Uiteindelik is ons in Brussels. Daar wag Frank Judo ons in. Hy is van die Vlaamse Afrikaanse stigting en het baie moeite vir ons gedoen. Hier verloor ons amper vir Frances. Die oor en oor verduidelik aan almal hoe n lughawe werk en wat jy moet en nie moet doen nie, het steeds n paar ore nie bereik nie. Iemand (natuurlik nou morsdood) wou baie gaaf wees en haal toe sommer ook Frances se tas van die wenteltassebaan af en stap doodluiters daarmee deur doeane en anderkant uit sonder om vir Frances daarvan te se. Toe wag Frances binne en ons en haar tas buite sonder enige manier om met haar te praat. Ek storm info toe en vra dat hulle n afkondiging binne maak, maar weet sy sal nie eers haar naam se uitspraak hier herken nie. Sy sal ook nie kom sonder haar tas nie. Uit desperaatheid probeer ek teen die stroom terugloop deur doeane. Jy hoor net alarms afgaan! Toe vat dit my die Naam van ons Here Jesus Christus uitspreek om haar te laat deurkom. Wel soos ek en julle weet, werk dit elke keer. Dankie Here!
Ons vertrek met n baie vol bus met tasse in elke paadjie na die klooster waarin ons almal bly. Dit is pragtig en word deesdae as n kunskonferensie sentrum bedryf. Ons kry ons kamers, draf deur die storte, eet heerlik en spring terug op die bus oppad na Aalst vir vanaand se optrede in die Liedekerk. Vandag is dit koud. Daai wat deur jou sny en waarvoor geen jas of serp help nie.
Die koor is nou besig om op te warm en ek en die koordokter Pieter Bruwer warm op in die kafee oor die straat wat wifi het.
No comments:
Post a Comment