Friday, December 12, 2014

Laaste aand in Boston

Vanoggend le die sneeu mooi op die dek. Ek en die hond was buite

Theo was saam met my by gasouers. Hier oorhandig hy geskenke aan Cathy en Joanne

Ek en Joanne. Ons Ma in Boston. Haar mus het ek gebrei terwyl ek in Maine was

By die Munisipaliteit van Boston

Malcolm saam met sy Boston girlfriend

En Thurston se Lady in Red

Hier by my is Alex. Hy het n baie snaakse van wat ek nou nie hier kan onthou nie. Hy is die Stadsbestiurder van Boston










Kan dit al ons laaste aand wees? Hoe het die tyd so gevlieg? Vanoggend besoek ons die Munisipaliteit van Boston en ek kry kans om lekker te gesels met Alex, hulle Munisipale Bestuurder. Boston Stad is veral sterk op deursigtige dienslewering en governance. Ons deel lekker en ons koor sing vir hom. Ons kan ook n bottel Org de Rac organiese rooiwyn uit ons gebied met n koor etiket vir hom skenk en oorhandig. Hy is beindruk en waardeer dit geweldig baie. Daarna vat ons die strate en besoek Faneuil Hall en Quincy Market. Ek en Pieter en Ilze gaan soek n lobster en daarna sit ons af Macy's toe. Altyd n heerlike belewenis.

Vanaand tree ons op in Roxbury by die Missions Baptist Church. Hulle gee vir ons aandete en daarna volg die konsert. Ek sit nou hier in hulle saal en gebruik hulle wifi solank as wat ek kan. Ek stuur fotos sodra ek weer by vinnige wifi kom. More gaan ons New York toe!! Jippeeeee! Een van my gunsteling stede van alle tye.

Sunday, December 7, 2014

Arlington optrede 6 Desember 2014

Vanoggend het ek min woorde. My gemoed is net te vol. Dit voel of my gees net eers wil vashou aan als wat ons gisteraand beleef het voordat ek dit kan deel.


My faceboekinskrywing vanoggend.

Wat ek wel met julle moet deel is Pakamani se storie. Hier is hy:



Hy kom van Soweto in SA en bly al twee jaar in Boston. Hy is n begaafde violis en deel van Sharing a New Song. Hulle bestaan al 30 jaar en gebruik koormusiek om grense af te breek tussen mense. Gisteraand is Pakamani een van twee koorlede wat hul stories met ons deel. Hy vertel dat sy ma ook baie mooi sing en dat sy herinneringe aan sy eerste 7 jaar was dat sy Ma hom saamgeneem het. Dan stap hulle na die sopkombuise in Soweto en sy sing om die wat kos maak en die wat kos kry te bemoedig. Hy het daar besluit dat hy ook musiek wil gebruik om hoop te bring. 

Ek het so n liefde en deernis in my hart ervaar vir die pragtige begaafde kind. Ons dam se eende wat hier in die verte ons naam so hoog hou en hoop versprei, dat ek instinktief opgestaan het en my SA serp om sy nek gaan hang het. Hy het my vasgeklou in n omhelsing of dit sy Ma self is wat voor hom staan. Na die tyd gesels ons kopstukke. En ons besef dat in SA dink ons ons is baie verskillend, maar hier in die verte weet ek en hy oombliklik ons is mekaar se mense! Leef jou droom Pakamani! Gaan groot! Maar kom asb weer terug SA toe. Ons het mense soos jy nodig. 

As ek nou hier se dat dit die beste konsert-uitvoering was waarby ek nog ooit was, sal julle my nie glo nie. Want julle weet ek het 20 jaar op Stellenbosch gebly en vele internasionale en plaaslike kore in die Endler sien kom en gaan. Julle sal ook dink ek is nie objektief nie. Hoe kan ek wees? Maar glo my! Nerens het ek al ooit die passie en kinderlike naiewe rou talent gemeng met afgerondheid en energie gesien soos gisteraand nie. Dis te groot om hier te probeer verduidelik. Ek is uiters dankbaar en trots om n klein aandeel hierin te mag he en om bevoorreg genoeg te wees om dit te kan meemaak. Prys die Here!

Saturday, December 6, 2014

Uiteindelik foto's

Ons uitsig oor Boston net voordat ons geland het.

Twee van die vyf kinders wat saamtoer. Malcolm (links) en Thurston.



Sharing a new song se mense kry ons op 5 Des by Apple Cinema by Fresh Pond Mall met n luukse bus en vat ons op n toer van Boston.

My huurmotor. 

Gevriesde voorruit!


























5 Desember vervolg: Stadstoer van Boston en Arlington Kersliggiefees

Ek is nog steeds op SA tyd. Vanoggend 03:17 sit ek al kietsregop in my bed. Uitgeslaap! Maar opgewonde om julle te kan vertel van gister. Die hele groep het mekaar toe gekry om 09:30 by Apple Cinemas by die Fresh Pond Mall. Die vars kuil is n werklike groot meer net langs die Mall en dit is vasgevries en die mense ski daarop. Daar wag n luukse bus op ons en ons vertrek op n stadstoer van Boston. Een van die Sharing a New Song se lede is al n toergids in Boston vir 30 jaar en sy vat ons rond. Hulle betaal die bus ook. Ons is telkens verstom oor hulle gasvryheid. Dit is die mooiste dag en ons neem hordes fotos. Ek wil hulle so graag hier opsit maar kry dit nie reg om die foto kleiner te maak voordat ek dit doen nie. Sal aanhou probeer.

