Wednesday, April 4, 2012

Thaise kookkuns


4 April 2012

Haar naam is Kelly. Sy is piepklein en het eers ‘n gastehuis bestuur. Nou gee sy kookklasse en vandag het ek een by haar gehad! Ek het besluit om in soveel lande as moontlik ‘n kookklas te neem. Thailand se kos is besonder geurig en hulle gebruik soveel meer speserye as ons. Sekerlik ook die Malayse invloed.

Sy kom laai my op by die hotel om 13:45. Haar kookskool is in Kata Noi. Dis net langs ons deel van Kata en beteken "die nuwe gedeelte" van Kata. Haar assistent is Sammy. Ek leer om drie tradisionele disse te maak: green curry, tom yum en pad thai. Die laaste een is my gunsteling. Sy begin deur vir my al die resepte te gee en ek moet dit eers deurlees. Ek doen en ons begin. Sy wys my al die bestanddele en dis nogal nodig, want hulle gebruik ander goed as wat ons ken. Ek kook ook vir die eerste keer met tofu en leer hoe om dit reg te gebruik. Dis verbasend lekker as mens weet hoe.

Tom Yum is ‘n sop en daar kom suurlemoen blare in wat hulle “kaffir lime leaves” noem. Toe sy hoor ek is van SA se sy dadelik dat ek dit nie so kan noem nie, maar net moet praat van lime leaves. Duidelik was daar al SAners by haar kookklasse. Ek leer baie. Hulle kook in ‘n “wak” (ronde tregtervormige pot) op lae hitte. Die disse is vinnig. Ons gebruik vandag eiervrug, spruit bone en garlic chives en gemengde groente. Die eiervrug hier is klein groen goedjies wat meer herinner aan 'n albino skorsie met 'n sagter skil. Hulle gemengde groente kom in ‘n pakkie en lyk soos duitse “sour crout”. Als kry coconut melk of carnation melk in om die speserye af te koel. Sy gooi een lepel carnation melk in die green curry en vra of ek kan sien hoe romerig dit is! As sy maar weet wat ons in SA romerig noem! Hulle eet baie gesonder as ons.

Op die foto van die disse is dit kloksgewys van links bo af green curry, tom yum en pad thai in daardie volgorde:






Coriander en Cumin saadjies is ook baie gewild. Sy droog dit op haar stoep. Sonkrag is hier volop! Die snaakste spesery wat sy gebruik wat ek nog nooit gesien het nie, is Galangal. Dit lyk soos ‘n vars gemmerwortel, maar smaak heel anders. Sy laat my proe en ek begin dadelik onbeheers nies vir seker 10 – 12 keer. Sterk! Ek kry ‘n sjef hoed en koop ‘n voorskoot by Kelly, want haar patroon is anders en baie meer prakties. Ek vat al die kos in verseelde plastieksakkies terug hotel toe dat Corne my kan help eet en alles proe.

Corne het intussen ‘n “fruit carving” klas by die hotel gedoen en dit ook baie geniet. Sy leer om tamaties, komkommer en spanspek pragtig te versier. Van nou af sal sy alle vrugteborde vir elke Linde saamkuier moet voorberei! Sy kry ook die carving knife ingesluit en ‘n mooi sertifikaat!



Die aand loop ons rond in Kata Noi en soek ‘n lekker restaurant op die see. Ons is lus vir pizza. Almal swem nog in die warm water en ons besluit om dit ook more-aand (ons laaste aand hier) te doen. Ons kry ‘n baie besonderse restaurant onder ‘n massiewe boom en op die see. Daar is ‘n oom en tannie by die tafel langs ons wat sjampanje drink en mens kan sien die tannie maak ‘n mooi (lang) toespraak en toe die oom. Ons spekuleer dat hulle seker 50 jaar getroud is. Ek gaan bied aan om vir hulle ‘n foto te neem van die geleentheid en was skaars terug by ons tafel toe staan die oom daar met ‘n groot Toblerone Switserse sjokolade om vir my dankie te se. Dis die tannie se 71ste verjaarsdag. Hyself is 73. Hulle is van Switserland en het dit baie waardeer dat ek hulle kom afneem het. 





