Monday, September 28, 2009

Die lewe gaan ook oor dit wat ons nie doen nie

Ek is vanoggend diep geraak deur opleiding oor die hantering van "Human Trafficking" slagoffers. Ons is opgelei deur Marge Ballin van Inter Outreach Ministries. Sy werk al dekades met slagoffers van seksuele geweld. Daar het so baie dinge so gelyk deur my kop gehardloop dat ek steeds besig is om daaraan te verwerk. Ek wonder deurentyds waarheen die Here hiermee oppad is in my lewe.

Ek dink tans gereeld aan die aanhaling van Vader Lapsley, naamlik: "Those who think of themselves as victims, give themselve permission to do horroble things to others because of what happened to them." Dit laat my wonder oor ons mooi land met sy wonderlike mense. Hoeveel van ons beskou ons self as slagoffers? Van apartheid, van verkragting, van geweld en misdaad, van gesinsgeweld, plaasmoorde, motor kapings? As al hierdie slagoffers onuitspreekbaar aaklige dinge doen aan ander omdat hulle self benadeel is, waar sal ons wees in die toekoms?

Die oplossing het soos 'n wolk mis oor my kom le en ek weet net die Here moet ons help om slagoffers te bevry van die leuen dat hulle slagoffers is en daarom die reg het om seer te maak soos wat hulle seergemaak is. En die genade om te kan vergewe.

Sunday, September 27, 2009

Ken jy die spore wat loop deur die droe Karoo?


Hoe beskryf mens een van die lekkerste naweke in jou lewe? Klipbanksfontein is presies waar dit klink om te wees... In die middel van nerens. Mens ry vanaf Ceres in die rigting van Sutherland en draai regs af as Isak se verduideliking so se. Dan maak mens twaalf of meer hekke oop en weer toe en kom uiteindelik by Bettie se beskeie huisie, waar sy en Kammies die plaas onder beheer het. Wat 'n verrassing is die spoeltoilette en die warm water nie? Net genoeg gadgets om baie gerieflik te wees, maar ook min genoeg om simplisties en BAIE lekker te wees. Geen selfoon ontvangs, geen krag. Net tente en kilometers se Karoo bossies en pragtige veld. Baie goeie geselskap, fietsry, kampvure met kitaarsang en ure se rus en rus en nogmaals rus.
Isak en Blyda het ons saamgenooi en Jan, Petrus en Surette het saamgekom. Ook Mike en Suretha met klein David. Ons elkeen doen net soos wat jou gees en siel jou lei. Party slaap laat, ander stap, party ry en ander sit en staar die vertes in. Hier is iets vir almal. Ek wonder opnuut hoekom ek toelaat dat die lewe my so jaag. Hoekom raak ons so gou vasgevang in die rotte resies? Weet ons nie dat die wenner van die resies nog maar 'n rot is nie? Hier is suurstof, wonderlike uitsigte, skape wat naby jou verby wei, voels wat jou wakker kwetter, die wind wat sy eie musiek verskaf en 'n kruis op die horison wat jou heeltyd herinner dat jy op heilige grond is.
Ons is terug. Verfris, verkwik, uitgerus en reg vir die week wat voorle.

