Sunday, May 13, 2012

Awa-Odori

Vandag is Sondag. Moedersdag. Stephan moes gaan preek in Koochi, 'n dorp drie ure suid van Tokushima, en is al half sewe uit die huis uit. Ek probeer laat slaap en toe ek onder kom is Carina en die kinders al lankal uit die vere. Ons eet 'n heerlike ontbyt van vrugte, yoghurt en pap en die kinders kom hou vir my konsert in my kamer. Vanoggend is al drie sommer gelyk huilerig en moeilik net om vir Carina ekstra dankbaar te maak dat sy 'n Ma vir hulle kan wees op Moedersdag. :-)




Stephan en Carina se huis in Tokushima


Hierdie naambord het iemand van die kerk vir hulle gemaak.


Hier is die kerk.


Hulle kerk begin 10:30. Ek sit binne in die kerk by Ikuko. Sy kan goed engels praat en verstaan. Carina en die kinders is in die moederskamer agter dun deurtjies. Ek het die ervaring in die kerk baie geniet, al kon ek nie 'n woord verstaan nie. In my hart en gees was ek met hulle. Ek wonder hoe die hemel gaan wees en hoe ons almal mekaar gaan kan verstaan. Ons gaan seker 'n verheerlikte taal gebruik vir lofprysing. Die eerste gesang wat ons sing vanoggend is die bekende Heilig, Heilig, Heilig. Hulle sing Japanees en ek sing lustig saam in afrikaans en engels.

Ons lees uit Genesis 3:8 - 12


Ons bid saam die Onse Vader. Ek weet dit is die Onse Vader want Ikuko langs my het so gese.


Ons bely ons geloof deur die geloofsbelydenis saam hardop te se. (Okay, hulle se en ek luister!) Ek weet dit is die geloofsbelydenis, want ek het twee woorde herken naamlik 'oPonti Pilati'.


Vanoggend is die 'prediker' een van hul ouderlinge, want Stephan en hulle Japanese dominee preek elders.


'n Opsomming van die preek:


Daar word kollekte opgeneem.


My kerk skoene. Die Japanese het steeds die gebruik om altyd hul skoene by die deur uit te trek en net op sokkies of sulke insteek pantoffel-agtige sagte skoene te loop. Dit dateer uit die tyd toe die Japanese huise baie sagte matte gehad het wat maklik deur skoene beskadig kon word.



Na die kerk drink almal saam tee. Drie keer per maand is daar ook 'n gesamentlike ete. Die tannies het omtrent uitgehang vanoggend en daar is tot Rooibostee. Carina se sy dink dit is spesiaal vir my gedoen. Deel van die tee eetgoed is rou ertjies, aartappelslaai, ertjies met mayonaisse op, soet patat tert en vele meer.


Die mense is werklik so gaaf en almal probeer 'n geselsie aanknoop al is hul Engels en my Japanees hoe beroerd.

Die tannie in die middel by die tafel is die orrelis en ook die plaaslike pediater.


Die drie engele wat alles reggesit en opgewas het na die tyd.


Na die kerkbyeenkoms gaan ons na die Awa-Odori Kaikan. Dis die gebou waar die Awa-Odori danse vertoon word. Awaodori is een van die bekendste feeste in Tokushima. Dit vind plaas vanaf 12 - 15 Augustus elke jaar. Tydens die fees word die sentrale strate in Tokushima toegemaak en dan dans die mense in die strate met spesiale klere aan en doen spesiale tradisionele danse. Die danse is op pragtige ritmiese musiek wat mens se voete laat jeuk. Die lirieke van die musiek se: 'The dancing fool and the watching fool are the same fools, so why don't we dance?' Die ritme van die Awaodori word Zomeki genoem. Hierdie fees word al meer as 400 jaar in Tokushima gehou.

Die vertoning begin eers 14:00 en ons besoek hierdie mooi park terwyl ons wag.


