Saturday, October 12, 2024

Frankfurt - ‘n deurmekaar maar interessante stad

 Ons vliegtuig uit Bordeaux het 35 min laat opgestyg en steeds op tyd geland. Dit gee vir my ruim 6 ure op Frankfurt lughawe wat ek buite in die stad kan verken. Met dié plan in gedagte het ek reeds baie huiswerk op google gedoen en weet watse trein na watse stasie… en daar gaan ek. Vandag is die trein van die lughawe af na die Hauptbahnhof (hoofstasie) gratis. Dit is Saterdag en die groot Frankfurt stadion is ook op hierdie lyn en daar is iets groots aan vanaand. Ek weet nie wat nie, maar geskat aan die ouderdom van die bywoners en hul kleredrag, dink ek dis iets tussen ‘n rock konsert en ‘n fantasie-vertoning. Die trein is VOL. Dit vat 11 minute toe staan ek op die stasie en begin soek na die rooi busse. Daar is ‘n groen en ‘n grys lyn waarop ek besluit het. Daar word so gebou rondom die stasie dat niemand weet waar hulle is nie. Uiteindelik google ek hulle kaart en stap een stasie rivier se kant toe. Op ‘n hoek met ‘n rooibuspamflet in sy hand, staan Winston van Jamaika. Ek maak vriende en hoor dat hy ook wag vd bus. Ons wag ‘n verdere 48 minute saam sittende op ‘n blombak en gesels ou stukke. 

Uiteindelik kom die bus en ry verby sonder om te stop! Ons swaai ons arms en gaap die bus agterna in stomme verbasing. 15 min later kom die volgende bus. Die tannie wat bestuur is moedeloos oor als wat vandag in die stad aangaan. Bo en behalwe die bouery oor 10 blokke met verkeerontwrigtings is daar ‘n groot protes aan die gang. Ek wil nog google waaroor dit was, want ek kon niks verstaan nie. Het gelyk soos turkse mense. 

Ons besoek 13 top besienswaardighede en leer baie oor die stad. Die inligting op die rooi bus is uitstekend. 

Hier is ‘n paar fotos:

Die Euro Building. Interessant genoeg al so genoem lank voordat die Euro geldeenheid tot stand gekom het. Dit is al in die 1970’s gebou en huisves die Sentrale Bank van Europa. 


Die Main River vloei deur Frankfort. Die rivier ontspring in Bavaria en smelt saam in die Rynriviervallei anderkant Frankfurt. 


In Frankfurt is al die taxi’s VW Tourans. Okay dis ‘n vreemde kleur. 


St Paul’s Cathedral, Frankfurt. 









Hierdie tweeling torings se name is debiet en krediet. Dit huisves die Deutche Bank. 



Winston van Jamaica. 



Hauptbahnhof





Na meer as 16000 treë is my voete nou seer. Ek gaan lekker slaap op die amper elf ure se vlug na Johannesburg. 
 


No comments:

Post a Comment