Ons is al buite Stellenbosch. Ek jy en Morgan, toe jy vir my vra of jy ons op die pad kan sit. Ek was nog besig om te dink wat dit beteken, toe bid jy al. Ek luister oopoe hoe jy in nederige woorde met ons God praat. Dat hy ons sal beskerm op die pad, dat hy my nugter sal hou... Jy praat later onophoudelik. Jou oudste suster is dood. Julle was ook vyf. Jy moet Klawer toe gaan vir die begrafnis. Jy is op Victoria-Wes gebore en werk nou op Stellenbosch en verder was jy nog nêrens. Dit is Malmesbury sê ek. Jy was nog nooit daar nie. Dis Moorreesburg sê ek en jy sê jy het al daarvan gehoor. By Piketberg stop ek vir tee. Jy drink koffie en skut die stukkende koekies van die motorsitplek af wat Morgan verfrommel het. Hy sal later vanjaar twee wees sê jy. Hy is jou pleegkind. Ek vra uit. Dis ‘n kind in jou familie se kind. Sy wou hom verkoop toe vat die welsyn hom. Almal in die familie is ingeroep en die familie het jou gevra om hom te vat. Morgan is gestremd. Verstandelik en fisies. Jy klou aan hom en hy aan jou.
Jy vergaap jou aan Piekenierskloofpas en sing saam met elke Juanita du Plessis liedjie op my Ipod. Kyk al die groot trokke sê jy. Kyk die lemoene. Kyk die groot dam. Is hy altyd so leeg? Clanwilliam gaan verby in stilte. Jou suster moet jou kry by Klawer se garage maar sy antwoord nie haar sel nie. Jou airtime is op en ek maak oproepe in die ry. Ons kry niemand tuis nie.
By Klawer kry ons ‘n adres. Iemand het gehoor iemand anders het gesê dis net agter die polisiestasie. Ek ry. Agter die polisiestasie is Klawer se hele plakkerskamp. Stukkende halfklaar strate met vullis en riool. Baie honde, harde musiek, kinders orals. Die derde man vir wie ons aanwysings vra is nugter en klim in om saam te ry. Dis dan 'n hok! fluister jy. By die derde straat links laai ek jou af. ’n Klein sinkplaathuisie vir vier susters en hul gesinne. More is begrafnis. Jy het kos gebring, brood en sap en vrugte. Ja sê jy dit is reg, jou broer sal jou garage toe bring Sondag. Ek ry en los jou en Morgan tussen die chaos. Jou suster sê sy wil ook in die kaap kom werk... tot ’n chauffeer ook, magtig dis lekker sê sy.
Ek ry die sirkelpad uit die plakkerskamp en vat die pad Vredendal toe. Ek wil huil. Oor jy wat ’n pleegkind vat, jy wat niks het nie, wat nog nerens was nie, wat jou ousus verloor het en wat halleluja liedjies in my kar sit en sing omdat jy so dankbaar is dat die Here so vir jou sorg.
Ek dink oor die telkemale die afgelope maande wat ek opstandig was oor my droom nie waarheid word nie en weet summier my ondeurdenkte lewe is jou en duisende se droom.
Friday, May 20, 2011
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment