Thursday, March 7, 2019

Ek het ‘n engel gesien. In Uganda.




Ons was bederf met eg-Ugandese geregte.








Victoria-meer






Badru se huis


Uganda se verkeer is onbeskryfbaar. 




Ons projek-poster met ‘n kort opsomming wat die verhaal help vertel.






Die Afrika vroue se rokke het my betower. 




Ons het kontak verloor in 2016. Ek en Badru Senkuba. Ek weet nie eintlik hoekom nie. In Oktober 2010 is ek Uganda toe deur Stellenbosch Munisipaliteit om te gaan leer hoe hulle armoede verligting doen sonder ‘handouts’. Baie van wat ek daar geleer het, kon ons intussen implementeer in Bergrivier Munisipaliteit met groot sukses. Onder andere om ‘n teenprestasie te vereis vir ‘grants’ en het ek met my eie oë gesien hoe dit ‘n hele gemeenskap se menswaardigheid verhoog.

Maar ek vertel van koers af. 

Badru...  Ek wou graag langer in Uganda bly in 2010 om te gaan “river rafting” doen op die wit nyl. As ek toe geweet het wat sou gebeur, sou ek dit nie gekies het nie, of miskien tog...  die wit nyl se oorsprong is in Jinja (80 km vanaf Kampala - maar minstens vier tot ses ure se ry op Ugandese paaie) en het die grootste stroomversnellings in Afrika.  Ek het nog altyd geglo as jou droom jou nie bang maak nie, is dit nie groot genoeg nie en ook hier het my droom my meer laat doen as waarvoor my hart kans gesien het.


Medi was die gawe Ugandees wat al ons goed gereël het. Op die Vrydagmiddag het die taxidiens ons toevallig (toe val lig) in die steek gelaat en het Medi gevra of ek kans sien om saam met ‘n vriend van hom te ry wat by sy ouers in Jinja gaan kuier vir die naweek.  My antwoord was simpel: as jy hom vertrou, vertrou ek hom.  En so ontmoet ek vir Badru Senkuba. Hy is ‘n sagte, skaam maar hartlike mens wat maklik lag en nog meer gee en dien. Soos ‘n wafferse toergids het hy my alles van Jinja gewys, vir ‘n bootrit op die Victoria meer gevat en toe afgelaai by my hotel vanwaar die rafting operateur my sou oplaai die volgende oggend.  

Ons moes twaalf rapids trotseer. Die rivier was groter en rowwer as enigiets wat ek al ooit gesien of beleef het en het ons roei-ekspidisies op die Oranje-rivier en Doring-rivier soos kinderkransdanse laat lyk.  Hierdie was ‘n perd van ‘n ander kleur. Voor elke rapid het die bootgids die roeiers voorberei vir wat sou kom en presies verduidelik wat jy moes doen. Elke stroomversnelling was anders. By party moes jy vashou aan die boot as jy uitval en in die stroomversnelling bly te alle koste, want die wit nyl wemel van krokkodille. By ander plekke moes jy die boot agterlaat en kant toe swem. Ons boot was suksesvol deur agt rapids en ons gids het bietjie braaf geword. Rapid nege is massief en hy couch ons daardeur.
Ons gaan laaste deur. Al die ander bote slaan om en jy sien net ledemate swaai soos mense beur om in die stroom te bly. My senuwees was gedaan. Toe ons gereed maak om te gaan skree ons leier: “And now for the waterfall” en draai ons boot se neus 90 grade na regs en vat ons by ‘n ses meter waterval af.  Onvoorbereid. Aardskuddend. Lewensveranderend.

In die tyd wat die boot in die lug hang, gaan my bene reguit. Iets wat nooit moet gebeur in stroomversnellings ry nie. 

