Sunday, June 19, 2011

Gevriesde vrede + vriendskap




















Die Transkaroo was vir my nog altyd net 'n trein... Tot verlede Donderdag. Ek het 'n langnaweek gemaak saam met Jeugdag en Woensdag vertrek om vir Jan in Colesberg te gaan kuier. Hy bly sedert Maart 2011 daar. Ek het in Laingsburg oorgeslaap en in papnat weer en baie koue vertrek Colesberg toe. Jan kon nie wag om vir my die dorp te wys nie. 'n Uitstappie wat minder as 6 minute geneem het. Al sy gunsteling eetplekke was toe op die vakansiedag. By die Barracks het die eienaar spesiaal vir ons oopgesluit en ons getrakteer op 'n rooiwynglas vol medium cream sjerrie. En dit nog voordat die vliegtuig ordentlik oor was.

Jan bly op 'n heerlike plaas 30km buite Colesberg. Hy is daar om nuwe brue en paaie op die N1 en N9 kruising te bou. Hy is goed met padbou en geniet dit. Hulle kantoor is in die ou hospitaal op Colesberg. Ons vertrek later die middag om die Transkaroo Voetslaanpad te gaan stap. By Noupoort gaan niks meer aan nie. Dit het 'n spookdorp geword. Al die paaie rondom Noupoort word aan gewerk. Rietfontein plaas van Lindo en Elmarie van der Merwe is 'n verrassing en hulle oorlaai ons met gasvryheid. Ons basiskamp is so 8 km van hul huis af in die kloof op. Ek vergeet weer my Touran is nie 'n 4x4 nie en ons ry elke klipperige driffie asof dit die N1 is. Die plaashuis waar ons uitstappie begin en eindig, is 'n pragtige ou plaashuis met 'n groot stoep, geen krag, heerlike kaggel en baie spasie vir niksdoen.

Dis koud! Ons stook daai kaggeltjie vir 'n vale en sleep ons beddens tot voor die vuur. Die volgende dag is dit 'n besonderse mooi dag sonder wind en ons begin stap. Die pad is goed gemerk en ons pad vat ons in 'n pragtige kloof op met die skoonste water en heerlike swempoele. Ja, julle het reg gehoor, Jan durf toe die swempoel aan en my motor het 'n halfuur van te vore nog 3 grade gewys! Die uitsigte later op die roete is asemrowend en ons geniet dit baie. My been geniet sy eerste ernstige uitstappie na hy gebreek het in Okt 2010. Als gaan goed. Ons slaap die tweede aand in 'n ou skuur en ek vergaap my later aan die pragtige sterre en die volmaan. Die Karoo is besonders! Dis windstil en yskoud en ons weet dit gaan ryp. Ons maak vuur, braai vleis en probeer so lank as moontlik die onvermydelike uitstel - om in 'n koue bed te gaan klim. Jan gebruik 'n lee OBS bottel (ja ons het hom kaf gedraf!) met kookwater in as 'n warmwatersak en ek gebruik my Nelgena bottel. Dit help. Die volgende oggend is die wereld spierwit gevries. Die longdrop is ver van die huis af en yskoud. Ons stap eers amper 12uur want dis te koud. Die derde aand slaap ons terug by basiskamp.

Die transkaroo voetslaanpad is 'n aangename verrassing en baie lekker. Goeie gasvryheid, goeie roete, baie atmosfeer en die mooiste omgewing. Dit is regtig die moeite werd en waarde vir geld.

Ek het amper 1600km gery om drie dae in rus en vrede saam met 'n goeie vriend die karoo te gaan beleef... Ek het die bossies geruik, die vleis geproe, die sterre en maan gesien, die koue gevoel, die stilte gehoor en die vrede ervaar. En ek sal nooit weer dieselfde wees nie...

Saturday, June 11, 2011

Franschhoek Cook Festival 11 June 2011













Franschhoek is 'n ongelooflike dorp. Ek werk sedert Maart 2011 daar as Munisipale Bestuurder en het vinnig besef hierdie dorp en sy mense kruip baie vinnig diep in 'n mens se hart.



Vandag is ek genooi deur Jenny Prinsloo om saam met haar die Cook Festival by te woon. Ons het die geleentheid by Ryan's Kitchen bygewoon waar hulle ons gewys het hoe om Potbelly en koejawel souffle te maak. Die sjef, Ryan, is in vennootskap met Niel Patterson van Anthonij Rupert wyne. Ons proe wyne wat perfek by die kos pas. Ons begin met 'n Pinot Grigio en kry ook kans om hul nuutste Cape of Good Hope reeks te proe. Dis heerlik. Ons eindig met Anthonij se 1984 muscadel. Saam met die heerlike wyn en baie goeie geselskap aan tafel 13 kom die heerlikste kos.



Eers leer Ryan ons om koejawel souffle te maak. Die trick se hy is om nie eiers vars te skei en te dink die eierwit gaan 'n goeie souffle lewer nie. Nee, jy moet hulle gister skei en in die yskas hou tot vandag en dan opklits. Hoe ook al... dis heerlik. Daarna volg 'n voorgereg van snoek mousse in 'n komkommer en appel jassie met wasabi mayo en wasabi meringue. Onverbeterlik! Die hoofgereg is pot belly met bazil balletjies en kapokaartappel hopies met brocolli. Wow! Die nagereg is broodpoeding met marmalade en karamel.



Baie dankie aan tafel 13 vir die heerlike geselskap. Onthou ons het 'n reunie afspraak by die Bastille Fees op 17 Julie 2011.

Sunday, June 5, 2011

'n Naweek van uitsigte...
























Ek sit op my leerbank in my woonstel en dink terug oor die naweek wat verby is. Dit was al weer net te vinnig verby. Vir my was dit 'n naweek van uitsigte. Tannie Joan verjaar Woensdag wat kom en word 71. Ek en Tannie Florrie vier haar vooruitsig vir die nuwe lewensjaar saam met haar by Moyo op die Spier wynplaas in Stellenbosch. Sy is altyd so waarderend vir elke klein bederfie en dis heerlik om te sien hoe goed sy nog lyk op 71.

Saterdagmiddag ry ek Bloubergstrand toe om by Boetie en Magdaleen te gaan kuier in hul dogter Anneke se woonstel. Dis voor op die see op die sewende verdieping met die mooiste uitsigte op die see, tafelberg, robbeneiland en die hele blouberg. Behalwe vir baie raserige bure, is die kuier heerlik. Ek en Boetie stap vanoggend tot by Blue Peter in die reën en sien 'n dubbele volledige 180 grade reënboog.



Sondag laat oggend kry ek vir Lizel, Azanda en Monica by die Deli van Tokara in die Helshoogte pas buite Stellenbosch. Die herfskleure is asemrowend, die uitsig onverbeterlik en die kuier onvergeetlik.



Vanmiddag verniel Nadal enige vooruitsigte wat Federer kon gehad het om Roland Garros te wen.



'n Heerlike naweek het verby gevlieg.

Thursday, May 26, 2011

15 jaar se nuwe lewe...

Vandag 26 Mei 2011 is dit presies 15 jaar sedert ek dood moes gewees het. Ek het op 26 Mei 1996 van Vredendal na Potchefstroom gery met my Ford XR3. Ek was nog voltyds in die weermag en moes die volgende oggend aanmeld vir 'n Inligtingskursus. Net buite Loxton het ek agter die stuur aan die slaap geraak, van die pad af gery en toe ek wakker skrik die stuurwiel geruk en my kar gerol. Die hele kar was opgefrommel en afgeskryf en ek moes definitief doodgewees het. Maar ek was nie.

