Sunday, July 18, 2010

Trip down memory lane: Wellington 17 Julie 2010

'n Vriendin van my, Nadia von Wielligh, het my genooi om die Rapportryers op Wellington se damesoggend saam met haar by te woon. Dit is gehou op 'n pragtige nuwe venue buite Wellington aan die voet van Groenberg. Die verrassing van die oggend was dat Burger wat Supersterre gewen het hierdie jaar opgetree het. Saam met hom sy mede supersterre finalis, Deon. Oppad soontoe het ons nog 'n vriendin van Nadia opgelaai naby die Ooskerk en agter straatjies gery. Ek het 'n groot de ja vu beleef en was terug in st 5. Ons het verby Suzanne Roux se huis gery. Hoeveel middae het ons nie daar gekuier nie? Ons was 5 of 6 vriendinne wat saam in st 5 was. Dit was 1983 en Saterdagoggend het ek alles weer helder beleef... Ons het vele middae by Suzaan hulle musiek geluister. Green Door van Shakin Stevens. Ons het dit oor en oor geluister en dance moves uitgewerk. Ure aanmekaar. Ek kan nie eers onthou wie almal daar was nie. Ons ry verder in Nelstraat en ek sien die huis waar Michelle hulle baie lank gebly het. Haar ma, Tannie Susan, het saam met my Pa gewerk. Michelle se Pa is onlangs oorlede en ek laat toe dat die foto's wat op die begrafnis gewys is een na die ander weer voor my geestesoog afspeel. Ons draai links waar die Voortrekker terrein voor ons is. Ek onthou vele Vrydae middae. Ons hele gesin was in die Voortrekkers. Die pad na die hek lyk nou baie kort. Ek onthou dit baie langer. Daar is 'n Brent Oil Garage waar die ou winkeltjie was waar ons lekkers gekoop het oppad Voortrekkers toe. Vrydae na ete het ons saam met my Pa gery tot by Bybelkor waar hy gewerk het en dan is ons verder per voet tot by die Voortrekkergebou. Oppad het ons ons sakgeld gebruik om lekkers te koop. Jy kon 'n groot sak lekkers kry vir R2. Ons draai regs by die sirkel by die dorpswembad. Daar is 'n nuwe residensiele ontwikkeling regoor Huis Wouter Malan waar die karavaanpark was. Ek onthou soveel swemgalas wat by hierdie swembad geswem is. Dit voel baie lank terug.

Wellington is 'n pragtige plek. Dit was 'n baie lekker dorp om in groot te word. En vandag was 'n wonderlike dag om die ou dae te onthou en met verlange terug te dink aan my dae as 'n kind.

Friday, July 2, 2010

Sokker gees!
















As iemand vir my twee maande terug gese het ek en al my vriende sal so opgewonde wees oor sokker, sou ek ongelowig gelag het. Maar, laat ek nou maar die eerste een wees om te erken ek het 'n SAse vlag op my motor, 'n vlaggie op my petroltenk, twee SAse serpe en twee Bafana Bafana hemde. Ek het 'n nederlandse snaakse hoed en 'n argentynse vlag. Ek het sover elke sokker wedstryd gevolg en gaan slaap elke aand ver verby my slapenstyd om eers te sien wie wen. Gisteraand was ek skoon verveeld omdat daar geen game was nie.
Hier waar ek nou sit het Ghana so pas gescore teen Uruguay en ek is uit my vel uit. Ons almal steun vir Ghana noudat Bafana uit die kompetisie is. Ons het twee van Bafana se wedstryde in Kayamandi gaan kyk en die atmosfeer was elektries! Ek het lanklaas iets so geniet. Ons was almal verenig agter een gesamentlike doel: ons span (dieselfde span) moes wen! As ons dit 90 minute lank kan doen, hoekom nie 90 jaar nie. SA kan wen!
Ek het ook die voorreg gehad om op Groenpunt die 24ste Junie die wedstryd tussen Cameroen en Nederland te gaan kyk. Wat kan ek se? Onbeskryflik! Te groot vir woorde, veral die sg fanwalk in die Kaap. FANTASTIES! Nederland het toe gewen en weer vanmiddag teen Brazil om hul plek in die halfeindstryd te verseker. Moremiddag gaan ek weer Groenpunt toe vir die wedstryd tussen Duitsland en Argentinie. Dit gaan 'n grote wees!
Sokker is soos 'n skaakspel tussen die twee afrigters met lewendige skaak pionne op die baan. Dis nou lekker om die reels te ken en te kan saam skreeu, dans en vuvuzelas blaas!
Ke nako!