Terug in die kamer kry ek ‘n boodskap van Hannelie Lategan (oud kollega) en e-pos van Birgit. Albei dra slegte nuus. Hannelie laat my weet dat ‘n kollega van my wat in my direktoraat gewerk het, Charmaine Moses, skielik oorlede is. Sy was jonger as ek! Birgit laat weet dat sy ‘n vriend van haar in Singapore gemail het en vertel het van my wat daar gaan wees en dat hy en sy gesin hulle oor my moet ontferm. Sy noem die naam van my hotel en hy laat weet dat dit nie ‘n goeie keuse is nie. Dis in die middel van ‘n rooi lig distrik en ‘n hotel wat by die uur uitgehuur word. Oeps! Ek sal more-oggend dringend kanselleer en ‘n ander blyplek soek. Dankie Luke en Birgit vir die waarskuwing! Gelukkig kan ek nog tot 7 April 2012 kanselleer met volle terugbetaling.

Nog ‘n heerlike dag is agter die rug! Ons het nog net een vol dag oor en sal dit maksimaal benut. My gedagtes is by Charmaine se familie. Ons lewe is kort en ons moet die tyd wat ons oor het optimaal benut en goed wees vir mekaar en ander.

Tuesday, April 3, 2012

Reen, reen lieflike reen!

Vanoggend toe ons wakker word is die wereld sopnat rondom ons. Uiteindelik na die drukkende hitte van vyf dae bars donderstorms, blitse en baie tropiese reen uit. Waar ek nou sit en tik in die Peach Blossom restaurant kyk ek uit op berge en palmbome, maar al wat ek kan sien is 'n gordyn van water. As dit hier reen REEN dit hoor! Nou verstaan ons hoekom daar twee sambrele in die kamer was. Dit sous! Maar dit is so welkom en koel dat ons dit baie geniet. Als wat ons vandag wil doen is onderdak, so die reen sal ons nie pla nie. Ek het bespreek vir 'n Thai cooking class by die Cooking School in Kata. Hulle kom my by die hotel oplaai om 13:45. Corne wil 'n "fruit carving" klas doen wat hier in ons hotel aangebied word deur die sjef van Peach Blossom Restaurant. Dit lyk ongelooflik en sy sal 'n kerf mes en sertifikaat kry na die tyd.

Maar laat ek julle eers van die afgelope twee dae vertel. Dit was ongelooflik!

2 April 2012

‘n Lui-lekker dag by die hotel...

Vandag doen ons niks nie. Geen mens kan teen ons spoed aanhou toer vir meer as 5 dae nie en vandag geniet ons die talle swembaddens en fasiliteite van die hotel. Hier is vier swembaddens by ons hotel en twee restaurante. Ons trek sommer swembroeke onderaan ontbyt toe en geniet ontbyt by die Peach Blossom Restaurant by die boonste deel van die hotel. Dis ook hier waar ons die gratis wifi kry. (Foto)


Die personeel sit die jacuzzi spuite in die swembad aan en dit raak al hoe lekkerder. (Foto) Later is ons voos geswem en klaar met die son en sit af na ons aircon kamer toe om te gaan rus. Ons gaan vanaand saam met Heather eet. Sy het op ons toer na Phi Phi eiland gese sy gee nie om om alleen te toer nie, maar aandetes is vir haar sleg, so nou kuier ons saam met haar. Sy kies ‘n restaurant naby aan haar hotel waar sy ook die vorige aand baie lekker geeet het en ons is "game". Ons begin 17:30 al wandel om haar 19:30 te kry, want dit is uiters warm en humied en ons wil stalletjie vir stalletjie loop en tussenin by elke mini mark inloop vir aircon.

Ons kom ook af op ‘n plaaslike 'food fair' en selfs nog snaakser groente, vrugte en gediertes. Op die foto sal julle die kokkerotte sien wat hulle eet. Ek kan dit nie glo nie. Ons sien en proe ook nuwe snaakse vrugte waarvan hulle nie ‘n engelse naam het nie en die thaise naam onuitspreekbaar is vir ons. Ons koop twee flieks langs die pad: Iron Lady en Money Ball vir R15 elk (60 baht). Dis definitief afgetape en vals, maar ons kan nou nie langer thaise TV uitstaan nie. Ons het selfs ‘n stukkie van “shrek” en “friends” in ‘n swak thaise vertaling besigtig!