Op daardie stadium het ek geweet ek het 'n tweede kans op lewe gekry, maar nog nie geweet hoekom nie. Nou 15 jaar later weet ek presies hoekom en geniet ek elke oomblik. Dis genade! Ek is elke dag opreg dankbaar vir die tweede kans. Ons God is immers 'n God van tweede kanse. Ek het myne gekry.

Sunday, May 22, 2011

Vir Morgan...

Jou ma het op 16 by 'n dronk man gelê.
Vir een nag se plesier moes sy jou toe hê.
Drie maande later is jy verkoop,
maar die polieste en die welsyn
het met jou weggeloop.
'n Interdik en 'n hofsaak later
is jy Lena s'n.
Kan 'n mens se lewe so begin?

Friday, May 20, 2011

'n Lift vir Lena

Ons is al buite Stellenbosch. Ek jy en Morgan, toe jy vir my vra of jy ons op die pad kan sit. Ek was nog besig om te dink wat dit beteken, toe bid jy al. Ek luister oopoe hoe jy in nederige woorde met ons God praat. Dat hy ons sal beskerm op die pad, dat hy my nugter sal hou... Jy praat later onophoudelik. Jou oudste suster is dood. Julle was ook vyf. Jy moet Klawer toe gaan vir die begrafnis. Jy is op Victoria-Wes gebore en werk nou op Stellenbosch en verder was jy nog nêrens. Dit is Malmesbury sê ek. Jy was nog nooit daar nie. Dis Moorreesburg sê ek en jy sê jy het al daarvan gehoor. By Piketberg stop ek vir tee. Jy drink koffie en skut die stukkende koekies van die motorsitplek af wat Morgan verfrommel het. Hy sal later vanjaar twee wees sê jy. Hy is jou pleegkind. Ek vra uit. Dis ‘n kind in jou familie se kind. Sy wou hom verkoop toe vat die welsyn hom. Almal in die familie is ingeroep en die familie het jou gevra om hom te vat. Morgan is gestremd. Verstandelik en fisies. Jy klou aan hom en hy aan jou.

Jy vergaap jou aan Piekenierskloofpas en sing saam met elke Juanita du Plessis liedjie op my Ipod. Kyk al die groot trokke sê jy. Kyk die lemoene. Kyk die groot dam. Is hy altyd so leeg? Clanwilliam gaan verby in stilte. Jou suster moet jou kry by Klawer se garage maar sy antwoord nie haar sel nie. Jou airtime is op en ek maak oproepe in die ry. Ons kry niemand tuis nie.

By Klawer kry ons ‘n adres. Iemand het gehoor iemand anders het gesê dis net agter die polisiestasie. Ek ry. Agter die polisiestasie is Klawer se hele plakkerskamp. Stukkende halfklaar strate met vullis en riool. Baie honde, harde musiek, kinders orals. Die derde man vir wie ons aanwysings vra is nugter en klim in om saam te ry. Dis dan 'n hok! fluister jy. By die derde straat links laai ek jou af. ’n Klein sinkplaathuisie vir vier susters en hul gesinne. More is begrafnis. Jy het kos gebring, brood en sap en vrugte. Ja sê jy dit is reg, jou broer sal jou garage toe bring Sondag. Ek ry en los jou en Morgan tussen die chaos. Jou suster sê sy wil ook in die kaap kom werk... tot ’n chauffeer ook, magtig dis lekker sê sy.

Ek ry die sirkelpad uit die plakkerskamp en vat die pad Vredendal toe. Ek wil huil. Oor jy wat ’n pleegkind vat, jy wat niks het nie, wat nog nerens was nie, wat jou ousus verloor het en wat halleluja liedjies in my kar sit en sing omdat jy so dankbaar is dat die Here so vir jou sorg.

Ek dink oor die telkemale die afgelope maande wat ek opstandig was oor my droom nie waarheid word nie en weet summier my ondeurdenkte lewe is jou en duisende se droom.

