Thursday, December 4, 2014

Dag 1 en 2 saam met die Bergrivierkoor na VSA en Belgie



3 en 4 Desember 2014

 

Van Piketberg na Kaapstad na Johannesburg na Amsterdam na Boston

 

Tot vanoggend 09:00 (3/12) was ek nog niks opgewonde nie. Daar was net te veel goed wat nog gedoen moes word. Maar dis interessant hoe ‘n spesifieke reuk ‘n mens onmiddellik kan verplaas na ‘n ander wereld.  Ek het ‘n sekere tipe parfuum wat ek altyd assosieer met oorsee toer en net daarmee. Die rede is nie iets magies nie, dis bloot die reuk wat ek deur die jare altyd in die “duty free” winkel aan die vliegtuig se kant van die lughawe hek aan my gespuit het. Dit is CK One. Een van my gunsteling reuke ooit. Normaalweg gebruik ek dit nie. Ek hou dit spesiaal as my reis-reuk. Vanoggend haal ek my reis-reuk botteltjie (net 30 ml kompak vir die vliegtuig) uit my kas om in my handsak te gooi en ek spuit ‘n straaltjie oor my linkerarm en onmiddellik is ek reis-gereed! Opgewonde en reg om te gaan. Ek was self verbaas oor die transformasie!

 

14:15 kry die groep mekaar in die boonste vertreksaal by Kaapstad Internasionaal. Almal bewe van opwinding. Ek en Johan M het pas ‘n rooibostee cappacino en ‘n koffie gedrink om die trip te vier. Ons deel paspoorte en kaartjies uit. Die groepe vorm. Ons is in twee groepe verdeel. Groep een beweeg saam met Lucille en groep 2 saam met my. Ons is 31 in elke groep. 31 mense is BAIE, maar 31 waarvan 90% nog nooit voorheen gevlieg het nie, is ‘n groot handvol (!), maar gelukkig ook 'n hartvol. Die vrae is onophoudelik. Waarheen nou? Hoekom? Hoe laat? Waarheen? Hoekom nie? Waar kan ek... ? Elkeen glo sy situasie is uniek en moet al jou aandag kry. Ek besef ons sal moet kalm bly en vertrou. Paniek gaan ons nerens bring nie. (as ek nou hier teruglees wonder ek laggend hoekom ek toe al paniekerig wou word!) The best was yet to come.

 

Retha deel al die bottels koorwyn uit van Org de Rac wat nog twee-twee in die tasse moet gepak word en ook die gedrukte optrede-programme. Piketberg se Drukkery was weer op hulle stukke. Ons is ook vanoggend die voorblad van die 300ste uitgawe van Die Courant. Ek het vanoggend ‘n pak kopiee gaan oplaai by hul kantoor in Malmesbury om vir elke koorlid te gee. Vir ons is dit soos ‘n trofee. Maandagaand het die Premier van die Weskaap die koor kom afsien in Piketberg. Bergrivier Munisipaliteit het ‘n uitstuurfunksie gehou en dit was innig en dierbaar en baie lekker. Ons deel so goed uit en pak, dat niemand sien dat Retha se handbagasie gesteel word van haar trollie af nie! Nou moet ons kalm bly. Sherlock sit al in ‘n ander vliegtuig en deel bevele uit na my en Lucille oor wat ons moet doen om die handbagasie terug te kry. Retha is in Lucille se groep. Lucille antwoord nie haar foon nie. Miskien weet sy iets wat ek nog gaan leer. Mag hulle die handbagasie vind. Lucille antwoord steeds nie haar foon nie. Haar groep vlieg met SAL tot in Johannesburg en ons groep met British Airways. Van Johannaesburg af vlieg ons saam in een vliegtuig na Amsterdam en dan Boston.