Dis lekker om vir Heather te sien. Sy het per ongeluk in die son aan die slaap geraak en is seer gebrand. Ons stap na Mama Restaurant en alles lyk wonderlik. Ons bestel twee voorgeregte elk en deel als om alles te proe.  Thaise kos is regtig lekker. Ons doen ook Vietnamese spring rolls en witwyn van Chili. Daar is twee wit wyne op hulle hele spyskaart. Die een van Chili (Ramirana Sauvignon Blanc) en ‘n Douglas Green van SA. Corne vra vir die kelner hoe die SAse wyn smaak en sy is heel eerlik deur te se sy weet glad nie, maar die Chili een is lekker. Ons oortuig haar toe dat SAse wyn wonderlik is en dat sy dit enige tyd kan aanbeveel. Sy voel toe baie sleg toe sy hoor ons is van SA...

Die ander geregte was Thai satay pork (met grondboontjiebotter sous), gemengde vleis voorgereg met vis, vark en hoender, Larb Gai, Andaman Seafood Salad en Rosti Sandwich. Daar is ook ‘n gratis slaai buffet om jouself by te help. Hulle is groot op komkommer. Nie ons engelse komkommers nie, maar daai regte komkommers wat ons geet het as kinders. Dis regtig lekker. Vir nagereg doen ons Banana Fritters (die beste!), Bua Loi Num Khing en Crepes Suzette. Die onuitspreeklike een in die middel is sesame dumplings in gemmer sous. Nogal okay as jy verby die slymgevoel gekom het. Die hele ete, alles ingesluit van wyn tot nagereg kos ons R125 elk. Heather het aangedring om die wyn te betaal want Australiese dollar is 26 baht op elke dollar terwyl ons maar 4 vir ‘n rand kry! (Fotos)











Ons vind dit snaaks dat daar geen aircon in die restaurant is nie, net ‘n waaier of twee, maar die klein badkamertjies het groot aircons in. Raai hoeveel keer moes ons ‘n draai loop net om te oorleef?

Oppad terug geniet ons die naglewe in die straatjies. Dis baie veilig hier en alles is baie laat oop. Dis so warm dat almal laag le in die dag tot omtrent 18:00 en dan begin alles weer lewe.

Heather werk vir ‘n Australiese telekommunikasie maatskappy wat fokus op die Ooste. Sy moet in haar werk daagliks met China, Japan, Singapore en Malaysia skakel en deel met ons haar ervarings van die Ooste. Wat ek glad nie geweet het nie, is dat Australie Japan sien as hul naaste groot ekonomie en daarom leer die kinders in skole in Australie Japanees as tweede taal. Ons leer ook van die Australiese kultuur en hul uitkyk op die wereld. Dis baie interessant.

3 April 2012

“Ko kung ka!” Dit beteken "hallo" in Thai en dis wat hoe 'n vrou groet. 'n Man se weer iets anders.

Vandag was die beste nog! Ons was terug op Win Chawin se taxi vir die hele dag en het in Chalong en Rawai (spreek uit: Lawaai) gaan rondloop. Vandag ry Heather ook saam met ons. Haar ma kom more-aand Phuket toe om nog 5 nagte saam met haar te toer en vandag is ons laaste kuier saam. Haar ma kom vir ‘n vriendin se 50ste verjaarsdag. Dis hoe die Australianers dit doen!

Ons eerste stop vanoggend is ‘n uitkykpunt oor Kata baai. Dis pragtig. Daar is ‘n vrou wat ‘n see-arend aanhou en mens betaal 100 baht (R25) om hom op jou arm te laat sit. Hier is amper geen werkloosheid hier nie, want almal verkoop iets, of dit nou ‘n olifantrit, ‘n arendvryf, ‘n tradisionele stukkie kos of wat ook al is. Hulle is goeie entrepreneurs.