Ons besoek eers Cambridge en Harvard Universiteit. Dit laat my baie aan Stellenbosch dink met baksteen rooi ou geboue. Ons klim uit, stap rond, neem lekker fotos en hoor baie grappies. Almal is in n baie goeie gees vanoggend. Elke gasouer het vir elke koorlid middagete ingepak. Later is ons in die North End se kerk (oudste kerk in Boston) en toets die koor die akkostiek tot vermaak van toeriste. Dit klink regtig hemels. As ek net dink hoe ver hierdie koor gekom het sedert ek hulle huiwerig hoor sing het in Porterville se kerk in 2013, dan wil ek sommer huil! Ons stap terug bus toe op hulle welbekende Freedom Trail en eet middagete. Pieter deel een van sy broodjies met my. Nogal hoender kerrie! Te heerlik. Dankie Pieter!

Vanmiddag kry ons gratis kaartjies vir die Science Museum en wraggies vir n vertoning van die Omni Theater. Dis n skerm so groot soos n rugbyveld wat soos n reuse aardbol bo jou kop hang. Mens kan nie glo wat jy sien nie. Van die groepslede was nog nie eens in n gewone fliek nie en ek geniet hulle op en aanmerkings vreeslik. Wat n ervaring! Ek, Retha, Karin en Wiesie skraap genoeg moed bymekaar om die simulator aan te durf op n reis in die melkweg tussen al die planete. Mamma, n naarword pilletjie sou nie hier gehelp het nie. Ons lag te heerlik!

Daarna is dit vinnig bus toe om die Vrydagverkeer te probeer mis om by Arlington uit te kom. Vanaand is dit hulle liggiefees en Bergrivierkoor is die gaskunstenaars. Nou wil ek glad nie vermakerig wees nie, maar Sous se liggies in Piketberg was meer as Arlington s'n. Die koorlede van Sharing a New Song was self teleurgestel. Hier staan ons en met groot fanfare laat hulle Onder Byrgemeester, Robert Manzetti, ons aftel vir die groot reveal. Ten, nine, ..., three, two, one! En poef. Daar gaan een stringetjie wit liggies op een boom aan. Agter n standbeeld wat nog die helfde van die stringetjie verberg ook. Maar ons koor het dubbel en dwars opgemaak!

Na die koor sing die hele skare liedjies. Ek wou eers se kersliedere, maar dan sal julle dink aan geestelike liedere wat vertel van n Christusfees. Nee, hier het elke liedjie wat die skare sing net te doen met Rudolph die rooineus reindeer, jingle bells, santa and figgy pudding! Jene, ons het werk om te doen!

Joanne reel vir my n lift terug na die Fresh Pond Mall waar my huurkar staan en ek ry terug na my Red Roof Inn in Woburn. Dit reen en ek verdwaal twee keer, maar na gebed en diep asemhaal is ek veilig en warm tuis. 

Vanoggend het ons af voor vanaand se groot optrede. Ek vertel later verder. Ek gaan n Walmart Super Centre soek. Dis die beste inkopies ooit!

Friday, December 5, 2014

5 Desember 2014

Dit is net na half agt in die oggend Amerikaanse tyd. By julle in SA is dit na half drie in die middag. Ek sit in die plek met die beste earl grey tee in die wereld. Starbucks! Ek was vroeg wakker. Natuurlik omdat my interne klok nog op SA tyd is, maar ook omdat ek wil ry voor spitsverkeer. Ek het ook n paar persoonlike nuwe ervarings beleef sedert gister. Ek moes vir die eerste keer self n motor huur oorsee en aan die verkeerde kant van die pad bestuur in baie besige verkeer. Wel, so far so good! Met goeie raad van my Christa-sussie wat vyf jaar in die VSA gebly het en iMaps vorder ek goed. Vandag het ons n baie lekker dag om na uit te sien. Ons kry mekaar 09:30 by die Fresh Pond Mall. Dit is regoor die straat van waar ek nou sit. Dit is in Cambridge, Boston. Pragtige plek! Die vinnigste sal wees om die itenary vir julle op te sit. Maar my foon laat my nou nie toe om dit te doen nie.

Ons doen eers n Boston stadstoer, daarna gaan ons na die Boston Science Museum en gaan n uitbeelding kyk in die Omni Theatre. Vanaand tree ons op in Arlington by hulle Luggiesfees. Hulle sit vanaand hulle liggies aan en sing kersliedere. Die Bergrivierkoor sing kersliedere en ook saam met Sharing a New Song se koor. Ek sien baie uit daarna.

Maggies die tee is heerlik!!