 

Vir die volgende uur en ‘n half boek ek en my groep in by British Airways. Ons vorder goed. Die bagasie word direk deurgeboek Boston toe. Ons sal dit daar deur customs vat. Ons vlieg nou eers Johannesburg en dan baie laat vanaand (net voor middernag na Amsterdam en vandaar ‘n uur later na Boston. Ons sal meer as 20 uur in die lug wees. Ek sien so uit daarna om die opwinding van ‘n eerste vlug weer saam met die toerlede te beleef wat nog nooit gevlieg het nie. Hul kinderlike opwinding oor alles is aansteeklik.

 

Twee spesifieke oomblikke vanmiddag moet ek beskryf: Die een is toe Sherlock en Lucille ons laat weet dat hulle in aantog is en ons moet asb kom help dra aan die groepsgoed wat nog by hulle is. Ek gryp vier van die jonger sterker mans en ons sit af na die “drop and go” area op die boonste vlak. Twee van die kinders haal hul Piketberg maniere uit en hou die parkeerplek reg voor die deur. Of probeer hom hou. Ek het hulle maar laat begaan totdat hulle tien minute later druipstert boedel oorgee en se die toeriste gee vir hulle vuil kyke omdat hulle ‘n parkering hou vir iemand wat nog oppad is! Les 1 in die sakkie.

 

Later staan ek saam met Tannie Roeline by die inweeg-toonbank. Haar stiefseun het haar kom aflaai en dit is ooglopend hoe lief hulle vir haar is. Ek belowe dat ek mooi na haar sal kyk. By die toonbank het die lugwaardin pas vir Tannie Marie ‘n rolstoel en ‘n persoonlike beampte gereel om haar deur al die lughawe verkeer te help. Die vrou gee Tannie Roeline net een kyk en vra of sy ook ‘n rolstoel verlang. Die skok op haar gesig was “priceless”. Nee wat dankie, verklaar sy. Sy sal graag stap. Wel gedaan Tannie Roeline!

 

Dis my grootste wens ooit dat die Here hierdie toer sal gebruik om grense oor te steek, mense diep in hul harte te raak en dat ons gebruik sal word tot Sy eer.

 

Bid asb vir die veiligheid van ons en ons besittings.

 

Ek hou julle graag op hoogte van wat ons beleef. Nou gaan ek eers ‘n koeldrank soek. Miskien iets sterkers... Miskien in die VIP Lounge waar ek vir ‘n uur alleen kan wees en myself weer vind.

 

Lank voordat ons op Johannesburg se OR Tambo Internasionale afklim, weet ek verseker: Hierdie toer gaan vir my selfs ‘n groter ervaring wees as vir die wat nog nooit buite Bergrivier was nie. Die rede is eenvoudig: Ek vind dit uiters amusant om reis en toer nou te kan sien deur die oe van die vir wie dit die eerste keer is. Kyk! Die vliegtuig bestyging was ‘n perd van ‘n ander kleur. Twee van die meer gewigtige tannies se sitplekgordels kan nie bykom nie. Ek hoor die derde een kliphard vermaan dat almal in die vliegtuig dit kan hoor: Ek het vir jou gese jy moet diet, hoekom het jy nie? Nou gaan jy moet rondval hierbinne. Die lugwaardinne was op hul pos en met verlengstukke is die probleem gou aangespreek. Toe begin die vliegtuig spoed kry om op te styg en drie gil terwyl ‘n ander kliphard bid en die Here prys. Ek hoor selfs ‘n ontsnapte vloekwoordjie of twee. Oor die Vrystaat kry ons lekker terbulensie en die loods vermaan dat dit nou rof sal gaan. Ek verluister my aan die tale en segoed. Klassiek!