Daarna stop ons by die olifant-ritte en voer die klein olifantjies met piesangs. Daar is twee peuter olifante. Die kleintjie wat ons voer is een jaar oud en baie cute. Hy blaas deur sy neus as hy naby mens se gesig kom en julle kan self aan die uitdrukking op my gesig oordeel oor die resultaat! Van Corne wou hy sommer ‘n happie vat.

Chalong village is Win se tuisdorp en hy ken die area goed. Ons vereistes is maklik. Ons wil na die spa gaan, die tempel sien, die cashew neut fabriek besoek, iets eet en die uitkykpunte besoek. Die spa waarheen ons gaan is Tran Tara Spa en is baie grand, maar met beter pryse want Chalong is nie so op toeriste ingestel nie. Ons al drie kies dieselfde pakket en dit sluit in 30 minute in die stoomkamer en jacuzzi, 1 uur thai massering en 1 uur aromaterapie massering. Corne en Heather kies die Jasmyn olie terwyl ek vir die suurlemoen olie gaan. Ons word al drie in een kamer masseer deur drie maseuses. Hulle is regtig goed. Die Thai massering sluit ook rek en strek in en hulle klim letterlik bo-op jou om genoeg drukking toe te pas.

Ons het eers ‘n yskoue lappie en gemmertee in die voorportaal gekry en toe is ons begelei na die vroue ruskamer waar ons elkeen ‘n locker gegee is vir jou klere. Jy kry slippertjies en ‘n sarong om om te draai. Toe is ons na die stoomkamer vir 15 minute en die jacuzzi vir 15 minute. Ons moes noodgedwonge vinniger die jacuzzi verlaat as gevolg van ‘n Chinese inval, en toe is ons na ons massage kamer. Twee ure later en vry van enige stres is ons begelei na die teekamer waar ons heerlike gemmertee en alomteenwoordige pynappel en waatlemoen bedien is.





Toe is ons na die tempel in Chalong. Dis die grootste Buddiste tempel in Phuket en op die heel boonste vlak is ‘n snaakse glas sirkel waarvoor almal neerkniel. Ons vra in die motor vir Win en hy verduidelik dat dit een van Buddha se bene is wat hulle van Sri Lanka af gekry het nadat hy dood is. Nou aanbid almal dit. Die tempel is verguld deur en deur en oral kniel mense voor baie snaakse beelde. Ons was maar vinnig in en uit.




Toe vat Win ons na Lam Thalay Seafood Restarant op die see met ‘n uitsig op Lone Island.  Die naam beteken seebries en dis werklik koeler hier. Ons het net gesit toe sak daar ‘n heerlike bui reen uit. Ons bestel twee voorgeregte om te deel. Vark kaiings en garnale. Vir hoofgereg doen ek Garnale in ‘n heerlike Tamarind sous en Corne s’n is seekos stirfry in green curry met coconut melk bedien in ‘n coconut. Heather doen gestoomde vis wat heerlik gelyk het.

Toe kom die verrassing van die dag en ons besoek ‘n cashew neut fabriek. Ons was baie moeg en het nie veel verwag nie, maar wow! Buite in die tuin staan ‘n cashew boom met vrugte. Die lyk soos rooi en geel soet pepers met ‘n neut aan die bo-end. Elke vrug dra net een neut. Wanneer dit ryp is, breek ‘n vrou per hand elke neut oop en dan droog hulle dit en verwerk dit in allehande geure en produkte. Daar is tot sportdrankies, cocktails en cashewneutsap! Ons is elkeen met die nodige inkopies daar uit. Dit was baie interessant.




  

Sunday, April 1, 2012

Phi Phi Eiland, Phuket, Thailand


1 April 2012

Phi Phi Eiland...

Dit begin nou baie moeilik raak om te besluit watse dag is die lekkerste. Elke dag het sy eie heerlikhede en die pret hou net nie op nie. Vanoggend moes ons vroeg opstaan en ontbyt eet, want ‘n toer maatskappy het ons kom haal by ons hotel om 08:15. ‘n Baie fancy bussie met allerhande modifikasies wat in SA maklik kitch genoem sou kon word. Ons is oppad Chalong hawe toe, want ons vertrek Phi Phi Eilande toe.