Tuesday, June 29, 2010

Shampanje proe by JC le Roux in Stellenbosch











Een van die beste uitvloeisels van my verjaarsdag is dat baie van my vriende my bederf het met ervarings wat ek saam met hulle kan beleef. Drie sulke wonderlike geleenthede beskryf ek graag hier. My bybelstudiegroep het my bederf met 'n geskenkbewys vir 'n lekker pamperlang by 'n skoonheidshuis in Stellenbosch. Ek het die lekker so lank as moontlik uitgerek en twee verskillende bederfies bespreek.

Jo het my bederf met 'n vonkelwyn en nougat proe by JC le Roux in die Devon Vallei in Stellenbosch. Ons het op 'n Sondag gegaan en dit was absoluut fantasties. Ons het 5 verskillende vonkelwyne geproe (foto) wat elkeen gematch word met 'n bypassende nougat of fudge. Die eerste twee van links af was droer vonkelwyn wat ons nie algemeen in SA kry nie. Daarby was nougat in donker sjokolade en 'n turkish delight met melksjokolade om. Die middelste vonkelwyn was my gunsteling. 'n Heuning geur vonkel wat gepas word met 'n heuning nougat. Uit die boonste gestoeltes! Die laaste twee vonkelwyne is die rooie en witte wat JC so gewild gemaak het. My vriendin Azanda, glo mens moet altyd 'n bottel JC in jou yskas hou en dat 'n gewone maandag goed genoeg is om vonkelwyn te drink. Na ons bederf by JC het ek en Jo by Neethlingshof gaan eet. Wat 'n voorreg? Ek is 'n geseende!
Die derde ervarings-geskenk het gekom van Christa Domesle. 'n Broodbak kursus by Moreson Wynplaas in Franschhoek. Ons het dit op 22 Mei 2010 aangepak. Wat 'n dag? Mens voel net so getreat. Ons het agt verskillende brode gebak en die resepteboek op die koop toe gekry. Dit was vet pret. En elkeen gaan met 'n groot boks brood huistoe. Gelukkig het ons 'n familie fees in Wellington gehad die volgende dag en was daar genoeg monde om te help eet aan al die brood. Terwyl die brood bak, doen mens 'n wynproe en dan kry mens nog 'n heerlike ete op Moreson ook. Ek het dit regtig geniet. Vir die eerste keer in my lewe met regte gis gebak en lekker deeg geknie. 'n Peperbrood van karringmelk, olyfbrood, ciabata met vulsels van feta en songedroogte tamaties. Te heerlik! Dis nou regtig 'n dag om te gaan geniet met goeie vriende of familie. Ek sal dit vir enigeen aanbeveel.
Dankie aan al my vriende dat julle weet dat ek van ervarings hou en my seen met vele sulkes!










Sunday, May 16, 2010

Bergfietsry in Montagu: 15 Mei 2010

Bergfietsry was nog altyd vir my baie lekker, maar vandag was ekstra spesiaal. Ek het 'n nuwe fiets en dit maak al die verskil. Ek het ingeskryf vir die 45km event by die Mountain Mania in Montagu. Ons spring weg van die Avalon Springs en kry 'n gratis dagbesoeker kaartjie vir die warmwaterbronne ingesluit by die kaartjie. Gelukkig het ek my swembroek onthou, want toe ons 05:00 wegtrek in Stellenbosch het dit nie gelyk na swem nie. Ek was gepantser met 'n mus en Johann het tot skoene aangehad... Iets wat nooit gebeur nie.

Die roete was heerlik! Moeilik genoeg met lekker klim uitdagings, maar maklik genoeg om te kyk wat ek uit die fiets kon haal. Ek het myself bang gery teen die afdraendes af en elke oomblik geniet. Ek hoop om vir baie lank nog te kan fietsry.

