Sunday, September 27, 2009

Ken jy die spore wat loop deur die droe Karoo?


Hoe beskryf mens een van die lekkerste naweke in jou lewe? Klipbanksfontein is presies waar dit klink om te wees... In die middel van nerens. Mens ry vanaf Ceres in die rigting van Sutherland en draai regs af as Isak se verduideliking so se. Dan maak mens twaalf of meer hekke oop en weer toe en kom uiteindelik by Bettie se beskeie huisie, waar sy en Kammies die plaas onder beheer het. Wat 'n verrassing is die spoeltoilette en die warm water nie? Net genoeg gadgets om baie gerieflik te wees, maar ook min genoeg om simplisties en BAIE lekker te wees. Geen selfoon ontvangs, geen krag. Net tente en kilometers se Karoo bossies en pragtige veld. Baie goeie geselskap, fietsry, kampvure met kitaarsang en ure se rus en rus en nogmaals rus.
Isak en Blyda het ons saamgenooi en Jan, Petrus en Surette het saamgekom. Ook Mike en Suretha met klein David. Ons elkeen doen net soos wat jou gees en siel jou lei. Party slaap laat, ander stap, party ry en ander sit en staar die vertes in. Hier is iets vir almal. Ek wonder opnuut hoekom ek toelaat dat die lewe my so jaag. Hoekom raak ons so gou vasgevang in die rotte resies? Weet ons nie dat die wenner van die resies nog maar 'n rot is nie? Hier is suurstof, wonderlike uitsigte, skape wat naby jou verby wei, voels wat jou wakker kwetter, die wind wat sy eie musiek verskaf en 'n kruis op die horison wat jou heeltyd herinner dat jy op heilige grond is.
Ons is terug. Verfris, verkwik, uitgerus en reg vir die week wat voorle.

No comments:

Post a Comment