Ek was al n paar keer vantevore in Amerika. My Ouma aan Pa se kant is n Amerikaner en dit voel vir my elke keer of ek die mense verstaan. N paar goed val my altyd op en gister het veral twee goed my opnuut getref: 1. Alles werk in Amerika! En meer nog as die infrastruktuur, goeie aanwysings orals en eerste wereldse diens, is dit veral die uitstekende klientediens en gesindheid van die mense wat altyd my voete onder my uitslaan. Alles is moontlik! Gisteraand kry ek nie my rekenaar om te konnekteer aan die gratis wifi in my hotel nie. Ek bel ontvangs en verduidelik wat ek dink die probleem is. Die vrou bied sonder enige huiwering haar rekenaar vir my aan om te gebruik. Ek gaan af en bedank haar hartlik en wonder hoe dit moontlik is dat hulle beleid dit toelaat. Na n uur se saamkuier vra ek haar sommer. Sy se hulle het net een beleid en dit is dat sy alles in haar vermoe moet doen om die kliente gelukkig en tevrede te maak. So eenvoudig! Ek dink aan die 168 wette en regulasies waaraan ek daagliks moet voldoen en hoeveel keer op n dag ons vir kliente moet nee se omdat ons dit nie mag doen nie! Jinne my lewe sou soveel makliker gewees het as my enigste beleid soos die Red Roof Inn in Woburn Boston kon wees.

2. Wat my altyd hard in my gesig slaan as ek hier is, is die grootte van hul porsies as dit by kos kom. Almal weet Amerika is bekend vir 'obesity' en dat hulle upsize etes al wereldwyd bekend is. Gisteraand stap ek oor die straat vir aandete na n mexikaanse plek. Ek bestel hul 'dinner for one'. Tien minute later stap ek uit met genoeg kos om n gesin van vier vir drie dae besig te hou. Ek het geeet wat ek wou en die res in yskassie in my kamer gesit vir more, oormore en die dag daarna!

Vanoggend toe ek in my huurmotor klim om te ry, staan daar orals lee motors in die parkeerarea en luier. Ek vervies my eers vir die vermorsing van brandstof en toe sien ek my voorruit is vasgevries. Toe vat dit 15 min se sit en wag dat die ruit ontvries. Moreogg sal ek ook my kar laat luier met die venster ontwasemlaar vol oop terwyl ek ontbyt eet. So leer mens vinnig!

Lekker dag vir almal. Ek vertel later verder.

Aan my familie: lekker kamp die naweek by Montagu. En Elizma baie geluk met jou verjaarsdag. Ek wens ek kon daar ook wees. Lief vir julle.

Thursday, December 4, 2014

Dag 1 en 2 saam met die Bergrivierkoor na VSA en Belgie



3 en 4 Desember 2014

 

Van Piketberg na Kaapstad na Johannesburg na Amsterdam na Boston

 

Tot vanoggend 09:00 (3/12) was ek nog niks opgewonde nie. Daar was net te veel goed wat nog gedoen moes word. Maar dis interessant hoe ‘n spesifieke reuk ‘n mens onmiddellik kan verplaas na ‘n ander wereld.  Ek het ‘n sekere tipe parfuum wat ek altyd assosieer met oorsee toer en net daarmee. Die rede is nie iets magies nie, dis bloot die reuk wat ek deur die jare altyd in die “duty free” winkel aan die vliegtuig se kant van die lughawe hek aan my gespuit het. Dit is CK One. Een van my gunsteling reuke ooit. Normaalweg gebruik ek dit nie. Ek hou dit spesiaal as my reis-reuk. Vanoggend haal ek my reis-reuk botteltjie (net 30 ml kompak vir die vliegtuig) uit my kas om in my handsak te gooi en ek spuit ‘n straaltjie oor my linkerarm en onmiddellik is ek reis-gereed! Opgewonde en reg om te gaan. Ek was self verbaas oor die transformasie!

 

14:15 kry die groep mekaar in die boonste vertreksaal by Kaapstad Internasionaal. Almal bewe van opwinding. Ek en Johan M het pas ‘n rooibostee cappacino en ‘n koffie gedrink om die trip te vier. Ons deel paspoorte en kaartjies uit. Die groepe vorm. Ons is in twee groepe verdeel. Groep een beweeg saam met Lucille en groep 2 saam met my. Ons is 31 in elke groep. 31 mense is BAIE, maar 31 waarvan 90% nog nooit voorheen gevlieg het nie, is ‘n groot handvol (!), maar gelukkig ook 'n hartvol. Die vrae is onophoudelik. Waarheen nou? Hoekom? Hoe laat? Waarheen? Hoekom nie? Waar kan ek... ? Elkeen glo sy situasie is uniek en moet al jou aandag kry. Ek besef ons sal moet kalm bly en vertrou. Paniek gaan ons nerens bring nie. (as ek nou hier teruglees wonder ek laggend hoekom ek toe al paniekerig wou word!) The best was yet to come.

 

Retha deel al die bottels koorwyn uit van Org de Rac wat nog twee-twee in die tasse moet gepak word en ook die gedrukte optrede-programme. Piketberg se Drukkery was weer op hulle stukke. Ons is ook vanoggend die voorblad van die 300ste uitgawe van Die Courant. Ek het vanoggend ‘n pak kopiee gaan oplaai by hul kantoor in Malmesbury om vir elke koorlid te gee. Vir ons is dit soos ‘n trofee. Maandagaand het die Premier van die Weskaap die koor kom afsien in Piketberg. Bergrivier Munisipaliteit het ‘n uitstuurfunksie gehou en dit was innig en dierbaar en baie lekker. Ons deel so goed uit en pak, dat niemand sien dat Retha se handbagasie gesteel word van haar trollie af nie! Nou moet ons kalm bly. Sherlock sit al in ‘n ander vliegtuig en deel bevele uit na my en Lucille oor wat ons moet doen om die handbagasie terug te kry. Retha is in Lucille se groep. Lucille antwoord nie haar foon nie. Miskien weet sy iets wat ek nog gaan leer. Mag hulle die handbagasie vind. Lucille antwoord steeds nie haar foon nie. Haar groep vlieg met SAL tot in Johannesburg en ons groep met British Airways. Van Johannaesburg af vlieg ons saam in een vliegtuig na Amsterdam en dan Boston.

