Ek is opgewonde! Vandag vertrek ek na Shikoku Eiland in Japan en meer spesifiek Tokushima waar Stephan en Carina van der Watt bly met hulle drie pragtige kinders. Ek ken hulle van Stellenbosch af. Hulle is al drie jaar hier in Japan en is die sendelingpaar by 'n gemeente in Tokushima.
Vir die van julle wat soos ek hou van die groter prentjie, heg ek graag die kaart aan:
Ek het drie dae terug op Osaka lughawe geland en vandaar die trein gevat na Kyoto, noord van Osaka (op die kaart lyk dit noord-oos, maar die orientering van die kaart is afgesny op die foto)
Ek ry vandag met die Japanese 'bullet' trein of Shinkansen soos hy hier bekend staan. Dis ongelooflik! Francois Louwrens skype met my gister en vertel dat hy gelees het dat die Shinkansen in Japan nog nooit laat was nie. En hulle definisie van laat is as dit 6 sekondes na die gepubliseerde tyd sou arriveer. Ai, as alles in SA maar so op tyd kon wees! Ek en Francois het eintlik gelag dat die trane loop, want hy vertel dat hy en sy ma 'n tyd gelede met die trein vanaf Kaapstad na Johannesburg moes ry. Die glans biljet het verkondig dat hulle 11:20 in Johannesburg sal wees en hulle het na 21:00 die aand daar aangekom!
Hier is dit 'n perd van 'n ander kleur. Die trein is uiters indrukwekkend en ek is baie bly ek het die ekstra geld uitgehaal en dit ervaar! Die shinkansen ry gemiddeld 300 km per uur en lyk soos 'n vliegtuig van binne. Die besigste Shinkansen in Japan is by Tokaido wat meer as 151 miljoen mense per jaar vervoer.
Ek ry van Kyoto, via Osaka na Okayama, toe verby Takamatsu tot in Tokushima. Die trein ry op baie mooi plekke en ek neem baie fotos uit die venster.
Die indrukwekkende Shinkansen van Japan.
Die man skuins voor my lees 'n boek in 'n vreemde taal. Die boek blaai van agter na voor, en die geskryf is van bo na onder. Baie weird om te sien.
Die borde waarvolgens jy jou trein moet haal! Gelukkig is die mense baie behulpsaam en kan hulle sommer dadelik sien as 'n buitelander lyk of sy verlore is.
Voor Sakaide gaan die trein vir 'n lang ent oor die water en is die uitsigte baie mooi.
Kyk die blomme in die bamboes tuisgemaakte houer op een van die kleiner stasies. Ek het gedink dit sal kan werk op my woonstelbalkon.
By Tokushima kry Stephan en hulle 2 jarige seuntjie Cornelius my. Dis heerlik om hulle te sien! Cornelius is aanvanklik inkennig, maar voordat ons by die huis stop is hy happy om my hand te vat, op my skoot te sit en my alles te vertel van Japan. Carina wag ons by die huis se portaal in. Hoe lekker is dit nie om saam met my dam se eende te kan kuier nie! Dis 'n voorreg en ek gaan elke oomblik daarvan geniet. Hulle het soveel moeite gemaak vir my! Carina en Stephan volg ook hierdie blog en sy het spesiaal vir my 'n hele pakkie Earl Grey tee gekoop wat gereed staan langs die kookwater urn! Ek het sedert my aankoms hier al 4 koppies gedrink! Dankie julle!
Ons eet 'n heerlike tuna tert wat sy self gemaak het en ry om vir Annli by die kleuterskool te gaan haal. Sy is in 'n Japanese kleuterskool. Ek sien Japanese word van vroeg af al geleer om in rytjies te staan. Dis die dat hulle dit so goed kan doen!
Die juffrou is baie oulik en aan die einde van hul skooldag staan al die kinders in hierdie rytjie. Annli is die enigste nie-Japanees en ek kon haar maklik raaksien en uitken. Dan groet al die kinders die juffrou en sy vertel wat hulle gedoen het. Dan begin sy voor in die ry en oorhandig letterlik elke kind terug aan die ouer en praat 'n paar sinne met elke ouer. Dis baie nice om te sien. Stephan se Japanees is bewonderingswaardig!
Hierdie is Lodewyk, die baie vriendelike 6 maande oue baba. Te cute vir woorde.
Cornelius lyk nes sy Pa en is 2 jaar oud. Hy het nog die laaste stuiptrekkings van sy terrible two's, maar Stephan en Carina is gesoute ouers wat hulle nie laat afsit deur 'n nuk nie. Ons kuier heerlik! Ek lees boekies, word bederf deur almal en voel soos een van die huisgesin! Hier gaan ek lekker kuier!
Stephan en Carina met Annli. Sy is vier jaar oud en verbaas my met die manier waarop sy die vreemde taal en kultuur haar eie gemaak het. Sy is 'n brawe klein meisietjie met 'n groot toekoms.
Vanmiddag gaan wys hulle my 'n pragtige speelpark by die Provinsiale biblioteek. Daar is ook 'n baie mooi uitsig oor Tokushima stad. Hier bly ongeveer 280 000 mense in hierdie stad. Dis pragtig skoon en langs die see gelee.
My Japanese cuisine het vandag verdubbel (okay, dit was nog nie baie groot nie!). Hierdie is Goma roomys. Dis gemaak van swart sesame saadjies en bo verwagting baie lekker. Hulle maak ook 'n smeer wat mens op brood eet soos grondboontjiebotter en ek gaan definitief vir my 'n potjie saamvat huis toe. Dis heerlik!
Ons aandete! Carina treat ons vanaand met sushi handrolls wat ons self kan pak. Wow, dis lekker! Ek eet myself knuppeldik! As ek toe al geweet het van die pampoentert wat sou volg, sou ek minder geeet het, maar more is nog 'n dag!
Een van die baie interessante dinge wat ek vandag by Carina sien, is die Japanese se kunsvorm van Bento lunch boxes maak vir hul kinders om skool toe te vat. Carina het al self 'n paar kunswerke om te wys. Wow, ek weet nie waar hulle al die tyd kry nie, maar ek is beindruk! Hier is 'n paar voorbeelde wat ek in 'n boek gesien het. Gaan kyk gerus op google na ander voorbeelde van Bento boxes. Dis ongelooflik!
Die reel in ons huis was altyd: niemand kry brood skool toe nie. As jy wil he, moet jy dit self smeer en dit was net altyd te veel moeite om dit self te doen, so ons het nooit skoolbrood gevat nie.
Ek dink ek moet so 'n besigheid in SA begin! Ek sal mal wees daaroor en die ouers sal mal wees daaroor dat hul kinders gesond eet sonder dat hulle dit self hoef te doen! Wat se julle?
Nou moet ek gaan slaap, want die twee oudste kinders het reeds twee biblioteekboeke reggesit wat ek more-oggend vroeg vir hulle gaan lees as hulle wakker word en by my kom inkruip.
Dit was 'n stunning dag! Ek is uiters bevoorreg om so geseen te word.
Ek werk op die oomblik bietjie oortyd om tyd in te haal om oor middagete te kan lees oor Japan ;-). As TV nuus nou net so nuttig en spannend was!
ReplyDelete