Die geheim is om jou in ‘n bondeltjie te hou.  En toe ons boot die water slaan, breek die boonste 4 cm van my tibia in my linkerknie af.  Gelukkig het ek ‘n video bestel vooraf. Ek het net genoeg moed gehad om dit een keer te kyk. Mens kan die oomblik van impak op my gesig sien. Ek het agter langs die leier gesit en dadelik vir hom gesê my knie is gebreek. Sy reaksie was dat dit onmoontlik is. 
Die uitdaging is dat hulle jou nie kan aflaai nie. Daar is drie rapids oor vir die dag en jy sit deur hulle.  Wat volg is ‘n getuienis dat die Here totaal in beheer is, dat Hy alles bepaal en dat Hy sit op sy troon. 


Ek onthou min daarvan. Net dat ek baie kalm was, water uit my oë gestroom het van pyn sonder dat ek gedink het ek huil. Deon, die toeroperateur het my kom haal by rapid 12 en ek moes op ‘n kaal regtervoet meer as 350 vertikale meter uit die canyon uit spring tot by die bus. In die bus was pynpille in my handsak en ek het hulle vier vier gesluk.
Terug Jinja toe was meer as twee ure.  By die hotel was Badru.  Hy het ‘n bed gemaak agter in sy seegroen cresida en verskoning gevra vir elke pothole in die pad waardeur my gebreekte been moes skud. Iewers in die vier ure oppad terug na Kampala het hy ‘n hoendersosatie langs die pad gekoop en my gevoer.  

Sy vriend Julius is ‘n dokter en ons is reguit na die apteek in Kampala waar hy aan diens was en het ek die sterkste pynpille gekry wat hy kon oor die toonbank gee. By die hotel was geen kamers op die grondvloer nie en Badru en Julius het my letterlik afgedra na my kamer op ‘n vloer onder “reception”. Vandaar is ek die volgende oggend lughawe toe in ‘n rolstoel wat hulle gereël het.  
My huisdokter, Christa Domesle, se instruksie was duidelik: Jy vlieg reguit Kaapstad toe. Moenie by begin verbyskuif nie, moenie in ‘n hospitaal in Uganda of Johannesburg beland nie. Sy kry my voor Medikliniek in Stellenbosch.  My ouers het my op Kaapstad lughawe ingewag. My Pa het langs die rolstoel kom kniel en my hande in syne gevat en net gesê: dit kon ‘n “bodybag” gewees het. Vir my bergfietsloopbaan en bergklimloopbaan was dit. Vir die res van my was dit ‘n nuwe begin.


In 2011 het Badru sy prakties in Stellenbosch kom doen in maatskaplike werk en het hy via Stellenbosch Munisipaliteit by Aids in Action, Hospice en Legacy Hall in Kayamandi gewerk. Hyt by my aan huis gebly vir drie maande en ons het ure se gesprekke gehad oor die lewe. 


In 2015 was hy weer by my aan huis in Piketberg. Hierdie keer net as toeris.

Ek wou nie teruggaan Uganda toe nie. Het dit langtand gedoen. Maar ek moes.  Dit was ons laaste been van die 18 maande Sweedse ICLD program en ons moes ons projek gaan aanbied aan die borge en res van die spanne.


Dit was goed. Maandagaand laat weet ek Badru via facebook messenger dat ek in Uganda is. Hy antwoord binne minute en die volgende aand is hy by die hotel. Ure se verkeer trotseer. Ons voel soos naby familie.  Vanoggend kom haal hy ons om sy kantoor en huis te gaan kyk. Ek ontmoet sy vrou en twee dogters. 
Die jongste is net twee maande oud. 

Hy wil 8 kinders hê eendag. Hys nou 33 jaar oud, ‘n suksesvolle motorhandelaar, gesinsman en opkykmens in sy gemeenskap. Hy het hulle huis self gebou en weet van groot droom en dit in dade omsit. Hy sê hy het dit by my geleer. Ek voel klein en dankbaar. 

Ek het altyd geweet ons het ontmoet vir ‘n rede. Miskien is hy eendag president van Uganda as ek die president van SA is. Wie weet. 


Maar ek weet dit: nader aan ‘n engel het ek nog nie ontmoet nie. 

No comments:

Post a Comment