Sunday, May 20, 2012

If it's not a boeing, I'm not going!

'If it's not a boeing, I'm not going!'

Dis die afskeidswoorde van ons toergids by die boeing fabriek in Everett, Seattle, Washington State, VSA.


Die grootste deel van vanoggend was ek meestal net spyt! Spyt dat iemand by Boeing besluit het sekere besoekers mag nie hul kameras invat nie. Ek brand om julle te wys wat daarbinne aangaan. Dis een van die lekkerste, interessantste toere wat ek nog op my trip gedoen het. Jerry, ‘n onophoudelike prater het ons by ons hotel opgetel en 12 ander mense by hulle hotelle gaan oplaai en toe is ons oppad na die grootste gebou in die wereld (gemeet aan volume). 

Dis Boeing se fabriek noord van Seattle. Daar werk 35 000 mense in drie skofte. Hulle het hul eie brandweer, eie dokters, eie sekuriteit, eie klein stadjie alles onder een dak. Daar word hoofsaaklik 747’s, 777’s en 787’s gebou op die oomblik. Die 787 dreamliner is die nuutste wonderwerk wat hulle sedert 23 September 2011 aan kliente lewer. Hoofsaaklik ANA (All Nippon Air van Japan waarmee ek gevlieg het) en Qatar. Wat die nuutste vliegtuig so interessant maak, is dat die hele lyf van die vliegtuig uit 'reinforced carbon fibre' gemaak is (kom ons hou nou op doekies omdraai en noem dit wat dit is: plastiek!) Dis baie ligter, sterkter (hoer sterkte tot gewig ratio) en roesvry. Hy gebruik blykbaar 20% minder brandstof as sy vergelykbare kompetisie. Dis die mees ekonomiese brandstof gebruiker in die Boeing arsenaal nog ooit! En dan's hy nog mooi ook! Daarom kan dieselfde General Electric engin wat die 777’s en 747’s laat vlieg baie verder en stiller vlieg in die 787’s. Die vensters is groter, want die uitsny van die groter vensters verswak nie die plastiek nie. Ek het gehou van die nuwe gadget dat daar nie venster luike (shutters) is nie, maar 'n knoppie wat die venster in drie kleure kan tint om sonsopkoms, daglig en sonsonder na te maak. Hulle navorsing se jy sal minder jet-lag he as jy die vensters gebruik! Dit was goed om te sien.

Die fabriek is 272 000 000 kubieke voet in volume! Dis massief! Gaste stap hoog bo in die lug op ‘skyways’ en kyk af op die werkende skofte. Dis net ongelooflik om die werkslyne te sien. Elke soort vliegtuig word in ‘n spesifieke deel van die skuur aanmekaar gesit nadat die parte deur ‘n dreamcarrier van die verskillende vervaardigingslande vervoer word. Baie kom van Korea, Japan en ander plekke.

Ons moes alle elektronika in ‘n 'locker' los by die begin en kon vir die 90 minute toer niks op film vasle nie. Wel, iemand het gekroek in die verlede, want my soeke na fotos op die internet het 'n skamele 3,24 miljoene fotos opgelewer! Op die een foto het al die besoekers kameras in hul hande! Hulle ws duidelik joernaliste wat die vliegtuig deur die media moes verkoop. Julle kan gerus ‘n bietjie gaan 'google search' onder ‘boeing’. Ek het die volgende drie fotos vanaf die internet gekies om net ‘n kykie te gee in wat ons gesien het. Ons almal het die toer baie geniet.

Die 787 dreamliner van plastiek! (en 32 000 kg daarvan) Dit vat 3 skofte van baie mense wat onophoudelik vir 3 dae werk, dan rol hy by die deur uit! Dan vat dit 5 dae om hom te verf in die kleure van sy nuwe eienaars. Sekere dele verf hulle vooraf omdat dit gekalibreer moet word en die gewig van die verf, die balans sal uitgooi. Hy het net twee engins en hulle gebruik General Electric s'n. Die ander moontlikheid is 'n rolls royce engin, maar hulle wil laasgenoemde seker nie saam met plastiek gebruik nie.



