Juanita du Plessis en Teuns Jordaan sing 'n liedjie: "Ken jy die pad na 'n plek wat 'n merk op jou hart laat?" Ek kan vandag eerlik se dat ek so 'n plek ken: Die Visrivier Skeurvallei in Namibia. (En sommer 'n merk op my hart en my gesig!) Ons is gisteroggend 05:00 (SA tyd) vanaf die Vastrap Gastehuis op Grunau oppad terug na 'n wonderlike week in die Visrivier. Ek het die heel pad terug gewonder wat is dit nou eintlik aan die Visrivier wat maak dat mense dit weer en weer en weer doen. Ek self het dit nou reeds sewe keer gestap. Met ons aankoms by Ai-Ais kry ons 'n oom en tannie wat dit die volgende oggend weer gaan begin doen vir hul 14de keer.
Miskien is dit die ongelooflike stiltes in die aande. Die sterre wat so naby en helder lyk dat jy dink jy kan aanhulle vat as jy net jou hand ver genoeg uitstrek. Miskien is dit die rivierpoele wat om elke draai anders lyk; of miskien is dit die Namibiese gasvryheid en ooptes wat mens aanhoudend trek. Vir my is dit ook die rooi kranse, die kuier om die vuur in die aande, die eenvoud van net jou rugsak by jou he, die wete dat 'n mens tot baie meer fisies in staat is as wat mens dink en die absolute geloof dat ek tot alles in staat is deur Christus.
En ja, ek sal weer gaan...
Hierdie stap was regtig besonders. Die weer was perfek, die watervlak het stap makliker gemaak as gewoonlik, die mense was onverbeterlik en als het net reg uitgewerk. Ek wil sommer hulde bring aan die mense saam met wie ek kon stap. Ons was elf in die groep. Die res was almal familie en vriende en ken mekaar baie goed. Hulle het 'n wonderlike manier om mekaar te motiveer en haal regtig die beste uit mekaar uit. Ek het dit baie geniet om hul dop te hou en hulle was 'n maklike groep om te lei.
Die groep het gevra dat ek die aandkos resepte ook op die blog sit. Ek doen dit graag... (sien volgende posting)
No comments:
Post a Comment