentlike huis en
kon nie vir iemand ’n dekade en meer ouer as my ouers op hul naam sê nie. Min het al met Colla verskil en gewen. So in
haar teenwoordigheid was dit Colla en as ek vir ander van haar vertel, was dit
Tannie.
Ons kon heerlik
sing... Sy het gehou van ’n uitstappie en avontuur en my soms gebel en gesê dis
tyd. Dan ry ons. Ons sit die cd-speler in my motor (ja ek het nog so ’n ding)
kliphard en dan sing ons. Jo Black was
ons gunsteling. “Voel jy die genade”. Piekenierskloof Lodge se stoep vir ’n
whiskey. Die vonkel in haar oog as sy ’n
dubbel bestel en ek ’n single. Citrusdal se koffiewinkel teen die bult, Piket
Boberg se mark of sommer net ’n kuierplek in Piketberg. Sy was altyd "game" vir
alles. Tydens ons laaste markdag op die
berg wil sy die toilet besoek en ek stap met haar oor baie ongelyke terrein na
die eco-toilet van saagsels. Oppad af
stap ek voetjie vir voetjie voor die rooiperd uit (die rooiperd is haar kombinasie
stapring en rolstoel wat sy die laaste 5 jaar gebruik). Op ’n stadium gaan sy staan en uiter
kliphard: Oeeee, as my kinders my nou moet sien, sal hulle verenig in
gebed... Ek het maar net gelag en gesê:
Colla, jy laat dit klink of ons iewers aan ’n yspiek in die Himalayas hang!
Sy kon ure oor
haar jare in Kamieskroon vertel en toe sy as jong meisie gewerk het in
Springbok by die Munisipaliteit. Haar baas het op ’n keer vir haar gesê: “Why
be difficult, when with a little more effort, you could be impossible.”
In 2017 word ek
summier ingeroep om haar te leer om haar tablet te kan gebruik. Toe was sy reeds 87 en steeds baie leerbaar. Sy wil kan whatsapp’e stuur met stemboodskappe,
fotos en die hele katoetie. Haar eerste
stemboodskap aan my as deel van ’n oefenlopie: "Hanlie, dit is die song wat die Danube
rivier in Wene blou gemaak het. Dit is al wat ek wil sê.” Niks aan Tannie Colla was ooit net gewoon of afgesaagd nie. Ek kon ure aan haar lippe hang.
Sy’t talle rympies uit
haar kop geken en dit tydig en ontydig in geselskap opgesê. “Good luck to the duck who swims in
the sea... and bugger all boys who don’t like me...” En dan lag sy haar lekker lag uit haar maag uit.
Een middag is ons op
Piket-Boberg toe. Ons wou net in die natuur kom. Ek het ’n piekniek gepak en
toestemming gevra by die grondeienaar. Ons het eers die lande vol sewejaartjies
gaan kyk. Sy met haar loopring. “Ek gaan gou heuweluit Colla, roep ek in die
drafstap.” Ek neem aan sy bly by die motor. Maar met Colla moes mens nooit
aanneem nie. Toe ek bo-op die bult staan en fotos neem is sy langs my. Koppigheid
gee krag in haar kort bene. Lewer nog
kommentaar ook oor die gehalte van die foto wat ek geneem het. As professionele fotograaf kon sy nooit net
na ’n foto kyk nie. Sy het dadelik begin evalueer oor komposisie, hoek van
fotograaf en wat nog alles. In al die jare het ek een tevrede kopknik
gekry. Haar standaarde is hoog.
Later staan ons by die dam en sing uit volle bors. Sy wou altyd "Doen slegs U wil Heer" sing. Ons bulder dit uit oor die dam en die vallei. Vorm my en maak my, net soos U wil. Op u bly wag ek, nederig stil...
Sy was oneindig lief vir
haar familie. Haar drie kinders en
skoonkinders. Haar kleinkinders en agter-kleinkinders. Ek moes talle fotos kyk van almal se
prestasies. Haar seun se dood in Covid
was ’n baie moeilike tyd. Sy het gevra dat ek vir haar Psalm 62 lees. Toe ek klaar is, sê sy: Nou doen jy dit oor.
Jy lees verkeerd. Ek moes die 1953
vertaling gelees het en nie die 1983 nie. Sy prewel elke woord saam. Ek het nooit die hart gehad om vir haar te
vertel van die 2020 vertaling nie.
Haar verhuising na die
Ouetehuis was nog ’n moeilike tyd. En
deur alles het haar verhouding met die Here bo-oor alles geskryf gestaan. Haar
dankbaarheid vooraan.
Collatjie, liefste
Collatjie... Ek sal nog ’n boek kan skryf met alles wat ek by jou geleer
het. Korrelkop, stunning korrelkop,
kaalvoetkind, koningskind. Ek hoor weer
Jo Black...
Jy's net 'n mens
Hy is God
Maar jy sal nooit uit sy hand uit val
Sê my, voel jy die genade?
