Wednesday, March 18, 2015

Die Bybel in 3D

Toe ons vanaand nabetragting hou, se my sussie Corne dit baie mooi: van nou af sal ons ons Bybels in 3D lees! Dis asof alles voor jou opstaan as jy dit eers gesien, geruik, gehoor, gevoel en beleef het. Nou het ek 'n prentjie van die Kidron vlakte, die stadsmure van Jerusalem, Bethlehem, Jerigo, en noem maar op.

Laatmiddag is ons by die ou stad van Dawid. Dit is die gedeelte van Jerusalem wat bestaan het toe Dawid en sy manskappe die stad ingeneem het.  Hier kyk ons 'n regte 3D film oor die Stad van Dawid. Toe ons wag om in te gaan, kom 'n groot groep Amerikaners uit. Ek vra vir die mense of die film goed was en die eerste drie beaam en knik. Net daarna kom daar 'n man met 'n goeie sin vir humor en verklaar dadelik: die Boek is beter! Ek is seker in hierdie geval, soos met die meeste flieks wat gemaak word van 'n geliefde boek, is die Boek verseker beter.  Maar laat ek by die begin van die dag begin...

Ons eerste stop vanoggend is Bethlehem. Dit val in die Palestynse gedeelte en ons gaan deur 'n sekuriteitsgebied en kan duidelik die spanning in Dawied aanvoel. Vir die eerste keer is hy kortaf met ons. Hy mag nie hier die toergids wees nie en ons kry 'n plaaslike Palestynse toergids in Bethlehem wat goedgekeur is deur die Palestynse regering.




Hierdie foto wys omtrent alles wat oor is van die skaapwagtersvelde buite Bethlehem. Hierdie stad het 40 000 inwoners vandag en is slegs omtrent 15 km van Jerusalem gelee. Op die foto bo sien 'n mens ook duidelik die pad en heinings tussen Israel en Palestina.
By die ingang van die Palestynse gebied is daar n bord op wat se dat dit gevaarlik kan wees vir Israelies. Dit is n interessante tyd om hier te wees, want hulle verkiesing was gister en die uitslae is bekend en die party van die huidige Eerste Minister het weer gewen en hulle is sterk gekant teen 'n afsonderlike Palestynse staat.



Ons kry elkeen 'n beurt om op geskiedkundige plekke uit die Bybel te lees oor wat daar gebeur het. My beurt was by die bergrede. Vanoggend is my Ma aan die woord en lees sy uit Luk 2 waar die engele aan die skaapwagters verskyn het in hierdie gebied en die engele menigte gesing het. Dit moes 'n pragtige gesig gewees het. 



Bo en onder is fotos van die Geboortekerk in Bethlehem. Hier kry ons 'n groot groep Indonesiers en hulle sing vir ons 'n lied in die kerk. Daarna bied ons aan om vir hulle te sing  en sing baie lekker in die mooi akkostiek. Na ons val 'n groep van Poland in. Die lekkerste is dat dit alles bekende wysies is wat die verskillende lande sing.





Die Nativity Church in die middestad van Bethlehem, is die oudste oorblywende kerk wat steeds ingebruik is. Toe die Turke die stad ingeneem het, het hierdie kerk bly staan omdat daar op die voorkant 'n mosaik was van die drie wyse manne uit die Ooste en hulle dit herken het en uit respek het hulle dit nie ook verwoes nie. 





Hierdie stuk mosaik vloer dateer uit die vierde eeu na Christus. Hierdie is die enigste kerk wat behoue gebly het toe Jerusalem verwoes is in 66 na Christus.




En toe shop ons! Die Christinne in Bethlehem het 'n skrynwerkersbedryf met 'n winkel waar olyfhout-produkte en ander goed verkoop word. Ons kry ruim tyd om hulle te ondersteun.



Hierdie ster is opgesit op die plek waar Jesus gebore is.