Goeie raad van Andre Smit het verseker dat ons vir ‘n derde van die oorspronklike prys op die boot is. Ons word aangemoedig om elkeen ‘n seesiek pilletjie te vat (word verskaf) en ek vat maar een vir die span. Ons ry met ‘n vinnige motorboot wat sestig mense kan vat en met 4 groot engins werk. Jeremy is in beheer en hy het ‘n span van omtrent 6 helpers wat alles doen. Ons kry flippers vir 100 baht en ‘n snorkelbril gratis. Dis ‘n baie mooi dag en ons is reg met hope sonblok en ‘n groot hoed.

Ons stop by ongeveer 6 eilande deur die dag en swem, voer apies, snorkel, eet en hang rond in die warm helder seegroen water. Die vissies is pragtig helderkleurig. Ons sien mooi snaakse voels ook. Dis ‘n dag van baie pret en plesier en regtig heerlik! Ons ontmoet vir Heather van Australie en kuier heerlik. Heather: This paragraph is for you: Thank you for your kindness. It was so nice meeting you. Enjoy your time in Phuket and especially your dinner with us tomorrow night.





Die eerste eiland wat ons besoek het was Maya eiland waar die fliek "Beach" geskiet is met Leonardo de Caprio.

Ons kry ook twee ander mense van SA (Durban) op die trip.

Ons kom omtrent half 6 terug by ons hotel en val sommer weer in die swembad by die Mango Tree. ‘n Singha bier gaan goed af. Na ‘n stort gaan ons vir aandete in die Peach Blossom restaurant. Ons kry so warm dat hulle vir ons ‘n spesiale waaier opsit. Phuket se humiditeit is nie grappies nie! Dit bly warm dwarsdeur die dag en nag. As dit nie vir die aircon in ons kamer was nie, sou ons nooit kon slaap nie.

More beplan ons ‘n niksdoen dag in ons hotel. Ons gaan van een swembad na die ander rondhang! 

Saturday, March 31, 2012

Vreemd, vreemder, vreemdste


Wat is die snaakste ding wat jy al bereid was om te eet? Ek is maar ‘n sissie as dit by gediertes kom. Kyk, ek kan brand hanteer en wasabi by sushi plak ek dik op. Ek is ook glad nie vol fiemies nie. Ek is een van vyf dogters en my ma het ‘n reel in die huis gehad dat elkeen net een fiemie mag he. Dis al manier hoe jy ‘n groot gesin deur ‘n klein begroting kry. Elkeen van ons moes sommer vroeg in die jaar verklaar wat hierdie jaar ons fiemie is en die res moes jy alles eet. As kind was tamatiesop my fiemie en vir afwisseling spinasie en pilchers in tamatiesous. Vir laasgenoemde gril ek nou nog… maar die res eet ek alles. Of so het ek gedink voordat ons in Thailand aangekom het!

Ons het ‘n ongewone, maar wonderlike dag beleef. Ons het ontbyt geeet by die tweede van ‘n paar restaurante in die hotel, nl Peach Blossom. Daar is gratis internet toegang en ‘n baie mooi swembad. Die kos was anders as die in die onderste restaurant en daar was selfs frensch toast en marmalade konfyt. Ek is mal oor Earl Grey tee en drink amper niks anders by die huis nie. Voor my toer het ek besluit ek gaan nou geen earl grey tee saambring nie, want ek moet hierdie nuwe kulture beleef, maar ek het nie rekening gehou met hoe ek dit sal mis nie. Hier is nerens earl grey in sig nie. Vandag het ek vir my lemon grass tee gekoop om uit te probeer.

Toe is ons saam met Mnr Win Chawin se taxi diens na Patong om daar rond te loop van 10:00 – 16:00. Patong is die hoof strand van Phuket. Dit is oorbebou met baie mense orals. Ons het stalletjies besoek, hul supermark deurgeloop omdat daar aircon in is en vir ‘n uur se voet massering gegaan by Marin Massage. Ons het elkeen vir ons ‘n goeie bree rand hoed gekoop en toe gaan swem. Die toilette van Patong strand is net te “groce” om hier te beskryf en nadat ons vanoggend vroeg 5 bht betaal het om dit te gebruik, het ons net nie kans gesien om dit weer te besoek om ons swembroeke aan te trek nie. Toe maak ‘n boer ‘n plan en ons trek aan agter ‘n boom tussen die besigste straat in Phuket en die besigste strand in Phuket. Die enigste probleem is dat hulle bome ‘n skrale palmboom is en ons weerskante uitgesteek het! Gelukkig het almal vir die topless 70 jarige tattoo bedekte tannie oppad see toe gekyk en ons was in ons swembroeke voordat jy kon se mes!