Tuesday, May 17, 2011

'n Dag om te onthou

18 Mei 2011 sal onthou word as miskien die laaste plaaslike verkiesing in sy huidige vorm. Ek het vroeg gaan stem en sommer my stemmery ingewerk in my oggend stappie. Toe ek 07:15 by die stemlokaal kom was daar reeds 'n langerige ry. Duidelik is daar baie meer belangstelling as in die verlede. Ons wyk het sewe verskillende kandidate wat vir die wyk staan, maar net een kandidaat het 'n stalletjie buite die lokaal gehad. Waar was die ander ses? Die IEC in ons lokaal was goed georganiseerd en alle shet glad verloop. 15 minute in en uit. My grondwetlike plig vir die dag is afgehandel...

Nou sit ek voor die TV en kyk hoe die res van die land stem. Vuyo en Leanne van Morning Live gee realiteits televisie 'n nuwe betekenis. Ek kan nou in my eie sitkamer sit en kyk hoe Helen Zille en Jacob Zuma se nuutste vrou stem.

My dag is nog lank nie verby nie. My familie plig na afloop van my grondwetlike plig, le voor. Ek brei vir Babajana 'n trui. Dit is Melindie se pop. Nadat ek gisteraand Melindie (my sussie Elna se jongste van 3 jr oud) se trui afgelewer het, is ek summier ingelig dat Babajana dieselfde trui moet he. Nou gelukkig is Babajana se mates omtrent 5cm by 7cm so dit sal nie te veel van vandag opneem nie.

Mag elkeen van ons 'n goeie ervaring he van ons stemmery vandag. Dit gee my 'n sin van mag en die heerlike ervaring dat jy 'n verantwoordelikheid het en "a sense of achievement" as mens deelgeneem het. In my dorp raak die verkiesing my werk direk. Ons kry die politieke verteenwoordigers wat ons verdien en vir die afgelope tien jaar was dit min of meer chaos. Mag vandag anders wees.

Monday, March 28, 2011

Breakfast in Bloemfontein






Ses van ons het Vrydag 25 Maart 2011 uit die Kaap gery Bloemfontein toe vir Kallie en Olivia se troue. Isak, Blyda, Jo en ek met my motor en Ulie en Inette met skoonma se wa. Ons is eers half 3 uit Stellenbosch uit en het in Colesberg geslaap. Dankie Blyda vir die muskietmasjientjie! Dit het ons gered.

Ons kosborg was Wimpy en na vele Wimpy's langs die pad moes Isak dringend rennies in die hande kry. Die reis was elke oomblik net so lekker soos die bestemming. Dit was heerlik om saam te kuier, baie te lag, stories te luister en te vertel en beter vriende aan die anderkant uit te kom.

Die tema van die troue was "vintage" en ons het groot gegaan. Die vraag is net waaroor lag Blyda so in die foto van Isak? Jo was mal oor die kussing in die Southern Sun, Isak was mal oor die rennies in die Memosa Mall, Blyda was mal oor nuwe plots uitdink in ons langverhaal in die motor en Hanlie was mal oor almal wat die naweek onvergeetlik gemaak het.

Dankie Kallie en Olivia dat ons julle groot dag kon deel.

Tuesday, March 1, 2011

Stilbaai branders en goeie vriende!


