Sunday, July 18, 2010

Trip down memory lane: Wellington 17 Julie 2010

'n Vriendin van my, Nadia von Wielligh, het my genooi om die Rapportryers op Wellington se damesoggend saam met haar by te woon. Dit is gehou op 'n pragtige nuwe venue buite Wellington aan die voet van Groenberg. Die verrassing van die oggend was dat Burger wat Supersterre gewen het hierdie jaar opgetree het. Saam met hom sy mede supersterre finalis, Deon. Oppad soontoe het ons nog 'n vriendin van Nadia opgelaai naby die Ooskerk en agter straatjies gery. Ek het 'n groot de ja vu beleef en was terug in st 5. Ons het verby Suzanne Roux se huis gery. Hoeveel middae het ons nie daar gekuier nie? Ons was 5 of 6 vriendinne wat saam in st 5 was. Dit was 1983 en Saterdagoggend het ek alles weer helder beleef... Ons het vele middae by Suzaan hulle musiek geluister. Green Door van Shakin Stevens. Ons het dit oor en oor geluister en dance moves uitgewerk. Ure aanmekaar. Ek kan nie eers onthou wie almal daar was nie. Ons ry verder in Nelstraat en ek sien die huis waar Michelle hulle baie lank gebly het. Haar ma, Tannie Susan, het saam met my Pa gewerk. Michelle se Pa is onlangs oorlede en ek laat toe dat die foto's wat op die begrafnis gewys is een na die ander weer voor my geestesoog afspeel. Ons draai links waar die Voortrekker terrein voor ons is. Ek onthou vele Vrydae middae. Ons hele gesin was in die Voortrekkers. Die pad na die hek lyk nou baie kort. Ek onthou dit baie langer. Daar is 'n Brent Oil Garage waar die ou winkeltjie was waar ons lekkers gekoop het oppad Voortrekkers toe. Vrydae na ete het ons saam met my Pa gery tot by Bybelkor waar hy gewerk het en dan is ons verder per voet tot by die Voortrekkergebou. Oppad het ons ons sakgeld gebruik om lekkers te koop. Jy kon 'n groot sak lekkers kry vir R2. Ons draai regs by die sirkel by die dorpswembad. Daar is 'n nuwe residensiele ontwikkeling regoor Huis Wouter Malan waar die karavaanpark was. Ek onthou soveel swemgalas wat by hierdie swembad geswem is. Dit voel baie lank terug.

Wellington is 'n pragtige plek. Dit was 'n baie lekker dorp om in groot te word. En vandag was 'n wonderlike dag om die ou dae te onthou en met verlange terug te dink aan my dae as 'n kind.

No comments:

Post a Comment