Karoo 2 Coast


Om van Uniondale af Knysna toe te ry is vet pret... met 'n motor! Met 'n bergfiets is dit steeds pret, maar ook harde werk. Hierdie jaar het ons perfekte weer gehad en het die uitsigte opgemaak vir die harde werk wat jou bene moet doen.
Sewe van ons is Saterdagoggend 19 Sept 2009 in Stellenbosch weg met twee Diener-bakkies van Pa-Pieter en Johann. Ons moes eers by Flandria stop want George het tot 2 uur laas nag gedans en was effe onvoorbereid. Op Barrydale het ons perongeluk die sleutel van die een bakkie binne-in toegesluit. Gelukkig het dieselfde brein hom weer daaruit gekry. Ek en Pieter het ons hele fietstoer van twee jaar terug weer beleef op Route 62.
By Uniondale aangekom wag 'n groot skare fietsryers en ondersteuners ons in. Meer mense as wat ek verwag het en minstens 6 keer meer as toe ek dit gery het in 2004. Meer as 3000 ryers. Wow! Ons soek kampplek op die sportterrein en verken die wereld. Ons registreer en kry ons pasta en maak alles reg vir more. Om halfagt spring die eerste groep weg. Ek, Johann en Coos is in groep 5. Ek geniet die ryery terdee. Bult af is my kos en bult op moet jy net jou mond hou, moed hou en TRAP.
Pieter en Dorette ry die voertuie om. 7 km van die einde af kry ek 'n papwiel en baie tyd gaan verlore. Ek sal moet leer om 'n wiel om te ry. Wat 'n heerlike dag en heerlike reis. Louis Botha van Stellenbosch ry saam met ons terug. Hy het nou 1400 km met sy fiets gery tot op Uniondale (met 'n detour via Plett) en toe lekker fiks gewees vir die K2C.
Nou moet ons verder oefen vir To Hell and Back op 7 en 8 November 2009.

Sunday, September 6, 2009

Train hard, fight easy!


Oor net twee weke is dit ek en die Karoo to Coast. Dit is 'n bergfiets uitstappie van 100 km op rowwe paaie vanaf Uniondale na Knysna. Ek het nou al drie weke gespin in die oggende en op Sondag 6 September was dit tyd vir langer in die saal sit. Ek en Elmarie is net voor 13:00 by my huis weg, oor Helshoogte, deur die padwerke by Pniel en met die wind van agter Franschhoek toe. Daar het ons 'n GU breuk gevat op die gras voor die Vrouemonument en is ons met dapper en stapper die Franschhoek Pas uit. Daar was twee groot bobbejane langs die pad. Amper bo neem ons foto's van 'n honeymoon couple van Mpumalanga en stoom voort. Daar kom 'n CV mercedez verby en toet, draai toe om en wraggies hou Willem, Alida en die kinders langs my stil. Dit was so lekker om hulle te sien. Ons was saam Kilimanjaro uit in 2005. Die afdraend was baie makliker en ons het 'n knoffel pizza geeet in Franschhoek. Toe tref ons die wind oppad terug! Wow, dit was nie maklik nie, maar soos hulle se in die fliek Karate Kid: Train hard, fight easy. Ons het na 18:00 eers tuis gekom. 'n Lang en lekker dag.

'Cause somewhere in the crowd there's you...



Wie onthou nog ABBA se lekker musiek? Met die Mamma Mia fliek nog vars in ons geheues, is dit makliker. Ek kon nog nooit stilstaan as ABBA speel nie. Wil altyd net dans. Wel, nou was dit ons beurt om te dans op ABBA en dit nogal op 'n verhoog met mikrofone en alles. Dit het so begin... Birgit Andrag is 'n vriendin van my. Sy is iemand wat groot dink oor die lewe en soms goed uitdink wat net nie doenbaar lyk nie. Sy word hierdie jaar vyftig en het haar vriendinne genooi om saam met haar te sing. Ons is afgerig deur Koba Wicomb en haar dogter Saskia het die koriografie en klere gedoen. Wat 'n fees! Dit was skreeu-snaaks, maar baie pret. Ons het Woensdagaand 2 September 2009 opgetree by Paul Roos se ouer en onderwyser konsert. Ons het Super Trouper gesing en gedans vir 'n vale. Ons was so bang dat hulle ons sal "ancore", want op ons ouderdom kan mens net nie daai passies twee keer na mekaar doen nie. Dis lekker om mens te wees.

Saturday, August 15, 2009

If you can dream it...

Ek het die wonderlike voorreg gehad om vanoggend met 120 matrieks en ouers van Weltevrede Sekondere Skool in Wellington te praat by 'n matriek tee wat die Dameskring op Wellington gereel het. Dit was 'n heerlike geleentheid en ek het dit baie geniet. Dreamteam het ook opgetree. Hulle is 'n christelike dansgroep wat Hester van Velden begin het in Paarl-Oos. Die groep bestaan uit pragtige energieke jongmense wat 'n jaar of meer van hul lewe spandeer om die Evangelie uit te dra.

Toe Philippa my vra of ek by die geleentheid sal praat het ek dadelik ja gese, maar ek het ook dadelik vir die Here gese dat ek, Hanlie, regtig niks het om vir hierdie matrieks en hul ma's te se nie, want ek was baie lanklaas matriek en ek het nie eens kinders nie, maar as Hy 'n boodskap het wat Hy vir hulle het, sal ek graag die boodskap gaan lewer. En so was ek vanoggend die spreker by die tee. Die Here het 'n spesiale boodskap vir Wellington gehad en het alles weer so presies uitgewerk, dat elke spreker, van Lettie wat die oggend geopen het, tot die danse van die Dreamteam, saam met my praatjie almal net een boodskap gehad het. God het 'n droom vir jou lewe. Ons moet bereid wees om dit te droom en om hard te werk om die droom te laat realiseer. Ek het saam met wonderlike mense aan die tafel gesit en ook van my oud-onderwysers daar gesien. Dit was omtrent 'n trip-down-memory-lane. Ook het ek die geleentheid gehad om weer lekker by my ouers op Wellington te kuier. Heerlik!

Sunday, July 26, 2009

Stilbaai: siele rus en vriendskap




Daar kom 'n tyd dat mens net weet jy het 'n vriendin soos wat jy nooit weer sal he nie. Ek het die naweek weereens besef dat ek en Elizan altyd goeie vriende sal wees. Maak nie saak dat ons op twee verskillende halfrondtes van die aarde leef nie. Maak nie saak dat ons mekaar een keer elke drie jaar sien nie. Maak nie saak dat ons in heeltemal verskillende fases van ons lewens is nie. Sy is 'n voltydse Ma vir Daniel (3) wat nou ook weer voltyds studeer en dan is sy ook voltyds vrou vir Matthys.



Daar is net iets wat ons laat kliek. Sy inspireer my. Ek hou haar dop as sy met hulle seuntjie praat en ek beny haar haar vriendelike geduld en ongelooflike beleefdheid, al vra hy dieselfde ding die tiende keer oor en oor. Ek luister as sy met Matthys oor die telefoon praat en is beindruk met die respek en liefde wat uit haar stem straal, al is dit 'n gewone Saterdagaand gesprek en al praat hulle oor wat hy vanaand gaan eet en wat hy vanoggend in Kanada by 'n supermark gekoop het.



Ons kan ure spandeer om na mekaar te luister. Sy maak soms of sy van my stories nog nie gehoor het nie, want sy geniet dit so om dit weer te hoor (haar eie woorde) en dan lag ons weer van voor af. In Nov 1993 (amper 16 jaar gelede!) het ons twee die Verenigde Koninkryke en Europa plat getoer met rugsakke op. Ons was amper vyf weke alleen in mekaar se geselskap sonder om een skewe woord vir mekaar te se. En nou 16 jaar later is dit steeds so. Intussen het Matthys deel van Elizan se prentjie geword en dit was so goed om te sien dat ek en hy net so goed oor die weg kom. Jare later was Daniel daar en ek het die naweek gesien dat kinders van beste vriende maar eintlik kinders van jouself word. Dis maar die tweede keer in Daniel se lewetjie dat Tannie Hanlie hom sien en beleef, maar ek is reeds so lief vir hom. Omdat hy so 'n unieke mengsel van Elizan en Matthys is.



Elizan, my beste vriendin... Ek is mal oor jou. Ek is dankbaar dat afstand en jare nie ons vriendskap blus nie en ek is intens dankbaar dat ons vir altyd goeie vriende sal wees. Ek het net nog nooit weer 'n vriendin soos jy gehad nie. Mag die lewe vir jou, Matthys en Daniel uiters goed wees en mag die Here julle uitermate seen met alles wat Hy in Sy hemel het.

Thursday, July 23, 2009

Kosresepte vir stap

My stapgenote het gevra dat ek die resepte wat ons hierdie afgelope week in die Visrivier gebruik het, op die blog sit. Hier kom dit:

Agtergrond notas: Ek werk op die prinsiep van 'n stysel, 'n groente/vrug, 'n proteien en 'n poeding per aand per persoon. Ek hou daarvan dat die groep saam kos maak en almal dra ligter as mens saam dra. Ek werk die kos uit dat elkeen iets dra van elke dag sodat almal se sakke daagliks ligter word. Alle kos word dus gemerk met die nommer van die dag op en elke aand by die oorslaapplek haal elke stapper als uit wat hy/sy dra vir daardie dag. Ons maak ook kosspanne. Dis pret en maak dat almal mekaar nog beter leer ken en dat die verpligtinge verdeel word deur almal. Die kosspan maak vuur, maak kos, was skottelgoed en sorg dat die potte vol water is vir die volgende oggend se vroegoggend koffie.

Die spyskaart wissel van stap tot stap, maar hierdie een het ons hierdie week in die Visrivier gebruik. Die resepte is deurentyd genoeg vir 12 mense:
Dag 1:
Kerriemaalvleis, rys, gekookte droe vrugte (perskes), met hot chocolate en marsmallows vir poeding.

Ek maak die kerriemaalvleis klaar by die huis en droog dit in die oond voordat ek dit laat vakuum verpak by die slaghuis. Ek het 1,5 kg maalvleis gebruik met uie, groente, blatjang en kerrie en borrie in. Drie koppies rou rys en 6 droe halwe perskes vir elke persoon. Sodra mens by die slaapplek aankom, moet die perskes en vleis dadelik in koue water gesit word sodat die vleis kan hidreer en die perskes kan uitswel. Ek maak die hot chocolate met melk om dit lekker romerig te maak, maar dra volroom melk (net helfde van die hoeveelheid benodig) wat ek met water meer maak. Dan dra mens ligter.

Dag 2:
Pasta met bacon, kaas, salami, pynappelstukke en pitmielies. Daar was sjokolade mousse vir poeding. Ek koop Moirs of Cadbury se mousse. Dis heerlik. Ons het hierdie keer die peppermint crisp geur probeer en dit was 'n wenner. Die bacon, salami, kaas, pynappelstukke en pitmielies is alles vakuum verpak. Ek gebruik twee pakke noodles vir 12 mense.

Dag 3:
Cusslers met smash en mosterd sous (Ina Paarman) met beet (Verda boksies). Ek koop die ontbeende cusslers wat mens kry by die baconyskas in die supermark. Ek werk op twee cusslers per persoon en drie pakkies smash vir 12 mense. Ek het 'n vakuum pakkie margarien saamgevat vir die smash en mens kan ook bietjie bakpoeier dra om dit veerlig te maak. Dis heerlik. Ons het die cusslers in 'n kastrol gebraai en die mosterdsous oorgegooi en warm gemaak. Dit was baie lekker. Beet is 'n wenner. Vir poeding het ons karamel kits poeding gedoen.

Dag 4:
Pasta met seekos met tuna (drie blikkies) en mossels (2 blikkies) in. Ek gebruik die Gourmet Sop (seekos geur) met melk vir die sous met 250gr kaas (vakuumverpak). Ons het sjokolade kits poeding gemaak. Onthou dat kitspoeding nooit styf raak met poeiermelk nie. Dra boksies melk (mens kry dit in 250ml groottes) van volroom en vul aan met water.

Lekker eet! Ons het.