 

Ons wiele was skaars in die lus toe skreeu tannie Kitty: "Ek wil huis toe gaan!" Die ander passasiers kyk verskrik om. Hulle verwag seker ‘n herhaling van 9/11. Ek wonder waar ek sou geleer het dat vliegtuig etiket vereis dat mens fluister sodat almal van ry 3 af jou nie hoor as jy in ry 23 sit nie? Ek kan nie onthou nie, maar ek weet dit. Wel, ons toergroep leer nog. Tannie Kitty bel haar kinders net nadat die wiele grond gevat het en die selfoon nog af moes gewees het. Sy praat kliphard en kan nie verstaan toe die helfde van die vliegtuig omkyk en “sjuut” beduie nie. Ek sit in die ry agter haar en wil my skeer. En was dit nie ‘n gesprek om te hoor nie. Pragtig!

 

Op Johannesburg kry ons die ander groep en verkas na KLM se inteken toonbanke by Internasionale vertrekke. Ons moet nog ons instapkaarte kry vir Amsterdam na Boston wat hulle nie in die Kaap kon uitreik nie. Teen hierdie tyd het sewe ander van die Tannies Tannie Marie se rolstoel met groot verlangende oe bekyk en daar word nog ses bestel.  Nog lank voor ons deur customs is, staan ek met twee war jasse en ‘n vliegtuigkussing in my arms, wat van ons groep op die trollies vergeet het. Wat volg is regtig moeilik om in woorde uit te druk. Ek onthou ‘n tyd toe ek presies so gevoel het: My baba-sussie Elna het vier kinders en toe sy nog drie gehad het, het ek een naweek na hulle gekyk toe sy en Braam hul troudag herdenk het. Ek onthou iewers die Sondagoggend na kerk het ek my in die toilet bevind en skielik besef, ek het glad nie ‘n noot nie, ek sit net daar bo-op die toe deksel om een minuut stilte en tyd vir myself te he. Hier op Johannesburg gaan dit ook so. Hanlie, waarheen nou? Hanlie, hoe laat waar? Hanlie, waar is X of Y. Hanlie waar ruil ek geld. Hanlie hoekom rook hulle eers? Hanlie, Hanlie, Hanlie, Hanlie, Hanlie. En ek besef: dit is hoekom ek saamgekom het. Om hierdie tipe druk van Sherlock af te haal. En ek sal dit doen en uithou, want dit word waardeer en met baie goeie bedoelens gedoen. Maar soos ek hier sit en tik, sit ek in die VIP Lounge in Johannesburg en suig aan ‘n glas vrugtesap. Die stilte is oorverdowend heerlik!

 

Vir almal wat wonder in Piketberg: Retha is ok. Dit is baie selg dat haar handbagasie gesteel is op Kaapstad Lughawe, maar sy het haar paspoort en vliegkaartjies en sal deurdruk sonder haar kontaklense. Sy het haar bril.

 

Ons klim 23:15 op KLM om 23:55 te vlieg. Na twee baie lang vlugte land ons in Boston. Beide vlugte was heerlik en dit was veral lekker om te sien dat Delta nouselfs in flight wifi gratis het (selfs op Internasionale vlugte). Ek het baie geslaap en voel vars maar kan nie dieselfde se van meeste van die groep nie. Die opwinding was net te veel en die nuwighede het almal besig gehou. Sharing a new song se Lauren kry ons op die lughawe en die bus staan gereed om almal na 'n sentrale punt te neem vanwaar die gasouers hulle sal kom haal. Ek huur 'n motor en bly op my eie in die Red Roof Inn in Woburn. Dit is waar ek nou by hulle ontvangs sit en tik om vir julle op hoogte te hou van wat ons hierdie kant doen.

Ons het toe nie Retha se handbagasie gekry nie. Dit is gesteel en weg. Brenice se tas het nie Boston gehaal nie en sy sal dit eers more kry. Thurston was baie siek op die vlug aan erge maagkrampe. Natuurlik dink die bemanning dadelik Afrika en Ebola. Gelukkig voel hy nou beter. Ons het immers 'n dokter saam met die groep.

Nou groet ek eers. Ek wil nie die gasvryheid van die ontvangstoonbank misbruik nie.

Liefde en groete

Hanlie

 

 

No comments:

Post a Comment