En toe is ons na die Holocaust Museum in Jerusalem, 'n Ervaring waarvoor ek nie min genoeg woorde het om hier te beskryf nie. Angswekkend wat alles in die verlede in die naam van christenskap gedoen is.


Die childrens Memorial by die Holocaust Museum.


Hierdie kinderhuis vader wou nie sy kinders los nie en is saam met hulle vermoor. 




Die verkiesingsuitslae in vandag se koerant. 


By die Israel Museum is 'n pragtige mini world gebou op 'n skaal van 1:50. Regtig indrukwekkend, 







Ek en my twee susues Santie en Corne by die minitown.

Hierdie spuitfontein is in die vorm van n erdekruik se deksel. Dit is die museum waarin die oorspronklike boekrol van Jesaja uitgestal word wat in 1949 ontdek is. 

Jerusalem se parlementsgebou. 

Ingang na die ou stad van Dawid. 

My ma en Santie met hul 3D brille op, reg vir die film.

Wees dankbaar vir Eskom!,



In die ou stad van Dawid is daar die water tonnels van Hezekiel. Dit is 'n ingenieurswonder en baie daarvan is tot 3000 jaar oud. Ons kruip deur al die gate en bekyk alles! 

Tuesday, March 17, 2015

Ou stad Jerusalem

Ja, ek weet ek het gese ek sal nog meer vertel van gister, maar nou het vandag sy eie belewenisse opgelewer en is my kop huiwerig om terug te beweeg. Jammer daaroor.

Ons eerste stop vanoggend was die tuingraf. Dit word instand gehou deur vrywilligers en is die eiendom van Britse christinne. Ons toergids hier is Gordon Reeve. Hy is van Kanada (BC) en lewer die mooiste getuienis van hoe hy as klein seuntjie die Here aangeneem het. Sy Pa het vir hom Joh 3:16 gelees as 'God het vir Gordie so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat as Gordie in Hom glo hy nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal he.'  Vanaand by ons nabetragting vertel my Ma dat dit haar ook getref het. Dat die boodskap van Christus eintlik so eenvoudig is.

Die tuin van die tuingraf is pragtig met die mooiste blomme, water, voels en 'n toer bring jou by Golgota en die waarskynlike plek waar Jesus begrawe kon wees. Ons herinner mekaar gereeld dat dit hier nie hoef te gaan oor presies waar nie, maar DAT Hy gekruisig is, dat Hy opgestaan het, dat Hy opgevaar het en dat Hy weer kom.


Die ingang na die tuingraf



Gordon Reeve, ons vrywillige toergids



Potte en potte en potte blomme net waar jy kyk. Regtig pragtig!



Dis lente in Israel en die wereld is groen met pienk bloeisels.

     

Die graf.




Hierdie pragtige bewoording is agterop die deur. Dank Vader dit is waar! Hy het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan!



Ons vier saam die nagmaal. My Pa deel aan elkeen die tekens  afsonderlik uit. Hier ontvang Ilse hare.




Hier is my en my twee sussies se glasies. 

Ons gids Dawied het spesiaal vir ons hierdie nagmaalglasies uit Bethlehem gekry vir vanoggend. Ons elkeen kan syne as aandenking saamneem.




My Pa spreek die seen uit en gee vir ons drie dinge saam: Die genade van God ons Vader, die liefde van Jesus Christus en die teenwoordigheid van God die Gees.




Ons twee gidse. 



Tuin van Getsemane






Hier is die twee vriendinne van die Vrystaat (naby Golden Gate) by die Golden Gate van die ou stad Jerusalem. Die Jode glo dat as die Messias kom, gaan Hy deur hierdie ingang Jerusalem binnegaan. 


Church of all Nations. Dit is pragtig! 


Iphone panorama jou lekker ding!


Ons het vandag regtig snaakse T-shirts gesien! Die ander se: I dont need google, my wife knows everything!