Sunday, April 18, 2010

Hanlie die veteraan...

My eerste groot skok nadat ek 40 geword het, het gekom op 17 April 2010. Ek wou op die internet inteken vir die Karoo to Coast Mountainbike challenge en moes al die blokkies voltooi. Skielik sien ek dat ek nou as 'n veteraan gereken word! 'n Veteraan! Dit klink soos die ouetehuis!

Met 'n dankbare hart...












Op 11 April 2010 het ek 40 jaar oud geword. Ek het besluit om 'n partytjie te hou sodat ek al my binnekring vriende en familie onder een dak kon sien en kon dankie se vir wat elkeen in my lewe beteken. Die venue was Protea Hotel Tegnopark, Stellenbosch. Dit was 'n wonderlike dag en so baie van die gaste het na die tyd gebel en gesms om te se dit was een van die lekkerste partytjies waarby hulle nog was. Ek is op so 'n high huistoe omdat ek so vervul was met dankbaarheid en die wete dat die Here vir my oorvloediglik seen. Ek is veral dankbaar oor die volgende:

1. My familie: As ek hulle moes kies, het ek hulle weer gekies. Ek het 'n wonderlike familie wat lief is vir mekaar en deur dik en dun by mekaar sal staan. Ek is veral dankbaar dat hulle die Here ken en dat ek in 'n Godvresende huis kon groot word. Ek is ook dankbaar dat my ouers nog gelukkig getroud is en dat ek en my susters en swaers kan vriende wees en nie net familie is nie.

2. Ek het 'n groot kring van baie goeie vriende. Dit was wonderlik om te sien dat hulle ook goed oor die weg kom en dat dit lekker was vir verskillende groepe van my vriende om mekaar te leer ken. Ek is omring deur wonderlike mense.

Ek het drie goed van my met my gaste gedeel: Dat ek en my familie kies om die Here te dien. (Jos 24:15), dat my rykdom altyd gemeet sal word in ervarings en vriende en nooit in goed nie en dat ek groot droom en kies om my droom te leef. Ek het tans twee drome. Om mense wat swaarkry se lewens te verander en om die wereld te toer.

My familie het my verras met twee goed: 'n Plakboek waarin al die gaste geskryf het en fotos van my en hulle geplak het. Dit was 'n stunning idee en ek het dit so waardeer. Hulle het ook vir my 'n fotoraam gemaak vir my muur met fotos van my en die familie. Dit is wonderlik en ek is so lief vir my familie.

My vriende het my so getreat met die mooiste geskenke en kaartjies met die inspirerendste boodskappe. Ek is 'n mens deur ander mense en kry my energie en motivering uit my vriendekring. Hulle is die beste en ek sien kans vir die volgende 40 jaar saam met hulle.

Tuesday, April 13, 2010

'n Paasnaweek uitstappie saam met Lizel en Tier Teuns

































Dis Paasnaweek 2010 en 14 van ons is oppad Prince Albert toe in die Klein Karoo. Ons is 'n groep vriende wat deur Teuns en Lizel genooi is om saam met hulle te kom feesvier. Teuns word 40 en hul herdenk hul eerste jaar van huwelikslewe. Nou, niemand het gedink dat ons gaan sit en koek eet of rooi koeldrank drink saam met Teuns nie. Hy staan nie verniet bekend as die Tier nie. Lizel het sy oorspronklike toerplan afgeskaal om dit vriendekring aanvaarbaar te maak en ons het besluit om saam te gaan.

Vier van ons vertrek Vrydagoggend 2 April 2010 met Pieter en Elsje Diener se Cruzer na Prince Albert. Johan en Katarina Gerber ry saam met my en Johann Diener. Na 'n heerlike ontbyt by Laingsburg se hotel is ons gereed vir die uitdagings van die dag, of so het ons gedink. Ons slaan kamp op by PA en ses van ons vertrek om na die Gamkapoortdam te gaan kyk (met die fietse). Ons ry met die bakkie 26 km uit die dorp uit en toe verder met die fietse. Baie sand wat maak dat Katarina neerslaan en ek bo-oor haar, maar niks sal ons afsit om by die pragtige dam uit te kom nie. Ons swem heerlik en ry terug. Ons kom by die Cruzer aan net toe die son sak. Dis asemrowend mooi, net soos die Karoo kan wees in die laatmiddag.

Ons braai snoek met heerlike patats en slaai en klim vroeg in die bed, want more ry ons van PA na De Rust via Klaarstroom en Meiringspoort. Teuns laat dit baie maklik klink en moedig ons aan met die gedagte dat dit alles teerpad is en gelyk! Die padkaart was nie baie duidelik oor die hoogte van die Kredouwpas nie en ons kry 'n onverwagse skrikmakertjie, maar almal vaar goed en van daar na Klaarstroom is heerlik gelyk en vinnig. Ons drink koeldrank by die enigste winkel in Klaarstroom en geniet die gasvryheid van die plaaslike mense. Meiringspoort is PRAGTIG. Net Johan Gerber sien kans om te swem in die waterval. Ons druk deur De Rust toe en hou heerlik partytjie met wortelkoek en appeltert wat Lizel laat bak het. Dit alles nadat ons heerlik geswem en ontspan het.

Ons het skaars ons tente toegezip na 'n braai, toe begin dit reen en reen en reen. Ek staan vroeg en nat op en ons wens vir Teuns geluk met sy verjaarsdag. Dis opstandigings sondag en ons vier die feit dat Jesus lewe en die dood oorwin het. Die pad Kango grotte toe is sleg en lank en baie nat. Ons sukkel met ratte wat krap en kettings wat vol modder is, maar geniet die volstruise langs die pad baie. Swartbergpas is in mis gehul en dit help dat mens nie die bokant kan sien nie. Dis steil, baie koud en BAIE modderig, maar ons is tuff en ons druk deur. Dit vat lank om bo-uit te kom, maar ons kom daar en geniet die afdraend aan die anderkant. In die laaste drif maak ons middagete om 16:30 (en Teuns het gewonder wat ons die hele middag in die kampterrein gaan maak) en hou opnuut partytjie vir Teuns.

Ons het 200 km afgele, die wereld gesien vanuit 'n fietssaal, saam swaargekry en die toertjie baie geniet. Wat wil 'n mens meer he? Die Maandag ry ons op al die agterpaaie terug Stellenbosch toe om die verkeer te mis, maar meer nog... om plekke te sien waar ons nog nie was nie. Anysberg om tussen Laingsburg en Montagu en Eilandia om na Worcester en Villiersdorp na Franschhoek. 'n Heerlike naweek saam met vriende om te herdenk dat Christus gesterf het en dat hy opgestaan het uit die dood en dat Hy leef sodat ons met Hom kan voluit leef!

Monday, March 22, 2010

Kreefroete - Dag 4 van stap: Papendorp na Ebenhaeser






















Vandag stap Desmond saam met ons. Ons moet deur die nat vlei kom en stap baie in die water en modder, maar geniet elke oomblik daarvan. Ons stap vandag vir 15 km langs die Olifantsrivier tot net voor die besproeiingsdam buitekant Ebenhaeser, waar ons by Dave en Pam oornag in hul gastehuisie op die rivier.
Ons sien pragtige voels wat klomp Pelikane, Flaminke en reiers insluit. Dis ons laaste dag se stap en ons vorder goed. Die weer is steeds fantasties en dis heerlik solank as wat jy langs die rivier stap, maar as jy binneland toe draai raak dit warm.
Ons eet vanaand by ons gasouers aan huis en klim weer vroeg in die bed. Hier is meer muskiete in Ebenhaeser as mense! Ons kry ontbyt ook by Pam en toe kom Ben ons haal en vat ons terug Elandsbaai toe. Vandaar toer ons oor die skiereiland na Paternoster en Shelley Point en gaan ook aan by Darling om Evita se peron te sien. Wat 'n heerlike dag om die einde van 'n heerlike toer te vier. Die kreefroete was regtig die moeite werd.