Groete

Wednesday, July 22, 2009

Visrivier 2009




Juanita du Plessis en Teuns Jordaan sing 'n liedjie: "Ken jy die pad na 'n plek wat 'n merk op jou hart laat?" Ek kan vandag eerlik se dat ek so 'n plek ken: Die Visrivier Skeurvallei in Namibia. (En sommer 'n merk op my hart en my gesig!) Ons is gisteroggend 05:00 (SA tyd) vanaf die Vastrap Gastehuis op Grunau oppad terug na 'n wonderlike week in die Visrivier. Ek het die heel pad terug gewonder wat is dit nou eintlik aan die Visrivier wat maak dat mense dit weer en weer en weer doen. Ek self het dit nou reeds sewe keer gestap. Met ons aankoms by Ai-Ais kry ons 'n oom en tannie wat dit die volgende oggend weer gaan begin doen vir hul 14de keer.




Miskien is dit die ongelooflike stiltes in die aande. Die sterre wat so naby en helder lyk dat jy dink jy kan aanhulle vat as jy net jou hand ver genoeg uitstrek. Miskien is dit die rivierpoele wat om elke draai anders lyk; of miskien is dit die Namibiese gasvryheid en ooptes wat mens aanhoudend trek. Vir my is dit ook die rooi kranse, die kuier om die vuur in die aande, die eenvoud van net jou rugsak by jou he, die wete dat 'n mens tot baie meer fisies in staat is as wat mens dink en die absolute geloof dat ek tot alles in staat is deur Christus.




En ja, ek sal weer gaan...




Hierdie stap was regtig besonders. Die weer was perfek, die watervlak het stap makliker gemaak as gewoonlik, die mense was onverbeterlik en als het net reg uitgewerk. Ek wil sommer hulde bring aan die mense saam met wie ek kon stap. Ons was elf in die groep. Die res was almal familie en vriende en ken mekaar baie goed. Hulle het 'n wonderlike manier om mekaar te motiveer en haal regtig die beste uit mekaar uit. Ek het dit baie geniet om hul dop te hou en hulle was 'n maklike groep om te lei.




Die groep het gevra dat ek die aandkos resepte ook op die blog sit. Ek doen dit graag... (sien volgende posting)

Friday, July 10, 2009

Weer oppad...


Dit het nou 'n jaarlikse gewoonte geword... Om die Visrivier in Namibia te stap. Hierdie keer vertrek ons 15 Julie 2009 en sal die 16de sak in die mooiste skeurvallei in die Suidelike Halfrond. Dis my sewende keer in die Vis en julle dink miskien ek is bietjie kens of dalk net verveeld, maar as jy eers die rooi berghange van die Vis gesien het terwyl die son daaroor sak en die stilte ervaar het wat die aandlig bring, dan sal jy altyd weer wil gaan. Hierdie keer gaan ek saam met nuwe mense wat binnekort my vriende sal wees. Ons is elf. My hele woonstel staan vol pakkies kos. Ek werk die aandetes uit vir die hele groep. Ek het nuwe spyskaarte uitgedink en is heel opgewonde oor die stap.


Nog net 5 slapies, dan vat ons die pad.

Sunday, May 31, 2009

'n Kruin van 'n ander kleur


Dis met 'n baie dankbare hart wat ek hierdie week teruggekyk het oor die afgelope drie jaar se studies. Ek het graad gevang! UNISA se Kaapse gradeplegtigheid is in die Cape Town Convention Centre gehou. Hulle is so goed georganiseerd. My Pa en Ma was saam en soos my Pa se: Hy vermoed dis sy laaste kind se laaste graad, so hy wou dit graag bywoon. Hy se hy dink nie hy gaan sy kleinkinders se grade haal nie.