 

Vir die volgende uur en ‘n half boek ek en my groep in by British Airways. Ons vorder goed. Die bagasie word direk deurgeboek Boston toe. Ons sal dit daar deur customs vat. Ons vlieg nou eers Johannesburg en dan baie laat vanaand (net voor middernag na Amsterdam en vandaar ‘n uur later na Boston. Ons sal meer as 20 uur in die lug wees. Ek sien so uit daarna om die opwinding van ‘n eerste vlug weer saam met die toerlede te beleef wat nog nooit gevlieg het nie. Hul kinderlike opwinding oor alles is aansteeklik.

 

Twee spesifieke oomblikke vanmiddag moet ek beskryf: Die een is toe Sherlock en Lucille ons laat weet dat hulle in aantog is en ons moet asb kom help dra aan die groepsgoed wat nog by hulle is. Ek gryp vier van die jonger sterker mans en ons sit af na die “drop and go” area op die boonste vlak. Twee van die kinders haal hul Piketberg maniere uit en hou die parkeerplek reg voor die deur. Of probeer hom hou. Ek het hulle maar laat begaan totdat hulle tien minute later druipstert boedel oorgee en se die toeriste gee vir hulle vuil kyke omdat hulle ‘n parkering hou vir iemand wat nog oppad is! Les 1 in die sakkie.

 

Later staan ek saam met Tannie Roeline by die inweeg-toonbank. Haar stiefseun het haar kom aflaai en dit is ooglopend hoe lief hulle vir haar is. Ek belowe dat ek mooi na haar sal kyk. By die toonbank het die lugwaardin pas vir Tannie Marie ‘n rolstoel en ‘n persoonlike beampte gereel om haar deur al die lughawe verkeer te help. Die vrou gee Tannie Roeline net een kyk en vra of sy ook ‘n rolstoel verlang. Die skok op haar gesig was “priceless”. Nee wat dankie, verklaar sy. Sy sal graag stap. Wel gedaan Tannie Roeline!

 

Dis my grootste wens ooit dat die Here hierdie toer sal gebruik om grense oor te steek, mense diep in hul harte te raak en dat ons gebruik sal word tot Sy eer.

 

Bid asb vir die veiligheid van ons en ons besittings.

 

Ek hou julle graag op hoogte van wat ons beleef. Nou gaan ek eers ‘n koeldrank soek. Miskien iets sterkers... Miskien in die VIP Lounge waar ek vir ‘n uur alleen kan wees en myself weer vind.

 

Lank voordat ons op Johannesburg se OR Tambo Internasionale afklim, weet ek verseker: Hierdie toer gaan vir my selfs ‘n groter ervaring wees as vir die wat nog nooit buite Bergrivier was nie. Die rede is eenvoudig: Ek vind dit uiters amusant om reis en toer nou te kan sien deur die oe van die vir wie dit die eerste keer is. Kyk! Die vliegtuig bestyging was ‘n perd van ‘n ander kleur. Twee van die meer gewigtige tannies se sitplekgordels kan nie bykom nie. Ek hoor die derde een kliphard vermaan dat almal in die vliegtuig dit kan hoor: Ek het vir jou gese jy moet diet, hoekom het jy nie? Nou gaan jy moet rondval hierbinne. Die lugwaardinne was op hul pos en met verlengstukke is die probleem gou aangespreek. Toe begin die vliegtuig spoed kry om op te styg en drie gil terwyl ‘n ander kliphard bid en die Here prys. Ek hoor selfs ‘n ontsnapte vloekwoordjie of twee. Oor die Vrystaat kry ons lekker terbulensie en die loods vermaan dat dit nou rof sal gaan. Ek verluister my aan die tale en segoed. Klassiek!

 

Ons wiele was skaars in die lus toe skreeu tannie Kitty: "Ek wil huis toe gaan!" Die ander passasiers kyk verskrik om. Hulle verwag seker ‘n herhaling van 9/11. Ek wonder waar ek sou geleer het dat vliegtuig etiket vereis dat mens fluister sodat almal van ry 3 af jou nie hoor as jy in ry 23 sit nie? Ek kan nie onthou nie, maar ek weet dit. Wel, ons toergroep leer nog. Tannie Kitty bel haar kinders net nadat die wiele grond gevat het en die selfoon nog af moes gewees het. Sy praat kliphard en kan nie verstaan toe die helfde van die vliegtuig omkyk en “sjuut” beduie nie. Ek sit in die ry agter haar en wil my skeer. En was dit nie ‘n gesprek om te hoor nie. Pragtig!