Jy's vrygekoop
Die prys is reeds betaal
Jy's skoongewas, 'n Koningskind
Sê my, voel jy die genade?
En die water loop
Ja, die water stroom
Sê my, voel jy die genade?
Maak net jou arms oop
Laat die trane loop
Sê my, voel jy die genade?
Ons trane sal nog
baie lank loop. Ons voel die genade.
Tuesday, September 6, 2022
‘n Oomblik se indruk
Jy sit op die polisiestoep in Piketberg. Jys skaars hoër as die trappie. Jou voetjies skop skop na die blare en klippies op die trap. Daar lê ‘n vrou langs jou. Jonk maar stukkend geslaan. Daar’s bloed by haar oog. Sy’t haar kamerjas aan. Dis 10:06. Jou ogies is wakker, maar waaksaam. En toe is ek verby. Ek wonder wie jy is, waar jy bly en of daar iemand anders as jou dronk Ma is wat na jou kan kyk. Jys drie, moontlik vier. Waar’s jou Pa? Almal van ons het ‘n kromosoom van ‘n man gekry, maar het jy ‘n Pappa? Ek het lankal om die hoek by die poskantoor parkeer, toe my kop nog nie by die poskantoor is nie. Een uit elke vyf babas wat in ons munisipale gebied gebore word, word gebore uit ‘n vrou jonger as 18. Is jy een van hulle? Wat is jou kans op oorlewing? Of meer nog... jou kans op sukses. It takes a village kap my hart terug. Daar sal iewers ‘n omgee-tannie wees. En toe ek uitklim weet ek: ek is ‘n Tannie. Die enigste uitstaande vraag is: gee ek genoeg om?
Jy’t Munisipaliteit toe gebel en gevra dat ek terugskakel. Jy wil met niemand anders praat nie. Ek bel terug en jy vra dat ek jou kom sien. Dis dringend. Nee jy gaan nie oor die telefoon sê waaroor dit gaan nie. Dis te sensitief. Bedrog, dink ek en waarsku solank ons Interne Ouditeur. Ek slaan my dagboek oop en weet ek moet nog berge versit voordat ek oor twee dae met vakansie gaan. Ek beduie na die eerste moontlike datum na my terugkoms, maar jy wil niks weet nie. Vandag!
Ek skuif een vergadering, stel ‘n ander af, laat middagete oorstaan en sit af na jou huis toe. Ek was nog nooit daar nie. Julle ingang is van die boonste punt op die steil erf af. ‘n Netjiese rolstoel-ingang lyk nuterig. Ek wou dadelik kyk hoekom jy in ‘n rolstoel is, maar jou helder, blink, vriendelike oë laat nie los nie. Ek vra sommer reguit. Jy weet mos ek weet. Diabetes beduie jy. Vyf tone af in regtervoet en die linkerbeen af bo die knie. Niks aan jou vra vir jammerte nie. Jys vierregop, trots en lus vir die lewe. Ek sak in die rusbank neer en vra verder uit. Haastig om by die bedrog te kom en terug te kom in my kantoor. Jou plan is anders. Jy vertel rustig jou lewensverhaal tot jou vrou tuis kom. Ons drink tee en gesels kopstukke. Later kan my nuuskierigheid nie hou nie en ek vra na die rede vir my besoek. Jys merkbaar ontsteld as jy jou krisis met my deel. Oor disrespek, vervallende waardes en jeugverwaandheid. Eks dankbaar daars nie nuwe bedrog nie. Ons is altyd net so sterk soos ons heel swakste skakel... Daai aand lê ek dankbaar en dink oor jou soort wat die gom is wat gemeenskappe bymekaar hou. Ek sal weer kom kuier. Ongenooid.
Haar naam is Lucy. Sy is lank en waardig in haar lounge uniform. Sy kom haal my half-ge-ete bakkie groen kerrie met rys. Smaak laf toe los ek dit. Dankie Lucy, sê ek sag en jou oë luier op my gesig. Hoe lank werk jy al op die lughawe, vra ek. Sestien jaar mevrou. Maar in die pandemie was ons ‘n tyd weg. Het jy al gevlieg Lucy? vra ek die eerste vraag wat in my kop opkom. Nee mevrou, daai kan ek nie. Jys al terug in die kombuis toe ek nog wonder wat jy bedoel. Het jy hoogtevrees dat jy nooit sal wil vlieg nie, of is vlieg net iets wat jy nog nooit binne jou bereik bedink het nie. Sestien jaar van vliegtuie sien land en opstyg. En ek vang myself droom daaroor om elke werker op Kaapstad Internasionaal wat nog nooit kon nie, te laat vlieg. Selfs sonder ‘n vliegtuig. Hoogtes bereik omdat jy kan!





























