Omdat ek Desember nog op krukke was en nie eintlik kon swem by Stilbaai nie, moes ek net teruggaan voordat die somer verby is om in Stilbaai se branders te gaan swem. Daar is nie nog so 'n strand nie. Onvergeetlik. Vyf... nee ses van ons is Vrydag Stilbaai toe. Ek, Jo, Jan, Petrus en Surette en natuurlik Lomarie wat amper 1 jaar oud is.
Ons het als gedoen waaroor ons lank gedroom het... Gerus, geoefen, geswem, yahtzee gespeel, TV gekyk, saam met kitare gesing, nog Yahtzee gespeel, gebraai, gestap, voels gekyk en nog yahtzee gespeel.
Dit was heerlik en net te kort soos altyd, maar mens moet maar altyd ophou terwyl dit nog lekker is. Die weer was briljant. Windstil, warm met die mooiste somersaande. Ons het ook 'n tafeltennis toernooi gehou en niemand kon by Jo kers vashou nie. Hierdie tyd van die jaar is so lekker op Stilbaai. Dit is nie oorvol mense nie, maar met genoeg mense om die vakansie gees te kry. Jan het beide oggende gaan fietsry om te oefen vir die Argus! Die res van ons het verlore slaap ingehaal en Lomarie geniet. Sy is so ongelooflik cute en soet.
Aan almal wat saam was... dankie vir 'n briljante naweek. Dit is so lekker om goeie vriende, goeie kos en 'n goeie vakansieplek bymekaar te bring. Altyd 'n wenresep!
Jo onthou dit so...
"Die yahtzee koningin met haar yahtzees!
Die stilte van Stilbaai in die oggend - wel buite die huis.
Die ongelooflike branders met onophoudelike lekkerte.
Die geluid van 'n vuurtjie buite so tussendeur die ping pong houe.
Saam lag en die vriendelikheid van egte mense wat mekaar wil verstaan."
Johan Visagie

Tuesday, January 4, 2011

Cederberge oor Nuwejaar 2011




Annelie van Rooyen se liedjie "soos ou vriende" is die eerste wat by my opkom as ek nou in my warm kantoor sit en terugdink aan die pas afgelope naweek se kuier in die Cederberge. Ek het gaan saam kamp saam met 'n rits gesinne wat al jare lank vriende is en saam vakansie hou in die Cederberge oor Kersfees en Nuwe jaar. En ek was nie teleurgesteld nie!
Dit was heerlik. Ons het gekuier, geswem, geeet, gelag, yatshee gespeel, stories en grappies vertel, hulle het fietsgery (my been is nog te shaky) en verder doen elkeen net wat hy/sy wil. Dit was 'n fees! Jo sou saamgegaan het, maar kry toe somer griep die dag voordat ons moet ry en ek ry alleen. Ek het by Amanda en Tielman en hul kinders en kleinkinders tent opgeslaan. Ons het elke seisoen denkbaar beleef en moes Saterdag bontstaan om die hael en reen uit ons beddegoed en tente te hou. Ek het Sondag met 'n baie swaar hart teruggekom om Maandag te begin werk en wou so graag nog kuier. Maar daar is altyd 'n volgende keer. Aan almal wat dit so 'n onvergeetlike ervaring gemaak het... BAIE DANKIE! Julle doen werklik soos ou vriende doen en julle sit gemaklik aan my lyf...

Sunday, December 26, 2010

Sewe sakke sout...



In ons gesin is vyf susters en 'n Pa en 'n Ma. Ons sewe het sewe jaar terug begin om gereeld vir mekaar briewe te skryf via e-pos. Ons stuur die briewe vir almal en soos jy tyd en lus het skryf jy wat aangaan in jou en jou gesin se lewe en stuur dit aan. Deur die jare het ek telkens die behoefte gehad om die briewe in boekvorm uit te gee, maar het nooit die nodige tyd gehad om dit te verwerk nie. Toe breek ek my been in Oktober 2010 en het al die tyd in die wereld om presies dit te doen. En nou is dit sewe jaar se briewe tussen 7 mense. My ma het die naam uitgedink: Sewe sakke sout...

Die briewe beslaan 298 bladsye en baie foto's van almal en alles. Dit is veral interessant om te lees oor die kinders. Twee nuwe kleinkinders is gebore in die sewe jaar, ons het 'n swaer aan die dood afgestaan en almal het omtrent verhuis, aangebou, van werk verander, geestelik gegroei en ook swaar tye beleef en dit alles word vervat in die briewe.