Scharma vir middagete. 


Die kerk waar die Via Dolorosa eindig.



Hierdie is n massiewe mosaik. Pragtig! 











Bad van Bethesda. Hier is n kerk met die ongelooflikste akkostiek wat ek al ooit gehoor het. Ons 14 sing die Onse Vader uit volle bors!


Golgota soos hy gelyk het. Drie weke terug was hier 'n sneeustorm waarin die neus afgekom het. 



'N Baie interessante perspektief wat ons vandag gehoor het, is dat die berg Morea 'n hele rif is en dat Golgota waar God sy Seun geoffer het,  deel van dieselfde rif is waar Abraham vir Isak amper geoffer het. 


By die Paternoster Kerk is die Onse Vader gebed opgesit in elke taal in die wereld. Ons kon die Sotho, Engels en Ndebele sien. Die Afrikaans was binne waar daar 'n diens aan die gang was. 

Nou gaan ek eers slaap.  Mag dit goed gaan met elkeen van julle. Gaan groot! My suster se seun (ons oudste kleinkind) is vandag 21! Geluk Gerjo! 



Monday, March 16, 2015

N Baie lang en fantastiese dag

Ek moet erken dat ek nou spesiaal vroeer opgestaan het om vir julle van gister te vertel. Ons is vroeg weg uit Tiberias en moes uitboek uit die hotel. Dit beteken alles inpak en ons tasse moes reeds 06:45 voor ons kamerdeure staan. Na n lekker ontbyt is ons fort. Ons eerste stop in Yardenit. Dit is 'n plek by die Jordaanrivier wat ingerig is vir doopgeleenthede vir mense wat vir die eerste keer gedoop wil word of as hertoewyding. Ons groepie kom elke aand na aandete bymekaar en dan bespreek ons die dag en praat oor goed wat voorle. Reeds op aand twee het ons begin praat oor die doop en of daar van ons is wat gedoop wil word. John het in die Methodiste kerk grootgeword, maar is nooit gedoop nie en vra dat my Pa hom sal doop. En ek, Corne en Ina wil gedoop word in die Jordaan as 'n teken van hertoewyding aan Jesus Christus wat ons Verlosser is.

Omdat dit ons eerste stopplek is, is daar geen skares nie en is dit rustig, stil en kan ons die geleentheid ten volle benut. My Pa het dit pragtig hanteer en dit word 'n geleentheid wat ek altyd sal onthou en koester. Ek is Jesus se kind en ek sal my lewe wy tot Sy eer en verheerliking.




Daarna vertrek ons na Bet She'an. Dawied, ons gids, spreek hierdie so lekker uit! Hierdie ruines verras my. Die stad is in 749 na Christus verwoes in 'n aardbewing en daarom kon argeoloe baie van die ou stad en gebruike opgrawe. Dit is pragtig! Veral die amfiteater en publieke baddens vertel 'n mens amper presies hoe hulle in daardie tye gelewe het. En die ingenieurs was reeds erg bedrewe met ondervloerse verhitting en stormwater kanale. Regtig interessant. Nou moet ons eers hardloop. Nog n vol dag begin... Ek skryf later verder. Die mosaik hieronder is opgegrawe in die hoofstraat-sypaadjie van Bet She'an. 








Ena Scheepers speel model.



Die nuwer deel van Bet She'an het hierdie bekende restaurant. Nou sien julle sommer hoe dit lyk in Hebreeus of Arabies (wie sal weet)
Daar is nog so baie wat ek moet vertel, maar daar is nie nou tyd nie. Oor Jerigo, die inry in Jerusalem, die klaagmuur, die bovertrek, die uitsig oor die olyfberg, die ou stad en die fantastiese toer wat ons gedoen het deur die ondergrondse tonnels in die Western Wall van die ou stad. Dit het my asem weggeslaan. Die tonnels is eers in 1996 oopgestel vir die publiek.