Later het ons ‘n McFlarry by MacDonalds geeet (ja hier is wraggies een met aircon) en nog tyd doodgeslaan tot Win ons kom oplaai het. Ons probeer ‘n klappervrug (coconut) en dis verfrissend en iets nuuts. Hulle kap hom oop met ‘n mashettie dat dit soos ‘n glas met ‘n dekseltjie lyk en gee vir jou ‘n strooitjie om die klappermelk te drink. Dis yskoud. Ons sal hom uitdroog op ons stoep by die hotel en die klapper ook eet.


Die grootste vorm van vervoer hier is motorfietse en toek-toeks. Ons het nog nie een fiets gesien nie. Win se dis omdat dit so warm is. ‘n Toek-toek is ‘n klein miniatuur kombi wat gemodify is om ‘n lorrietjie te wees.   

Win het oulike idees oor wat ons alles kan sien en stel voor dat ons die grootste juwelierswinkel in die wereld besoek naby Phuket dorp, ‘n toer van die perelfabriek doen en dan die plaaslike nagmark by Phuket dorp besoek. So gese, so gemaak. Beide die juwelierswinkel en die perelfabriek is baie interessant en mooi, maar uiters duur en ons koop niks nie.

Nou moet ek vir julle se dat die nagmark ‘n perd van ‘n heel ander kleur was! Sjoe! So iets het ek lanklaas beleef. Daar is eindelose stalletjies met klere, kos, kaggel-julle-weet-wat en vele meer, maar dis veral die Thailandse kos wat ons monde laat oopval het. Daar is heel ander vrugte as wat ons ken soos Maplan (lyk soos ‘n langwerpige appelkoos, maar smaak meer tropies soos ‘n mango wat ‘n perske identiteitskrisis het), Jack Fruit en Dragon Fruit. Ons drink smoothies met verskillende vrugte en selfs tamaties in. Dis heerlik en yskoud.



Ander goed het dieselfde name as by ons, soos pannekoek, maar dis heel anders. Dis reghoekig, omtrent 4cm by 2cm en krispi met ‘n soet lagie. As ek nou eerlik is sal ek erken dat daar net mooi niks aan hulle pannekoek is wat soos ons sin lyk nie.

Die vark-kaiings en gedroogte uie stukkies op sticky rice was fantasties en die spring rolls het ons ete afgerond. Toe ons die varkgereg koop vra ons ewe mooi vir die tannie of ons ‘n vurk kan kry, maar sy is erg verontwaardig en beduie dat mens dit definitief met jou hande eet! In die kar vertel ons vir Win van hoe ons die vark kaiings geniet het. Hy is heel opgewonde en se: Oh yes: “sikilai” (sticky rice).







Maar daar was verskeie goed wat net nie die 'cut' kon maak nie. Die ergste was die hope vis en seekos wat in die hitte oral rondle. Sushi by die rye vol, en goedkoop, maar ek het net nie kans gesien om sulke warm vis te eet nie. Seekat is volop en hulle braai dit sommer op so ‘n stokkie oor die vuur. Daar is baie heel visse op stokkies wat gebraai word. Die dumplings en sous bredies is orals, maar alles brand. Daar was ook vis biltong in alle vorme en baie vars en gebraaide groente. Sommiges herken ons en die res is nuut vir ons. Daar is drie kleure mielies, bone wat so groot is soos ‘n uitgegroeide kobra, snaakse olyf-agtige goed en so baie meer. Vark is groot in Thailand en daar is baie verwerkte varkvleis op stokkies te koop. Daar was ook eend eiers en kwarteleiers wat hulle nege per bakkie verkoop. Soetgoed bly ook nie agter nie. Daar is verskeie koekerigheid, donuts, suiker-roet en lekkers te koop. Ons oorhoofse nasmaak van die mark is ‘n helder veelkleurige mengelmoes van vreemde smake en geure!

Die mark het ons stoutste verwagtings oortref en ons het baie nuwe ervarings beleef. Win het goed gedoen!

Vanaand is ons moeg maar erg dankbaar vir die heerlike tyd wat ons al hier kon gehad het. Ons het vandag meer as 10 000 tree gestap. Ek het ‘n pedo-meter saamgebring en wil 1 miljoen tree stap in 93 dae. Sover is ons goed oppad.

More gaan ons die gewilde Phi Phi eiland besoek met ‘n motorboot en snorkel. Dit klink baie belowend en ons is baie opgewonde!

Friday, March 30, 2012

'n Dag van eerstes


29 Maart 2012

Ons eerste Thai massering het sommer al op dag een gekom. Ons was oppad af om die straatjies buite ons hotel te gaan ondersoek, toe stap ons verby ‘n lugverkoelde masseringsplek en net daar doen ons ‘n voetmassering van 30 minute vir 200 baht (R50). Dit was uit die boeke uit. Hulle werk met hulle hande en ook met ‘n skerperige swart plastiek stokkie waarmee hulle druk en pluk en masseer. Vir geswelde vliegtuigvoete was dit net die ding. (Foto) Hier sal ‘n mens baie betaal om in aircon te wees. Ons het gelukkig aircon in ons hotelkamer, want Thailand is vrek naby die ewenaar. Dit is nie so sonwarm buite as wat die drukking so hoog is nie. 89% humid! Ons sweet liters uit.



Laat die eerste aand swem ons in een van die hotel se vier swembaddens en drink ons eerste Thai bier (Singha). (Foto) Die mense hier praat baie min engels en selfs al praat hulle engels is dit baie moeilik om hulle te verstaan. Vanoggend het ons besluit hulle praat soos doofstom mense in SA. Hulle artikuleer niks nie en ons hotel se naam “Peach Hill” kom uit soos “eee iii”. Hier moet mens fyn luister!


Ons kyk Thai TV en sien ‘n stukkie van 007 se fliek met Thai onderskrifte en die ATP 1000 tennis. Nadal speel teen Tsonga. Een stel elk. Dat ek nou wraggies na Thailand moet reis om vir Tsonga te cheer! Ek eet vanaand thai noodles vir 13 baht. (Iets soos two minute noodles in SA) Daar is geen engels op die pakkie nie, maar op die prentjie lyk dit soos shrimps. Heerlik dink ek! Heerlik WARM weet hulle! Na die tyd sien ek die prentjie wys die seuntjie se tong hang uit en sy oe traan. More sal ek beter na die prentjies kyk. Die oulikste was die opvoubare plastiek vurk wat saam met die noodles gekom het.

Later lui die telefoon in ons kamer… Dis Henko uit China wat net wil welkom se in die Ooste! Wow, dis lekker om ‘n bekende stem te hoor.

30 Maart 2012

Na meer as 9 ure se heerlike slaap, is ons reg vir ons eerste Thai ontbyt en ons was nie teleurgesteld nie. Baie interessante dinge om van te kies. Op die foto sal julle net die vark worsies en die aartappels in paprika herken.  Die res is lang boontjies in bacon en fyngekapte olywe, thaise rys met worsies en wortels, gemengde groente, sultanas, dumplings met rys. Jy kan omtrent agter elke word “met rys” byvoeg want als hier word van rys of met rys gemaak. Corne het selfs ‘n gesigsroom gesien waarvan een van die hoofbestanddele rys is. Die res van die ontbyt bestaan uit baie lekker vrugte wat hier baie volop is. Hulle kiwi’s lyk heel anders as ons sin, maar is baie lekker. Hier is ook pynappel, papaja, mango’s en alle tropiese vrugte in oorvloed.