Mag elkeen van ons in die volgende sewe jaar aanhou om so naby aan mekaar te leef. Ek kan sonder baie dinge klaarkom (selfs sonder 'n been vir 10 weke), maar sonder my familie... Nooit nie!

Wednesday, December 8, 2010

Blink kant bo!!!


Vandag (8 Desember 2010) is dit presies 7 weke nadat ek geopereer is op 20 Oktober 2010. Ek was gister terug Dr toe in Stellenbosch om te laat plate neem om te sien of my been aangegroei het en prys die Here! Dit het 100% aangegroei en alles aan die breuk is reg en heel en ek kan begin om sonder die krukke te loop en ook weer motor bestuur. Die enigste probleem was die swelling in die been waarmee die Dr nog glad nie gelukkig was nie. Hy stuur my toe vir 'n sonar en wraggies is daar 'n bloedklont in die waai van my been. Ek word toe dadelik opgeneem in die hospitaal en kry 'n baie pikante wit kous om aan te trek om die swelsel te keer en te voorkom dat verdere bloedklonte vorm. Nou ja, ek was teleurgesteld want ons was oppad Stilbaai toe, maar wat kon ek doen?
Nou is dit 9 Desember 2010 en ek het vanoggend vir die eerste keer stort toe en terug gestap sonder my krukke! Vir die van julle wat weet hoe lief ek vir stap en bergklim is, sal julle besef dat dit vir my baie beteken het. Ek voel sommer vry en lus vir die lewe. Ek drink nou bloedverdunners en het al sedert 5hr vanoggend (dis wanneer hulle jou wakker maak in die hospitaal) alles gelees wat ek kan kry op die internet oor die situasie. Ek sal vir die volgende ses maande op meer veilige plekke moet fietsry en moet sorg dat ek nie stamp of seerkry nie.
Wat ek eintlik hier wil tik is wat ek die afgelope sewe weke geleer het.
1. Daar is altyd iets goeds in enige slegte ding wat met jou gebeur. Saam met die feit dat ek my been gebreek het, het ek soveel goeie goed ontdek. Ek het nuwe vriende gemaak, waarvan Budru Senkuba van Uganda een is.
2. Ek het die geleentheid gehad om lank by my pa en ma te woon soos toe ek 'n kind was en dit was heerlik en 'n genadetyd. Ek het weer besef mens kan nie sonder vriende en familie lewe nie. Vriende, familie en 'n goeie mediesefonds! Onontbeerlik!
3. Ek het reeds vroeg in die sewe weke besef daar is baie min mense wat op my vlak werk wat drie maande "sabaticle" in hul skoot kry en ek het elke oomblik daarvan waardeer en goed gebruik.

4. My vertroue in God is soveel versterk omdat ek altyd geweet het dit is in Sy aard om getrou te wees. Hy kan nie anders nie, maar om dit elke dag aan jou bas te voel, is geloofsversterkend. Hy is in beheer. Hy weet wat Hy doen. Hy is God. Laat Hom doen soos Hy die beste weet.
5. Ek het altyd geweet ek het deur die genade, 'n positiewe ingesteldheid oor die lewe, maar as mens getoets word deur omstandighede dan kan mens dit oefen. Ek stem saam met Abraham Lincoln: "Your own resolution to succeed is more important than any other one thing." Ek het weer geleer 'n mens het 'n keuse. Geen omstandighede is in ditself goed of sleg nie. Jy besluit of jy dit gaan sien en beleef as goed of sleg. Ek sit bv nou in Medi Kliniek in Stellenbosch. Ons kry fantastiese kos. Beter as wat ek by my huis vir my sou maak, maar die persoon langs my kla steun en been. Dieselfde kos, verskillende ingesteldhede!
Ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Maar vandag is goed. Gister was goed en more sal goed wees ongeag wat dit inhou, omdat ek die lesse hierbo geleer het en in God se hand veilig is.