Ek het my MBL graad verwerf. Dis Masters in Business Leadership. Ek het in totaal 16de geeindig uit ons hele groep van meer as 400. Ek is uiters dankbaar teenoor die Here wat my deur baie eksamens en vele ure se studeer gehelp en gelei het. Aan al my familie en vriende wat gehelp het deur gebede, bemoediging en daar wees: Baie dankie! Dis julle wat die lewe die moeite werd maak. Die Munisipaliteit het ook 'n groot rol gespeel. Die eerste twee jaar het ek van 06:00 - 08:00 elke oggend in my kantoor gaan studeer en hulle het ook terugwerkend 'n gedeelte van my studies betaal. Daarvoor is ek baie dankbaar. My PA, Madeleine du Plessis, verdien 'n spesiale woordjie. Haar ondersteuning was van onskatbare waarde.


Ek weet julle wat my ken sit en wag dat ek die volgende graad begin... Vir eers is ek regtig klaar. Ek sien uit na 'n ander/volgende hoofstuk in my lewe.
Vir almal wat besig is met studies en wonder of dit die moeite werd is om so te swoeg... Go for it! 'n Graad is die een ding wat niemand van jou kan wegvat nie. Dit rek jou siening van die wereld. Ek het nou al by drie verskillende Universiteite studeer en dis werklik die moeite werd om diversiteit in jou studies in te bou. Elkeen se uitkyk op die lewe verskil en elke Universiteit bestudeer dieselfde vak uit heeltemal 'n ander hoek. Ek sal lewenslank 'n student van die lewe wees. Mens is werklik nooit te oud om te leer nie. My leuse is: Dare to know! Ek wil werklik elke dag leef met waagmoed om meer te weet en nader aan die waarheid te kom. Hoe meer mens weet, hoe meer weet mens jy weet nog niks nie en dat jou waarheid maar net 'n kant van die waarheid is. Dis die lewe!

Sunday, May 24, 2009

'n Sirkel is voltooi en 'n baie goeie hoofstuk is afgesluit







Ek het agt klippe in Everest Base Camp opgetel op 5 Mei 2009. Groottes en kleintjies. Een was vir Jan. Een was vir my Pa. Een was om op my kliphoop op Botmaskop te sit en die res wil ek hou as aandenkings. Nou weet ek wat julle dink en ja die arme porter het hom byna doodgedra oppad af. Gesamentlik het die klippe seker meer as 'n kilogram geweeg. Op Kathmandu, met die terugvlieg was ons bagasie ook ver oorgewig. (70 kg tussen 14 mense) Qatar Air was baie streng en wou ons 42US$ vra per kilogram ('n totaal van R26 800!!), maar Sean het gesmeek en die res van ons het gepaslik verwese gelyk en siedaar! Ons kan die goed laai.


Op Saterdagmiddag 23 Mei 2009 het ek en Jan weer Botmaskop uitgestap. Dit was besonder lekker om weer in Botmaskop te stap. Dis nou vyf weke sedert ek laas hier was. Die nuwe groen uitloopsels na die brand is pragtig! Ons het ons kliphoop besoek wat ons met die oefenry gepak het. Elke keer as ek daar was met stapmaats het elkeen van ons 'n klip op die hoop gesit. Die oefenry het uitstekend gewerk en baie gehelp in die Himalayas. Nou was dit tyd om dankie te se en fees te vier. Ek wil veral AL my stapmaats hier vereer: Esme, Yolanda, Azanda, Monica, Jan en Sulize. Ek en Jan het 'n Everest bier geknak nadat ek die Base Camp klip by sy Suid-Afrikaanse klipmaats gaan sit het. En julle sal my nie glo nie, maar terwyl ons daar sit en Everest bier geniet en Jan vir ons 'n gebed doen om dankie te se dat ek veilig terug is en dat die Here my so geseen het, lui my telefoon en daar is dit wraggies Lakpa Tamang, ons hoof gids van Nepal wat wil hallo se. Sy "timing" was perfek!
Dis die einde van iets waarna ek baie lank uitgesien het. Nou is die enigste vraag wat oorbly... Wat is volgende?

Ek dink en beplan en droom nog. Dis deel van die avontuur.