Die grootste fabriek in die wereld (per volume van 272 miljoen kubieke voet) Net om perspektief te gee. Jy kan die hele Disneyworld binne in sit. Of 75 amerikaanse voetbalwedstryde gelyktydig kyk.


Kyk al die kameras!

My eie fotos voordat ek my kamera moes bere:

Die 'future of flight' museum.
 My ouers (links) en my Amerikaanse familie (regs)
 My Pa wys waar ons vandaan kom. Hulle wil weet waar hulle besoekers vandaan kom. As SA skielik begin Boeings vervaardig sal hulle ons verdink van kamera-insmokkelary.

Ek en my ma agter die stokke! My ma se eerste woorde toe sy dit sien: Haai, hier is tot remme ook!



Oppad terug praat Jerry steeds onophoudelik. Ek het aan die Shrek fliek gedink waar Shrek oor Donkey opmerk: It's getting him to shut-up thats the trick! Hy is eintlik net baie toegewyd en is baie lojaal en lief vir Seattle. Hy vertel die een storie na die ander en ons wonder soms oor die korrektheid van sy feite. Oppad terug laai hy ons by die Space Needle af.

Vandag is een van omtrent 3 perfekte dae in Seattle. Hulle weer is baie gematig en dit word nooit werklik warm nie, maar hulle kry omtrent elke dag ‘n bietjie reen. Jerry noem dit ‘the perfect garden sprinkler’. Niks meer as 1 meter reen per jaar nie (om te vergelyk: die Franschhoek omgewing by die Bergrivier dam kry 2 meter per jaar) maar omtrent elke dag ‘n klein bietjie. Dit maak dat die tuine, bome en blomme in Seattle ongelooflik mooi is. Ons sit gereeld in die kar, op die bus of monorail en probeer mekaar se aandag kry met ‘kyk daar!’, of ‘het jy al so iets gesien?’ Dis amazing!



Langs my in die bus sit ‘n Rus. Ek ervaar presies dieselfde emosie as toe die Rus langs my in die bus gesit het oppad terug van Halong Bay af in Vietnam: Dit stink! Wow, hierdie mense bad nie baie gereeld nie. As jy ooit kan kies om langs ‘n Rus of iemand anders te sit: Kies die iemand anders! Jy sal jouself ‘n groot guns doen.

Die Space Needle is Seattle se bekendste landmerk. Dit is in 1962 opgerig tydens die ‘World Fair’ toe die Monorail ook opgerig is. Die monorail loop net tussen die Space Needle en die sentrale gedeelte van die stad. Dis ‘n 90 sekondes rit en kos 2 dollars. Vir die laaste vier dae was ek vir die eerste keer deel van ‘n groep sedert en op 28 Maart 2012 uit SA is. En selfs in my enigste groep mense van 5 is ek die enigste ‘adult’! Amerika is baie vrygewig vir seniors bo 65 jaar oud en orals waar ons kom is my Pa en Ma en Oom Bob en Tannie Laurie gelukkig genoeg om senior afslag te kry. Hulle betaal net 75 sent vir die trein vanaf die lughawe na Westlake Centre in die middestad. Dis omtrent 50 km! Vir die monorail betaal hulle 1 dollar.


Skuus, ek weet nou nie hoe om hierdie foto te draai nie. Draai asb jou kop na links!
 Uitsigte van bo van die Space Needle af.

Hierdie is Lake Union waar vliegtuigies ook op land. (Soos in die toneel in Sleepless in Seattle)

Die Space Needle is 184 meter hoog met ‘n uitkykpunt heelbo en ‘n draaiende restaurant op die vloer net onder die uitkykpunt. Ons geniet die uitkykpunt en kan selfs Mt Rainier sien. Ons gaan dit besoek op ons toer na my konferensie. Ek sien baie uit daarna. Mt Rainier is die hoogste berg in Washington State. 


Vandag is ek oppad na Portland Oregon. Dis 195 myl suid vanaf Seattle. Ek gaan met die Greyhound bus om 4.15 vanaf Steward straat depot. Ek bly vanaand in die Quality Inn baie naby aan die Convention Center waar die konferensie plaasvind. Nou weet ek wat julle dink! Watse regdenkende toeris woon ‘n konferensie by op ‘n wereldtoer? Wel! Ek doen! Dit was ‘n geleentheid 1000!