Na ontbyt sit ons af Kata strand toe om te gaan swem. Dis heerlik! Kata strand is een van die drie strande in Phuket wat die meeste skade gekry het tydens die Tsunami op 26 Desember 2004. Daar is 250 mense in Phuket dood en 5300 mense altesaam. Ek leer vandag dat Phuket die grootste eiland in Thailand is. Dit is gelee in die Andaman see in suidelike Thailand en met die hoofland verbind met ‘n pad. Phuket beslaan 570 vierkante kilometer en die hoogste punt bo seevlak is maar 529 meter. Dis ‘n bergreeksie in die weste van die land. 60% van die eiland word bedek met woud, rubber en palmolie plantasies. Thailand is die grootste produseerder van rubber in die wereld. Hulle voer 90 biljoen baht se rubber uit elke jaar. Daar is amper 4 baht in ‘n rand. Die rubber word meestal uitgevoer vir die maak van motor en vliegtuigbande.

Die seewater is warmer as by ons. Meer soos by Zanzibar. Daar is geen branders nie – als is spieelglad. Die tsunami moes iets verskrikliks gewees het. Ons “huur” vir ons ‘n sambreel en twee stoele (vir 200 baht) vir die oggend en val plat om als te besigtig. En is hier nie sites van alle shapes en sizes nie! Ons verkyk ons. Daar word letterlik ‘n ander taal onder elke sambreel gepraat. ‘n Oom van by die 70 paradeer verby met ‘n g-string. Hy laat dit nogal goed lyk! (Foto) Die grootste hoeveelheid inwoners van Thailand is Buddiste. Ons hoef nie ver te gesoek het om in Boeddha vas te loop nie. Ons het haar sommer op die strand gekry (sien foto). Met verskoning aan enige Boeddis wat dalk hierdie lees.



Interessant is die motorboot-speelgoed wat hier te huur is. Elke “local” het ‘n boot, jetski, of houtboot wat per uur verhuur word aan toeriste. Die “banana boat” lyk die lekkerste. Dis ‘n lang geel opblaas ding wat soos ‘n piesang lyk wat hulle agter ‘n skiboot aansleep. Daar kan vyf mense op die “piesang” sit en dit beweeg teen baie hoe spoed. Ek het dit vir ‘n vlugtige oomblik oorweeg en toe na die sny op my linkerbeen gekyk en rustig my plek onder die sambreel ingeneem. Net ‘n donkie stamp sy kop twee keer…

Hier is 9 Munisipaliteite in Phuket, maar hulle het dringend aandag nodig. Natuurlik het dit niks met my te doen nie. Phuket is in die 17de eeu eers Junkseilon genoem en was bekend as ‘n bron van tin met wie Indie en ander oosterse lande handelgedryf het.

Vanaand het ons die baie gesogte Fantasea Show gaan kyk. Hulle het ons by ons hotel kom oplaai om 17:00 en in ‘n aircon bussie vervoer vir 1 uur noord verby Karon strand en Patong strand. Patong is die hoofstrand in Phuket en is baie besig. Miskien te besig. Ons is bly ons verblyf is bietjie uit die geharwar. Die show is net onbeskryfbaar. Ons mag nie fotos of videos binne neem nie, maar laat ek probeer verduidelik: Dit is ‘n properse verhoogstuk met tientalle mense en nog meer diere op die verhoog. Daar is 16 olifante, yaks, bokke, duiwe en hoenders! Die storie gaan oor ‘n prins en sy olifant wat die kwaad oorwin en vrede herstel. Daar is ontploffings, sweefartieste, lasers, musiek, dans, sang, kulkunste en vele meer. Mens weet nie waar om oral te kyk nie. Dit was ‘n fees!




Binne die plek is ook ‘n “jungle adventures” en ons sien wit tiere en ander diere eie aan Thailand wat ons nog nooit gesien het nie. Ek heg 'n video van die tiere aan. Hoop julle kan dit oopmaak. Dit alles nadat ons ‘n Thaise buffet gaan eet het. Snaakse, snaakse en baie snaakse disse. Ons het by die poeding begin (life is unpredictable in Thailand!), maar Corne reken die pienk balletjies smaak soos vis-oe. Die chocolate rum bolle was baie baie lekker.



Ons het vandag vreeslik geniet! Die swem op Kata strand voel baie ver terug. Nou moet ons gaan slaap, want more gaan propvol avontuur wees.