 

Op Johannesburg kry ons die ander groep en verkas na KLM se inteken toonbanke by Internasionale vertrekke. Ons moet nog ons instapkaarte kry vir Amsterdam na Boston wat hulle nie in die Kaap kon uitreik nie. Teen hierdie tyd het sewe ander van die Tannies Tannie Marie se rolstoel met groot verlangende oe bekyk en daar word nog ses bestel.  Nog lank voor ons deur customs is, staan ek met twee war jasse en ‘n vliegtuigkussing in my arms, wat van ons groep op die trollies vergeet het. Wat volg is regtig moeilik om in woorde uit te druk. Ek onthou ‘n tyd toe ek presies so gevoel het: My baba-sussie Elna het vier kinders en toe sy nog drie gehad het, het ek een naweek na hulle gekyk toe sy en Braam hul troudag herdenk het. Ek onthou iewers die Sondagoggend na kerk het ek my in die toilet bevind en skielik besef, ek het glad nie ‘n noot nie, ek sit net daar bo-op die toe deksel om een minuut stilte en tyd vir myself te he. Hier op Johannesburg gaan dit ook so. Hanlie, waarheen nou? Hanlie, hoe laat waar? Hanlie, waar is X of Y. Hanlie waar ruil ek geld. Hanlie hoekom rook hulle eers? Hanlie, Hanlie, Hanlie, Hanlie, Hanlie. En ek besef: dit is hoekom ek saamgekom het. Om hierdie tipe druk van Sherlock af te haal. En ek sal dit doen en uithou, want dit word waardeer en met baie goeie bedoelens gedoen. Maar soos ek hier sit en tik, sit ek in die VIP Lounge in Johannesburg en suig aan ‘n glas vrugtesap. Die stilte is oorverdowend heerlik!

 

Vir almal wat wonder in Piketberg: Retha is ok. Dit is baie selg dat haar handbagasie gesteel is op Kaapstad Lughawe, maar sy het haar paspoort en vliegkaartjies en sal deurdruk sonder haar kontaklense. Sy het haar bril.

 

Ons klim 23:15 op KLM om 23:55 te vlieg. Na twee baie lang vlugte land ons in Boston. Beide vlugte was heerlik en dit was veral lekker om te sien dat Delta nouselfs in flight wifi gratis het (selfs op Internasionale vlugte). Ek het baie geslaap en voel vars maar kan nie dieselfde se van meeste van die groep nie. Die opwinding was net te veel en die nuwighede het almal besig gehou. Sharing a new song se Lauren kry ons op die lughawe en die bus staan gereed om almal na 'n sentrale punt te neem vanwaar die gasouers hulle sal kom haal. Ek huur 'n motor en bly op my eie in die Red Roof Inn in Woburn. Dit is waar ek nou by hulle ontvangs sit en tik om vir julle op hoogte te hou van wat ons hierdie kant doen.

Ons het toe nie Retha se handbagasie gekry nie. Dit is gesteel en weg. Brenice se tas het nie Boston gehaal nie en sy sal dit eers more kry. Thurston was baie siek op die vlug aan erge maagkrampe. Natuurlik dink die bemanning dadelik Afrika en Ebola. Gelukkig voel hy nou beter. Ons het immers 'n dokter saam met die groep.

Nou groet ek eers. Ek wil nie die gasvryheid van die ontvangstoonbank misbruik nie.

Liefde en groete

Hanlie

 

 

Sunday, July 20, 2014

Rusland vervolg




Ek is skuldig! Ek is al weer sewe werksdae terug by die werk en het nog niks verder vertel van Rusland nie. Ek is jammer, maar my voete raak nie grond nie! Vrydag kry ek 'n gereelde blogleser van my in Malmesbury en sy maak my belowe dat die naweek nie sal verbygaan sonder dat ek vertel het nie.
Rusland is 'n belewenis! As jy nog wonder of jy moet gaan... jy moet! Sit dit dadelik op jou emmerlysie. Ek het baie die afgelope week gewonder hoekom dit vir my so lekker was. Daar is vele moontlikhede en ek dink die waarheid le iewers tussen hulle. Ek noem net 'n paar:
1. Ek het die voorreg gehad om saam met my ouers te toer. Ons is 'n hegte familie en dit is vir my altyd lekker saam met hulle, maar om 'n nuwe land saam te ontdek is soveel meer spesiaal.
2. Ek het 'n puik kajuutmaat gehad! Toe ek inskryf vir die toer het ek verneem dat as jy alleen boek jy R9000 meer moet betaal vir 'n enkel kajuut. Al se jy jy is bereid om saam met enige een te deel, is dit steeds jou verantwoordelikheid om iemand te kry. Bietjie onregverdig het ek gereken en begin rondsoek vir iemand om saam te gaan. Een van my oudste sussie se vriendinne het belanggestel. Na dese is sy definitief een van my vriendinne ook. Dankie Anna-Louise Ackermann! Jy is 'n puik reismaat! Ek het elke oomblik in ons kajuut geniet. Dankie dat jy die lewe aangryp en LEEF!
Hier is Anna-Louise met haar Roebels. Rusland se geldeenheid is Roebels en daar is drie Roebels op een rand.


3. Rusland was vir so lank verbode terrein vir die Weste en het ons maar min geweet wat daar aangaan. Die misterie het omgesit in verwondering toe ons daar is en dit was heerlik om nuwe goed te sien en te leer. Hulle het 'n fasinerende geskiedenis en alles was so anders as wat ek myself voorgestel het.

