Portland is nie die hoofstad van Oregon nie. Die gas-munisipaliteit is nogal sensitief daaroor en oral waar ek mense van Salem ontmoet is die eerste ding wat hulle vir jou se dat Salem die eintlike hoofstad van Oregon is. Maar Portland is die grootste stad met die grootste konferensie fasiliteit. Salem het maar 150 000 mense. Hoe dit gebeur het weet ek nie.
Gisteraand se Ierse kroeg-ete in Kell's Restaurant was toe regtig lekker. Region 5 het ons genooi om saam met hulle te gaan eet. Hulle bestaan uit 5 state naamlik Indiana, Michigan, Kentucky, Ohio en Tennessee. Ek leer vir die eerste keer dat daar 'n Nashville in beide Tennessee en Indiana is. Natuurlik is die een in Tennessee meer bekend oor Elvis.
So, daar is ons toe. Nogal 'n deurmekaar spulletjie bymekaar. Region 11 (waarvan ek deel is) bestaan uit Australie, Belgie, Bulgarye, Israel, Nepal, Nederland, Nieu Zeeland, die Britte en ons. Meng dit met mense van 5 Amerikaanse state en sit hulle saam in 'n Ierse Pub en jy het... 'n heerlike partytjie. Tot 'n 'piping band'.
Een van die drie 'beste' plekke soos aanbeveel deur die konferensie organiseerders is Voodoo Doughnuts. Nou ek weet glad nie wat doughnuts met voodoo te doen het nie en ek is glad nie in voodoo in nie, maar hierdie is 'n interessante doughnut winkel.
Dis klein binne, 24 uur per dag oop, op 'n opskure hoek van downtown Portland en daar hang heelwat hawelose mense buite die winkel rond opsoek na geld.
Binne word jy gekonfronteer met die snaakste variasies van doughnuts (hoekom hulle nie net kan se donut nie weet ek nie) wat die keuse baie moeilik maak. Ek vat die Original Portland Cream doughnut. Dit is so soet dit skiet jou tot agter die ore. Gelukkig was daar 'n spul mense wat kon help eet.
Die winkel is veral bekend vir hul bacon en maple stroop doughnut!
Gary Whorlow is die Institute Director in Indiana. Hier smul hy aan die bacon en maple weergawe van 'n doughnut! Volgens hom is dit baie soet, maar heerlik!
Jaap Paans (onder) is die Raadsgriffier by die Gemeente Rotterdam in Nederland. Vanmiddag het ons 'n Mexikaanse middagete gehad en elke tafel het 'n hoed en musiekinstrumente gekry om saam te vat. Ek het die hoed gewen, maar dit vir Jaap gegee. Daars net nie plek in my tas nie!
Powell's Bookstore in Portland is 'n klein stadjie van boeke. Oud en nuwe boeke staan sommer so deurmekaar op die rak. Die hele plek het wi-fi en mens kan gratis via Apple Apps op Powell's inteken.
Dis ongelooflik! Ons is vanmiddag soontoe en terug in gietende reen. Dit reen al gister sedert middagete onophoudelik. (Soos ek nou hier tik skyn die son!) Oppad soontoe stap 'n vrou langs my en Thom (Thom is van Gauteng) en ons vra of sy ons sambreel wil deel. Nee dankie, se sy, "this is not rain, it is liquid sunshine". Ons het lekker gelag. Toe ons uitkom, sien ons wat sy bedoel het, want toe sous dit. Die tannie op die weerberig het ook vanoggend gese: It will be four hours until it rains. Ek dog sy weet nie waarvan sy praat nie, want dit reen toe al die hele nag so saggies. Nou weet ek, dit was liquid sunshine, vanmiddag s'n - dis reen!
Powell Bookstore (net 'n klein gedeeltetjie daarvan). Dis massief. As jy inkom, gee hulle vir jou 'n kaart om te weet wat alles waar is.
Vanoggend by die konferensie was Dr Rick Brinkman die spreker. Hy werk in die veld van Conscious Communication. Dit was baie goed en 'entertaining'. Hy is 'n goeie spreker en ek kan baie onthou van wat hy gese het sonder dat ek notas gemaak het. Ons kry al die insette elektronies, so ek luister net en geniet dit.
Een ding wat hy verduidelik wat ek nooit sal vergeet nie, gaan oor verskillende mense se verskillende perspektiewe. Vat jou regterhand se wysvinger en plaas dit 10 cm voor jou neus (okay 20 cm as jy oor 40 is!). Nou maak jou linker oog toe en kyk na jou vinger deur net jou regteroog. Ruil nou oe. Sien jy jou vinger beweeg? Doen dit 'n paar keer en sien hoe jou vinger spring. Nou ons almal het dit geweet en sekerlik al gedoen vantevore.
Sy perspektief is: Dink jou in hoe dit sou wees as jou twee oe heeltyd aan die stry was oor wie se perspektief die regte een is. Dis wat in werksplekke gebeur. Mense kyk uit verskillende oogpunte en is heeltyd besig om die ander een te probeer oortuig dat sy/haar oogpunt die enigste oogpunt is. Vir die oe om te kan sien en optimaal te funksioneer moet beide oe se gesigspunte saam gebruik word. Dit gee diepte aan die prentjie. Net so in die werksplek moet 'n span eers besef dat hulle almal se gesigspunte nodig het en as hulle dit saam sit en diepte kry, kom die prentjie voor hulle in perspektief en fokus!
Jou gesigspunt is net dit: Jou gesigspunt. Dit is nie DIE gesigspunt nie. Elke persoon het 'n ander perspektief op 'n situasie want hulle staan in 'n ander konteks, op 'n ander plek en met ander geskiedenis.
Die groter tydsverskil maak dat ek baie minder kontak met julle het. Ek mis dit. As jy wil, skryf 'n comment op die blog. Dan weet ek ook hoe dit met julle gaan. Ek gaan nou Earl Grey en in die bed klim.
Vanuit die hoofstad van Liquid Sunshine: Portland Oregon
Tuesday, May 22, 2012
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment