Tuesday, March 5, 2019

Vir die koffie-liefhebbers

Vandag was fantasties! Ons het so baie geleer! Dis goed om die ander vyf lande se deelnemers weer te sien. Hierdie is ons laaste samekoms in hierdie program. Dis ook ‘n bietjie hartseer, want ons het lewensvriende gemaak.
Ons durf die strate van Kampala aan en ry 90 minute oos oppad Jinja toe tot by Seeta om Nucafe (National Union of Coffee Agrobusinesses and Farm Enterprizes) te gaan besoek. Dis ‘n indrukwekkende model waar die kleinboere die hele value chain besit en nie soos in sommige projekte wat meer chains as value het nie.
Hier is 1,5 miljoen kleinboere wat aan Nucafe behoort. Ja julle het reg gelees. 1,5 miljoen! Daarom kan hulle skaal-ekonomie gebruik en die heerlikste koffie produseer en uitvoer. Selfs ek wat al 20 jaar geen koffie drink nie, moes vandag ‘n kapooch (alias Hans Linde) geniet. En dit was heerlik.

Kampala se strate is ‘n besonderse ry-ervaring. Oënskynlik geen reëls nie, maar almal hou daarby. Ugandese is geduldige, vriendelike mense en bestuurders. 

Elke span moes ‘n poster maak om die veranderingsprojek se storie mee te vertel. Ons is baie trots op ons projek en die groot impak wat ons kon maak in Porterville.


Nog ‘n houtkunswerk by ons hotel. 

Suid-Afrika aan die werk. Ons ander span is van Ulundi in KZN. 

Baie grappies op die bus terwyl ons ons vergaap aan wat by ons verbyflits. 

Die bestuurder en onder-bestuurder by Nucafe. Hul aanbieding was puik.

En vanaand kom groet Badru Senkuba my by die hotel. Hy was die engel wat hom oor my ontferm het in 2010 toe ek my been gebreek het met river rafting op die Nyl in Uganda. Intussen het ons goeie vriende geword en het hy my reeds twee keer besoek in SA. Die eerste keer vir drie maande. Hy bly 20 km van ons hotel af en het die verkeer trotseer om te kom hallo sê. En ons gaan net aan waar ons in 2016 opgehou het. ‘n Sagte siel met ‘n lieflike hart. Was wonderlik om hom te sien. 

Die Ugandese shieling is 260 op een rand. Hierdie is dus R192.

En hierdie R19,20.

Die kindertjies langs die strate het my hart gesteel. Hulle is vriendelike vet gesiggies wat maklik lag en graag waai. Gelukkig beweeg die verkeer so stadig dat mens ‘n hele interaksie kan hê.

Ek gaan vanaand lekker slaap. Diep tevrede en dankbaar. En diep vervuld omdat ek nog iets kon leer van die vreemde. 

No comments:

Post a Comment