Carina wys my hoe hierdie gesin piekniek hou. Dit is 'n gewilde manier van doen in Japan om vir jou Obentu te gaan koop (dis pragtig verpakte klein Japanese snack kos) en dan gaan hou die mense piekniek op 'n mooi plek. Hierdie is sulke hout platvorms langs die rivier. Hulle trek ook hulle skoene uit en sit dit langs die houtplatvorm neer.


Die musikante wat die musiek verskaf vir die danse.


Na die vertoning, word al die lede van die publiek genooi om te kom saamdans. Hulle wys jou hoe en dan moet jy perform! Ek en Annli en Cornelius waag dit ook op die dansvloer en toe ek weer sien kry ek 'n rooi string papierblomme om my nek en word ek aangewys as die wenner! Ek kry ook 'n mooi sertifikaat en 'n vlag! Dit was groot pret!


Hier staan Annli by twee van die dansers.


Die professionele dansers in aksie.


My sertifikaat vir my wenprys in die Awaodori danse!


Baie van julle vra hoe ek die Japanese kultuur ervaar. Wel, ek is natuurlik nog hopeloos te kort hier om 'n ingeligte mening te gee, maar laat ek probeer. Ek geniet Japan en ervaar die Japanese as uiters vriendelik en baie behulpsaam. Hulle lag met hulle hele gesig. Ek se vandag vir Carina dat toe ek in Vietnam en China was, en in Nepal in 2009, het ek vele fotos geneem van mense met dooie oe en dooie gesigsuitdrukkings. Ek het gedink dit is omdat hulle nie die Here Jesus ken nie. Hier is dit ooglopend anders. Die Japanese (selfs die nie-Christene) het lewendige, laggende oe en het 'n opgeruimdheid wat baie aantreklik is.

Ek beleef hulle ook as mense met versigtige selfbeelde. Dis my indruk dat hulle baie hoe eise stel aan hulleself en gou omverskoning vra dat hulle iets nie presies perfek gedoen het nie. Dis so 'n kontras met die Amerikaanse kultuur van iets gemiddeld of half doen, maar so trots wees daarop en dit so uitbasuin en verkoop as baie goed, dat ander ook begin dink dit is goed. Die Japanese lyk vir my baie nederig en hou hulle ook baie nederig.

Na China is die Japanese vir my baie bedaard, saggies en kalm. Baie kalm.

Een voorbeeld van die verskil tussen Japan en China is hulle gebruik van 'n voetoorgang. In China was daar 'n voetoorgang min of meer reg oorkant Henko en Vivian se woonstel. Ons het dit gebruik om die straat te kruis, maar onmiddellik gesien dit hoef net sowel nie daar te wees nie, want die karre stop glad nie! Ons het dit spottenderwys 'n 'please-die-here' genoem, want hulle teken die voetoorgang sodat jy weet waar jy moet loop dat 'n kar jou kan omry. In Japan is voetoorgange baie definitiewe kruisings en niemand sal daaraan dink om die straat op enige ander plek te kruis as by die voetoorgang nie. En definitief eers as die groen mannetjie skyn. In Kyoto het ek 'n Starbucks gewaar en oor 'n besige straat geloop om daarby uit te kom. Daar was geen motors vir 100de meters links of regs van my nie, maar die drie ooms wat reeds op Starbucks se stoep gesit het, het my aangegaap of ek van Mars af kom omdat ek die straat kruis by 'n plek wat nie 'n voetoorgang is nie.

Ek ervaar Japanese ook as baie hardwerkend en 'compliant' georienteerd. Hulle sal moeilik verandering hanteer en doen dinge omdat dit nog altyd so gedoen is.

Miskien is ek heeltemal verkeerd. Dis maar net my waarnemings in die afgelope week.

Lekker slaap! Ek is nou presies in die middel van my toer. Ek het vanoggend my tree getel en ek het reeds 550 154 tree gestap in die afgelope 45 dae. Ek is verby halfpad en reg om die 1 miljoen tree te haal wat ek myself ten doel gestel het. Die danspassies vandag het self 'n paar tree bygesit!

Oyasumi, ii yume mitene. (Good night - sweet dreams)

1 comment: