Ek was die hele nag op ‘n lughawe besig om my tas te soek.
Carina, jy was saam met my daar en het geduldig by jou tas sit en wag. Ook
vriende wat ek lanklaas gesien het en selfs een saam met haar ex-man het hul
verskyning gemaak. Nodeloos om te sê is die tas steeds soek. Asof ek nou
kan bekostig om moeg op te staan in die oggend! Gister was ‘n vol dag. Ons was
by die werk besig met essensiële dienste. 241 van Bergrivier Munisipaliteit se
personeel lewer essensiële dienste aan die publiek tydens die Lockdown-periode en
agter die skerms moet aankope, uitgawes, inkomste en alles aangaan soos normaal.
Gister kry ons verdere skenkings vir die haweloses (baie dankie almal!) en trek
ek kontrakte op vir elkeen om te verseker dat hulle weer ons persele sal
verlaat na afloop van die 21 dae. Nie
maklik nie.
Ook steeds talle navrae oor wat gedoen mag word en wat
nie. Een van die winkels in ons
regsgebied moet aangespreek word want hulle stuur publiek huis toe wat daar
aankom sonder maskers. Ai. Die oorvloed
inligting maak almal deurmekaar. Op versoek van die Polisie verkort ek die
handelsure van huiswinkels en spazashops.
Dis net te moeilik om hulle te kontrolleer na donker in die aand. Ons
Polisiehoof in Porterville bel my toe sy die bevestiging daarvan kry en sê
sal gaan my oopmond soen as die virus eers verby is ;-)
Gistermiddag kon ek darem met my bure aan die bokant oor die
straat staan en gesels terwyl ek tuin natspuit. Was heerlik! Ons beplan sommer ‘n
straatbraai vir wanneer alles verby is.
Vandag is dit ons en kwarentyngebiede. Saam met Departement van Gesondheid moet ons
in al ons dorpe plekke identifiseer wat gebruik kan word vir wanneer hospitale
nie meer die lading kan hanteer nie. Vir mense wat simptome het, maar nie siek
genoeg is om ‘n hospitaalbed te regverdig nie.
Weskus Distriksmunisipaliteit bevestig dat die Departement van Sosiale
Ontwikkeling verantwoordelik sal wees om die mense in kwarentyn kos te gee. Die
hoe moet nog uitgewerk word.
Vanoggend vroeg hoor ek al die wetstoepassingsbakkie in wyk
4 Piketberg rondry en oor die megafoon mooi vra dat mense vandag net swartsakke
sal uitsit en die herwinningsakke sal los. Wat ‘n wonderlike span mense het ons
nie. Gister sit een van ons wetstoepassing-manne langs my by my lessenaar (op
die oorkantste hoek – ons is versigtig) en lees die lang lys name met ID
nommers vir my af vir elke kontrak. Hy sukkel met die Xhosa name en ek help hom
uit my dae in die SANW se Groep 40 in Khayalitsha. So gesels ons sommer oor sy
lewe en myne en dink ek later: wanneer sou ek en hy nou ooit langs mekaar opgeëindig
het langs ‘n lessenaar vir ‘n geselsie as dit nie vir die virus was nie. ‘n Mooi geleentheid.
Die hoogtepunt van my aand gisteraand was om met my hele
familie ‘n zoomgesprek te hê. Ons het eers almal na die President
geluister om 19:40 en toe gepraat. Die
President se boodskap is gerustellend en help ons, maar dit bring ook nuwe uitdagings
wat ek nog nie weet hoe ons dit gaan implementeer nie. Die kwarentyngebiede is
een daarvan. Wie gaan vir hierdie mense sorg?
Hoe sit jy iemand wat reeds griepsimptome wys in ‘n tweeman tent op ‘n
sportveld? Ons het nog baie wysheid nodig.
Ons sal dit van God bid.
Zoom werk lekker en gee gratis 30 – 40 minute gesprekke en in
‘n COVID-oomblik gee hulle vir ons nog tyd pasella aan die einde.
Ek moet net gou eers die baas van die moontlike
kwarentynperseel in Velddrif bel en reëlings tref. Nou terug… Dit bly
fantasties hoe almal bereid is om te help en om saam te werk. Dankie SA.
Ek was al in ‘n paar benoude situasies op my toere deur die wêreld
en elke keer beindruk die SAners my. Ons ken van resilience, ons ken van
aanpas, uithou, saamwerk as dit moet en die meeste van ons se harte en se hande
is oop en bereidwillig. Ek onthou Desember 2016 toe ek gestrand gesit het op ‘n
lughawe in Abidjan in die Ivoorkus na ‘n sandstorm in Wes-Afrika SAL verhoed
het om sy vlug SA210 (dis soos jou weermagnommer, jy vergeet dit nooit nie)
vanaf Washington Dullies voort te sit. Die oorspronklike plan was om brandstof vol
te maak in Dakar, Senekal, maar met die destydse moeilikheid daar met Liberië
mik hulle toe vir Accra in Ghana en land ons 860 myl van roete af op Abidjan as
gevolg van die sandstorm. Dit sou twee
dae vat saam met klomp verskillende lande se mense om die krisis te oorleef.
Daar het ek gesien Ghanese is die ergste. Kan niks vat nie en het geen
aanpassingsvermoë nie. Ek het toe reeds besluit as ek ooit eendag op ‘n
eiland moet strand saam met hulle is daar net een uitweg… Eet hulle eerste op
of stem hulle eerste uit – afhangende van die storie waarin ons ons bevind. Ek
vat enige dag eerder SAners met ons lekker humorsin, ons uiterste geduld in die
gesig van moeilikheid. Gister was weer so ‘n bewys. Daar sit ‘n lang ry van
minstens 50 mense buite op stoele voor ons kassiere in Piketberg. Ons laat 2
meter tussen elke kliënt toe en die wag is lank, maar elke persoon is gemoedelik,
geduldig, vriendelik en laat nie toe dat die krisis hulle onderkry nie. Almal
laat toe dat hul hande gespuit word. Ons
het so baie om voor dankbaar te wees.
Twee verdere mooi stories gebeur gister… Solly Kayster van ons parkespan bel my en vra
of hy nie asb uit isolasie kan kom om die saadjies te gaan natgooi wat hy orals
in die dorp geplant het nie. Hy wil
hulle so graag sien groei. Ongelukkig
toe nou nie, maar ek bied aan om die spuiters oop te draai op die Munisipale
gronde. Later praat hy my stap vir stap deur die oopdraai-proses, want dit is
nie net eenvoudig nie. Hy is so kinderlik opgewonde oor sy plante wat sal bly
leef, dat ek dit baie geniet het. Solly,
ek sien daar word reën voorspel by ons vir Sondag. Die Here sal self na jou
saadjies kyk.
En in Porterville vat ‘n kollega vir die heel kwesbaarste
gesinne elk ‘n kospakkie. By die een huis sê die Tannie hulle kan maar eers
by haar verbyhou, sy en haar gesin het nog genoeg (my kollega kan sien die
kaste is uiters karig). Dit is vir
hierdie mense wat ons standbeelde moet oprig!
Hoe voel jy vandag? Hou jy nog moed? Waaroor is jy vandag
dankbaar?
Ek geniet ons mense se humorsin. En net soos julle kry ons gereeld grappies. Dis 'n SA ding. Ons hanteer harde tye met humor. Dis wie ons is.
Lekker dag vir almal. Bly veilig. Bly tuis.
Lief vir julle. Hanlie