Dit het so gebeur: My pa het gaan soek op die internet na 'n kerk in Seattle waar ons kon kerkgaan verlede Sondag. Die ons is nou ek en my Pa en Ma en my Pa se neef en sy vrou. Ek sou se al vyf van ons in gewoond aan meer besadigde en geordende dienste. My pa se neef en sy vrou is in die First Baptist Church in Orlando.
Toe ons stop voor die gebou is ons eers 'n bietjie bekommerd, want almal wat by die kerk instap lyk of dit 'n 'first nations' kerk is. Nie dat dit ons behoort te pla nie. My Pa spring uit en gaan vra of gaste welkom is en ons kry 'n oorverdowende JA!
Tot die parkeerplek voor die kerk is gas-vriendelik!
Toe is ons in en word deur almal verwelkom. Die musiek begin speel. Die drommeslaner sit in 'n glaskas om die geluid te versag, maar dis steeds erg. Vir die eerste twintag minute besef ek: ek het in Japan waar ek niks kon verstaan nie, baie meer op my gemak gevoel.
Die Seattle City Church bestaan uit verskillende takke en die een wat ons vanoggend besoek is die Belltown tak en is net 'n klein deel van die groter geheel. Die predikers is Chelsea en Judah Smith. Hulle is die pastoor paar. Sy is eerste aan die woord en in lewende lywe by ons in die kerk. Haar man volg later op 'n live-streaming vanaf die kerk-kampus in die University District. Hy is 'n besonderse goeie spreker en kom pas terug van 'n konferensie in Engeland waar hy in die Albert Hall 'n spreker was.
Hy preek uit Lukas 10:39 en verder. Dit is die storie van Jesus se besoek aan Martha en Maria. Martha is die praktiese, besige een. Maria is die spirituele een met haar kop in die wolke. Martha hardloop rond en dien. Maria le en bewonder Jesus. Sy punt is dat die interpreteerders van die stuk nog altyd half 'n slegte interpretasie van Martha gegee het as iemand wat nie weet waar haar prioriteite behoort te wees nie. Wat hy ons help om raak te lees is: Dit is Martha se huis. Sy is die oudste. Sy is verantwoordelik om die rekeninge te betaal. Martha beteken: Lady of the house. Maria beteken: geliefde. Maria kan bekostig om rond te le want daar is 'n Martha wat dien! Ons het almal Maria en Martha oomblikke. Soms word ons so oorweldig deur die Martha oomblikke van kinders grootmaak, huis skoonmaak en daaglikse roetines doen, dat ons vergeet om vir die Maria oomblikke te kies.
Hy hak dit aan 1 Petrus 5:7 waar Jesus ons nooi om AL ons bekommernisse met hom te deel. Ja, ook ons Martha oomblikke se klein goedjies. Hy gee daarvoor om.
Dit sal my lank bybly.
'n Ander ding wat ek neerskryf in die kerk: I will not let what I cannot do interfere with what I can do! Sjoe, die wereld sou 'n beter plek gewees het as ons almal dit kan onthou.
Hierdie is die Convention Center (ja die VSA spel dit so) in Portland waar ons konferensie is. Die torings is net vir die mooigeid. Nou weet ek wat julle wil vra: Hoekom is dit dan nie mooi nie? :-)
In die damestoilette is hierdie teels op die toilet vloere. In elke hokkie is een spinnekop. Dit hou ons aan die praat met mekaar. Elke keer is daar iemand wat haar boeglam skrik. Ons het gewonder of daar spinnekoppe in die manstoilette ook is.
Vandag doen ek die sessie oor kreatiwiteit. Ons moet 'n probleem in klein groepies bespreek en met kreatiewe antwoorde vorendag kom. Dan moet die groep dit op 'n kreatiewe manier kom aanbied.
Hierdie is Allan Susen. Hy is die stadsklerk van Borough of Haledon in New Jersey. Hy was Chatty Chathy in ons groep. Ons het dit baie geniet. Ek het na die sessie besluit Amerika het nie probleme nie. Die groepe het almal belaglike klein alledaagse probleempies uitgebeeld wat ons in SA voor ontbyt in die oggend hanteer en uit die weg ruim.
En toe is dit tyd vir middagete. Ons het nie ete by die konferensie gekry vanmiddag nie en ek het afgesit Burger King toe. In 1997, toe ons as gesin in Amerika getoer het, was die 'whopper burger' 99 sent elk. Vandag is dit 5,99 dollar. Vir almal wat nog wonder oor die Amerikaners se groot kos-porsies: Toe ek voor kom vra die tannie of ek my maaltyd wil opgradeer. Jy betaal 99 sent ekstra en kan die chips en koeldrank nog groter maak. (Soos by McDonalds in SA ook) Nee wat, dankie, se ek. Ek vat die 'regular' koeldrank. Sy gee vir my die glas oor die toonbank aan. Ek dog eers dis die asblik. Ek bars kliphard uit van die lag as ek besef dit is die glas wat jy self by 'n koeldrankstasie moet gaan vol maak. En jy kan soveel keer gaan as wat jy wil! Ek het my glas teruggevat na my hotelkamer om 'n foto te gaan neem. Ek het 'n bietjie uitgegooi en moes die glas afskorting in die kamer yskassie uithaal om die res daarin te berg.
Die 'regular' koeldrank by Burger King: gemeet aan die glas/beker in my hotelkamer! Dis meer as 'n liter!
Dis nou al na 24:00 en my ouers slaap al in dieselfde kamer as ek. Ek gaan nou eers baai se. Hulle stuur baie groete en liefde vir almal wat hulle ken. More begin ons toer deur Oregon sodra my konferensie klaar is om 13:00.
No comments:
Post a Comment