Kreefroete Dag 3 van stap: Doornbaai na Papendorp via Strandfontein



























Ons gids vir die dag is Peter. Hy is 'n ernstige stormers ondersteuner en het 'n vlag op sy huis se dak. Hy ken sy dorp baie goed en kan ons alles vertel. Die kelp fabriekie is vir ons baie interessant. Die kuslyn van Doornbaai tot by Strandfontein is baie rotsagtige en ons stap bo-op die kranse. Ons kry twee hengelaars wat pragtige kinders van die Here is en hulle hengel om naby hul Skepper te wees. Dis seker maar hoekom ek stap ook.

Van Doornbaai na Strandfontein is 7,5 km en vandaar na Papendorp is 6,5km. Ons drink tee by Strandfontein se kafee en lees die week se ou koerante. Daar groet ons vir Peter en ontmoet vir Charmaine wat ons gids is na Papendorp. Die kuslyn van Strandfontein na Papendorp is die mooiste stuk kuslyn wat ek nog gesien het. Die laaste keer wat ek hier gestap het was saam met Herman, Patrick, Ina, Pieter, Magdaleen en Boetie. Toe het ons ons verluister aan die klank van die see wat oor die plate klippe spoel en terugtrek see toe. Vandag doen ons dit weer. Dit klink soos 'n orrel wat die mooiste musiek maak.


Papendorp se naam was eers Viswater en dis hier waar die Olifantsrivier in die see inloop. Hier het die plaaslike mense (net 45 gesinne woon hier) 'n sluis gemaak en in die winter laat hulle die see inloop oor die pan en maak dan die sluis toe dat die somer die pan opdroog en baie sout agterlaat. Hulle oes die sout. Dis pragtige skoon see sout wat hulle gebruik en verkoop. Ons stap oor die soutpan en bly in 'n gastehuisie vir die nag. Daar is 'n pragtige dek wat uitkyk oor die vlei en ook 'n voelskuiling. Hier is baie flaminke en ander voels. Ons is al 19:20 in die bed.

Kreefroete Dag 2 van stap






















Ons begin weer 8hr stap en is aangenaam verras om weer vir Daleen as gids te he. Tannie Cornelia bederf ons met bacon, eiers, warm toast en muesli en yoghurt vir ontbyt. Ons moet vandag tot by Lambertsbaai stap. Dis net 12 km en ons sien uit daarna. Dis weer heerlik om op die harde sand te stap. Sommer vinnig vinnig is ons by die Muisbosskerm en kan ons heerlik rus in die skadu. Ons eet ons orige kreefpote en lok pragtige voels met die doppe. By Lambertsbaai swem ek, Shelley en Ina in die laagwater poel. Dis vriesend. Ons besoek Bird Island. Daar is 17 000 malgasse (dis wat die gids se - ek weet nie wie dit getel het nie, maar het geen rede om nie hul woord te aanvaar nie) en baie ander seevoels. Ons eet heerlik by Isabellas en loop daarna in die dorpie rond. Ben die taximan kry ons en vervoer ons na Doornbaai. Ons sien ook vir Correen vir omtrent twee minute by Isabellas. Sy is in beheer van die kreefroete, maar ons hoor al meer by die gasouers dat sy nie so 'n goeie poging maak van die bestuur daarvan nie.
By Doornbaai bly ons in Innis se strandhuis. Dis baie groot en elkeen van ons kry ons eie kamer met 'n en suite badkamer. Ek, Pat en Ina stap deur die dorp en ek neem mooi fotos. Vanaand maak Debbie en haar dogter vir ons aandete. Ons is nog so versadig van Isabellas se heerlike kos en kaaskoek dat ons vra vir net slaaie en Debbie kwyt haar uitstekend van haar taak. Ons gaan slaap weer vroeg nadat ons heerlik in die sitkamer kuier.

Saturday, March 20, 2010

Kreefroete, Weskus, Suid Afrika, 13 - 18 Maart 2010 Dag 1

























Agtergrond:
Ons vier (Shelley van der Nest, Pat Raab, Ina Redelinghuys en ek) het ontmoet toe ons Everest Base Camp toe is in April/Mei 2009. Toe nooi Pat ons om reunie te hou en ons besluit om die kreefroete langs die weskus van SA aan te durf. Intussen het ons besluit dit behoort 'n jaarlikse instelling te wees en beplan ons reeds aan volgende jaar se trip.
Dag 1: Dis met groot verwagting dat ek eers vir Pat en toe vir Shelley op 13 Maart 2010 op Kaapstad Internasionaal ontmoet. Ons gesels soos ou vriende en die elf maande tussen Everest Base Camp en vandag voel soos 'n week. Ons ry gesels gesels tot by Blouberg, eet middagete by Primi Piati en kyk oor die see. Ons is oppad Langebaan toe om vir Ina op te tel by haar niggie Wiena en haar familie. Toe is ons voltallig en maak ons dit vir Elandsbaai waar ons die eerste nag in die Vleihuisie slaap en heerlik onthaal is deur Marie, Louise en Daleen. Ons voel dadelik tuis met hul egte weskus gasvryheid. Elandsbaai is pragtig, maar ook met baie armoede. Die mense is dierbaar en baie gasvry en ons is gul ontvang en onthaal. Saam met Daleen gaan kyk ons die boesmantekeninge in die grot ver bo die see. Ons stop by die hotel en leen die enigste DSTV kanaal op die dorpie om die bulle teen die highlanders te kyk. Die bulle wen ver en Shelley is gelukkig! Ek het my sit en verkyk aan die mengelmoes van mense wat saam die rugby gekyk het. Baie interessant. Ons koop 8 krewe by Daleen se buurman vir net R100 en Mari maak dit gaar vir ons saam met heerlike gebakte snoek en slaaie. Ons is vroeg in die bed nadat ek die gasvrouens en hul helpers by hul huise afgelaai het. Dis grafstil langs die vlei en ons slaap heerlik.
Dag 2:
Ons het die eerste dag van stap van hieraf (Elandsbaai) vertrek en moes 18 km langs die see afle tot by Steenboksfontein. Ons los my motor by die polisiestasie op Elandsbaai regoor die hotel. Die weer was baie goed en ons kon heerlik stap. Die dik sand met hoogwater was 'n uitdaging en daar was nerens 'n skadu kolletjie in sig om middagete by te hou nie. Ons kry 'n ou yskas op die strand en draai hom so dat ons bietjie skaduwee het. Regte survivors!
Pat tel ons aantal tree met haar medisiefonds masjientjie en ons vorder omtrent 3,5 km per uur op die sand. Aanvanklik stap ons baie maklik op die harde sand onder die hoogwater merk, maar hoe later hoe moeiliker. Later stap ons baie moeilik op die sagte sand ver bo die hoogwatermerk. Ons verstom ons oor hoe goed ons 4 oor die weg kom. Ons ken mekaar eintlik swak en is nie vriende in die normale verloop van die lewe nie. Ons is ook uiteenlopende persoonlikhede en ouderdomme wat wissel tussen 40 en 60, maar ons kan heerlik saam ekspidisies aanpak.
Net toe ons wil moedeloos raak van die dik sand sien ons die plaashuis waar ons vanaand oorbly by Cornelia Burger op Steenboksfontein. Sy verras ons met koffie/tee en hertzogkoekies by 'b gedekte tafeltjie onder die bome. Ons stort, rus en maak gereed om half sewe aandete te geniet by die plaaskombuis op dieselfde plaas. Die restaurant lyk soos 'n museum. Ons kry skaapvleispastei met anys soetpatats en slaaie. Koeksisters vir nagereg en heerlike koffie/tee. Wat 'n fees?

Sunday, March 7, 2010

'n Pragtige dag, 'n lekker stap en goeie geselskap


6 Maart 2010 was 'n pragtige dag in die Kaap. Ons het besluit om in Helderberg Natuurreservaat te gaan stap en dit was heerlik. Daar was nogal baie mense, ook 'n groep jong kinders wat baie verbaas was toe ons voor hulle bo was. Wel, of so bo soos wat ons wou stap. Ons was nie bo nie, maar ver genoeg. Gerhard het saamgestap en die geselskap was net so goed soos die helder sonskyndag. Na baie lag, baie sweet en baie gesels is ons onder vir 'n piekniek ontbyt. Dis so lekker om in die Kaap te kan woon. Ons is so naby die natuur en ek geniet elke stappie terdee.