Dit het so gebeur: Verlede jaar in Augustus is ek genooi deur IMASA (Institute of Municipal Administrators in Southern Africa) om op te tree as ‘n spreker by hul nasionale konferensie. Ek het gepraat oor 'business networking in Local Government'. Tydens hierdie konferensie was daar 32 Munisipale Bestuurders van Amerika en Kanada in die gehoor. Hulle is lede van die IIMC (International Institute of Municipal Clerks) met hul hoofkantoor in Amerika. Na die konferensie het ek kontak gehou met van hulle en ook ‘n lid geword van die IIMC. SA val in Region 11. Ek het geweet ek gaan op my wereldtoer en het dit so beplan om te gaan. Toe die Mun van Stellenbosch in Feb 2012 besluit om my nie weer aan te stel nie, het ek begin twyfel of ek dit moet bywoon, want die konferensie is baie duur en my vorige bestuurder, David Daniels, het ingestem om vir my betaalde verlof te gee vir die konferensie (wat sou help met die betaling daarvan). Nou moes ek dit self finansier. Maar die Here het ander planne gehad. Ons geliefde burgemeester het vir my in ‘n e-pos laat weet dat ek nie meer ‘n werk het nie (!). Die eerste drie e-posse wat ek na sy e-pos ontvang het, het my lewe verander!

Die heel eerste e-pos (wat ek eers die volgende dag gelees het nadat ek vir 24 ure net gehuil het) was van die CEO magazine in SA wat my inlig dat ek genomineer is in die kompetisie vir die ‘Most influencial woman in business and government”. Die Here het ‘n skerp sin vir humor! Die 3de e-pos was van die IIMC wat se dat hulle elke jaar 2 lede uit elke streek uit borg vir die kongres en ek is ten volle geborg! Genade op genade! Vir my het dit baie beteken. Die nominasie om vir my te bevestig dat die beeindiging van my kontrak niks met my professionele vermoens uit te waai het nie. En die 3de om te bevestig dat die Here totaal in beheer is. Hy weet wat Hy besig is om te doen. Ek sit graag terug en kyk opgewonde waarheen Hy oppad is.


Nou wonder julle wat was die 2de e-pos. Ek is nog besig om die uiteinde daarvan dop te hou. Watch this space!

Ek sien uit na die kongres! Daar gaan 100de Munisipale Bestuurders van reg oor die wereld wees. Miskien bied iemand vir my selfs ‘n werk aan! Ek gaan leer wat ek kan, ontmoet wie ek kan en myself geniet! Portland Oregon is voor in die wereld op die meeste goed wat my interesseer van groen goed, vaste afval bestuur, tot herwinning, gemeenskapsontwikkeling, skoonheid en netheid en vele meer. Mag die Here sy handewerk ryklik seen en die werk wat Hy in my begin het einduit voer tot voordeel van Sy koninkryk.

Ek het moeilik afskeid geneem vanmiddag van Oom Bob. Hy is die wonderlikste, sagste, gemaklikste mens met die beste sin vir humor. Hy is vriendelik en gaaf en ek hou baie van hom. Ek het ‘n 10 jaar VSA visum nou en sal baie graag weer vir hom en Laurie wil sien. Hulle is great!

Gisteraand het ek die geleentheid gehad om ‘n paar van my fotos vir my ouers en Bob en Laurie te wys. Dis regtig moeilik om net 10 fotos van elke land uit te soek. Ek besef opnuut weer die voordeel van blog hou om die detail in elke land te onthou. Ek sou lankal al die detail vergeet het as ek dit nie iewers opgeteken het nie.

Ek gaan nou eers hierdie een 'post' want ek weet van julle sit en wag om dit voor werk te lees! Ja, Francois dit kom, sodat jy jou na jou werk kan haas! Ek vertel in 'n volgende een van ons kerk ervaring in die City Church in Seattle en my eerste indrukke van Portland Oregon.

Mag julle elkeen 'n baie goeie week ervaar!
Ja, ek mis julle. Het vandag met afrikaanse musiek in my ore die busrit deurgesit en amper 'n traan gestort toe Stille rivierstroom op was.

Jou huis is werklik waar jou hart is! 


No comments:

Post a Comment