Watter prentjie is in jou kop as jy dink aan Rusland? Moskow? St Petersburg? Kommunisme? Sosialisme? Soviet Republiek? Als wat ek geweet het, het ek in Politieke Wetenskap 3 geleer. En daarvan kon ek maar min onthou, maar my idee was redelik verstok. Vaal grys woonstelgeboue, vervalle dorpies, ou mense, ek weet eintlik nie wat ek gedink het nie. As dit ook min of meer jou prentjie is, sal die fotos wat jy hieronder gaan sien, jou skok!

Die woorde wat my na dese aan Rusland laat dink is eerder weelde, pragtig skoon, boomryk, blomme, interessante mense, somer, water, eilande, heerlike kos en vodka!

Ons het die kanale vaart gedoen van St Petersburg na Moskow. Van die vliegtuig af vat hulle jou direk met 'n luukse bus na die boot. Daar pak jy af in jou kajuut en besoek St Petersburg vir drie dae vanuit jou hotelboot. Dan begin jy vaar vir ses dae en dan is jy weer drie dae in Moskow vasgemeer en besoek jy die stad vanuit die hotelboot.



Ons het met Turkish Airline gevlieg via Istanbul




Leonid was ons gids in Moskow. Hy het ons gekry op die lughawe toe ons die eerste keer deur Moskow gevlieg en gery het oppad na St Petersburg. Raak maar gewoond aan sy leeu hempie (sy vrou was in die Kruger Wildtuin en het vir hom die hempie gebring as 'n geskenk. Hy het elke dag van ons hele toer hierdieselfde hempie en jassie aangehad. :-)

St Petersburg


Een van die kamers in die Catherine's Palace in Pushkin naby St Petersburg. Ongelooflik!

Die goud hier langsaan is glad nie goud nie. Dit is amber. Amber is versteende boomgom! En 'n hele amber kamer in die Catherine's Palace stal die beeldskone versteentes uit. Ons mag nie daar fotos geneem het nie, maar ek het my video op my selfoon laat loop en later hierdie "screenprint" gemaak. Julle dit is ongelooflik mooi, maar natuurlik heeltemal oordoen.
 Die eerste aand in St Petersburg het ons 'n bootrit gevat op die Neva rivier. Ek moes 'n Russiese hoed aanskaf vir die koue! Hanlena Lindenevkov!

Pietman en Marelize Diener het saamgetoer en elke minuut van elke dag lekker gemaak!

Ek en my ouers voor die baie bekende Hermitage Kunsgallery in St Petersburg. Daar is 3 miljoen stukke kuns in besit van die Hermitage, maar net 1 miljoen word op 'n slag uitgestal. Die res is op wereldtoere en gestoor. As 'n mens 5 minute by elke kuns artikel stilstaan en kyk, sal jy ses en 'n halwe jare nodig he om dit te sien. Ons was omtrent drie ure binne! Maar gesien het ons gesien!

Die pragtige dak van die Hermitage.
Ek vertel more verder. Die res van my fotos is op my ander rekenaar.







Daar is nog vele stories wat vertel moet word, maar vanaandhet my 3G so stadig hierdie fotos gelaai, dat ek nie verder kan vertel vandag nie. Ek probeer later weer.

Geniet dit! Begin solank Russies leer.

Hanlie

Tuesday, July 1, 2014

Eerste ordentlike wifi in Rusland

Hallo julle!

Julle dink seker al ons het nooit in Rusland aangekom nie! Maar ons het. En wat n fees is dit nie? Ons voete raak nie grond nie. Letterlik natuurlik omdat ons op n boot vaar, maar ook figuurlik omdat ons nog elke oomblik van elke dag besig was om nuwe horisonne te ontgin. Rusland is vir my splinternuut. En heel anders as wat ek myself voorgestel het. Omdat hulle ook deel is van die BRICS saam met Indie en China het ek half n kombinasie daarvan verwag. Maar moenie jouself flous nie.
Rutland is 'n groot verrassing. Dis lekker om hier saam met n groep te toer, want ons sal baie lank vat om oor die weg te kom met die russies. My Pa is al baie goed met die taal. Deels omdat hy die russiese alfabet opgeswot het voor die tyd en deels omdat hy uitstekend is met tale en grieks en hebreeuse agtergrond het.

Gister was ons eerste vol dag in St Petersburg. En het ons nie baie goed gesien nie! Van St Catherines Palace tot die paleis van Peter the Great. Gistermiddag het hulle ons ure rondgery in n luukse bus en al die besienswaardighede gewys. Vandag was ons by die Hermitage. Julle! Wat sal ek se? Ongelooflik! Meer as drie miljoen besienswaardighede wat deur die Russiese Staat by die tjars en emporers afgevat is tydens die soviet regering en bewaar word vir die publiek. Ons het ure en ure net gestap en als gekyk. My mond het letterlik oopgehang. Ek tik nou op 'n mede toeris se ipad, want my foon wil nie wifi opvang hier nie. Ek weet ook nie hoeveel wifi ons sal he as ons vanaand uitvaar nie. Hier gaan die son eers half twaalf onder en kom half vyf op!

Ek moet nou eers fancy gaan aantrek vir die kapteinsverwelkomingsete. Ek skryf later weer. Sodra ek kan, maar ek belowe ek hou boek en sal dit opsit sodra ek kan. Goeie vakansie vir almal.

Baie liefde

Hanlie

Friday, June 27, 2014

Oppad Rusland toe!


Ek sit in Mugg and Bean in Tygervallei met 'n reuse Rooi Cappuccino met room langs my. Die room is te danke aan ons vriend Tim Noakes. Ek volg nou sy eetplan min of meer van Januarie 2014 af en streng vanaf 11 Mei 2014 en die kilo's smelt weg. Dis heerlik. Probeer dit gerus.

Ek is bewerig van opgewondenheid soos ek hier sit. (Regtig nie van die dieet nie) Ek het pas met my Pa gepraat en is besig om ons sitplekke aanlyn te bespreek vir ons vlug more. More hierdie tyd is ons reeds oppad via Istanbul na Moskow en dan St Petersburg. Ons gaan saam met Seagull Toere en kan nie wag nie.

Die laaste week was chaos om alles gedoen te kry by die werk en om klaar gepak te kom. En totdat ek nou aanlyn gegaan het om te bespreek, was ek nog nie opgewonde nie. Maar nou het dit my gepak!

Ek weet min van Rusland af. My Pa het navorsing gedoen en vir ons 'n paar bladsye geprint van die internet af. Ek sit dit so stukkie vir stukkie en op"swot". Maar dit is die een Tsar na die ander en mens sal moet konsentreer. Ek luister vandag oor die nuus en kort-kort hoor ek hul President se naam: Vladimir Putin. Dit klink vir my soos een of ander agent se naam in 'n 007 fliek, maar ek sal nou nie sulke uitlatings maak 'n dag voordat ek hul grense wil binnegaan nie.

Net 'n paar interessanthede:

Rusland is die grootste land in die wereld en beslaan 17,075 miljoen vierkante kilometer. Daar is 23 UNESCO wereld erfenis gebiede, 40 UNESCO biosfeer reservate, 41 nasionale parke en 101 natuurreservate in Rusland. Kom ons sit dit in perspektief: SA beslaan 1,22 miljoen vierkante kilometer. Rusland is dus amper 17 keer so groot soos SA.

Natuurlik het die grootste gedeelte van Rusland se huidige grond eers aan die Mongole behoort. Dit was voor die laat 17de eeu (ongeveer 1680) toe Yermak Timofeyevich (dankie tog hy speel nie tennis nie!) gedurende die bewind van Ivan die Verskriklike sy weermag bymekaar gekry het en die Mongole gaan oorrompel en hul grond gesteel het. Ek wonder hoe lyk hulle grondhervormingsplanne en waarheids en versoeningskommissie.

Hierdie geskiedenis lees soos 'n sprokiesverhaal...

Daar is 160 verskillende etniese groepe in Rusland met sowat 100 amptelike tale. Die vernaamste tale wat deur die meeste Russe gepraat kan word, is Russies, Tatar en Ukrainian (seker Ukranies in Afrikaans). Daar is 46 provinsies, 22 republieke, 9 krais (gebiede), 4 onafhanlike distrikte, 1 onafhanklike provinsie (joodse) en drie federale stede wat as onafhanklike gebiede funksioneer. Ek sal graag hulle parlement in aksie wil sien. Ek wonder of hulle manne in rooi overalls daar sal toelaat :-) Seker nie toe Ivan die Verskriklike nog aan bewind was nie, maar miskien sou Malema die Verskriklike hom 'n ding of twee kon wys.
Ek leer ook hierdie week dat Rusland die tweede grootste uitvoerder ter wereld is van diamante. Het julle dit geweet?

Ek sit hier en wonder hoe proe Rusland? Hoe ruik dit? Wat gaan ons alles sien? Ek kom pas van die oogspesialis af vir my finale oogtoets nadat ek 'n maand terug beide my oe laat laser het. Die uitslag: 20/20 visie! Maar net om seker te maak ek sien die kremlin en die rooiplein het ek gevra dat hy vir my 'n 0,5 kontaklens gee vir my linkeroog. Hy het my oe monovisie gesny wat beteken my linkeroog kyk nou ver en my regteroog naby. Hulle raak nog gewoond daaraan en as die lig swak is raak hulle moeg. Nou top ek hulle op met 'n lens om so goed as moontlik te kan sien.

Ek vat my rekenaar saam en sal soveel as moontlik wifi plekke soek om vir julle blog te skryf en te vertel hoe dit is.

Lekker naweek vir elkeen. Vir die wat met vakansie gaan, geniet dit en kom veilig terug!

Zdravstvujtye. Julle sal dink ek het sommer net 'n klomp letters getik, maar dit is werklik Russies vir totsiens! Privyet is vir hallo.

Nou ja: Privyet en Zdravstvujtye.

Ons gesels weer.

Hanlie

Monday, May 26, 2014

Bebos!

23 Mei 2014

Tydens een van die baie langnaweke in April kamp ek saam met vriende by Citrusdal warmbronne. “Hoekom skryf jy nie ‘n boek nie?” vra ‘n vriendin van my. “Oor als wat jy beleef in jou werk”. Ek werk by ‘n Munisipaliteit en sien gereeld die beste en die slegste kant van ons mensdom. En daar was al baie stories wat diep slote in my hart gelaat het.

Hierdie afgelope week beleef ek weer so ‘n storie wat definitief in die boek sou wees.

Haar naam is Elizabeth Kayster. Sy is 78 jaar oud. Haar vriende noem haar Lizzie. Sy woon in Aurora. Sy is die trotse ouma van drie kleinkinders, maar sy ken net die een. Die ander twee het haar seun gevat toe hy agt jaar terug by die voordeur uitgestorm het nadat hy sy Pa aangerand het in ‘n dronkstorm. Hy het self besluit sy Ma sal hom nooit weer wil sien nie. Vanoggend sit sy en verlang na die twee kleinkinders. Die oudste is seker al in die groot skool. Maar daar is nie vandag tyd vir top nie. Sy moet kerk toe. Sy moet haar saak met die Here gaan uitklaar. Haar suster het Vrydag haar toetse by Tygerberg gaan haal en haar laat weet dis terminaal. Sy ken nie so ‘n siekte nie, maar haar pastoor se vrou sê dit beteken jou tyd het gekom.

Daar bly vir haar net een ding oor wat sy moet doen. Sy moet Laaiplek toe om te gaan regmaak met haar seun. Sy Pa is drie jaar terug dood aan hartseer. Hy was nie by die begrafnis nie. Het ‘n nota gestuur saam met sy voorman.

Dit is Maandagoggend nog donker toe sy in die pad val. Mense met karre dink Aurora en Laaiplek is naby mekaar. Vir haar is dit 35km te voet. Sy stap so flink as wat haar jare en haar skoene haar toelaat, maar is bly toe sy laatmiddag ‘n lift kry vir die laaste 12. Die son het al gesak toe die man haar aflaai by Galjoenstraat 6 in Noordhoek. ‘n Vreemde vrou maak die deur oop. Vra nors wat sy wil hê. Sy soek haar seun en sy familie, sê sy. Kan sy inkom? Die vrou lag skril en sê sy’t hom lankal uitgesmyt. Sy weet nie waarheen hy is nie. Bly al jare nie daar nie.

Lizzie draai om en stap die nag in. Die seewind waai yskoud. Sy hou hoofpad langs waar daar ligte is en soek ‘n plek om te skuil. As sy net minder opsigtelik was; as haar blaas net minder vol was; maar haar helder trui was al wat sy het en die public toilet kos geld. Sy val verslae langs ‘n bos neer en treur oor haar seun.

Niksvermoedend sit ek Dinsdagoggend in ‘n Raadsvergadering. Ons bespreek die finale insette vir ons begroting. Rozanne laat roep my dringend. Daar is ‘n lid van die publiek wat NOU met my wil praat. Ek kyk gesteurd op en skud my kop. Wat kan so dringend wees dat een van die direkteure dit nie kan hanteer nie? Op die telefoon is mnr E d T. Hy is hoogs ontsteld oor die ongerief wat hom aangedoen is. Daar is onwettige plakkers in Velddrif. Ek skrik. Ons is seker die enigste Munisipaliteit wat nie ‘n plakkerskamp het iewers in ons area nie en dit is my werk om dit so te hou. Mnr E is woedend. Hy het onlangs van Blaauwberg af getrek Velddrif toe oor die ongemak wat hy en sy gesin daar moes beleef met die bedelaars. Dit is sy grondwetlike reg, sê hy, om vry van ongemak en ongerief te leef. Terwyl hy praat fynkam ek ‘google earth’ om te sien presies waar hy beduie. Ja, dit is munisipale grond. Nee, niemand het toestemming om daar te bou nie. Ja, ons sal iets daaraan doen. Ja, ek sal hom op hoogte hou. Ek verduidelik die prosedure, bedank hom vir die inligting en sit die plan in plek. Ons behuisingsmense en wetstoepassers word ontplooi. Binne twee ure het ek ‘n volledige verslag.

Die inligting is kort en bondig. Geen onwettige strukture, geen uitsettingsbevel nodig. Net een vrou onder ‘n bos. Haar naam is Elizabeth Kayster, ID no 3507201188089. Sy is op ons waglys. Het ‘n huis in Aurora. Sy sê sy het by haar kinders kom kuier.

Ek gee opdrag dat my mense haar terugvat huis toe.

Ek bel mnr E d T om terugvoer te gee. Ek vertel Lizzie se storie en verwag empatie, verligting, begrip. Toe my woorde opraak is daar ‘n lang stilte. Hy haal diep asem. “En nou vertel jy my ‘n tranetrekker sodat sy onwettighede kan aanvang!” “Magtig!” Skree hy, “Sy het toilet gemaak langs die pad!”

Daar is min kere in my lewe dat die publiek my sprakeloos laat. Ek dink ek kon dit op twee vingers tel. Nou drie.

Voordat die handstuk die telefoon raak, val my eerste traan op die keybord voor my. Ek is verslae. Ontnugter.  Nie oor Lizzie nie. Haar storie ken ek goed. Vir drie dae loop en maal die gedagtes deur my kop. Waar presies het ons van die wa afgeval? Wanneer het ons net vir onsself begin leef? ‘n Vrou in rou en nood. Terminaal. Verskrik. Bang en sonder heenkome. Op soek na haar twee verlore kleinkinders en ‘n seun wat lankal vergewe is, maar homself nie kan vergewe nie.

En mnr E d T se enigste behoefte van gerief en gemak.

Ek stap laatmiddag huis toe en loer kort-kort of ek nie dalk vir Oom Gert iewers sien nie. Hy is ons bedelaar in Piketberg. Ek wil hom roep en sê ek is jammer dat ek hom die laaste keer so afgejak het. Vir hom vra hoe dit met sy kleinkinders gaan...